Christene moet groei – Inleiding

Something more is needed than merely belonging to this Church, or that Church, to take a man to heaven –  J. C. Ryle

 

Christene moet groei – Inleiding

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 Om ‘n Christen te wees beteken om ‘n lewende verhouding met die God van die heelal te hê. Dit begin as ‘n mens ‘n nuwe skepping in Hom word en in geloof vir Jesus Christus as Here aanvaar. Maar, soos atlete, moet Christene ook oefen, opofferings maak en sekere dissiplines aanvaar. Ons toewyding aan hierdie dissiplines sal ons doeltreffendheid in ons diens aan ons Here bepaal.

 

Atlete sweet en offer vir jare op om die geleentheid te kry om aan die Olimpiese Spele deel te neem – en dalk ‘n medalje te wen. Hierdie is ‘n ondervinding wat net ‘n paar ervaar. God se mense sal nie die wêreld se toejuiging ontvang nie, maar eendag sal hulle hoor: Mooi so goeie en getroue slaaf.

Paulus het dikwels die beeld van ‘n atleet gebruik: Weet julle nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan so dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike (1 Korintiërs 9:24 – 25).

Soos atlete moet Christene met toewyding aandag aan sekere dissiplines gee. Voorbeelde van hierdie dissiplines is Bybelstudie, gebed, aanbidding, diens en rentmeesterskap. Ons gaan in die volgende aantal blogs na hierdie dissiplines kyk. Ons gaan by Bybelstudie begin.

Geniet die wedloop.




Christene moet groei – Rentmeesterskap

 

But it does not follow that the doctrine is not true, because we cannot understand it. It is the weakness of our poor minds and intellects that we must blame, and not the doctrine – J. C. Ryle

Christene moet groei – Rentmeesterskap

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Die eerste offer waarvan ons in die Bybel lees, is dié van Kain en Abel. Die Ou Testamentiese aanbidding fokus op die offersisteem. Ons kerkgeboue het nie meer altare waar ons diere offer nie. Christus het die nodigheid daarvoor weggeneem. Maar dit beteken nie dat Christene nie meer moet offer nie. Ons word steeds opgeroep om God te aanbid en offers vir Hom te bring: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Romeine 12:1).

 

Die rentmeester is nie die eienaar van die huis nie – hy is deur die eienaar gehuur om sy sake te bestuur. Die mens se rentmeesterskap begin in die paradys. Adam en Eva moes verseker dat die tuin bewerk is en nie uitgebuit word nie. Dit was God se tuin, maar hulle was die rentmeesters.

Elke keer as ons ‘n hulpbron gebruik neem ons ‘n besluit wat openbaar watter soort rentmeesters ons is. Dit is waar God ons aanspreeklik hou, want elke keer as ons ‘n hulpbron vir iets gebruik, beteken dit ons kan dit nie vir iets anders gebruik nie.

In die moderne lewe belê ons ons geld en verwag dat dit sal vermeerder. Die Bybel sê dat ons in die koninkryk van God moet belê vir ewigheidsresultate. Maar wat moet ons belê in die koninkryk? My tyd, my energie en my geld.

Rentmeesterskap is ‘n belangrike manier vir ons om geestelik te groei. Ons is rentmeesters in God se tuin. Versorg ons sy tuin?

 

 




Is Geestelike groei ‘n intellektuele proses?

The best time to plant a tree was 20 years ago. The second best time is now – Chinese spreekwoord

Is Geestelike groei ‘n intellektuele proses?

Meeste jong Christene fokus op die verstaan van hulle geloof. Ons moet egter oppas dat ons “kennis” van die Christelike geloof nie droog en intellektueel word nie. Dikwels voel ons dat ons geloof geen diepte het nie – asof ons emosies nie geraak word deur dit wat ons glo nie. Iewers is iets nie lekker nie.

 

Alister MvGrath  sê dat ons ons geloof kan verdiep deur oper vir God te wees. Hoe doen ons dit? Hy gee drie beginsels wat hom gehelp het.

  • As ons ‘n Bybelse beeld hanteer, moet ons stil staan en toelaat dat die gedeelte ‘n prentjie in ons denke vorm. Ons moet in die wêreld van daardie beeld kom; ons moet onsself in die beeld projekteer en deel daarvan word; ons moet die rykdom en implikasies van die beeld ondervind.  Ons geloof stimuleer ons verbeelding en ons verstand. Rede en emosie is belangrik.
  • As ons ‘n evangelieverhaal hanteer, moet ons diep ingaan – ons moet langs  diegene staan wat  die Verlosser gesien het. Ons moet nadink oor hierdie verhale asof hulle nou besig is om plaas te vind.
  • As ons ‘n Bybelse idee of tema hanteer, is dit nie voldoende om dit te verstaan nie – ons moet dit in ons lewens toepas. Dit moet vir ons ‘n lewende werklikheid word en nie ‘n abstrakte, lewelose siening nie. Die Christelike geloof gaan nie net oor idees nie – dit gaan oor transformasie. Dit moet ‘n werklikheid in ons word.

Hierdie is natuurlik nie melkkos nie en gebeur nie vanself nie – ons moet hard daaraan werk.




Geestelike groei

Geestelike groei

  

God moet ons nuut maak en ons word sy kinders. Dit is die fondament en hierop moet ons groei. Ongelukkig gebeur dit dat ons soms net op daardie fondament tot ruste kom. Hoe bepaal ons die gehalte van ons Christelike reis?

Kom ons kyk na drie indikatore:

  • Jesus sê dat Hy die brood van die lewe is en wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie (Johannes 6:35).Soos ons Hom meer en meer ondervind, sal ons begeerte na Hom toeneem.
  • Gelowiges wat naby aan hulle Verlosser leef se onderskeidingsvermoë verskerp – hulle sien sonde gouer raak. Ons onderskei dwaalleer gouer.
  • Ons moet onsself gereeld afvra of ons aan hierdie drie kriteria voldoen.