Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(6) – JP Louw

Die Romeinse leer

In die Nuwe Testament is die Romeinse leer die belangrikste militêre element wat die Joodse volk oorwin het en hulle eindelik oor die aarde heen verstrooi het. Maar in die proses het die Romeinse soldaat so deel van die Joodse omstandighede geword dat militêre metafore alledaags geword het. As die Christen se stryd teen die duiwel in Efesiërs 6:13-17 beskryf word, is die wapenrusting in terme van ‘n Romeinse soldaat se toerusting beskryf: gordel, borsharnas, skoene, skild, helm en swaard. In Kolossense 2:15 word Jesus se oorwinning as ‘n triomftog beskryf waarin Hy die bose magte in die openbaar vertoon. Die beeld herinner aan die Romeine wat diegene wat hulle verslaan het in ‘n parade deur die strate laat loop het sodat almal Rome se mag en die vyand se verslane toestand as vernedering kon aanskou. So sal Christus ook vir Satan laat paradeer. In 2 Timoteus 2:3-4 word die Christen as soldaat van Christus voorgestel wat net soos ‘n Romeinse soldaat hom voltyds aan die leër wy en hom nie met die gewone burgerlike lewe bemoei nie.

Sesarea, aan die Middellandse See, was die hoof militêre basis van die Romeinse leër in Judea. Die stad is deur Herodes die Grote vir die Romeine gebou omdat daar ‘n natuurlike hawe suid van die berg Karmel was. Afdelings van die Romeinse leër te Sesarea het gewoonlik in Jerusalem diens gedoen en is in die Burg Antonia gestasioneer.

Soms is van die plaaslike bevolking ingespan om die soldate by te staan, maar omdat dit beteken het dat sodanige soldate moes meedoen aan die Romeinse aanbidding van die keiser-Augustus wat na sy dood as god vereer is, en Caligula wat dit nog tydens sy lewe laat instel het-en omdat hulle gedurig wapens moes dra, ook op die Sabbat, is die Jode van hierdie verpligting vrygestel. Die leër in Judea het dus uit Romeinse en Siriese troepe bestaan wat deur Romeinse offisiere aangevoer is.

oorlogmasjien

Replikas van Romeinse oorlogmasjiene by Masada

Die Romeine het die finansiële uitgawes aan hulle leer op vindingryke wyse voorsien. Die soldate is redelik goed betaal sodat dit nie moeilik was om rekrute te vind nie. Verder het soldate voedsel gekry en by uittrede ‘n stuk grond, gewoonlik op die grense van die ryk waar hulle goeie buffers teen invallers kon wees as gevolg van hulle militêre ervaring. Die kostes verbonde aan die leër is betaal uit belasting wat gehef is op die dele waar die leër moes dien. So het die Romeine ‘n magtige leër gehad wat ‘n groot faktor was in hulle uiteindelike heerskappy oor die grootste deel van die destydse wêreld wat vandag as Engeland, Europa, Klein-Asië en Noord-Afrika bekend is en waaronder Palestina natuurlik as deel van Klein-Asië getel het. Hierdie groot ryk het vir die verspreiding van die Christendom, nieteenstaande die vervolgings van Christene, die voordeel gebied dat die apostels makliker kon reis en dat taal en kultuur oor die hele ryk baie ooreenstemming gehad het – eers Grieks wat nog lank nadat die Romeinse leërs gebiede oorwin het, die algemene voertaal gebly het, en later al meer Latyn wat tot na die Middeleeue oor groot dele die offisiële taal van die kerk en die akademie was.

Die Romeinse legioene of leërafdelings het in die tyd van die Nuwe Testament ‘n eenheid van 6000 soldate getel en is deur ‘n legatus aangevoer wat gewoonlik ‘n oud-senator was. ‘n Legioen is in tien afdelings verdeel van 600 man en is ‘n kohort genoem wat aangevoer is deur ‘n tribunus wat in Handelinge 22:24 ‘n kommandant genoem word. In die Ou Afrikaanse Vertaling word hy ‘n owerste oor duisend genoem wat ‘n letterlike vertaling van die Griekse term “chiliarchos” is, ‘n term wat leier van duisend beteken. Dit was egter slegs ‘n titel met ‘n ronde getal en het in werklikheid ‘n eenheid van 600 beteken. Ses hoofmanne oor honderd het die afdelings waarin die 600 verdeel is, aangevoer. In die Nuwe Afrikaanse Vertaling word hulle kapteins genoem, of ook net offisiere soos in Matteus 8:8 en Handelinge 10:1, 23:23 en 27:43.

Die Romeinse legioene het almal getalle gehad wat deel uitgemaak het van die naam van die legioen. Die feit dat die vierde, sesde, tiende en twaalfde legioen almal op een of ander plek in Palestina en omgewing gestasioneer was, toon ook aan dat dit n gebied was wat moeilik in bedwang gehou kon word. Immers vir die Jode was die Romeinse teenwoordigheid ‘n gruwel en al waarvoor hulle geleef het was die koms van die Messias wat volgens hulle opvattings ‘n persoon sou wees wat die Romeine sou uitjaag en weer die troon van Dawid in ere sou herstel.

Romeinsesoldaat

Naas die voetsoldate van elke eenheid was daar ook soldate met spesiale opdragte soos die boogskutters, die ruitery, die geneeshere en die trompetters en vaandeldraers. Elke afdeling van 100 het sy eie vaandel gehad met eie simbole daarop. Die Jode en Romeine was dikwels hieroor in onenigheid, want heidense simbole in Jerusalem self, was vir die Jode onaanvaarbaar.

Die Romeinse soldaat het beskermende klere (van leer gemaak) gedra en as wapen gewoonlik die kort dolk wat-, ook as ‘n stuk gereedskap vir allerhande dinge gebruik is. Die gewone swaard was sowat ‘n halwe meter lank en die spies kon tot twee meter lank wees. Spiese is in stormlope gebruik om die vyand te gooi voordat die hand tot hand gevegte met swaarde begin het.

Die Romeine het baie oorlogstuig gebou waaronder die catapulta of reuse boog-‘n masjien wat spiese of soortgelyke lang pyle kon afskiet om bo-oor ‘n muur te trek. Die ballista was ‘n masjien wat soos n reuse slingervel groot klippe tot ‘n halwe kilometer ver kon slinger.

Naas die gewone soldate was daar ook die keiserlike wag (Filippense 1:13) wat die regters beskerm het en oral ook by gevangenisse as bewakers diens gedoen het. Hulle was beskou as die keiser se lyfwagte en is meer as gewone soldate betaal.

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(5) – JP Louw

Oorlog en godsdiens

Reeds aan die begin van hierdie hoofstuk is gesê dat oorlog en godsdiens in die redenasies van die oorlogvoerendes nou aan mekaar verbind was. Sekere praktyke in hierdie verband moet nog op gelet word. Vir die Jode was die Here ‘n krygsman (Eksodus 15:3). Hy is die een wat vir Israel sal veg (Eksodus 14:14), Hy trek voor hulle uit (Rigters 4:14) en Hy hef die strydkreet aan (Jesaja 42:13). Hoewel die naam “Here van die leërskare” (Ou Afrikaanse Vertaling) miskien meer slaan op God as die heerser oor alle hemelse magte (van engele) en dus eerder vertaal moet word as “die Here die almagtige heerser” of “die Here die Almagtige” soos in die Nuwe Afrikaanse Vertaling; dui 1 Samuel 17:45 wat lees “die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel” tog daarop dat Hy ook Israel se aanvoerder is. Immers in Numeri 21:14 word verwys na ‘n boek met die titel Boek van die Oorloë van die Here” wat ewe-eens dui op ‘n verband wat gelê is in oud Israel tussen oorlogvoering en godsdiens.

‘n Militêre optrede is soms direk aan die bevel van die Here gekoppel. Meermale lees ons in die Ou Testament dat die Here opdrag gegee het dat die volk in oorlog teen dié of daardie moes optrek. In 1 Konings 8:44 word so ’n opdrag voorafgegaan met ‘n gebed. Psalm 20 is ‘n voorbeeld van ‘n lied wat as n bede geuiter is. Dikwels, soos in 1 Konings 20:13-30, kom die profeet van die Here na die koning met voorskrifte en bevestiging van die Here se hulp in die geveg. In Rigters 20:26-27 verootmoedig die soldate hulle voor die Here deur te huil, te vas en offerandes te bring. Dikwels gee die profeet van die Here ook waarskuwings om die koning en die mense op hulle hoede te stel en van sekere voornemens te laat afsien. In Rigters 7:18 is die strydkreet wat voor die geveg aangehef word duidelik religieus: “vir die Here en vir Gideon”.

Die oorwinning is telkens verstaan as die Here se oorwinning. Hy het die vyand in Israel se hand gegee. As ‘n oorwonne stad uitgewis is, was dit meestal onder banvloek van die Here. So is alles wat Israel op die slagveld gedoen het met hulle godsdiens verbind as direkte bemoeienis van die Here. Toe Akan tydens die beleg van Ai (Josua 7) met die dood gestraf is, het Josua aan hom gesê “die Here bring die dood oor jou” (vs 25). So groot was die oortreding van Akan dat toe hy van die bangoed (d.w.s. die buit wat as offer aan die Here behoort het) vir homself geneem het, is hy, sy gesin, sy vee, al sy besittings verbrand. Met die tweede aanval op Ai nadat Akan gestraf is, het die bevel weer van die Here gekom: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor” (Josua 8:18). Hierdie keer is al die inwoners met die ban getref, (d.w.s. doodgemaak), maar die vee en die besittings het die soldate vir hulleself geneem.

Oorlogvoering was nou gekoppel aan die volk se toewyding aan die Here en sy wet. Dikwels het die Here volke en konings gestuur om Israel te straf. Jesaja 10:1-4 waarsku dat die Here met hulle sal afreken omdat sy volk die wet verdraai asook armes en wese onderdruk en uitbuit. Die Assiriërs word dan gestuur om Israel te straf (vs 5-11) en as hulle daarna op hulle eie krag roem, word ook die Assiriërs vernietig deur die vuur van die Here self (vs 12-19). Die hele boek Habakuk handel oor dieselfde saak: die Here straf deur vyande op te wek.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(4) – JP Louw

See-oorlog

Die Jode het geen vloot gehad nie, want hulle het geen groot hawestede gebou en oorsee handel gedryf nie. Dit was die Egiptenare, Filistyne, Fenisiërs, die Grieke en Romeine wat in die antieke tyd seevaarders was en ook soms oorlog ter see gevoer het.

‘n Geveg teen ‘n stad

Stede is op hoërliggende dele gebou en met sterk mure en poorte beskerm soos alreeds beskryf is. Die aanvallers het egter allerhande teg­nieke begin ontwikkel om ‘n stad binne te val. Tonnels is soms onder die mure gegrawe om die fondamente te laat sak sodat die muur kon val. Maar om dit te kon doen, moes hulle met allerhande beskermings soos groot skilde of afdakke op wiele hulleself teen dié bo-op die muur beskerm, want van bo is nie net geskiet nie, maar ook groot klippe afgegooi asook kokende water of olie, of soms net enige brandende materiaal. Stadspoorte is ook met beskermings bestorm en aan die brand gesteek. Soms is die kalksteen van die mure verswak deur groot vure teen hulle te laat brand om dan later met lang pale teen die muur te stamp tot dit breek.

‘n Baie effektiewe wapen was ‘n lang en baie dik balk met ‘n metaalpunt wat op ‘n toestel met wiele gestoot is. Dit is teruggetrek op sy skarnier onder op die toestel en dan met toue vinnig op en vorentoe getrek om sodoende as ‘n reuse hamer te dien om stadsmure of poorte stukkend te slaan.

As die boogskutters op die muur vanaf torings wat buite die muur gebou is, raakgeskiet kon word, het ander van onder lang lere teen die mure gehys en dit so vinnig gedoen dat nie almal deur dié op die muur gekeer kon word nie. As ‘n paar eers bo-op was, het hulle die verdedigers besig gehou sodat nog meer kon opklim en uiteindelik die stad kon oorweldig. By Masada het die Romeine ‘n reuse wal skuins teen die natuurlike muur van die berg gebou waarop hulle kon loop en hulle oorlogs­tuig kon optrek.

Tydens ‘n geveg is verskillende seine geflits om kommunikasie te bevorder. In Jeremia 6:1 word van vuurseine gepraat om te waarsku teen ‘n inval.

Esegiël 4:2-3 beskryf ‘n aanval met die volgende woorde: “Bou beleëringswerke … stel storm­ramme rondom op. . . . Vat ‘n ysterplaat en laat dit ‘n muur wees tussen jou en die stad.” Dieselfde word ook in Esegiël 26:8-9 gesê met byvoeging van beskermingsdakke wat teen die stadsmuur aangebring word.

 

‘n Veldslag

Buite die stadsmuur is veldslae gereeld gevoer as twee leërs mekaar aandurf. In 2 Samuel 11:1 lees ons “in die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak”. Dit was die tyd dat die koue verby is en voedsel makliker bekom kon word. Dan het die konings maar net uit hebsug teen mekaar opgetrek. Sodra die een die ander se gebied betree, was dit vanself ‘n verklaring van oorlog en het die wagte gesien dat ‘n vyand op pad is. Soms het die invaller voorwaardes aangebied soos byvoorbeeld die spaar van die stad se lewens teen betaling; ander kere weer is stede summier verwoes en die oorbly­wendes as slawe weggevoer. As ‘n stad nie wou toegee nie, het die geveg begin, of deur soldate wat mekaar buite die stad in die veld aandurf of deur beleëring van die stad self. Naas bestorming van die muur is ook ander middele aangewend deur ‘n stad net van kos en water af te sny. Toe die koning van Aram teen Samaria opgetrek het, is die stad van kostoevoer afgesny en het daar ‘n groot hongersnood ontstaan (2 Konings 6:24-25), so erg dat mense selfs oorweeg het om kinders te eet.

‘n Ander tegniek was hinderlae. Rigters 20:29-40 vertel hoe die Israeliete by Gibea die Benjaminiete uit die stad uitgelok het deur met ‘n klein groepie soldate aan te val wat gou gevlug het en toe hulle agtervolg is terwyl ander wat in hinderlae geskuil het, opgespring het en die stad ingeneem het. Toe rook uit die stad opgaan het die Benjaminiete besef hulle is om die bos gelei.

Soms is n beleërde stad gered deur die ingryping van die Here. So byvoorbeeld het die. Here die Assiriërs met die dood getref toe hulle Hiskia beleer het. ‘n Engel van die Here het in een nag 185 000 Assiriërs laat sterf sodat hul koning Sanherib opgepak en teruggegaan het na sy land toe. In ander gevalle het ‘n koning afgesien van sy veldtogte omdat ‘n sterker koning n gebied verower het en beskerming aan die inwoners gebied het (2 Konings 24:7).

Gewoonlik is al die mans doodgemaak wanneer ‘n stad ingeneem is terwyl die vroue en kinders as slawe weggevoer is. Soms is van die mans gespaar om ook slawe te word. Die besittings is dan deur die soldate gebuit en die stad met vuur verbrand. Die Assiriërs was bekend as besonder wreed en hulle het meestal al wat voorgekom het, vernietig. Soms is die leiers gevang en hulle oë uitgesteek as vergelding. In Rigters 16:21 lees ons hoe die Filistyne vir Simson gegryp het, sy oë uitgesteek het en hom met kettings geboei het. In 2 Konings 25:7 word vertel hoe Nebukadnesar van Babel teen koning Sedekia van Jerusalem opgetree het toe hy teen hom opgestaan het. Nebu­kadnesar het Sedekia se seuns voor hom geslag, sy oë uitgesteek en hom in kettings na Babel weggevoer. Die koning van Ai het ietwat beter daarvan afgekom. Hy is net in ‘n boom opgehang (Josua 8:29).

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(3) – JP Louw

Die voetsoldaat

Gedurende die tye toe Israel ‘n leër gehad het, was die voetsoldaat die kern. Die wapens van hierdie soldate het dan ook die belangrikste geword. Al is dit soms moeilik om die wapens uit hulle Hebreeuse name te identifiseer, kan ons tog in die breë iets daaroor sê. Soldate het beskermende klere gedra-dikwels van leer gemaak wat om die bene en arms asook om die lyf gedra is. Soms is ook ‘n helm gedra wat selfs die ore kon beskerm. Hierdie toerusting was meestal deur elke soldaat self voorsien en daar moet nie gedink word aan ‘n leërmagasyn waar alles gestoor was nie, hoewel skilde en spiese tog ook deur werkers gemaak was vir soldate se gebruik. Die slingervel en die pyl en boog was naas spiese en swaarde die vernaamste wapens. In 1 Samuel 17:38-40 lees ons dat Saul vir Dawid sy eie oorlogsklere aangetrek het: ‘n harnas, ‘n helm en swaard vasgegord. Maar dit was vir Dawid te swaar om mee te loop. Skilde het deur die eeue heen baie dieselfde gelyk. Meestal was hulle rond met vel oorgetrek en ‘n handvatsel aan die binnekant. ‘n Skild is gereeld met olie gesmeer sodat die leer nie kraak nie (2 Samuel 1:21).

‘n Kort swaard, wat eerder iets soos ‘n langerige mes of dolk was, was gewoonlik die basiese wapen van die voetsoldaat. Spiese is egter ook gebruik. Saul het na Dawid met sy spies gegooi (1 Samuel 18:11). Rehabeam het volgens 2 Kronieke 11:12 in die vestingstede wat by as militêre basisse ingerig het, skilde en spiese gestoor naas voorrade, kos, olie en wyn. Tog was die kort swaard of dolk meer algemeen en veral gebruik vir man tot man gevegte.

‘n Ander belangrike wapen van die voetsoldaat was die slingervel waarmee klippe met groot akkuraatheid gegooi is. In Rigters 20:16 word vertel van sewehonderd knap soldate, almal links, wat keer op keer ‘n haar met ‘n klip uit ‘n slingervel kon raakgooi. En in 2 Konings 3:25 lees ons dat Kir-Geres, ‘n Moabitiese stad, deur die Israeliete ingeneem is toe soldate met slingervelle die stad omsingel het.

Dan was daar ook boogskutters. Die pyle het soms metaalpunte gehad met vinne aan die kante sodat hulle nie maklik uit ‘n wond getrek kon word nie. Die boog was aanvanklik net ‘n geboë stok wat deur ‘n lyn so gespan is, maar in die tyd toe die Assiriërs ‘n mag was het hulle boë gemaak met gelamineerde hout en horings wat baie sterker span­krag gehad het en natuurlik so n pyl verder kon laat trek en dieper kon laat indring. Die pyl en boog het mettertyd die belangrikste wapen vir afstandgevegte geword. In 2 Samuel 11:20 verneem ons dat boogskut­ters van die stadsmure af die aanvallers wat te naby die muur kom, afgemaai het. Die Assiriërs het, om hierdie probleem te omseil, reuse skilde gemaak om hulle soldate te beskerm. Pyle, asook groot klippe, is soms met toestelle, wat dieselfde effek as ‘n boog gehad het, van stadsmure geskiet. In 2 Kronieke 26:15 lees ons dat “slim mense” vir koning Ussia toestelle ontwerp het om van die hoeke van sy forte pyle en klippe, te kon skiet.

Hoewel verskeie bylpunte opgegrawe is, het soldate byle eerder gebruik om hout te kap as om daarmee te veg. In die talle friese en muurskilderye van oorlogstonele kom byle nie as wapens voor nie-miskien omdat die kort swaard vir man tot man gevegte ‘n handiger wapen was.

Wapens

Verskeie metaalwapens uit die Bronstydperk-‘n kort swaard, spies- en bylpunte.

 

Strydwaens

Strydwaens het aanvanklik ontwikkel uit die behoefte om soldate, veral boogskutters, vinnig te laat beweeg met meer vryheid om te skiet as vanaf die rug van ‘n perd. n . Strydwa het ook meer beskerming gebied. Strydwaens was ‘n platvorm op ‘n as met wiele wat meestal aan die voorkant, waar een of twee perde getrek het, ‘n afskorting gehad het om die bene te beskerm. Meestal het twee soldate saam gery-een het die perd(e) beheer en die ander kon die boog vryelik hanteer.

Skrywer:  Prof JP Louw