Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(3)- Hennie Stander

Die versiering van potte

Nadat die bakke en kruike op die wiel gemaak is, is dit eenkant gesit om te verhard. Wanneer dit droog geword het, kon enige verlangde versiering daarop aangebring word. Daar was verskillende metodes waarvolgens dit versier kon word. Sommige potte is versier deur die oppervlakte daarvan met ‘n harde voorwerp te krap. Soms is dit ook gedoen deur voorwerpe soos gevlegte tou in die klei van die artikel te druk voordat dit nog die werkbank van die pottebakker verlaat het. Ander potte is weer versier deur gekleurde klei aan die buitekant van die pot aan te sit, hetsy in stroke of volgens een of ander patroon. Gewoonlik is swart of rooi klei hiervoor gebruik. Nog ‘n metode was om die potte te poleer. Die pot is bloot op die werktafel terug­geplaas en terwyl dit in die rondte gedraai is, is ‘n stukkie been, metaal of erdewerk teen die opper­vlakte daarvan gehou om dit blink te maak. Dit het baie meer prominent vertoon nadat die pot gebak is. (In ander lande is glasure ontwikkel wat van vloeibare glas gemaak is. Hiervoor is soda, lood, tin, koper en silwer benodig, maar dit is nie deur die Jode ontwikkel nie.)

 

Enige van bogenoemde metodes van versiering kon ook gekombineer word. Wat die vorm en die versiering van die potte betref, was daar baie variasies moontlik. Om die waarheid te sê, dit is onder andere juis die vorm en die versiering van potte wat ons vandag in staat stel om te kan bepaal wanneer dit gemaak is. Hierdie metode word ook deur argeoloë gebruik om te bepaal wanneer ‘n sekere gebou vernietig is, deur byvoorbeeld te kyk watter soort styl van pottebakkery wel in die ruïnes gevind kan word en watter nie.

potteversiering

Versierde Potte uit Hasor

Die Kanaänitiese pottebakkerswerk wat die Joodse besetting voorafgegaan het, was meer ge­rond en het geverfde dekorasies op gehad. Na die vestiging van die Israeliete was die vorme egter baie meer hoekig en polering het gekom in die plek van die geverfde ontwerpe. Na die vernietiging van die tempel in Jerusalem deur Nebukadnesar, het die pottebakkerswerk baie swak geword, met weinig afwisseling van vorm en geen versiering nie. Moontlik kan die verklaring hiervoor in Jeremia 52:15-16 gevind word: “Party van die armste mense, en verder die mense wat in die stad oor was, … en die ambagsmanne wat oor was, is gevange

weggevoer deur Nebusaradan, die hoof van die lyfwag. Party van die armste mense van die land het by laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk”. Sedert Aleksander die Grote hierdie gebied verower het, het die erdewerk meer die Griekse patroon nagevolg: kruike het lang nekke gehad en houers is omrand sodat deksels en proppe daarop kon-pas.

potteolielampie

Olielampie uit Judea

Benewens die wiel of skyf, het die pottebakkers ook van hout persvorms gebruik gemaak waarin hulle die klei vasgedruk het (vg1 Job 38:14). Die twee helftes van olielampe is in sulke vorms gemaak voordat hulle aan mekaar vasgeheg is. Verder was dit ook moontlik om die klei met jou kaal hande te vorm. Speelgoed, beeldjies en versiersels is op hierdie wyse gemaak, soos ook die groot klei-oonde wat vir huishoudelike gebruik gemaak is. Potte­bakkers het ook stukkende erdewerk heel gemaak. Hulle het draad en klinknaels gebruik om die twee dele bymekaar te hou en die las is dan met nat klei geseël.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(2)- Hennie Stander

Werkers met klei

Klei wat deur die Israelitiese pottebakker gebruik is, is in hul onmiddellike omgewing uitgegrawe en dit kom van die grond direk onder die oppervlakte af. Die klei is daarna vir ‘n tyd aan die wind en weer blootgestel. Dit het die klei laat verbrokkel en ook van alle chemiese onsuiwerhede ontslae laat raak. Dit is daarna met water gemeng en tot kneebare klei getrap. Vervolgens is dit na ‘n bank geneem waar daar sorgvuldig net die regte hoeveelheid water bygevoeg is om dit tot die regte vastigheid te bring sodat daarmee gewerk kon word. Soms is bymiddels, soos kalksteen, tot die klei toegevoeg, ten einde te verseker dat die eindproduk hitte beter kon weerstaan en sodat die artikel derhalwe ook vir kookdoeleindes gebruik kon word. In Jesaja 41:25 praat Jesaja oor die uittrap van die klei.

potteenkruike

Toe die Jode begin leer het om pottebakkery te beoefen, het hulle ‘n bedryf betree wat reeds ‘n baie lang geskiedenis gehad het. Eenduisend vyfhonderd jaar vroeër is die eerste keer met pottebakkery begin deurdat klei soos ‘n lang wurm gerol is, en daarna sirkelvormig neergesit is; vervolgens is die een rol klei bo-op die ander geplaas, rol vir rol, totdat die bak of kruik voltooi is. Die riwwe aan die buitekant daarvan moes vervolgens glad gemaak word en is daarna versier. Dit was baie moeilik om ‘n gelyk en gladde vorm aan die buitekant van die houer te kry. Dit is egter later ontdek dat sulke potte of bakke baie makliker gemaak kon word indien dit in ‘n sirkelvormige gat in die grond geplaas word en dit dan teen die wande van die gat in die rondte gedraai word.

Die pottebakkerswiel

Hierdie rotasieproses is verder ontwikkel deur iemand by wie die gedagte opgekom het om die klei op ‘n horisontale wiel te plaas. In die Ou Testamentiese tye is ‘n plat wiel van hout, klei of kalksteen, horisontaal rondom ‘n as op die werkbank met die hand gedraai. Die as van die wiel het vertikaal in die werkbank gesteek. Een persoon het die wiel ge­draai terwyl die ander een die klei daarop kon vorm. Toe Jeremia na die pottebakker se huis gegaan het en gesien het hoe ‘n pot gemaak word, en hoe hy weer iets anders daarvan gemaak het toe sy eerste poging misluk het, het hy waarskynlik na so n skyf of wiel gekyk (Jeremia 18:1-4). Dit was eers in 200 v. C. dat die gedagte by iemand in hierdie bedryf opgekom het om ‘n tweede wiel, op die hoogte van ‘n mens se voete, vas te maak aan die onderpunt van die as wat ook die boonste wiel vasgehou het. Hierdie tweede wiel het dit vir die persoon wat die klei gevorm het, moontlik gemaak om nou self die wiel met sy voete te draai. In Jesus Sirag, ‘n apokriewe boek wat omtrent in dieselfde tyd geskryf is, het ons ‘n pragtige beskrywing van hierdie tweede soort wiel: “So sit die pottebakker by sy werk, en by draai die wiel in die rondte met sy voete . . . hy vorm die klei met sy arm, en met sy voete ervaar by die krag daarvan.” (Jesus Sirag 38:29).

Pottebakerswiel

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(1)- Hennie Stander

Na hul semi-nomadiese lewe, het die Jode hulself in Kanaän gaan vestig. Hulle verblyf hier is onderbreek slegs deur die tyd wat hulle in Egipte vertoef het. Terwyl hulle in Kanaän was, moes hulle verskeie vaardighede ontwikkel wat reeds vroeër deur die Kanaäniete, wat deur hulle verdryf is, ontwikkel was. Sommige vaardighede het met moeite gekom. Hulle het byvoorbeeld nooit dieselfde hoë gehalte van pottebakkerskuns bereik as dit wat deur die nasies rondom hulle beoefen is nie. Vanweë die geweldige baie erdewerk wat opgegrawe is, het ons baie kennis van hierdie bedryf soos wat dit deur die antieke mense beoefen is. Daar was egter ongetwyfeld ‘n drastiese verlaging van standaard in die pottebakkerskuns in Palestina nadat die Jode die land ingeneem het. Hulle potte was wel sterk, maar dit het nooit die fyn afwerking of die mooi versierings gehad soos wat dit gevind kon word by ander nasies van daardie tyd nie. Die eerste keer wat pottebakkery wel in die Bybel genoem word, is toe Dawid gevlug het voor Absalom en die Jordaanrivier oorgesteek het om na die oostelike kant daarvan toe te gaan. Daar het die Gileadiete en die Ammoniete vir horn beddegoed, skottels en erdegoed gebring wat by nodig gehad het (2 Samuel 17:27-28).

Nadat individue sekere vaardighede bemeester het, is dit weer geleer vir hul eie gesinne en ander groepe mense. Later het dit heel algemeen geword om groepe ambagsmanne bymekaar te kry. Daar was ‘n Potskerwepoort in Jerusalem wat op die Hinnomvallei uitgeloop het in die tyd van Jeremia (Jeremia 19:2), en die naam van hierdie poort is waarskynlik ontleen aan al die pottebakkers wat daar naby was. Toe die muur van Jerusalem in die tyd van Nehemia herbou is, was daar ‘n Bakoondtoring (Nehemia 3:11; 12:38) waarskynlik omdat die oond van die bakkers daar geleë was. Soos die tegnologie en die materiaal ontwikkel het, en soos die bevolking toegeneem het, het daar algaande ‘n groter mark vir goedere ontstaan. Ambagslui het dus saamgestaan om produkte in groot maat te vervaardig. Die sentrums waar produkte vervaardig is, het selfs hul eie handelsmerk gehad wat op die produkte geplaas is. Daar is vandag al baie produkte gevind tydens opgrawings met sulke handelsmerke daarop. In Efese was daar byvoorbeeld genoeg silwersmede wat kon saamstaan om ‘n hele openbare betoging teen Paulus aan die gang te sit omdat sy prediking die verkope van die silwerbeelde van die tempel van Artemis nadelig beïnvloed het (Handelinge 19:23-29).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke – Interessante Skrifgedeeltes – Hennie Stander

Miga 7:14. Miga het uitgesien na die dag wanneer konings hul volk sal regeer soos ‘n herder sy skape oppas: “Pas jou volk op met jou kierie, die kleinvee wat aan jou behoort.”

Slingervel

1 Samuel 25:29. Abigail bid dat die Here “die siel van Dawid se vyande uit die holte van die slinger sal wegslinger”. Abigail het dus hiermee vir die Here gevra dat Dawid se vyande ver weg verwyder sal word net soos wat ‘n mens ‘n klip uit ‘n slingervel gooi.

Versorging van die skape

Jesaja 40:11. Hier word die beeld gebruik van die herder wat die lammers optel en wat die ooie versigtig hanteer tydens lammertyd. Dit versinnebeeld die groot sorg waarmee God na Sy kinders omsien: “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen Sy bors; Hy sorg vir die lammerooie.”

Die Lam van God

Johannes 1:29. Johannes die Doper het na Jesus verwys as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”. Hierdie woorde verwys beslis nie na die sondebok nie (vgl Levitikus 16:20-22) omdat hier van ‘n skaaplam, en nie ‘n bok nie, gepraat word. Dit moet veel eerder as ‘n verwysing na die pasgalam gesien word. Volgens Johannes (19:14) is Jesus omtrent dieselfde tyd gekruisig as wat die pasgalam geslag moes word. Net soos die pasgalam, is ook Jesus se bene nie gebreek nie (Johannes 19:33,36; vgl ook Eksodus 12:46). Alhoewel die slag van die pasgalam nie in die Judaïsme as ‘n sondoffer beskou is nie, is dit nogtans duidelik waarom dit later so verstaan is: dit is immers hoe hulle die dood van Christus gesien het. Johannes die Doper se uitspraak beteken derhalwe iets soos “Dit is die Lam wat God gegee het om versoening vir die mense te bewerkstellig.”

Die geboortedag van Jesus

Lukas 2:8. Niemand weet presies wanneer Jesus gebore is nie. Die datum 25 Desember is egter in die vierde eeu n.C. gekies om as teenfoeter te dien vir die heidense feeste wat die Christene gaan bywoon het. Daar is derhalwe besluit om ook vir die Christene die geleentheid te bied om op hierdie dag fees te kon vier en dit is toe gekoppel aan die geboortedag van die Here. In Desembermaand is dit egter nog winter in Palestina. Dit is dan te koud vir die herders om in die oop veld by hulle skape wag te hou (Lukas 2:8) en dus kan ons met redelike sekerheid sê dat Christus nie in Desembermaand gebore is nie. Dit is dus meer waarskynlik dat hierdie gebeure in die lente of somer plaasgevind het.

Die herder

Efesiers 4:11. “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars.” In hierdie gedeelte word een van die kerkleiers as ‘n herder bestempel. Dit is ‘n figuurlike aanwending van die term “herder”. Let verder daarop dat daar in hierdie vers nie sprake is van vyf klasse van persone nie, maar net van vier. Die laaste klas handel oor twee aktiwiteite wat mekaar aanvul, naamlik die van herder en leraar, dit wil sê om ‘n gemeente te help en te lei, maar ook te onderriq. Die herders was almal weer verantwoordelik aan Jesus, die opperherder (1 Petrus 5:4).

Skrywer:  Prof Hennie Stander