Jesus en gebed

Pride gets no pleasure of having something, only having more of it than the next man – C. S. Lewis

Jesus en gebed

Jesus het dikwels gebid. Volgens Leonard Sweet en Frank Viola (Jesus – A Theography) staan Jesus se gebede in skrille kontras met die praktyke van destyds.

  • Daar is op spesifieke tye van die dag gebid: 09:00, 12:00, en 15:00. Jesus het veral soggens vroeg en saans gebid.
  • Die vrome Jode het gestaan as hulle gebid het – gewoonlik het hulle nie gekniel of gebuig nie.
  • Die gebede was selde spontaan. Die vroom Jode het versamelings van gebede opgesê.
  • Gebede is so gereël – tyd en plek – dat die bidder duidelik gesien en gehoor kan word. Hulle bid lang gebede in openbare plekke.

Jesus verbreek hierdie rigiede patroon. Hy moedig mense aan om na hulle kamer te gaan, die deur toe te maak en daar te bid. Hy waarsku: Moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie – Hy beveel kort, eenvoudige gebede aan. Jy kan die Ons Vader-gebed in een of twee minute bid. ‘n Baie goeie voorbeeld is Elia se gebed op Karmelberg (1 Konings 18). Die Baälprofete roep van die môre tot die middag, maar Baäl reageer nie – niks gebeur nie. Toe kom Elia na vore en bid twee sinne en die Here verhoor sy gebed.

Daar is egter een aspek van Jesus se gebedslewe wat ons nie moet miskyk nie: Hy was in voortdurende gemeenskap met sy Vader – elke minuut van die dag. Natuurlik moet ons gereelde tye en plekke hê om te bid, maar ons moenie vergeet dat ons enige tyd op enige plek met ons Vader in die hemel mag praat.




Die Fariseër en die tollenaar

I would rather die of passion than of boredom – Vincent van Gogh

 

Die Fariseër en die tollenaar

In Lukas 18:9 – 14 lees ons die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Emil Brunner (Sowing and Reaping, Epworth 1964, p23) skryf soos volg:

Beteken dit dat ons voortdurend voor God moet kom met die volgende woorde op ons lippe: “O, God, wees my, sondaar, genadig.” Ja, dit word geïmpliseer. 

Selfs meer. Slegs met hierdie nederigheid staan ons voor God in gebed. Ons sien om voor God te staan as ‘n groot geheimenis. Dit is nie genoeg om die woorde van hierdie gebed te sê nie. Ons staan voor God op die oomblik wanneer die gedagte ons tref: Ek is ‘n sondaar; God wees my genadig. Sodra hierdie gedagte, hierdie insig uit ons harte verdwyn, verdwyn ons uit God se teenwoordigheid al bid ons nog vir ure.

 

In die Ons Vader gebed  sê ons elke keer as ons dit bid: Vergeef ons ons oortredings. Dit herinner ons dat ons in alle nederigheid voor God moet staan.




Paulus se gebed

We do not err because truth is difficult to see. It is visible at a glance. We err because this is more comfortable. -Alexander Solzhenitsyn (1918-2008)

Paulus se gebed

God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. Elke keer as ek bid,  vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie (Romeine 1:9 – 10).

Hier is ‘n mate van spanning:

 

  • Paulus sê dat hy in sy gebede gedurig aan die gelowiges in Rome dink,  en dat hy God gedurig vra om dit moontlik te maak om hulle te besoek.
  • Paulus besef dat wat hom keer God se wil is.

Hierdie gedeelte sê vir ons baie van gebed. Aan die een kant is gebed belangrik en ons moet aanhou bid vir sekere dinge – dikwels oor ‘n lang tydperk. Aan die ander kant moet ons onthou dat God God bly en dat dit sy reg is om iets toe te laat of te verhoed.

 

Hieruit kan ons twee moontlike gevolgtrekkings maak:

  • Gebed is nie belangrik nie – gebed gaan nie vir God verander nie; of
  • Gebed beheer God se wil.

 Ons kan baie spekuleer, maar dit help ons nie eintlik nie. Wat Paulus glo, is dat God luister, maar dit beteken nie Hy gaan doen wat ons wil hê Hy moet doen nie. Hou aan bid, maar onthou altyd dat God God is.

 

 




Die krag van gebed

– Tom Peters

Die krag van gebed

Ek is besig om na Deuteronomium in my Bybelstudie te kyk. Ek gebruik die NIV Application Commentary. In Deuteronomium 10 lees ons dat die Here weer die wet op nuwe kliptafels opgeskryf het en van die Leviete wat die ark moet dra. Ons lees egter ook hier van die krag van gebed.

 

In hierdie gedeelte lees ons van die diepte van God se genade. Net nadat Israel hulle onvoorwaardelike verbintenis met God uitgespreek het, verval hulle in openlike afgodery – die goue kalf. As gevolg van Moses se intersessie neem God sy mense terug en hernuwe die verbond met hulle. Hierdie reaksie beklemtoon die belang van gebed om die mense se behoeftes met God se genade te verbind.

In Nehemia 9:18 – 19 dink die Leviete terug aan Israel se optrede – die goue kalf – en die Here se deernis om hulle te spaar. Hulle sê egter niks van Moses se rol om die Here met deernis te laat optree nie. In Psalm 106:19 – 23 lees ons ook van die episode met die goue kalf. Die Here wou hulle verdelg, maar Moses, sy uitverkorene,  het by Hom vir hulle in die bres getree om sy gramskap af te keer, sodat Hy hulle nie vernietig het nie. Hier word die krag van gebed beklemtoon. Jakobus verklaar: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking (5:16).

Moses se geregtigheid is duidelik uit verskeie aspekte van sy optrede:

  1. Hy stoei met die Here vir genade vir sy mense ten spyte van hulle opstandigheid.
  2. Sy verwerping van die Here se aanbod om voor te begin met hom.
  3. Die argument van sy gebed wat fokus op die behoud van die Here se reputasie in die oë van die nasies.

Moses verwys na die Here se integriteit en herinner Hom aan sy verhouding met die aartsvaders. Wat veral opmerklik is, is dat Moses nie aan homself dink nie. Deur die Here se aanbod dat Hy uit Moses se nageslag ‘n groot volk sal maak, te verwerp, dien Moses as model vir alle leiers in die koninkryk van God. Die Bybelse model van leierskap plaas altyd die belange van die mense voor dié van die leier.

Ons leer hier baie belangrike lesse oor gebed. Diegene wat met volle vertroue op God bid,  is voorbereid op drie moontlike uitkomste van hulle gebed:

  • Soms is gebed die manier waarop eksterne omstandighede verander. Gebed verander dinge. Dit was sekerlik so in die geval van Petrus in die tronk in Handelinge 12:1 – 17. In antwoord op sy gebed loop Petrus uit die tronk as ‘n vry man.
  • Soms verander gebed die wil van die mens om in ooreenstemming met God se wil te kom. God antwoord nie altyd ons gebede op die manier wat ons verwag nie. Dink maar aan Moses se gebed om tog toegelaat te word om deur die Jordaan te gaan om die mooi land te gaan bekyk (Deuteronomium 3:23 – 29).
  • Soms is gebed die manier waarop God sy wil verander om aan te sluit by die wil van die mens wat bid. In Eksodus 32 lees ons dat die Here die hele volk wil vernietig na die episode met die goue kalf. En dan lees ons:Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring (32:14). Dit gebeur nadat Moses ernstig vir die volk gebid het. Dit beteken nie dat gebed ‘n formule is waarmee ons God kan manipuleer en kry wat ons wil hê nie. Ons moet onthou dat Moses bereid was om sy eie selfbelang in belang van sy mense op te offer. Sy primêre belang was die wil en reputasie van God. Hierdie reputasie sou ten beste gedien word as God die mense wat teen Hom in opstand gekom het spaar. As bose mense  wegdraai van hulle sonde in berou (Jona 3) of as ‘n regverdige bidder by God ten behoewe van sondaars pleit, los God sy toorn en reik in genade uit na mense wat dit nie verdien nie.