Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(2) – JP Louw

Helleniste en Chassidim

Na die opbou van Jerusalem in die tyd van Esra en Nehemia het daar sowat twee eeue verloop totdat die Griekse wêreldheerser Aleksander die Grote Palestina verower het. Die kragtige Griekse kultuur is oral in Aleksander se ryk gepropageer en doelbewus op die plaaslike bevolkings afgedwing. Ook Palestina het nie ontsnap nie. Griekse soldate en die Griekse taal as omgangs­taal saam met Griekse lewenswaardes het in Palestina twee kenmerkende groepe laat ontwikkel, naamlik die Helleniste en die Chassidim.

Die Helleniste se naam is ontleen aan die Griekse woord vir Grieke, nl Hellene. Die woord Grieks was die Romeine se term vir die bewoners van Hellas, dit is Griekeland. Helleniste was mense wat die Griekse kultuur goedgesind was. Baie van die Joodse leiers het probeer om met die hulp van die Grieke mag te bekom oor ander Joodse groepe. Hierdie mense het die Griekse heersers na Aleksander die Grote as bondgenote beskou, want die Grieke het aanvanklik die plaaslike bevolking ‘n redelike mate van selfrege­ring toegelaat as hulle maar net Griekse lewensvorme gesteun het. In hierdie proses het Palestina vir lank ‘n speelbal tussen die Griekse heersers in Sirie en dié in Egipte geword. Palestina was tussen die twee groot magte geleë en was dan by die een, dan by ander ingelyf. Die Griekse heersers in Egipte was rustiger as die Siriërs. Die Griekse heersers in Sirië egter het telkens met meer mag Griekse idees probeer afdruk op die Jode. Toe die Siriese heerser Antiogus III in 198 n. C. Egipte verslaan, het Palestina weer onder Siriese bewind gekom. Maar Antiogus III, wat ‘n vurige ondersteuner van die Hellenisme (dit is die Griekse kultuur) was, het besluit dat die Jode meer moes toegee. Baie Jode was aanvanklik toegegee omdat Antiogus III hulle van Egipte bevry het, en Antiogus het ook aan die begin die ryk Jode bevoordeel om hulle te wen. Hulle weer, het horn gesteun om finansiële redes. Hulle het selfs die hoëpriesterskap van Jason (‘n Hellenis) gesteun. Jason het ‘n Griekse gimnasium in Jerusalem gebou om die jeug aan te moedig om Grieks te leer.

Teenoor die Helleniste het ‘n ander groep ontwikkel, die Chassidim wat hulle naam afgelei het van ‘n Hebreeuse woord wat “die godvresendes, “die toegewydes” beteken het. Die meer konserwatiewe Jood het horn tot die Chassidim aangetrokke gevoel, want die Chassidim het hulle beywer om hulle godsdiens suiwer te bewaar en om enige Hellenistiese invloed teen te staan. Toe die Makkabeërs, (‘n groep wat hulle beywer het om politieke vryheid te verkry) probeer het om hulle van die Siriese heersers te bevry, het die Chassidim hulle ondersteun. Maar toe die Chassidim uitvind dat die Makkabeërs eerder polities as religieus in hulle motiewe was en daarom ook Helleniste wat graag politieke onafhanklikheid wou hê in hulle geledere opgeneem het, kon die Chassidim nie anders as om hulle te onttrek nie. Die Makkabeërs het tog eindelik daarin geslaag om die Siriese juk of te skud wat natuurlik ook vir die Chassidim verligting gebring het.

Hoewel nog die Helleniste nog die Chassidim by name in die Nuwe Testament genoem word omdat hulle voor die tyd van die Nuwe Testament aktief was, het hulle opvolgers (die Sadduseërs en die Fariseërs) wat hulle ideale voortgesit het onder Romeinse juk nadat die Romeine die Makkabeërs verslaan het, die hoofgroepe van die Joodse partye in die tyd van die Nuwe Testament gevorm en kan ‘n mens byna se dat die Helleniste en Chassidim in nuwe vorme herleef het.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(1) – JP Louw

Baie mense in ‘n bevolking beoefen hulle politieke en godsdienstige oortuigings” sonder veel drama terwyl ander sterk aangetrokke is tot drukgroepe en selfs aktiviste word. In Bybeltye was dit nie anders nie: Veral in die moeilike tye na die Babiloniese ballingskap, die herbou van die Tempel in Jerusalem, en in die tyd van Jesus onder Romeinse oorheersing het die Joodse bevolking onder swaar druk geleef. In tye soos hierdie ontstaan daar altyd verskeie groepe met sterk geformuleerde ideale. Om die sosiale en politieke groeperings met hulle religieuse onderbou, wat veral in die tyd van die Nuwe Testament baie aktief en divers was, te begryp, is dit goed om na die gebeure terug te gaan toe Samaria in 721 v. C. verwoes is en die bevolking weggevoer is na Assirië, en toe Jerusalem later ook verower is en die volk in 586 v.C. in ballingskap weggevoer is.

Die Samaritane

Hierdie groep het hulle naam ontleen aan die stad Samaria wat die hoofstad was van die Noordelike Ryk wat ontstaan het na die skeuring onder Salomo se opvolgers. Omri (1 Konings 16:24) het Samaria gebou en,sy seun Agab het die Baäldiens ingestel met ‘n tempel van Baal in Samaria (1 Konings 16:31-33). In 721 v.C. het die Assiriërs die stad verwoes en omtrent 27 000 van die beste en kun­digste mense van Samaria in ballingskap na Assirië weggevoer (2 Konings 17:24). Hierdie wegvoering staan bekend as die Assiriese ballingskap. Die As­siriërs het ander verowerdes geneem en hulle in Samaria aangestel as regeerders sodat dit kon lyk asof hulle die oorblywende bevolking nie direk regeer het nie. Tog het hulle dit wel gedoen deur so ‘n middelman wat lojaal aan die Assiriërs was vir hierdie guns. Dit was die Assiriërs se manier van doen om stabiliteit te bewerk. Maar dit het nie goed gegaan nie en in 2 Konings 17:25-34 lees ons van die probleme. As gevolg van die drastiese vermindering van die bevolking het die wilde diere van die omgewing vinnig vermeerder en het leeus mense begin aanval, en heelwat mense gedood. Die nuwe heersers het toe besluit dat hulle van die priesters wat weggevoer is, moes terugkry omdat hulle self nie mooi geweet het hoe om die Jode se God te vereer nie. Een priester is toe teruggebring om die Joodse godsdiens te herstel. Maar dit het nie veel gehelp nie, want die diverse bevolking het nog hulle eie gode saam met die erediens aan die God van Israel beoefen en so ‘n mengelgodsdiens tot stand gebring. Later het sommige van die Israeliete in Samaria wat hulle godsdiens getrou bewaar het, na Jerusalem opgesien – en in 2 Kronieke 35:17 lees ons selfs van ‘n geleentheid waar hulle aan die paasfees in Jerusalem deelgeneem het. Toe Jerusalem later self in 586 v. C. deur Babiloniërs vernietig is, het die Jode in Samaria hulle eie godsdiens voortgesit. Toe Babel later voor die Perse geswig het en die Jode in die Babiloniese ballingskap toegelaat is om Jerusalem te herbou, het die Samaritane verskillend reageer. Sommige het gemeen hulle moet saam help om te bou en die Joodse godsdiens te versterk (Esra 4:2), maar die terugkerende Jode wou niks van hulle weet nie (Esra 4:3). Moontlik het hulle geglo dat die mengelgodsdienste in Samaria ‘n gevaar ingehou het. Ander Samaritane was teen die herbou van Jerusalem gekant, want hulle wou Samaria handhaaf (Nehemia 2:10, 4:3). Alle Samaritane was immers nie suiwer Jode nie, want daar was in Samaria ook die volke wat deur die Assiriërs daar geplaas is en van die Jode het met hulle vermeng. Die Samaritane was dus nie vir die terugkerende Jode uit die Babiloniese ballingskap aanvaarbaar nie. Trouens die Samaritaanse Jode was nog steeds deel van die ou Noordelike tienstammeryk en die terugkerende Jode uit Babel het tot Juda en Benjamin behoort, die twee stamme van die ou Suidelike Ryk toe die volk na Salomo geskeur het. Hierdie ou vetes het herleef. Die Samaritane is dus beskou as ou vyande van die ware Jode van Jerusalem en verder is hulle ook as onrein beskou omdat hulle met soveel heidene in hulle midde gemeng het. Dit is dus begryplik dat die dissipels wat Jesus met ‘n Samaritaanse vrou sien praat het verbaas was (Johannes 4:9), want die Jode van Jerusalem het geen kontak met die Samaritane gehou nie. Dat Jesus twee dae in Samaria gebly het en dat baie Samaritane in horn geglo het (Johannes 4:39-40), moes vir die Fariseërs in Jerusalem ‘n gruwel gewees het en ‘n bewys” dat Jesus nie die Messias kan wees nie. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan sou sekerlik nie goed op die ore van die Fariseërs geval het nie. Hulle eie sosiale opvattings het so ‘n Messias nie aanvaar nie. Die slotwoorde van die boek Nehemia toon duidelik hoe sterk die ortodokse Jode van Jerusalem die Samaritane gehaat het (Nehemia 13:23-31).

Na die afwysing van die Samaritane deur die terugkerende Jode uit Babel, het hulle op ‘n stadium besluit om hulle aan Jerusalem te onttrek en ‘n eie tempel te bou (Johannes 4:19-20) te Sigem op die berg Gerisim wat ‘n belangrike plek in die geskie­denis van oud Israel was (Deuteronomium 11:29, Josua 8:33). So het die Samaritane ‘n eie tak van die Joodse godsdiens ontwikkel. Een besondere ken­merk hiervan was dat die Samaritane nie die hele Ou Testament as Bybel aanvaar het nie. Slegs die eerste vyf boeke van die Ou Testament wat hulle toegeskryf het aan Moses, is as Bybel aanvaar. Hierdie vyf het heelwat later (160 n. C.) bekend geword as die vyfdelige boek wat destyds in Grieks “pentateuchos” genoem is en so is later algemeen gepraat van die Samaritaanse Bybel as die Samari­taanse Pentateug. Die Jode in Jerusalem het die boeke altyd, en nog steeds, die Torah (Wet) ge­noem. Die Samaritaanse Pentateug stem grootliks ooreen met die Joodse Torah maar daar is tog baie kleiner verskille. Een belangrike is, byvoorbeeld, dat die woord Ebalberg in Deuteronomium 27:4 in die Samaritane se Bybel Gerisimberg lees.

In kort het die Samaritane se teologie behels dat die pentateug die enigste gesag is, dat daar een God is met een profeet nl Moses wat eendag as redder sal terugkeer, soms ook Messias genoem (Johannes 4:25). Verder het hulle geglo dat daar ‘n Dag van Oordeel kom en dat Gerisim die plek is wat God aangewys het as die korrekte plek om Horn te aanbid. Hierdie laaste stelling het vir die Samaritane die elfde gebod geword (Johannes 4:20).

Gedagtig aan die swak verhouding tussen Jode en Samaritane, is dit opvallend dat Lukas 17:16 vermeld dat van die tien melaatses wat gesond geword het net een kom dankie se het-hierdie een was ‘n Samaritaan, en in vers 18 word van horn gesê “hy is nie eers ‘n Jood nie”. Hieruit blyk dat die Jode in Jerusalem hulleself as Jode beskou het, maar die Samaritane (vanweë die ander volke in Samaria met wie hulle gemeng het) as heidene beskou het-of hulle nou egte heidene of egte Samaritaanse Jode was. Alle Samari­tane was vir die Jode gelyk aan heidene.

Hierdie houding teen die Joodse Samaritane wat op die berg Gerisim hulle tempel gehad het, was so sterk dat in 128 v. C. een van die Joodse heersers in Jerusalem met die naam Johannes Hirkanus, wat tot die Hasmoneërs (‘n Makkabese groep wat fanatieke Jode was) behoort het, die tempel op Gerisim verwoes het toe hy Sigem ingeneem het. In die tyd, êrens tussen 6 en 9 n.C., het ‘n groep Samaritane weer die Tempel in Jerusalem ontheilig deur doodsbeendere daar tydens paasfees rond te strooi. In Handelinge 8 lees ons egter dat Jesus se houding teenoor die Samaritane onder Christene ‘n verandering gebring het. Filippus het daar gepreek en toe die gemeente in Jerusalem hoor dat die Samaritane die Evangelie aanvaar het, is Petrus en Johannes gestuur wat vir hulle gebid het sodat hulle ook die Heilige Gees ontvang het (Handelinge 8:15-17). Hierdie verandering van gesindheid is iets besonders wat die krag van die Evangelie van Jesus Christus illustreer.

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(5) – JP Louw

Interessante Bybelgedeeltes

 

Uittrek van skoene

Eksodus 3:5: Skoene is meermale uitgetrek as mense in die huis inkom om so te verhoed dat die huis vuil getrap word. Nadat gaste se voete gewas is, het hulle die skoene ook uit gehou. Dit was ‘n teken van respek. By alle heiligdomme is skoene uitgetrek as teken van eerbied. Daarom moes Moses in Eksodus 3:5 sy skoene uittrek. Vandag nog trek Oosterlinge hulle skoene uit as hulle in die huis is en by alle Moslem heiligdomme gaan die mense ook kaalvoet in. Onder Christene gebeur dit ook by die Spade Reën gemeentes.

 

Vrouekwartiere

Rigters 4:17-22. Waar groter huise meer vertrekke gehad het, of ook in groter tente, het die vroue in die agterste dele gebly. Dit was ‘n groot oortreding om daar in te gaan. Sisera het horn in die vrouekwartier van die tent van Jael versteek waar by veilig teen sy agtervolgers sou wees, want daarin sou niemand horn gesoek het nie. Vrouens het egter ook aparte tente gehad (Genesis 24:67, Genesis 31:33. Vgl ook Genesis 30:16).

 

Die Leviet en sy byvrou

Rigters 19:21 ev. Die grusame verhaal het ‘n historiese en kulturele agtergrond wat vir ons vreemd is. In hierdie tyd het die stamme van Israel met mekaar in ‘n eenheid saamgestaan. Slegs die stam van Benjamin wou nie en het verkies om op sy eie te bly. Toe die Leviet dus in Gibea (wat aan Benjamin behoort het) kom, het die Benjaminiete besluit om horn aan te rand. Dit was dus in wese ‘n politieke dispuut-daarom ook die grusame oorlog waarin ‘n baie groot deel van die stam van Benjamin doodgemaak is.

 

Water om te drink

Markus 9:41. Dit was ‘n baie belangrike gebaar van gasvryheid om iemand water te gee om te drink. In ‘n warm en dorre woestynagtige land is dit goed te verstaan. Daarom kon die mense begryp dat toe Jesus (Matteus 10:42) gepraat het van “‘n beker koue water aan iemand gee” Hy ‘n besondere weldaad bedoel het.

 

‘n Wit steen

Openbaring 2:17. Klein stukkies klip, veral sierstene, is dikwels vir besondere tekens gebruik. In Eksodus 28:21 word gesê dat die 12 stamme van Israel met 12 stene gesimboliseer was. Stene was tekens van duursaamheid. ‘n Wit steen soos hierdie in Openbaring 2:17 simboliseer ewige oorwinning en die naam daarop ‘n nuwe identiteit wat die ontvanger gekry het. Die wit kleur het reinheid en heerlikheid voorgestel. Die wit steen sal die oorwinnaar, dit is die een wat getrou bly in die geloof, se ” toegangsteken na die hemelse heerlikheid wees.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(4) – JP Louw

‘n Formele ete

Gewone etes het meestal op die grond, of selfs om ‘n tafel, geskied. So ‘n tafel was gewoonlik baie laag, en die mense het op matte gesit. Formele etes het of ‘n tafel gehad waarop die kos geplaas is of die kos was op die grond gesit. Die gaste het letterlik aangelê by die eetgoed want om die tafel, of waar die kos geplaas is, was lae banke gerangskik waarop die gaste op hulle sy gelê het, dikwels met kussings om op te rus (Ester 1:6, Esegiël 23:41). Die kos was aan die kop en die voete het dus weg van die tafel gewys. Soms, waar meer aanlêbanke gebruik is, was ‘n hooftafel op ‘n effens hoër vloerdeel geplaas. Dit was beskou as die beste plekke (Matteus 23:6, Lukas 14:8-10). So het die gaste aangelê met die minste in status op die verste bank of deel van die bank. Die heel belangrikste gas het aan die regter­kant van die gasheer gesit en die tweede in be­langrikheid aan sy linkerkant (Markus 10:35-37). Hierdie gaste het ook die grootste borde en beste kos gekry.

In die vroegste tye het mense dikwels op hulle voete gesit as hulle eet deur die bene onder hulle te kruis, dikwels op ‘n mat. Hoewel stoele gebruik was om op te sit (2 Konings 4:10, Spreuke 9:14), was dit meer deur owerheidspersone as deur ge­wone mense gebruik. By die rusbanke het die mense op die linkersy gelê en met die linkerarm gesteun sodat die regterhand vry was om die kos te hanteer, want daar is met die hand geëet. Messe, vurke en lepels soos vandag, het eers lank na die

Middeleeue in gebruik gekom. Om so te lê en eet was nogal moeilik en ‘n mens moes die kop of lyf goed draai om te gesels, of van sy te verwissel. Toe Jesus by Simon geëet het, moes hy op so ‘n bank gelê het, want in Lukas 7:45 word verwys na die vrou wat sy voete gesoen het. Sy voete was dus weg van die ete of waar dit aan die ander ent van die bank maklik bereikbaar was.

Omdat die ereplek aan die regterkant van die gasheer was, het dit beteken dat so ‘n persoon, as hy met die gasheer sou praat, op sy bors oorgeleun het (Johannes 13:13-25). Mans het alleen saam­geëet. Slegs by onverfynde maaltye was vroue ook teenwoordig, maar vroueslawe het by maaltye bedien en dikwels teen die mure op diens gestaan. Die vrou in Lukas 7:45 was dus nie opsigtelik toe sy ook ingekom het nie.

Tydens ‘n maaltyd het die gas soms ‘n stukkie brood geneem, in die sous gedoop en in die mond van die geëerde gas geplaas as ‘n teken van besondere waardering. Toe Jesus in Johannes 13:26-29 die stukkie brood indoop en aan Judas gee, het die dissipels dit nie verstaan nie al het Jesus duidelik gesê dat die verraaier die een is aan wie hy die stukkie sal gee. Omdat so ‘n daad egter ‘n gebruiklike eerbetoon was, het hulle (vers 29) ander redes bedink waarom Judas opgestaan en geloop het.

Die kos wat by formele maaltye geëet was, het bestaan uit wyn wat met water verdun was en soms met heuning versoet is. Wyn is nooit skoon ge­drink nie. Gewoonlik is twee dele water by een deel wyn gevoeg. Iemand oor wie dit gesê was dat hy sy wyn skoon drink, was dus ‘n misbruiker, selfs dronkaard. Vleis, vis, brood, eiers en vrugte was die mees algemene kos.

By formele etes is daar soms ook vermaak aan­gebied. In Amos 6:4-6 word van musiek en liedjies gepraat. Dikwels is ook gedans en gesing. Dans was individueel. Elke persoon het op sy eie gedans. In Markus 6:22 word van Herodias se dogter vertel wat vir die gaste gedans het, en in Jeremia 31:13 lees ons van jong meisies, jong mans en ou mans wat gedans het, maar hier moet ons nie clink dat hulle met mekaar gedans het nie. Hulle het bloot terselfdertyd gedans. Elke persoon het op sy eie gedans – en meestal was daar net mans wat deelgeneem het. Mans en vroue wat met mekaar gedans het, was nie in Bybeltye bekend nie. Na die ete het die gaste hulle met lang gesprekke vermaak, soms meer ernstige diskussies, of selfs poësie­ – dikwels egter net praatjies.

Skrywer:  Prof JP Louw