Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(1) – JP Louw

In die hoofstuk oor Jerusalem is reeds op verskeie toeriste-aantreklikhede gewys. Daar is egter baie meer in die hele Israel wat veral die Bybelleser sal interesseer.

 

Naby die Dooie See

Van Jerusalem kan ‘n mens na Jerigo reis en op pad stop by die sogenaamde herberg van die Barmhartige Samaritaan. Natuurlik is dit weer een van die baie plekke wat vir toeriste aangewys word asof dit die oorspronklike is. Tog gee dit miskien ‘n idee hoe so ‘n herberg kon gelyk het, hoewel moderne verbeteringe die beeld kan versteur. Dit is een van die grootste probleme vir die toeris in Palestina: wat is waar, wat is vals, wat is ‘n tipe van die oorspronklike, en wat is werklik ‘n oorblyfsel uit Bybeltye?

Maar as die reis voortgaan deur die Wadi Qilt op ‘n ou Romeinse pad word eindelik Jerigo van die Nuwe Testament bereik-of eerder die moderne Jerigo waar die Jerigo van die Nuwe Testament gestaan het. Die Jerigo van die Ou Testament was ‘n hele ent daarvandaan-en dit is ook nie meer Josua se Jerigo nie, maar oorblyfsels van ‘n Kanaänitiese stad wat lank voor Josua se tyd gebou is. Van Josua se Jerigo is skaars enkele fondamente oor.

Verder suid is Qumran waar die Esseners, ‘n uiters konserwatiewe Joodse sekte, hulle tuiste gehad het in sig van die grotte waar die Qumran boekrolle tesame met baie ou manuskripte van die Ou Testament gevind is met kommentare daaroor. Nog verder suid halfpad langs die Dooie See is En-Gedi. Daar kan mens steil opklim na ‘n plek waar gesê word dat Dawid vir Saul weggekruip het.

Die mees aangrypende is die heuwel Masada ‘n hele ent verder suid. Op hierdie vestingberg waar Herodes ‘n fort gebou het, dink ‘n mens terug aan die meer as 900 fanatieke Joodse nasionaliste wat teen die Romeine uitgehou het en eindelik almal selfmoord gepleeg het toe die stryd verloor is voordat die Romeine hulle kon bykom.

Langs die Dooie See met sy dik water is daar heelwat swemplekke. Hier kan ‘n mens letterlik op die water dryf, en dan is daar ook enkele warmwaterbronne in die omgewing.

dooiesee




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(9) – JP Louw

Die teater

Groter sentra het in die Nuwe Testamentiese tyd ‘n amfiteater met ‘n verhoog vir die opvoering van dramas gehad. Dit was ‘n baie populêre gebeure in die Griekse kultuur en na Aleksander die Grote se verowering van byna die hele Midde-Oosterse wêreld van destyds het die-Griekse kultuur oral versprei. Die teater was egter nie net ‘n plek van die toneel nie, maar is ook vir baie ander samekomste gebruik. In Handelinge 19:29-40 lees ons van ‘n oproer wat in Efese uitgebreek het en hoe die mense na die amfiteater gestorm het om ‘n oproerige vergadering te hou.

Die Jode self het nie erg gehad aan die- Griekse dramas nie want hierdie tonele het verband gehou met die Griekse godsdiens wat natuurlik vir die  Jode onaanvaarbaar was. Die Jode het in hulle eie geledere ook nie dramas ontwikkel nie. Die geskiedenis van Israel is in die sinagoges voorgelees en oorvertel, maar nie opgevoer nie.

Die Romeine het ook teaters gebou en die Grieks-Romeinse wêreld het baie teaters gehad. Die gehoor het in ‘n halfsirkel gesit wat om ‘n verhoog met toepaslike geboue opgerig is -‘n opelug amfiteater. Die sitplekke het teen die skuinste, wat of ‘n natuurlike helling was of ‘n opgeboude een, na bo uitgekring met die belangrikste sitplekke heel voor. Toegang tot die teaters was deur twee poorte wat langs die verhoogdeel was sodat mense van voor of in die teater ingekom het.

teater

Die Romeinse teater to Skitopolis, die Bybelse Bet-San in Oos-Palestina.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(8) – JP Louw

Atletiek as sport

Met atletiek het ons ‘n heel ander prentjie. Hier is ons volkome op die terrein van vryetydsbesteding. Daarom is dit ook begryplik dat daar so goed as geen spoor van atletiek in die Ou Testament is nie omdat mense eers laat in die geskiedenis geleentheid vir ontspanning gekry het. Atletiek as sport het eers met die Grieke en Romeine op die toneel verskyn. In Jeremia 12:5 lees ons wel van mense wat gehardloop het. Dit was egter nie vir ontspanning of plesier nie, maar om te vlug.

Diskus

‘n Romeinse beeldhouwerk van ‘n diskusgooier.

Die Grieke het geglo dat dit net so belangrik was om gesond te wees as om onderrig te wees, en die Romeine het dit oorgeneem in ‘n spreuk “mens sana in corpore sano”-“‘n gesonde gees in ‘n gesonde liggaam”. Die Grieke het vier groot atletiese spele gehad: die Isthmiese spele, die Nemeaanse, die Pythiese en die Olimpiese. Laasgenoemde was die grootste en belangrikste en is elke vier jaar gehou ter ere van die god Zeus. Ook omdat die spele begin het met offerandes aan gode en helde was hulle in essensie religieuse feeste. Die spele het kort- en langafstand wedlope gehad (1 Korintiërs 9:26), hoog en verspring, diskusgooi, spiesgooi en stoei. Verder was daar strydwawedrenne, boks (1 Korintiërs 9:26), ens. Die wat meegeding het, moes hulle aan streng reëls hou en moes dertig dae voor die spele begin het, byeenkom sodat hulle onder toesig kon oefen. Hulle moes gedurende alle tye gereeld oefen, oormaat vermy en hulleself dissiplineer. In 1 Korintiërs 9:25 en 2 Timoteus 2:5 verwys Paulus spesifiek na hierdie tipe gedrag van die deelnemers. Wanneer ‘n item afgeloop het, kondig ‘n persoon die wenner en sy stad se naam aan. Die wenner kry dan ‘n palmtak of kroon van ‘n louriertak of ‘n tak van ‘n olyfboom. Dieselfde beeld vind ons in 1 Petrus 5:4. In 2 Timoteus 4:7 vind ons nog ‘n beeld uit die atletiek in die woorde: “ek het die wedloop afgelê, ek het die wenstreep bereik”.

Soms was die wedstryde baie rof. Veral die boks en stoei was daarop gemik om die gehoor se bloeddorstigheid te laaf. Dikwels het die deelnemers leerbande om hulle arms gesit om harder te kan slaan, en later is veral as die twee goed opgewasse teen mekaar was sodat daar vir die gehoor te min bloed was-armbande (met metaalpunte op) om hulle arms gedraai vir vinniger effek.

 

Toeskouers

Toeskouersport was ‘n Romeinse spesialiteit. Dit was afgestem om die massamens se honger vir opwinding en bloed tevrede te stel. Die Romeinse arena was besonder effektief om opgehoopte aggressie te kalmeer en het dus ‘n doel gedien om die hordes van elke samelewing in toom te hou. In die Romeinse arena is daar tot die dood toe geveg. Meestal het veroordeelde misdadigers so ‘n laaste kans gekry deur met leeus, bere, olifante of hiënas te veg-en die skare het hulle in bloedlus aangepor. Paulus gebruik hierdie beeld as by in 1 Korintiërs 15:32 verwys na die teenstand wat by in Efese ondervind het waar by “soos teen wilde diere” geveg het.

 

Colosseum

Die Colosseum in Rome waar baie van die spele plaasgevind het. Die vloer is weg en mens kan die ondergrondse vertrekke sien.

In die arena is allerhande gevegte gevoer, dikwels met wapens, maar die ergstes is vir die einde gebêre-veral die teen wilde diere, en dan sonder wapens. Wanneer Paulus in 1 Korintiërs 4:9 se “God het aan ons apostels, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is” gebruik by nogeens ‘n beeld uit die arena.

Die gevegte in die arena was besonder bloeddorstig. Swaardvegters was naas die wilde diere ‘n verdere opwinding in die verband. Die swaardvegters was dikwels opgeleide slawe wat vir die vermaak moes sorg. Die wat gedood is, kon maar afgeskryf word as noodsaaklike verlies. Verskillende wapens en tegnieke is gebruik. Sommige het met swaarde en skilde geveg, ander het die een ‘n swaard en skild gehad terwyl die ander ‘n vurk en ‘n net gehad het. As een neergevel is en die skare was tevrede met die vertoning, is die duime afwaarts gehou wat beteken het dat die een wat oorwin is weer ‘n kans gegee word. Wanneer die duime opwaarts gehou is, moes meer bloed vloei en moes by doodgemaak word. ‘n Verdere tipe geveg was om ‘n groep in te stuur wat bly veg het totdat net een oorgebly het. Die een is dan bekroon.

‘n Ander baie populêre sport was die renwa-wedstryde wat in. die hippodromos of perderenbaan plaasgevind het. Wadrywers het om en om die baan, wat twee skerp omdraaie aan die punte gehad het wat met ‘n paal gemerk is, gery. Die vaart was so vinnig moontlik. Soms is die drywer vasgemaak en moes hy homself lossny as sy wa omval: Hierdie wedrenne het dikwels ook dobbelgeld ingehou wat mense verwed het.

perderenbaan

Model van ‘n hippodromos, ‘n perde-renbaan soos dit moontlik ten tye van die Nuwe Testament gelyk het.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(7) – JP Louw

Hebreeuse musiek

‘n Besonder interessante aspek van Hebreeuse musiek was dat daar meer klem op ritme as op melodie gelê is-trouens daar was min melodie in terme van moderne westerse musiek. Tog was daar wel populêre melodieë en in die Psalms vind ons soms aanwysings wat na ‘n bepaalde melodie verwys. Die nota in Psalm 22:1 “op die wyse van Die wildsbok van die daeraad” laat mens aan ‘n populêre sekulêre lied dink. So ook Psalm 56 op die wyse van “Die duif in die hoë bome”. Psalm 60 se wysie is die van ‘n lied met die naam “Die lelie”.

MunteMusiek

Joodse muntstukke met afbeeldings van trompette en ‘n lier

Op grond van 1 Samuel 18:7 wat letterlik lees “die vroue het geantwoord en gedans en gesê” en wat verstaan kan word as “die vroue het gedans en in beurtsang gesing” word die uitdrukking beurtsang, wat meermale in die Ou Testament voorkom, as ‘n tipe kanonsang gesien, d.w.s. ‘n antifoniese lied waarin een groep ‘n ander opvolg of waarin heen en weer gesing word. Die parallellistiese aard van die Psalms waarin reëls voorkom in pare van twee wat mekaar aanvul, kan heel goed met die tipe sang gesing word.

Van die Joodse liedere is natuurlik baie in die Ou Testament bewaar in die boek Psalms. Baie is aan Dawid toegeskryf, maar heelwat ander persone het ook van die Psalms geskryf. In sommige Psalms kan die titel wat met “van Dawid” vertaal word ook beteken “oor Dawid”. In 1 Kronieke 16:42 en 25:6-7 lees ons van Heman en sy kinders wat deur Dawid aangestel is om die sang in die Tempel te lei.

shophar

Die Shophar of ramshoring word nog tot vandag toe in die Joodse godsdiens gebruik.

Die klem op ritme in die liedere val nou saam met dans wat ‘n belangrike aspek van die ou Bybelse liedere was. Dikwels in die Ou Testament word sang en dans saam genoem. Dans was ‘n besondere ekspressiewe uiting van die emosies deur die musiek opgeroep. Feeste is van vroeg of met musiek en dans opgeluister (Genesis 31:27, Eksodus 15:21). Toe die ark na Jerusalem gebring is, het Dawid voor die ark van vreugde gedans (2 Samuel 6:14).

In Numeri 10:8-10 word die blaas van die trompet vir verskillende geleenthede as instelling aangekondig: wanneer daar tot die geveg uitgetrek word moet die trompet geblaas word. Vir die Jode het dit beteken dat die Here sal hoor en hulle die oorwinning gee. As daar fees gevier word en offers gebring word, moet trompette geblaas word om die Here te herinner aan sy volk. Die ramshoring weer is geblaas om spesifieke tye aan te kondig: die begin van die jaar van die vyftigste landbouseisoen (Levitikus 25:9-10), teken van die begin van êrens heen te beweeg (Eksodus 19:13), om die Sabbat aan te kondig (Levitikus 23:23), om uit te trek en te veg (Rigters 3:27), en so om ‘n menigte sake aan te kondig. Sowel die trompet as die ramshoring is gebruik, want die twee instrumente het dieselfde doel gedien. In die Nuwe Testament word dieselfde gesê van die trompet wat sal blaas wanneer die engele die uitverkorenes bymekaar moet maak (Matteus 24:31), by die opstanding uit die dood (1 Korintiërs 15:52), en die blaas van die trompette van die engele in Openbaring 8 en 9.

Musiek was altyd deel van ‘n oorwinning (1 Samuel 18:6), die kroning van ‘n koning (2 Kronieke 23:13), die regte stemming vir profesie (1 Samuel 10:5), om van boosaardigheid bevry te word, of vir blote uitspattige plesier (Jesaja 5:12). In die ballingskap was musiek ook ‘n uiting van die gemoed (Psalm 137:1-5) en in die swaarste tye is die gebrek daaraan ook teken van smart (Jesaja 24:8-9). In die Nuwe Testament vind ons fluitspelers by die dood van ‘n dogtertjie (Matteus 9:23). Die verlore seun is met sang en musiek verwelkom (Lukas 15:25)-niks nuuts onder die son nie.

Tydens die viering van die Pasga sing die Jode tot vandag toe nog Psalm 115-118 as lofliedere om God se goedheid, trou en almag te loof. In Jakobus 5:13 word aanbeveel om lofliedere te sing as iemand sy blydskap wil vier. Tot aan die einde in die visioene van die Openbaringboek (5:9-10, 14:2-3) klink sang en lied steeds voort.

In die Nuwe Testament is daar enkele gedeeltes wat of aanhalings uit vroeë Christelike liedere is of as liedere gebruik is. Filippense 2:5-11 is miskien die mees sprekende voorbeeld wat die aard en wese van Christus en sy oorwinning as ‘n belydenis verkondig. Dit is ook moontlik dat Efesiërs 1:3-14, wat moeilik is om as ‘n stuk prosa te verstaan, moontlik verse van ‘n ou lied bevat oor die wese van die Evangelie. Maria se loflied in Lukas 1:46-55 is inderdaad ‘n lied en so ook Sagaria se lofsang in Lukas 1:67-79. Hierdie twee is vroeg reeds as kerkliedere gebruik. Die proloog tot die Evangelie van Johannes (Johannes 1:1-18) toon ook duidelik ooreenkomste met ‘n lied.

In die gedeelte hierbo oor musiek is dit belangrik om in te sien dat hoewel musiek vir vryetydse vermaak by partytjies gebruik is, dit grotendeels nie ‘n item van vermaak was nie. Ons kan dus sê dat wanneer mense ontspan het en met vermaak besig was, musiek meestal deel daarvan gevorm het, maar ons kan dit nie omkeer nie want musiek self is relatief min as vermaak gebruik.