Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(17) – JP Louw

Geheiligde persone

Levi, een van die twaalf seuns van Jakob, het drie seuns gehad (Genesis 46:11, Numeri 3:17). Gedurende die verblyf van Israel in Egipte het die familie van Levi, soos dié van die ander seuns, natuurlik al groter geword sodat met verloop van tyd Levi se huis ‘n stam geword het en nog later het die drie seuns se families elk tot ‘n stam ontwikkel. Aaron, Moses en Miriam het behoort tot een van hierdie drie stamme. Toe die volk die goue kalf gemaak het by die berg Sinai en Moses hulle bestraf het, was die Leviete, sy stamgenote dus, die wat dadelik saam met Moses gestaan het om hierdie afgodery uit te roei (Eksodus 32:26-28). Daarop het Moses aan die Leviete gesê (vers 29) “vandag is julle gewy vir diens aan die Here”.

Die Leviete het toe die stam geword waaruit die priesters gekom het en wat die opdrag gehad het om vir die erediens te sorg. Hulle het die tabernakel opgerig en onderhou. Numeri (hoofstuk 3) gee ‘n beskrywing van die pligte en werksaamheid van die stam van Levi. Die drie stamme (Gerson, Kehat en Merari) van Levi se seuns het (volgens Numeri 3:39) 22000 manlike persone getel. Die getal 7500 in Numeri 3:22 het net betrekking op die Gersongroep. Die Kehatgroep was 8600 (Numeri 3:28), die Merarigroep was 6200 (Numeri 3:34) – ronde getalle wat dus nie heeltemal rym met wat in Numeri 3:42-46 gesê word nie.

Elkeen van die groepe wat aan die drie seuns verwant was, het volgens Numeri 3:23-37 spesifieke take gehad om die tabernakeldiens te versorg. Hulle het die plek geneem van die eersgebore seuns van Israel wat in beginsel aan die Here gewy was en dus die priesterei moes verteenwoordig het. Die eersgeborene se besondere posisie in Israel dateer sedert die uittog uit Egipte (Eksodus 11:5; 12:12-13) toe die eersgeborenes gered is. Die eersgeborene van mens, dier en selfs plante (as oes van die landerye) het aan die Here behoort en is aan Hom toegewy as ‘n offer. Numeri 3:40-51 gee ‘n beskrywing van hierdie sonderlinge uitruiling gesien teen die agtergrond van die Leviete se wyding by Sinai wat hierbo genoem is (Eksodus 32:29). Hierdie uitruiling was blykbaar om die probleem op te los dat by Sinai die eersgeborenes as’t ware verbygegaan is.

Die Leviete as gewydes aan die Here se diens het gevolglik ook nie militêre diens gedoen nie. In Numeri 1 word die weerbare manne gemonster en in die lyste van die stamme wat in verse 20-43 gegee word, ontbreek Levi. In verse 47-51 word die Leviete afgesonder as toesighouers oor die tabernakel. As ons hulle getalle in ag neem, was hulle persentasiegewys baie groot en dit is te ver­staan dat so baie dele van die offers vir die priesters gegee moes word om hulle te onderhou. Ook moes die Leviete tussen al die ander stamme verspreid woon (Numeri:35:1-8) om hulle diens oral te kon verrig. Nie alleen van die offers is aan hulle gegee nie, maar ook die tiendes (Numeri 18:21) het aan die Leviete behoort vir hulle onderhoud.

Dit is belangrik om te let dat nie alle Leviete priesters was nie. Die Leviete het die heiligdomme beskerm, vir die musiek gesorg, ook onderrig aan die yolk gegee en verder allerhande take ivm die onderhoud van die erediens vervul. Uit die Leviete was dié wat van Aaron (uit die Kehatgroep) gestam het as priesters gewy om die offers en ander rites van die erediens te behartig. Net priesters kon die heilige voorwerpe aanraak. Numeri 4 gee ‘n be­skrywing van die pligte van die Kehatgroep.

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(16) – JP Louw

Die rituele van die offers

Die bring van offerandes was een van die belangrikste aspekte van die Joodse godsdiens, ‘n saak wat hulle met al die ander godsdienste van die antieke wêreld gedeel het. Alle godsdienste het hulle eie soorte offerandes gehad, en hoewel hulle almal daarmee die godheid, wat hulle aanbid het gunstig wou stem, was daar tussen Israel en die ander volke ‘n belangrike verskil. Waar daar by die ander volke hoofsaaklik gestreef is om die godheid tevrede te maak en hulp te kry in nood, het Israel aan die Here geoffer om Horn te eer en versoening vir hulle sondes te doen, ook om Horn te dank en in ‘n dieper verhouding tot Horn te leef. Die boek Levitikus begin met voorskrifte vir ‘n reeks offers: brandoffers, graanoffers, maaltydoffers, sonde-offers en skuldoffers. Maar ons vind ook verskeie ander benaderinge soos beweegoffer, dankoffer, eerstelingoffers, gelofteoffer, wierookoffer, ens.

Brandoffers word soms ook wierookoffers genoem (Psalm 66:15). In Lukas 1:9 word ook die naam vuuroffer gebruik. Hierdie offer behels ‘n dier sonder gebrek wat geheel en al op die vuur verbrand is (Levitikus 6:8-13) – slegs die vel is deur die priester vir homself gehou (Levitikus 7:8). Wanneer alles wat so op die altaar verbrand word, in rook opgaan, word versinnebeeld dat aan die Here algehele oorgawe toekom. Graanoffers van koring of gars is soms as deel van ander offers bygevoeg, of as dank vir ‘n oes en het dan so tegelyk ‘n eerstelingoffer geword (Levitikus 2:14). Net ‘n klein deel is verbrand; die res het die priesters toegekom. ‘n Maaltydoffer kon dank betoon het of ‘n gelofte bevestig het – of net tot eer van die Here aangebied word. Die vet van die dier is verbrand, dele van die vleis vir die priesters gegee, en die res is deur die persoon wat die offer bring saam met sy familie geëet. Sondeoffers en skuldoffers was versoeningsoffers en is soms ook so genoem (Eksodus 30:11-16). Dit is nie altyd maklik om tussen hierdie offers te onderskei nie,want hulle het albei gegaan om oortredings reg te stel. Ook hier is die vet van die diere wat geoffer is, verbrand en het die priesters die vleis geneem. Wat die priesters uit verskeie offers geneem het, het natuurlik bygedra tot hulle lewensonderhoud. Dan was daar ook wierookoffers (Eksodus 30:34-38) tot eer van die Here wanneer wierook (‘n soort gom of hars) verbrand is. Dit het ‘n aangename geur versprei.

‘n. Besonder eienaardige offer was die Korban, eintlik meer iets wat vir die Here afgesonder of gebêre word as ‘n tipiese offer. Dit was nie na die tempel gebring om verbrand te word nie, maar was beskou as iets wat tog aan die Here geoffer is, want dit is vir Hom “gegee”. Ons lees hiervan slegs in Markus 7:11. Dit was ‘n praktyk wat nêrens in die Ou Testament voorgeskryf was nie, maar wat onder die Jode ontwikkel het om iets te beveilig. So kan enige besitting as Korban verklaar word en kan niemand sy hand daarop lê nie. Dit was dan so goed as vir die Here geoffer. So het mense dikwels verpligtinge ontduik soos Markus 7:12 duidelik aantoon.

Die offersisteem was ‘n simboliese handeling waarin die mense van ouds op sigbare wyse uiting gegee het aan die verlange om met God te kommunikeer. Omdat Israel in ‘n verbondsverhouding met God gestaan het om Hom te dien, was die offerdiens ‘n wyse van dankie sê, om verskoning vir oortredings te vra, om God te prys, om te sê dat jy volkome aan Horn toegewy is. In die Nuwe Testament neem Hebreërs 10:1-8 hierdie gedagte verder deur daarop te wys dat die offerdiens ‘n vooraf skadubeeld van Christus is.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(15) – JP Louw

Die fees van die Weke of Pinksterfees

Hierdie was ‘n eendaagse fees wat op die 16de van die maand Sivan (Mei/Junie) gehou is in die middel van die koringoes en die einde van die garsoes as ‘n dankseggingsoes. Die dank het om twee brode gedraai. ‘n Klein stukkie is geneem en die graan gemaal om in twee brode gebak te word wat dan in die lug geswaai is om dank te betuig op ‘n wyse wat hulle gemeen het die Here so makliker sal raaksien. In Levitikus 23:15 word dit ‘n beweegoffer genoem. Presies 7 weke en een dag nadat die graan begin oes is, moes die fees begin (Deuteronomium 16:9-12) en dit moes herinner aan die feit dat Israel in Egipte ‘n slaaf was – vandaar die naam fees van die weke: Hierdie fees het ook 50 dae na die Paasfees plaasgevind. Verder moes daar, volgens Levitikus 23:18-19, diere geoffer word as gewyde gawe aan die Here. Die sewe weke plus een dag gee vyftig dae wat in die vertaling van die Ou Testament met die woord “pentekosta” weergegee is waaruit die naam pinkster afgelei is. In Handelinge 2:1 word ‘n gebeure op so ‘n pinksterfees vermeld wat vir die Christendom primer geword het.

 

Die fees van die Hutte of Insameling

Hierdie fees in die maand Tishri (Sept/Okt) was ‘n weeklange fees om die einde van die oes te vier wanneer die druiwe ingesamel is. Die huttefees word soms ook die Loofhuttefees genoem omdat dit eintlik ‘n dankfees vir die oes is (Deuteronomium 16:15). Dit word in Levitikus 23:34-36, 39-44 en in Deuteronomium 16:13-15 beskryf. Die naam huttefees hou verband met die voorskrif in Levitikus 23:43 dat die fees moes herinner aan die feit dat Israel in hutte gewoon het toe hulle uit Egipte weg is. Sien ook Nehemia 8:14-19. In die Nuwe Testament word slegs in Johannes 7:37 na hierdie fees verwys. In die Nuwe Testamentiese tyd het hierdie fees ook die lig van die Joodse geloof vir die wêreld gesimboliseer. Jesus se woorde van stromende water wat sal vloei uit die wat in Horn glo (vers 38), hou verband met die water uit die fontein van Siloam. wat die priesters op die huttefees oor die trappe van die tempel laat stroom het as teken dat die Joodse geloof die wêreld kon lewe gee. Vir die wat in Jesus glo sal die Gees die lewe gee.

 

Die dag van versoening

Hierdie feesdag het een maal per jaar op die 10de van die maand Tishri, vyf dae voor die huttefees plaasgevind. Eintlik was dit nie juis ‘n feesdag soos die ander feeste nie. Dit was eerder ‘n dag van verootmoediging, maar het tog ook die feestelike blydskap van versoening ingehou. Levitikus 16 beskryf hierdie dag in besonderhede. Dit is die klimaksdag van die hele Joodse jaar, die dag waarop die hoëpriester in die allerheiligste van die tabernakel en later die. tempel ingegaan het om versoening vir die hele volk se sondes te doen. Gedurende die jaar het die priesters gedurig offers gebring vir die volk en individue, maar op hierdie dag moes die hoëpriester vir homself en vir die priesters, in die eerste instansie versoening doen en dan ook vir die hele volk. So word alles weer volkome ritueel rein-priesters en volk.

In die tyd van die Ou Testament is die offer van die een bok gevolg deur die sprinkel van bloed op die deksel van die verbondsark en daarvoor. In die tyd, van die Nuwe  Testament was daar geen ark meer nie, want dit was met die verwoesting van Salomo se tempel deur Nebukadnesar van Babel saam ,met die tempel verbrand en is nooit weer vervang :nie. Toe is net die allerheiligste plek self besprinkel en veral die rots daarin wat simbool van ‘n offeraltaar was. Die ander bok, die sondebok, in Levitikus 16 die bok vir Asazel, is dan die hande opgelê om sodoende al die sondes op die bok oor te dra. Hierdie bok is vervolgens die woestyn ingejaag. In die Nuwe Testament neem die Hebreërbrief die gebeure oor in hoofstuk 9 as ‘n skadubeeld van die werklike versoening wat Christus deur sy bloed bewerk het. Daarom is Christus die Midde­laar of Versoener van God se nuwe verbond met sy volk.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(14) – JP Louw

Feeste

’n Aantal feeste is op sekere dae gevier-meestal in die droë dele van die jaar wanneer die manlike Jode makliker kon meedoen omdat dit van hulle verwag was om deel te neem. Eksodus 34:23 sê “drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here, verskyn”. Die beloning word in vers 23 gestel “Ek sal nasies voor jou uitdryf en vir jou ‘n land gee” en “dan sal Ek sorg dat niemand jou land begeer nie”. Hierdie feeste was die oesfeeste van danksegging vir die gars, koring en druiwe. Hierdie oeste het sodoende ‘n religieuse kleur gekry: dank aan die Here, en beloftes van beskerming en hulp van die Here. Feeste het dikwels ook die bring van offers behels.

Die fees van ongesuurde brode het met Paasfees saamgehang om die uittog uit Egipte te gedenk. Dan was daar ook die fees van die weke, ‘n koringfees wat met die gee van die Wet op die berg Sinai verbind is. Die veertig jaar in die woestyn, toe in tente geleef is, word tydens die druiwe-oes gevier, ens. Hierdie feeste was ook belangrike sosiale geleenthede. Van die feeste het ook familiegeleenthede geword. In 1 Samuel 1:21 word vertel dat Elkana en sy hele gesin gegaan het om die jaarlikse offer te bring. Jesus se ouers het elke jaar vir die Paasfees na Jerusalem gegaan (Lukas 2:41). Tydens die Paasfees het die Jode in groot getalle opgegaan na Jerusalem toe.

 

Paasfees en die fees van die Ongesuurde Brode

Hierdie fees is in die maand Nisan (ongeveer Maart/April) gehou van die 14de tot die 21ste van die maand (Levitikus 23:5-6). Hierdie feeste het die volk laat dink aan die tyd toe die Here hulle uit Egipte uitgelei het. ‘n Lam is in elke huis geslag as herinnering aan die bloed van die lammers op die deurkosyne in Egipte sodat die doodsengel daardie huis moes oorslaan. Die Hebreeuse woord “pesach” wat “verbygaan” beteken, is die oorsprong van die Griekse woord “pascha” waaruit die naam paasfees afgelei,is. Ongesuurde brode het herinner aan die haas om te trek toe die deeg nie nog eers kon rys voordat dit gebak is nie (Eksodus 12:11).

In die tyd van die Nuwe Testament was die Paasfees ‘n groot geleentheid. Baie het na Jerusalem gereis en paaie is versorg. Ook is grafte wit gekalk sodat hulle goed sigbaar was om te verhoed dat iemand daaraan raak en dus onrein vir die fees sou wees. Alle kookgerei is deeglik skoongemaak of met nuwes vervang. Op die 13de van die maand is die huis gefynkam om toe te sien dat geen brood met suurdeeg gebak in die huis is nie. In Jerusalem is kamers vir gaste gereed gemaak. ‘n Lam is gekoop en na die tempel geneem op die 14de om geoffer te word. Die vet en bloed is verbrand en die vleis weer teruggeneem huis toe om gebraai te word. Die vader van die huis het dan ‘n vaste ritueel gevolg waarin almal aan die uittog en sy voorskrifte herinner is. Die jongste lid het vrae hieroor gevra wat die vader geantwoord het. Ongesuurde brood, bitter kruie en sous het die haas om weg te kom uit die swaarkry in Egipte gesimboliseer. Deuteronomium 16:1-8 gee voorskrifte hoe die paasfees gevier moes word.

Skrywer: Prof JP Louw