Perspektief op gebed (5) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Al geselsende met God.

‘n Gesprek is ‘n gesprek.

Gebed is ‘n gesprek. Natuurlik is dit ‘n baie spesiale gesprek, maar dit bly ‘n gesprek. Daarom is die gewone dinge wat van ‘n gesprek waar is, ook van gebed waar.

‘n Gesprek het nie ‘n vaste patroon nie. Soms sit ‘n mens sommer net lekker oor ditjies en datjies en gesels. By ander geleenthede bespreek ‘n mens ‘n enkele ernstige saak intens. As jy iemand dringend moet gaan roep, bestaan julle gesprek miskien net uit: ‘Kom gou!’ So wissel gesprekke soos die geleenthede en onderwerpe wissel.

Net so min as wat ‘n gesprek altyd ‘n vaste patroon moet volg, net so min moet of hoef gebed altyd ‘n vaste patroon te volg. Soms as jy in die nood is, help ‘n vinnige skietgebed sommer baie. As jy weer ‘n ernstige probleem het, val jy sommer met die deur in die huis   en vra God se raad of hulp. Dan gebeur daar weer iets wonderliks in jou lewe wat maak dat jy net oor en oor vir God wil dankie sê. Nie een van hierdie gebede is ‘minder gebed’ as die ander een nie. Dit is mos almal gesprekke met God.

Tog kom ons uit die Bybel agter dat gebed soos ‘n diamant baie pragtige kante het. Daar is byvoorbeeld aanbidding, lof, smeking, belydenis van sonde en so aan. Al hierdie elemente hoef natuurlik nie in elke gebed voor te kom nie. Tog moet ‘n mens versigtig wees dat jy nie een van die ‘elemente’ verwaarloos nie. Jy moet vir jouself geleentheid maak om nie alleen dinge van God te vra nie, maar Hom ook te loof of jou sonde te bely. Oor al hierdie ‘elemente’ gaan ons nou verder gesels.

‘n Gesprek en nie ‘n monoloog nie.

God sit nie swygend en luister na jou wat ‘n monoloog voer nie. Soms bid ons asof ons dink dat God stom is. Ons dink dat Hy in gebed niks te sê het nie. Niks is natuurlik so ver van die waarheid af nie.

God praat op baie maniere met ons. Dit gebeur nie met ‘n bulderende stem uit die hemel nie. Nee, God praat soms op maniere waarop ons dit nie verwag nie. Elia het God in die magtige stormwinde verwag; toe kom God na hom toe in die sagte dartelwindjie. Die Jode het ‘n groot kryger as messias verwag wat elke Romein in die see sou injaag. God beantwoord egter hulle gebede met die Messias aan ‘n kruis! Net so praat God op verrassende maniere met ons tydens gebed. Daaroor later meer.

Daar is tog een manier waarop God met ons praat wat ons nie kan miskyk nie. Dit is deur sy Woord, die Bybel. Augustinus se ma was ‘n wasvrou. So, met die nat, vuil klere tussen haar hande geklem het sy vir haar seun gebid terwyl hy saam met sy maats in die poele van plesier gebaai het. Dit was egter deur die woorde van Romeine dat God hierdie eenvoudige wasvrou geantwoord het. God het Augustinus viervoet in sy spore gestuit, en dit deur die krag van sy Woord. Dáár hoor ‘n mens God se stem op sy helderste. Dit het Luther ook agtergekom. Hy het in sielewroeging teen homself en die sonde gestry. Dit was egter die Woord van die lewende God wat hom uit hierdie kettings van die Satan kon bevry. God het Luther se pleitende gebede gehoor en geantwoord – deur sy bevrydende Woord.

Gebed en Bybelstudie hoort bymekaar soos wolke en reën. Deur getroue en biddende Bybelstudie leer ons meer en meer van die wil van God ken. Daar leer ons ook hoe en waarvoor om te bid. Deur vurige gebed lei God ons ook in die diepste geheimnisse van sy Woord in. Daar ontdek ons weer sy wysheid.

Daaroor gaan  nie meer gesê word nie. Die belangrikste is om te beklemtoon dat ons geestelik sensitief moet wees vir God se antwoorde op ons gebede deur sy Woord. Daarin is ons ook baie afhanklik van die bystand en hulp van die Heilige Gees.

In die dialoog nie alleen nie

Elke gelowige het natuurlik die Gees van God in hom of haar. Daarom leef  kinders van God in die kragveld van die Heilige Gees. Dit geld veral ook vir hulle gebede. Geen wonder dat Paulus in Gal 4:6 sê: ‘En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: “Vader!” Die Gees lei ons nie alleen in ons lewens nie, maar ook in ons gebede. Uit ons harte roep die Gees ook na die Vader, soos Paulus sê.

Dit is alleen in afhanklikheid van die Heilige Gees dat gebed sy volle diepte kan bereik. Dit is die Gees wat jou bewus maak van jou oortredings en jou in jou sondebelydenis lei. As jy in jou nietigheid voor die genadetroon van God staan, is dit die Gees wat jou ondersteun. So laat die Gees ook die lof vir God oor jou lippe vloei.

Om die waarheid te sê, dit is dikwels juis in gebed dat ‘n mens die teenwoordigheid van die Gees in jou lewe die diepste aanvoel. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees omvou elke woord van jou gebed. Dit is God se Gees wat in jou en saam met jou uitroep: ‘My Vader in die hemel!’

Dit gaan nie weer by die bespreking van elke ‘element’ van gebed herhaal word nie. Alles wat verder van gebed gelees word, moet in die besef gelees word dat dit deur die krag en teenwoordigheid van die Gees alleen geskied!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Perspektief op gebed (4) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

In stilte oorweldig

Ons sê mos baie dat ons ‘stil’ word voor die Here. Dit is juis in daardie oomblikke van ‘stille nadenke’ dat die wonder van God se teenwoordigheid jou oorweldig!

Geliefde, dit is nie iets waaroor ‘n mens eintlik kan skryf of praat nie! Dit is iets wat jy moet ervaar! Dit is iets wat jy kan ervaar as jy jou hand en hart in geloof na die Here rig. Dan eers word dit deel van jou lewe. Jy weet, ‘n mens kan baie OOR God en gebed praat, maar dit is eers as jy werklik die nabyheid van GOD ervaar het dat jy daarin slaag om MET Hom in gebed te praat.

Dit doen ‘n mens nie met jou kop vol van die gejaag en gebeure van die dag nie. Dit doen jy met die stille verwagting van iemand wat rustig wag vir sy afspraak met die Koning van die konings, sy Vader. Stille voorbereiding is daarom deel van die ABC van gebed!

As jy mooi stil gaan sit en dink Wie God presies is, sal jy tot een duidelike besef kom: Gebed is nie speletjies nie… Gebed is die wonderlike geleentheid wat God jou gee om jou bewende mensehand in die rigting van goddelike almag uit te hou. As jy op jou knieë neersak voor ‘n Almagtige God, moet jou verwagting reg wees. Jy moet steeds daaraan dink Wie hierdie God is… maar ook wie jy is!

Maar gebed is ook soos ‘n spieël. As jy in die teenwoordigheid van die Almagtige God staan, sien jy ook jou eie gebrokenheid raak. Geen mens wat voor God in gebed staan, kan met enige sweempie van hoogmoed of selfversekerdheid daar staan nie. Daar, voor die almag van die Barmhartige God, besef jy jou eie onmag en nietigheid. En as ‘n mens dit eers besef, is jy gereed om werklik voor die God van hemel en aarde te buig! Dan kan jy gesels…

‘n Verhouding met konsekwensies.

Gebed kan ‘n mens daarom nie koud laat nie! Om met die lewende God te gaan praat beteken om iets van die gesprek te verwag! Elke gesprek met God het konsekwensies, want God neem gebed ernstig! Hy luister!

As ons van die lewende God iets vra, moet ons weet dat Hy daaraan sal aandag gee! Dit moet ons verwagting wees! Immers, as ons halfhartig bid, wat sê ons eintlik daarmee vir God? Stel ons nie so eintlik ‘n mosie van wantroue in Hom in nie?

 Nee, deel van die hart van gebed is om te weet en te vertrou dat God na jou gebede en smekinge luister! Hy luister nie net nie, maar doen ook iets daaraan! En die wonderlike is om te weet dat God jou Vader is wat net die beste vir jou wil hê.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (3) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Hierdie hoofstuk word in twee afdelings verdeel, naamlik:

Deel 1: Wat maak gebed GEBED?

Deel 2: Al geselsende met God.

DEEL 1: Wat maak gebed GEBED?

Wat maak gebed GEBED?

Die antwoord is eenvoudig: GOD!

Gebed is eintlik ‘n snaakse ding. Sê nou maar Manie die Marsman sou by die slaapkamer kon inloer as jy bid. Daar staan jy op jou knieë in doodse stilte met jou hande gevou. Op die oog af moet hierdie houding seker snaaks lyk vir iemand wat nie weet wat daar gebeur nie. Vir jou is dit egter nie so snaaks nie. Jy weet jy het Iemand met wie jy praat, hoewel jy Hom nie kan sien nie. Dit maak wat jy doen sinvol – die stilte, die staan op die knieë, jou hande wat gevou is.

Gebed is net sinvol omdat dit ‘n gesprek is tussen jou en God! Jy praat nie alleen nie – God is ook daar: daarom maak gebed sin!

God voel nie meer tuis nie?!

Nou gebeur dit nogal baie dat mense sukkel met gebed. Hoewel hulle teoreties vir jou allerhande mooi dinge oor gebed sal sê, bid hulle tog nie so gereeld nie. Wat hulle oor gebed sê en wat hulle uiteindelik doen, stem nie ooreen nie. Dit is amper asof hulle nie aan die bid kan kom nie en veral nie gereeld kan bid nie.

Daar kan ander redes ook wees, maar die algemeenste rede is sekerlik dat ons ons wêreld te klein gemaak het vir God!

Hoe kan ‘n mens dit sê?

Ons leef in ‘n wetenskaplike en tegnologiese tyd. Vir omtrent elke ding is daar ‘n wetenskaplike verklaring. Met die rekenaars kan ons ook omtrent alles uitwerk. Ons word van skool af geleer om alles te verklaar en met ons verstand uit te werk. Alleen dit wat so met die verstand verklaar kan word is ‘werklik’!

Dit beteken natuurlik dat ons ons wêreld net so groot gemaak het soos ons verstand of verklarings dit toelaat. Enigiets wat ons nie kan verklaar nie of wat ons nie kan sien nie, ‘bestaan’ eenvoudig nie vir ons nie.

Ons kan egter nie vir God so in die beperkinge van ons verstand inhok nie. Vir mense wat sê dat alleen dit ‘bestaan’ wat met die verstand verklaar kan word, word God vreemd. Hy pas nie meer binne hulle ‘wêreldjie’ in nie.

Hulle wêreld van verstandelike verklaring het te klein geword vir God. God is nie net so groot dat Hy in die beperkinge van die menslike verstand moet bly nie! HY IS BAIE GROTER!

Laat jou oorweldig deur die teenwoordigheid van God!

Die hart van gebed lê in die oorweldigende teenwoordigheid van God by jou as gelowige! Dit is ‘n teenwoordigheid wat jou vasgryp; jou op jou knieë dwing. Dit alles word in geloof moontlik.

Dit is immers geloof wat jou geestelike oë laat oopgaan… en jou laat besef dat jou God werklik dáár is (Heb 11:6). Jy kyk nou verby die nou grense van jou verstand of die wetenskaplike reëls. Jou oë gaan oop vir wie God regtig is! Hy is baie groter as enige wetenskaplike reëls of grense wat jou logika of verstand kan trek! En hierdie besef maak al die verskil. Jou wêreld, jou werklikheid word deel van sy groot onverklaarbare, maar wonderlike wêreld. Maar jy kom ook agter dat God nie buite jou wêreld staan nie! Hy wil deel daarvan wees.

So gesien lyk jou wêreld ook sommer heeltemal anders! Met God se teenwoordigheid by jou kan jou wêreld nooit weer dieselfde wees nie. Nooit weer kan of hoef jy alleen te wees nie! Met Hom by jou lyk jou probleme, jou smart en jou blydskap anders! Immers, in elke probleem, elke daad, elke glimlag is God vir jou daar.

‘n Verhouding maak al die verskil!

Geloof laat dus jou pad met God se pad kruis! So verander die rigting van jou pad dan agter God aan. Daarom word verhoudingsterme so dikwels gebruik as die Bybel praat oor wat met ons gebeur as ons gelowig word: ons word God se kinders; as slawe van die sonde word ons vrygespreek om vriende van God te word, en so aan.

Daarin lê ‘n belangrike motivering vir gebed. Vriende gesels tog met mekaar. ‘n Kind klim tog graag op die pa se skoot om hom alles te vertel. In die verhouding tussen God en sy kinders is dit ook nie anders nie. God wil hê en verwag dat ons op sy skoot sal klim en met Hom gesels – en sommer gereeld ook!

 Die diepste belang en grond van gebed is dus nie dat ons noodwendig alles kry wat ons vra nie, maar dat ons die warmte van ons verhouding met God ervaar en beleef. Gebed is eintlik om die hartklop van God te hoor. Dit is om in geloof sy hand op jou skouer te voel. Dit is om verseker te wees van sy nabyheid. Daarin lê geestelike vervulling.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (2) – Oor biddeloosheid en barometers. – Jan van der Watt

Ons geestelike barometer.

Gebed kan as die barometer vir jou geestelike lewe dien. As dit nie so goed gaan met jou geestelike lewe nie, is gebed gewoonlik die eerste plek waar jy dit begin agterkom.

Biddeloosheid is dus nie ‘n goeie teken vir jou geestelike lewe nie. Dit is byna soos om ‘n mens te sien versmoor omdat hy nie wil asem haal nie. So ‘n bietjie suurstof kan al die verskil maak. So kan gebed ook al die verskil maak. Dit kan weer lewe in ‘n geestelik versmoorde mens bring.

Daarom is dit nie verbasend dat iemand soos Luther gesê het dat hoe besiger hy is, hoe meer bid hy nie. Immers, hoe meer dinge jy moet doen, hoe meer hulp en leiding het jy van die Here nodig en hoe meer sal jy hê om met Hom te bespreek!

So kan ‘n mens deur die geskiedenis stap. Al die ‘groot bidders’ in die geskiedenis van die kerk was gedissiplineerde bidders. Hulle het gereeld en ernstig die genadetroon van God gaan opsoek! Hulle het ten minste geweet waar hulle krag vandaan kom.

Ons verkeerde verwagtings ‘n lekker wapen vir die duiwel.

Daar is krag in die gelowige se gebed! Dit sê die Bybel vir ons. Tog skep hierdie woorde dikwels allerhande verkeerde verwagtings by die gelowige! Hy of sy begin dink dat gebed die kraan is waarmee hulle maar soos hulle wil God se krag kan tap. As hulle die kraan draai, moet God spring! As God nie spring nie, of die kraan nie wil loop soos hulle wil hê dat dit moet loop nie, dan sê hulle sommer sou ‘gebed werk nie’.

Vir hulle is daar ‘n verrassing: Gebed werk nie so nie! Dit is nie ‘n kraan nie!

God sal sekerlik nie ‘n klomp kinders in ‘n wapenfabriek met allerhande bomme, gewere en kanonne loslaat en sê hulle kan maar aangaan soos hulle wil nie. Die krag van God is ontelbaar maal sterker as dit wat mense in ‘n wapenfabriek kan opsluit. Daarom moet die bidder goed verstaan wat presies met gebed bedoel word. Gebed is nie die plek waar die bidder God ‘laat spring’ nie. Tog bly dit die plek waar die volheid van God se genade en krag ervaar kan word. Soos F. Huegel gesê het: ‘Dit is wanneer mense op hulle knieë gaan en God aanroep dat hulle in ‘n sekere sin net so ‘magtig’ word as die almagtige God’. Dit gesê, moet ons egter weet wat om te verwag. Gebed maak ons nie die ‘almagtige God’ self nie. Ons word nie die voorskrywers nie. Nee, gebed maak ons mense wat alleen maar op ons knieë voor die almagtige God kan staan en uit sy genadige hand kan ontvang wat Hy wil gee!

 Verkeerde verwagtinge het al te veel gelowiges baie seer gemaak. Omdat hulle dink hulle is kinders in ‘n wapenfabriek of dat hulle maar net die kraan kan draai en God moet spring, is hulle al dikwels teleurgestel. Gebed bied dikwels nie so ‘n kitsoplossing as wat hulle gedink het nie. Dikwels besluit God om sy kinders op ‘n ander manier te help as wat hulle in gebed ‘voorskryf’. Omdat dinge dan nie so uitwerk soos hulle dit wil hê nie, verloor hulle vertroue in gebed. Hulle bid al hoe minder en later glad nie meer nie!  So sny hulle hulle eie geestelike suurstof af. Een ding is seker: Dit is nie die suurstof wat klaar geraak het nie, maar hulle wat nie die suurstof op die regte manier wou inasem nie!

Dit gebeur ook dat gelowiges kan dink dat maar sal gebeur wat moet gebeur, bid of te nie! Uiteindelik maak dit nie vir hulle meer saak of hulle bid of nie. Hulle dink in alle geval dit sal nie soveel verskil maak nie. Die ernstige suurstoftekort in hulle geestelike lewe kan nie lank weggesteek word nie!

Jesus gee aan ons die voorbeeld.

Natuurlik het die Here Jesus self aan ons die voorbeeld gegee om te bid (Mat 14:23; Mk. 1:35). Hy het nie alleen aan ons die ‘Ons Vader’ gegee nie, maar het self op belangrike tye in sy lewe gebid (Luk. 3:21-22, 6:12; 22:39-46). By geleentheid het Hy sommer die hele nag deur gebid (Luk. 6:12). Hy het nie net vir Homself gebid nie (Joh. 12:27), maar ook vir ander, vir sy dissipels (Joh. 11:41; 17:1vv) en per geleentheid selfs vir sy vyande (Luk. 23:34). By ander geleenthede het Hy met enkele sinne die Vader vir kos gedank (Joh. 6:11).

Jesus het ook belangrike kritiek op die gebede van ander gehad. Hy het die Fariseer wat so vol van homself was, se gebed gekritiseer (Luk. 18:9-14). Ook die mense wat op die hoeke van die strate gestaan en gebid het, het onder die tong van Jesus deurgeloop (Mat. 6:5-8).

As ‘n mens so na die lewe en voorbeeld van Jesus kyk blyk dit dat gebed baie belangrik is. Tog kan ‘n mens die pad ook byster raak met gebed. Jy kan ernstige foute begaan!

Laat ons dan nou eers gaan kyk na wat die hart van gebed is en dan na gebed self. Aan die einde sal die foute wat met gebed gemaak word, bespreek word.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt