Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(1) – JP Louw

Die vertelling waarmee die Bybel begin, handel oor God se skepping, sy voorskrifte vir menslike gedrag wat deur Adam en Eva verbreek word en wat verwydering van God meebring. Soos die boek Genesis voortgaan, word dit al meer duidelik hoe sonde verwydering bring en ook God se oordeel – Genesis 6-8, en veral 6:5. Hierop volg sosiale chaos soos in Genesis 11:1-9 beskryf word. Nou word die mense ook van mekaar verwyder. Hierdie vertellings beeld die kernprobleem van die menslike bestaan uit: God se skepping wat deur sonde vervreem word en nodig het om na God terug te keer. In die Nuwe Testament kom God self na die aarde in Jesus Christus wat mens geword het. So versoen God self die wêreld met horn. Die hele Bybel is so ‘n boek van God se liefde en vertel van hoe Hy horn met die mens bemoei. Ons sou ook kon sê dat die hele Bybel ‘n relaas is van die verhouding tussen God en die mense, ‘n verhouding wat so intens word dat God self mens word ten einde die mens volmaak te leer hoe by voor God moet leef. In Johannes 13:15 sê Jesus uitdruklik “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen”. Die merkwaardige bemoeienis van God met die mens vind sy uiterste in Jesus wat die mens se sonde op horn neem om die mens met God te versoen. Hierdie boodskap verwoord 1 Petrus 2:24 deur van Christus te sê: “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra”. En Paulus sê dit nogeens in Kol 2:14 “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker het Hy dit vir goed weggeneem.”

 

Maar die boodskap gaan nog verder. Jesus het uit die dood opgestaan en woon deur sy Gees in die mens. So het Hy die dood oorwin en vir die mens die ewige lewe bewerk. Daarom sê Paulus ook in Romeine 6:5 “aangesien ons met Horn een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Horn een wees in sy opstanding”.

 

Die Bybel is dus in kort enersyds die verhaal van die mens se nood en verlossing en andersyds van God se bemoeienis met die mens – en die twee kante is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Die lang verhaal deur die geskiedenis heen begin in die Ou Testament en is verweef met die mens se gebruike en gewoontes, sy denke en redenasies, sy optrede en handelswyse. Daardeurheen loop die goue draad van God se bemoeienis. Hierdie draad kan des te beter gesien word as ons die mens in sy lewensomstandighede ken. Hierdie draad is ook uniek in terme van die godsdienste van Bybeltye. Al die ander godsdienste van die ou wêreld was eintlik radikaal anders – ‘n wêreld van bonatuurlike wesens wat deur die mens met offers en rites gepaai moet word om hulle goedgesindheid te wen. Moraliteit, sovêr dit daaglikse lewenswandel betref, het weinig met godsdiens te doen gehad. ‘n Persoonlike verhouding met die godheid was ondenkbaar. Daarom word die godsdienste van die antieke wêreld dikwels apotropies genoem, ‘n tegniese term wat daarop dui dat die bonatuurlike magte van jou af weggehou moet word deur hulle goedgesindheid op ‘n afstand te verkry. Hierteenoor het ons ‘n totaal ander opset soos beskryf in Genesis 12:1-2. God kies ‘n mens, Abraham, en sê vir horn “Trek uit. Ek sal jou ‘n nasie maak en vir jou ‘n land gee”. In Genesis 15:18 word dit met ‘n verbond bevestig, ‘n verbond wat verder in Genesis 17:7 uitgebrei word met die woorde “Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag”. Later word hierdie verbond herbevestig met Abraham se kleinseun Jakob (Genesis 28:13-15) en weer aan Moses herhaal in Eksodus 3:6 – en so gedurig deur God bevestig dat Hy sy volk wat Hy gekies het, sal versorg. Dit is in die godsdienste van die antieke wêreld die unieke, die enigste godsdiens van so ‘n opset. Die Joodse godsdiens is dus anders deurdat dit op ‘n verhouding tussen God en mens bestaan. Al die rites en gebruike wat mettertyd ontwikkel het in oud Israel, het om hierdie verhouding, ‘n persoonlike verhouding, ontwikkel. Al het Israel gewoontes en gebruike ontwikkel wat uiterlike ooreenkoms met die godsdienste van ander volke vertoon het, soos byvoorbeeld feeste, offerandes en reinigingswassinge, heilige plekke, heilige voorwerpe, ‘n tempeldiens, ens, was dit in wese gans anders. Hieraan is Israel ook voortdurend herinner. In Psalm 51:18-19 word gesê dat God nie juis ‘n offerande vra nie, maar verootmoediging. Die offerandes was dus net uiterlik in ooreenstemming met offers in ander godsdienste maar innerlik totaal anders. Wanneer Israel afgedwaal het sodat die rites net uiterlike handelinge geword het, is hulle herinner aan die ware betekenis van godsdiens soos Amos 5:21-24 dit stel: offers en liedere is nie wat God verlang nie maar die doen wat reg is. Miga 6:8 stel dit soos volg: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God”.

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(4) – JP Louw

Die See van Galilea

Die See van Galilea lê in ‘n oop landstreek wat baie anders as in die tyd van die Nuwe Testament is. Toe was daar baie dorpe om die meer en die heuwels was bebos. Hier kan ‘n mens in ‘n boot vanaf Tiberias oorvaar na ‘n plek by die antieke stad Hippos waar Sint Pietersvis verkoop word.

mosaiekvoels

Voels by die See van Galilea-‘n mosaiek in die Kerk van die Vermeerdering van die Brode.

Noord aan die westelike oewer van die meer is Magdala waar Maria Magdalena gewoon het. In die tyd van die Nuwe Testament was dit ‘n belangrike plek – tans is dit ‘n klein Arabiese dorpie. Verder noord is die vlakte van Gennesaret waar die heuwel aangewys word waar Jesus die Bergpredikasie sou gelewer het. En as die goedgelowige toeris dit alles aanvaar kan te Kapernaum daar naby die Kerk van die Saligsprekinge besoek word. Dit is opvallend dat alle belangrike plekke kerkgeboue byderhand het om die plek te gedenk. Die tradisie van sodanige plekke in Palestina is baie oud en kan soms naby korrek wees. Hoe dit ook al sy, hier by die See van Galilea het Jesus ongetwyfeld meermale met die mense gepraat. So is daar in die omgewing ‘n kerk met mooi mosaïeke van voëls wat die spysiging van die 5000 gedenk, en ‘n ander die verskyning van Jesus na sy opstanding aan sy dissipels toe by saam met hulle geëet het.

kerksaligprekinge

: Die Kerk van die Saligprekinge by Kapernaum.

Van Kapernaum kan nog oorblyfsels van die ou stad gesien word. Hier het Jesus dikwels gepreek.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(5) – JP Louw

Nasaret

Gaan ons wes van die See van Galilea, kom ons by Kana waar die water in wyn verander is. En suid van Kana is Nasaret, ‘n woelige en lawaaierige dorp. Dit word oorheers deur die Kerk van die Aankondiging. Dit word gesê dat die kerk gebou is oor die grot onder die huis van Josef en Maria. Hier is ook ‘n baie ou sinagoge en waterputte to sien.

Naby Nasaret is die berg Tabor wat herinner aan Debora en Barak in Rigters 4. Omdat die berg so op sy eie lê het baie geglo dat die verheerliking van Jesus op die berg hier plaasgevind het. Die kerk wat op sy kruin gebou is, het ook ‘n pragtige goue mosaïek wat mense aan die verheerliking herinner as die son deur die westelike vensters daarop skyn.

 

Megiddo en Akre

Verder suid-wes is Megiddo. Hier kan besoekers deur Salomo se hek loop, die oorblyfsels van sy stalle sien asook die hoogtes waar die Kanaänitiese godsdiens sy offers gebring het. Dan is daar ook ‘n tonnel waardeur water na die stad in die antieke tyd gebring is. Onder die stad lê die prag­tige vallei van Armageddon.

En daar naby is Bet-Searim, ‘n Joodse heiligdom. Die Sanhedrin is hierheen verban na die finale verwoesting van Jerusalem deur die Romeine. Hier is ook katakombes in die sagte rots uitgegrawe. Verder is daar oorblyfsels van ‘n ou oliepers in ‘n sinagoge.

katekombes

Ingang na die katakombes van Bet-Searim.

Noord-oos verby die berg Karmel aan die kus is die stad Akre, die Bybelse Akko waar die kruis­vaarders geland en versamel het. Die kruisvaarders het ‘n groot invloed op Palestina uitgeoefen en baie kastele nagelaat in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea en by die berg Hermon.

 

Noord van Galilea

Noord-wes van Kapernaum le Safad (Zefat) waar die Jode, veral na vervolging in Europa, hulle terugkeer na Palestina begin het. Hier is ou sinagoges to sien en die mooi stad op die heuwels is ‘n mekka vir kunstenaars.

Verder noord is Hasor wat die grootste stad in die Kanaänitiese tyd was. Argeologies is Hasor van groot belang. Dit was een van die bes beplande stede in oud Israel. Daar is ‘n goeie museum wat baie aspekte van die Kanaänitiese tyd uitbeeld. Verder noord by Banias is ook een van die bronne van die Jordaan en hier sou, volgens oorlewering, Petrus sy geloofsbelydenis gemaak het: “U is die Seun van God”. Nog verder noord is die berg Hermon wat ook deur ander as die berg van die verheerliking beskou word.

nisse

Nisse in die rots te Sesarea Filippi waar ons beelde van Pan was.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(3) – JP Louw

Die Wes-oewer

Noord van Jerusalem gaan ‘n mens deur Samaria na Galilea in die noorde. In Nablus, die Bybelse Sigem, word Jakob se put in ‘n Russies-Ortodokse kerk aan toeriste gewys. Die water is drinkbaar. Die kerk self is onvoltooid omdat dit in 1917, die jaar van die Russiese rewolusie, gebou is. Vanuit die kerktuin sien ‘n mens die berg Gerisim en ook die berg Ebal. Dit laat mens terugdink aan die verbond van God met Israel en Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou.

romeinsemark

Die Romeinse mark in Samaria.

Verder noord-wes is Samaria waar die oorblyfsels van die Romeinse stad te sien is met sy groot markplek en teater. Van die mure van Samaria uit Agab se tyd is nog te sien. Nou gaan ons na die suidelike deel van Galilea waar daar baie plekke uit die tyd van die Rigters, Saul en Dawid te sien is. Hier, by die berg Gilboa, is die Put van Harod, nie te ver van Jisreël nie, waar Gideon voor die geveg teen die Midianiete halt geroep het. Die water is vol bloedsuierwurms en moet versigtig geskep word. Die berg Gilboa laat ‘n mens die laaste geveg van Saul en Jonatan onthou. Hier naby is ook Bet-San waar die liggame van Saul en sy seuns teen die muur gespyker was (1 Samuel 31).