Die krag van God – Prof Jan van der Watt

Wille vra:

My geloof hang nie af van my emsosies nie, dit besef ek, maar daar is ʼn amperse tamheid in my geloofslewe. Ek lees gereeld Bybel en is n gereelde kerkganger. Ons het 2 skitterende predikante,maar tog is daar n lusteloosheid wat intree. Daar is begrippe wat ek nie mooi verstaan nie. Een begrip is Krag- God se krag. As ek aan krag dink dan is dit die krag wat n mens het om iets swaar op te tel, of die krag van elektrisiteit, of die krag van ‘n vliegtuig se enjins om dit in die lug in te kry . My vraag is, is die woord “dynamis tou Theou” reg vertaal? Hoe ervaar n mens die krag van God en hoe help dit my? Word n mens bewus daarvan of is dit maar net “ek glo dit is so “? Die tweede begrip wat ek nie verstaan nie is “Christus is in my.” Hoe ervaar n mens dit , wat gebeur met my of is dit maar net ‘n geloofskwessie, in die as ons sê Sy Gees is in my – verwys dit na hoe ek dink en optree op grond van wat ek in die Bybel lees? My laaste vraag is hoe raak ek van die tamheid ontslae, veral as werksdruk en spanning somtyds bomenslik raak ? Ek dink as n mens die goed nie mooi verstaan nie is dit seker n teëlaarde vir dit wat ek ervaar.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier is verskeie vrae, naamlik, oor die krag van God, oor die konsep ‘Christus in my’ en oor hoe die ‘Gees in my is’ (hieroor is baie inligting op ons webwerf, ‘Bybelkennis.co.za – kyk gerus daar en as dit nie bevredig nie, laat gerus weer weet watter spesifieke probleme jy nog het). Die drie vrae hang saam met die vraag oor die traagheid wat soms in mens se geloofslewe kan ontstaan.

1) Die krag van God. God is die almagtige God,wat natuurlik beteken dat sy krag alle krag oorskrei. Die Griekse frase dynamis tou Theou word inderdaad reg vertaal as die ‘krag van God’ (bv. Hand 8:10). Die tema ‘krag van God’ is ’n groot tema in die Bybel en kan nie in ’n kort stukkie soos hierdie volledig bespreek word nie. Ek wil alleen maar een voorbeeld gee van hoe Paulus in Filippense die teenwoordigheid van God se krag in sy lewe vir ons beskryf.

            Paulus het die brief aan Filippi uit die tronk geskryf (1:13, 14) en dit het nie met hom goed gegaan nie. Dit lyk selfs of hy vir sy lewe vrees, want hy het mooi oor die dood nagedink (1:20-22). Tog is dit ‘n brief van vreugde waarin Paulus uitroep: ‘Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal, verbly julle’ (4:4). Dus: ten spyte van sy swaarkry ervaar hy vreugde en blydskap. Waarom? Die antwoord gee hy in 4:13: ‘Ek is tot alles instaat (sien vir alles kans – Die Boodskap) deur Hom wat my krag gee’. Met ander woorde, dit is die Here se krag wat hom deur al die moeilikhede en swaarkry dra. In die direk voorafgaande vers (4:12) vertel hy hoe hy die hele spektrum van die lewe ervaar het (die goeie en die slegte, om baie of min te hê), maar nogtans sien hy vir alles kans/ sal deur alles kan verdra (wat die betekenis van ‘tot alles instaat’ beter uitdruk). Op ’n manier ervaar hy dus die Here se krag en dit hou hom staande, kom wat wil. Hoe beskryf hy die werking van die Here in Hom?

            In die direk voorafgaande gedeelte kry ons sy antwoord (4:4-9). Dit lê in sy noue verhouding met die Here. Hy sê dat in die geval van besorgdheid (oor die lewe) moet mens met die Here gaan praat (in gebed en smeking). Met ander woorde, mens moet openlik met die Here gaan praat. Dan kom daar ’n belangrike woordjie by: ‘met danksegging’, met ander woorde, terwyl jy nog vra (en voordat jy gekry het) moet jy al dankie sê) omdat jy weet die Here sal jou gebed verhoor en vir jou dit gee wat die beste is. Hierdie woordjie ‘dankie’ druk dus jou geloof en vertroue in die Here uit dat Hy naby is (4:5) en sal reageer soos wat Hy dink die beste vir jou is. Geloof is dus inderdaad ’n inherente deel van hoe God se krag werk. Jy moet op Hom vertrou want dit sal jou ook instaat stel om sy werkinge in jou lewe raak te sien.

            Maar dankie sê is nie die einde van die storie nie – ’n mens kan dan wegstap met vreugde at jy nie kan verstaan nie – dit gaan jou verstand te bowe. Die vreugde is nie omdat alles dadelik verander nie, maar omdat jy weet dat jou lewe in die hande van Jesus is. Hy sal jou bewaar. Dit is juis hierdie bewustheid van die nabyheid van Jesus waaruit jy jou krag kan put – die wete dat jy naby is.

            Dus die krag is nie soos elektrisiteit wat jou spiere groot maak en jou instaat stel om berge te versit nie. Die krag waarvan die Bybel praat is krag wat in jou begin werk as jy jou lewe al meer in die hande van Jesus plaas en dinge soos Hy begin sien en verstaan. Jy  moet inderdaad op Hom vertrou. Dit sien mens ook as Paulus in Ef 6:10-20 waar die wapenrusting van God bespreek word – dit gaan deurgaans daarom om in gebed en deur die Gees naby aan Jesus te bly.

            Die vraagsteller is dus reg: dit gaan om geloof in Jesus, om die voortdurende soeke na sy teenwoordigheid wat jou instaat stel om deur alles nie moed te verloor nie, maar staande te bly.

2) Die konsepte van ‘Christus in my’ en natuurlik ‘ek in Christus’ kom op baie plekke in die Nuwe Testament voor en word die ‘immanensie van Jesus’ genoem. Die is veral in Paulus se briewe aan die Efesiërs en Kolossense asook in Johannes waar die konsep sterk funksioneer. Die feit dat die Bybel sê dat Christus in ons is en ons in Christus (vgl. bv. Joh 15:1-8 as voorbeeld) wys dat mens nie hier op ’n fisiese manier moet dink nie. Iemand kan tog nie fisies in iemand anders wees en omgekeerd nie.

            Dit gaan hier om dit waarvoor Jesus staan en wat Hy vir ons kom gee het. As die Bybel sê dat Christus in ons is beteken dit dat sy krag, sy gawes, dit wat Hy bied in ons is, met ander woorde deel van ons is (lees bv. hoe Paulus beskryf wat Jesus vir ons gee in Kol 2:9-15) . Daarom kan gesê word dat ons ook in Christus is: want ons deel aan al hierdie gawes, krag en teenwoordigheid. Dit is nie ons s’n alleen nie, maar ons deel daaraan (ons is daarIN).

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Geloof en verlossing – Jan van der Watt

Vraag

Hoef jy net te glo om gered te word?

Antwoord

Prof Jan van der Watt Antwoord:

In Johannes 3:18 lees ons: ‘Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie’. Lees egter ook: Jakobus 2:14: ‘Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?’

Die Nuwe Testament skei nooit geloof en werke nie. As jy glo – dws in ‘n verhouding met Jesus staan en Hom navolg – sal jou gedrag dit wys. Om Jesus te volg beteken om ook soos Hy op te tree. Geloof en werke is dus twee sye van dieselfde saak. As Joh 3:18 en ander soortgelyke gedeeltes dus aandui dat mens moet glo is die veronderstelling dat hierdie geloof in jou gedrag bevestig sal word. Geloof staan nooit op sy eie nie, net soos goeie werke ook nie op sy eie staan nie. Al probeer jy hoe hard om goed te wees sonder om in Jesus te glo gaan dit jou niks met jou redding help nie. Net so is geloof sonder werke dood.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Geloof en dade – Hermie van Zyl

Sonika vra:

Hoe bring ek die twee, geloof en dade, bymekaar? Die mens kan nie net met goeie dade die ewigheid verwerf nie. Hoe sluit die vrug van die Gees by dade en geloof aan?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is reeds uitvoerig oor hierdie onderwerp geskryf op ons webwerf, Bybelkennis.co.za. Ek nooi dus die vraagsteller uit om ondergenoemde artikels te lees. Sleutel net die artikels se titels in by die soekfasiliteit op die tuisblad (elkeen op sy eie), en vind hulle almal:

  • Geloofsvrae: Goeie werke (A König)
  • Die Groot Geloofswoordeboek: Goeie werke (A König)
  • Die wet se relevansie vir vandag (Hermie van Zyl)
  • Geloof en werke (Francois Malan)

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Grade van Geloof – Hermie van Zyl

Giepie vra:

Watse grade van geloof kry mens?

Antwoord

Prof. Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag impliseer ‘n algemene wanpersepsie oor geloof: dat geloof ‘n goeie werk of prestasie van die mens is. En soos wat mense verskil – almal het nie dieselfde vermoëns nie en presteer gevolglik verskillend – so is daar dan ook verskillende grade van geloof. Die een se geloof sal dan sterker wees as die ander s’n, en daarom is party mense beter gelowiges as ander, of word as voorbeelde van sterk geloof voorgehou wat ons moet nastreef.

Hierdie opvatting van geloof vind nogal “steun” in die Bybel, ten minste as sekere tekste op ‘n bepaalde (verkeerde) manier verstaan word. Kyk na die volgende voorbeelde:

  • Die dissipels vra Jesus om vir hulle meer geloof te gee (Luk 17:5). So asof hulle graad van geloof onvoldoende is om Hom te volg. Hulle het daarom meer geloof nodig. Waarop Jesus antwoord (v6) dat mens nie “meer” geloof nodig het nie, maar bloot die geloof van ‘n mosterdsaadjie benodig. (Mosterdsaad was die kleinste soort saad wat daar was, maar het uiteindelik tot ‘n groot boom gegroei, Matt 13:31-32.) Die bedoeling is: dit gaan nie oor hoe groot jou geloof is nie – dit kan maar klein wees, soos ‘n mosterdsaadjie – maar oor in Wie jy glo.
  • In Matt 15:28 sê Jesus aan die Kanaänitiese vrou: “jou geloof is groot …”, waaruit mens die afleiding sou kon maak dat daar verskillende soort geloof is: klein en groot. Jesus beloon dus haar groot geloof deur haar te help. En dit sou dan die rede wees waarom Hy ander wie se geloof nie groot genoeg was nie, nie gehelp het nie. Die punt is egter eerder: Jesus was beïndruk met die feit dat sy, ten spyte daarvan dat Hy haar eintlik bietjie afgesit het (kyk v24,26), nogtans volhard het om te glo dat Hy haar sal help. Jesus “beloon” haar vertroue in Hom, nie haar sterk geloof nie.
  • ‘n Soortgelyke geval tref ons aan in Matt 8:10. ‘n Heiden – ‘n Romeinse offisier – vra Jesus om sy slaaf te kom genees. En die man aanvaar dat Jesus oor soveel gesag beskik dat Hy dit sommer oor ‘n afstand kan doen; Hy hoef maar net ‘n woord te spreek. Jesus prys daarom die offisier deur op te merk dat Hy, Jesus, selfs onder die Jode nie so ‘n groot geloof aangetref het nie. Dis egter nie ‘n “graad van geloof” wat die genesing veroorsaak nie, maar Jesus Self, wat reageer op die onwrikbare vertroue wat iemand in Hom
  • In 1 Kor 10:15 spreek Paulus die wens uit dat die Korintiërs se geloof sal toeneem, so asof ‘n mens se geloof eers klein begin en dan mettertyd groei en groter word (in graad toeneem). Maar wat Paulus bedoel, is dat hulle verhouding met en navolging van Jesus hegter sal word soos wat die tyd voortgaan. Dis dieselfde geloof as aan die begin, maar die vertroue in Jesus is deur verskillende omstandighede heen getoets, geslyp en verdiep.
  • Jesus noem die dissipels soms “kleingelowiges” (Matt 6:30; 8:26; 14:31), spesifiek in situasies waar hulle Hom nie vertrou het nie, terwyl hulle moes. Dis egter nie ‘n “graad van geloof” by die dissipels wat in iets anders of beter moet ontwikkel nie, maar bloot ‘n gebrek aan insig en vertroue in Jesus wat hier deurslaan. Die belangrike is, ten spyte van hulle kleingeloof is hulle steeds gelowiges en navolgers van Jesus en word hulle volledig deur Hom aanvaar.

Benewens hierdie Bybelse “voorbeelde” van “grade van geloof”, is daar ook nog ons populêre manier van praat, waar ons allerlei byvoeglike naamwoorde of bywoorde by geloof voeg, wat maak dat ons dink dat daar verskillende grade van geloof is. Ons praat byvoorbeeld van mense wat waarlik glo (teenoor mense wat maar net “gewoonweg” glo), of van iemand wat ‘n sterk geloof het, of iemand anders wat ‘n swak geloof het. Dis ‘n populêre manier van praat waardeur die wanopvatting versterk word dat daar verskillende soorte of grade van geloof is.

Die punt wat ek probeer maak, is dat ons die gedagte van “grade van geloof” heeltemal moet laat vaar. Dis ‘n verkeerde kyk na geloof; dit lei ons net op ‘n dwaalspoor. Dit plaas die klem en fokus op ‘n verkeerde plek. Hoekom? Omdat die aard van geloof sodanig is dat dit ‘n “leë” handeling is. Ja, dis wel die mens wat glo, maar geloof is nie ‘n menslike kapasiteit of prestasie wat ons vir God kan aanbied op grond waarvan Hy ons genadig moet wees nie. Geloof verwag eerder alles van God; dis gerig op God/Jesus. Paulus se stryd met die Jode van sy tyd was juis dat hulle gedink het dat godsdiens ‘n prestasie is, ‘n blink poets van jouself. En dan, as jy aanvaarbaar genoeg is, as jy die wet getrou genoeg nakom, dan sien God jou pogings raak en dan red Hy jou. Nee, dis menslike arrogansie. Dis ‘n manier van “handjie bysit” om God te probeer beïndruk. Dis juis nie menslike godsdienstige prestasie, of ‘n gebrek daaraan, wat bepaal of ‘n mens deur God aanvaar word of nie. Geloof is bloot ‘n instrument om die krag van God vry te laat of in werking te stel in jou lewe. Geloof is om afstand te doen van jou eie vermoëns, dis om weg te kyk van jouself en jou volkome te verlaat op dit wat Jesus kan doen. Hoe meer jy na jou eie vermoëns kyk, hoe swakker word jou geloof; hoe meer jy die oog op Jesus gevestig hou, hoe “sterker” word jou geloof, hoe meer vul Hy jou denke, wese, lewe. Dink aan Petrus toe hy op die see loop. Aanvanklik gaan dit goed, maar toe hy die wind en golwe sien, toe word hy bang en begin twyfel aan homself, en toe begin hy sink. Wat hy moes gedoen het, was net om die oog gevestig te hou op Jesus. Want dis Jesus wat op die water kan loop, nie Petrus nie. Geloof laat jou by wyse van spreke op water loop – nie omdat jy kan nie, maar omdat Jesus kan. Geloof vermag die onmoontlike, omdat dit God se krag vrylaat. Geen wonder nie dat Heb 12:2 sê dat ons in die geloofstryd alle laste moet afwerp en die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Hierdie Bybelse siening van geloof kan ook op ‘n ander manier verwoord word. Ja, ons kan wel sê dat ons deur geloof gered word, maar dit is ook nog vatbaar vir misverstand. Dis nie ons sterk geloof wat ons red nie. Nee, dis God/Jesus wat red. Maar Hy gebruik geloof om ons te laat afsien van onsself en volledig op Hom te laat vertrou. So gesien kan ons sê dat geloof nie die grond van ons redding is nie, maar wel die middel of instrument. Die grond of rede vir ons redding is God in Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees. Geloof is maar net ‘n manier om daardie redding te omhels. Daarom dat ons sê dat geloof ‘n leë handeling is. Dis nie ‘n goeie werk van die mens waarvoor ons beloon word nie. As ons dus sê dat ons deur geloof gered word, is dit eintlik so dat ons deur-geloof-in-Jesus-Christus gered word. Dis die volledige bewoording. Dis Jesus wat red, nie ons geloof nie. Selfs waar die Bybel net die woordjie geloof gebruik, is die veronderstelling altyd dat dit oor geloof in Jesus gaan. Dís die volledige prentjie.

So gesien word die aard van geloof eintlik die beste uitgedruk deur die man wat vir Jesus vra om sy seun gesond te maak, as dit moontlik is (Mark 9:20-24). Toe sê Jesus: “Alles is moontlik vir die een wat glo.” Waarop die man uitroep: “Ek glo; kom my ongeloof te hulp”. Hiermee het die man eintlik alles van geloof gesê. Dis nie ons “sterk” geloof wat dinge laat gebeur nie. Ons hoef eintlik nie eens vreeslik te glo nie. Ons kan maar net na Jesus kom met ons “swak” geloof en selfs “ongeloof”. Solank ons net glo dat Jesus kan. Want Hy is die Een wat red, wat die verskil maak, nie ons sterk of swak geloof nie.

Laastens, waarom is dit so dat sommige gelowiges oënskynlik “beter vaar” as ander? Dis beslis nie omdat daar grade van geloof is nie. As dit waar is dat sommige gelowiges beter vaar as ander, is dit omdat hulle Jesus beter vertrou, omdat hulle toelaat dat Hy meer beheer oorneem van hulle lewe. Die gevolge van so ‘n beheer oorgee aan Jesus is altyd dat daar groter visie, geduld, volharding, liefde, erbarming, gehoorsaamheid – ja, die volle vrug van die Gees – in ‘n mens se lewe na vore kom. Dis nie omdat die een se geloof (as ‘n soort geestelike of persoonlike kwaliteit en inspanning) sterker is as ander nie, maar omdat daar meer op Jesus gekonsentreer word en minder op die self.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl