Algemene foute wat ons maak (11)

 

Algemene foute wat ons maak (11)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

As vertroue ontbreek, is dit die begin van die einde van enige verhouding. Vertroue is die hoeksteen van verhoudings. As Petrus met die ouderlinge wat die kudde oppas praat, sê hy vir hulle: Hou toesig oor hulle … ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees (1 Petrus 5:3).

 

In ‘n leier wat graag beheer is daar dikwels onsekerheid en vrees:

  • Vrees dat iemand dalk beter as ek sal presteer
  • Vrees dat iets verkeerd sal loop
  • Vrees dat iemand anders se fout my reputasie sal skaad
  • Vrees dat ander nie dinge so goed soos ek sal doen nie.

Leiers het vier basiese verantwoordelikhede: tree op as herder, ontwikkel, toerus en bemagtig. Om mense te bemagtig beteken om ‘n atmosfeer te skep wat mense vrylaat  om hulle beste  te wees en hulle beste vir hulle Verlosser te doen. Dit beteken ons gee hulle vryheid om te innoveer en te skep – om van hulle eie persoonlikheid in hulle werk te sit.

Om mense verantwoordelik te hou vir redelike resultate en beheer is nie dieselfde ding nie. Hier is sewe waarskuwingstekens

  1. Mense maak al verskoning voordat hulle jou met ‘n nuwe idee nader.
  2. Jy weet nie regtig hoe mense oor jou voel nie, maar jy aanvaar almal keur jou leierskap goed.
  3. Jy aanvaar jy is altyd reg.
  4. Jy geniet dit as jy sekere inligting van ander mense weerhou.
  5. Jy dink jy moet by alle besluitneming betrokke wees.
  6. Jy vrees dit as ander in beheer van ‘n projek is.
  7. Jy het die finale woord oor elke besluit.

As ‘n leier:

  • Deur beheer en nie samewerking lei
  • Altyd reg moet wees en selde erken dat hy verkeerd is
  • Meeste van die praatwerk doen en min luister
  • Altyd al die antwoorde ken en al die oplossings voorsien
  • Altyd kry wat hy wil ten spyte van die prys wat ander moet betaal
  • Bedreig voel deur diegene wat iets beter as hy kan doen
  • ‘n Mening oor elke saak te hê

Dan is hy nie ‘n Bybelse leier nie.

Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word (Matteus 23:11 – 12)




Algemene foute wat ons maak (10)

Wanneer die Bybel praat, praat God – B. B. Warfield

 Algemene foute wat ons maak (10)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

It’s not what you know, but what you do, in dependence on the Holy Spirit, with what you know that makes the difference.

Een van die grootste probleme in baie gemeentes is die oorbeklemtoning van getalle. Die fokus is op bywoning en nie transformasie nie. Net nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, sê Hy vir hulle: Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen (Johannes 13:17).

Seën, vreugde en geestelike transformasie gebeur nie in ‘n Christen se lewe as gevolg van wat hy weet nie, maar deur wat ons doen met dit wat ons weet – bemagtig deur Christus, gelei deur Hom en alles gedoen om Hom te eer. Gemeentes moet die evangelie kragtig verkondig, maar ook die lidmate uitdaag om dit wat hulle weet, te aanvaar, te gehoorsaam, daarop te reageer. Ons kan nie net aanhou inligting bymekaar maak nie – die gevolg is vol koppe en leë harte. Ons moet luister, glo en reageer op die waarheid wat ons hoor. Dit gebeur nie outomaties nie. Deel van Jesus se Groot Opdrag is: leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het (Matteus 28:20)

Ons het vandag te veel praat en te min denke en reaksie. Dit is nie hoeveel jy weet nie, maar hoe God jou transformeer en neem wat jy weet om jou in ‘n persoon na die beeld van Christus te verander. Dit gebeur as jy net die Heilige Gees saamwerk. Geestelike volwassenheid hang nie af van hoeveel  jy weet, hoeveel seëls jy in die Sondagskool gekry het nie; hoeveel teksverse jy gememoriseer het nie. Hier is die regte formule:

Inligting + Nadenke + berou + toepassing = transformasie

Toepassing is ek wat reageer in die krag van die Heilige Gees op wat God vir my duidelik maak.

 Ons kry elke week preke, maar geen geleentheid om dit te bespreek of te verteer nie – niks wat geestelike transformasie moontlik sou maak nie.

Volgende keer kyk ons na nog ‘n fout: ons laat toe dat beheer vertroue verplaas.




Algemene foute wat ons maak (9)

Hoe ouer ‘n mens word, hoe verder kan jy sien – J van Melle

Algemene foute wat ons maak (9)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

If you can’t stand the heat, get out of the kitchen (Harry Truman)

Konstruktiewe konflik is moeilik, maar noodsaaklik vir gesonde spanne en organisasies. Leierskap beteken ek pak moeilike sake aan en neem moeilike besluite. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe (Efesiërs 4:15). Daar is ‘n fyn balans tussen liefde en die waarheid wat noodsaaklik vir alle menslike verhoudings is

. Baie leiers sal eerder hulle organisasie verlaat as om ander persone of sake te konfronteer wat aandag nodig het.

Leiers moet gewillig wees om die moeilike besluite te neem – die moed hê om die regte dinge te doen wat nie noodwendig die gewilde ding is om te doen nie. Gemeentes is veral geneig om konflik te vermy. Mense vrees regstappe teen hulle; hulle is bang ander mense hou nie van hulle nie. Hulle kom met allerhande verskonings na vore. Tough love chooses truth telling over peace keeping and trusts God for the results (Bill Hybels).

Om konflik te vermy is onbybels en is ‘n bewys van ‘n gebrek aan geestelike leierskap en integriteit. Hier is ‘n paar idees om te help

  1. Maak ‘n belofte voor God om nie van konflik weg te skram nie, maar om dit eerlik, met liefde, sensitief en beslissend te hanteer.
  2. Wees gereed om te bely en vergifnis te vra vir jou aandeel in die konflik. Meestal het jy bygedra tot die konflik
  3. Kry al die feite – vra baie vrae sonder om mense aan te kla of te blameer. Wys ‘n opregte begeerte om uit te vind wat aangaan – luister en probeer verstaan.
  4. Doen dit privaat. Konfronteer privaat, prys in die openbaar. In Matteus 18 kry ons die proses wat ons moet volg.

Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak (Lukas 6:26).

Om moeilike konflik met kunsmatige harmonie te verplaas is ‘n ernstige fout wat erge probleme kan veroorsaak.

Volgende keer kyk ons na nog ‘n algemene fout wat ons maak: ons laat toe dat inligting transformasie verplaas.




Algemene foute wat ons maak (8)

Prioriteite is weegskale waarop ons liefde vir God geweeg word – Anoniem

Algemene foute wat ons maak (8)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Ships are safe in the harbor, but that’s not why ships are built

As dit kom by finansiële besluite sal wat die een as ‘n risiko beskou ander as dwaasheid of onverskilligheid sien. Ons kry beide groepe in gemeentes. Sommige gemeentes is finansieel sterk, maar het geen visie of drome nie – veilig in die hawe. Ander neem redelike risiko’s en sien dat God verbasende dinge doen. Ons moet gewillig wees om gesonde risiko’s te neem.

Dit is nie altyd maklik om tussen goeie en slegte risiko’s te onderskei nie. Ons sal waarskynlik eendag jammerder wees vir dit wat ons nie gedoen het nie as vir dit wat ons wel gedoen het. Vrees vir mislukking is soms sterker as geloof. Een van die redes waarom baie gemeentes klein bly, is omdat hulle nie waag nie.

 

 Finansiële spaarsaamheid doen dikwels meer skade as goed. Die oorlog tussen twee waardes wat met mekaar meeding, kan groot probleme skep. Dit is nie altyd maklik om te besluit wat die regte ding is om te doen nie. As jy besluit het, kan implementering ook moeilik wees – jy moet gesonde risiko’s opweeg en terselfdertyd finansieel wys wees. Jesus self het gewaarsku teen mense wat begin bou het sonder om vooraf die koste te bepaal.  Die leierskap in die gemeente moet mense opgewonde maak oor die toekomsvisie sodat hulle bereid is om finansieel betrokke te raak. Mense gee eerder vir ‘n visie as vir programme en geboue. Oppas vir krisisbestuur – beplan vooraf. Krisisse beteken  alles moet teruggesny word – ook personeel.

Gemeentes het mense nodig wat geloof-gevul, maar ook finansieel wys is – nie die een of die ander nie. Ons het gemeentes met baie geld in die bank, maar hulle is onwillig om geld te spandeer om ongelowiges te bereik en te sien dat hulle geestelik groei. Ons het, aan die ander kant, gemeentes wat te veel geleen het en nou in die moeilikheid is. Dit is goed dat jy aan die een vermaning vashou en die ander ook nie laat los nie, want hy wat vir God dien, gehoorsaam altwee (Prediker 7:18).

Hier is ‘n paar riglyne wat kan verhoed dat gemeentes ongesonde finansiële spaarsaamheid beoefen en in staat is om in ‘n posisie te wees om op vreeslose, Bybelse geloof te reageer.

  1. Verstaan dat God self ons hulpbron is. Ons behoort aan Hom; ons is nie die eienaars van ons hulpbronne nie – net die rentmeesters; ons moet eendag verslag aan die Eienaar doen.
  2. Ontwikkel ‘n filosofie oor ons lewenstandaard – uitgawes. Daar moet ‘n geskrewe en goedgekeurde dokument wees oor hoe ons die hulpbronne wat God voorsien gaan toeken. Anders is daar gedurig ‘n stryd oor wie kry en hoeveel.
  3. Balanseer inkomste, spaar, gee en spandering. Baie gemeentes het ‘n 80/10/10 formule – spandeer 80%, spaar 10% en gee 10%. Baie kerke spandeer te veel aan die verkeerde dinge wat hulle ware roeping – evangelisasie en dissipelskap –  belemmer. Hou jou lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5).
  4. Finansiële besluite is ‘n spanpoging. Oppas vir een sterk persoonlikheid. Moenie dat hy finansiële besluite op sy eie neem nie. Kry mense met verskillende standpunte op die span. Dit lei totbesluite.

Die volgende fout wat ons gaan hanteer, is: Ons laat toe dat kunsmatige harmonie konflik verplaas.