Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

Spiritual Christians look upon the world not as a playground but as a battleground.” —  AW Tozer. 

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Opgestaan: Ek glo in Jesus Christus … wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode, wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader.

 

Jesus oorwin finaal die dood met sy opstanding. Christene kom op Sondae bymekaar. Dit is ‘n weeklikse herdenking van die opstandig. Dan is daar een Sondag per jaar waar ons spesifiek Jesus se opstanding vier. Ongelukkig beteken dit vir baie Christene paashasies en paaseiers.

 

Die opstanding van Jesus Christus is die spilpunt in die belydenis. As die opstanding nie ‘n historiese feit was nie, val die res van die belydenis inmekaar. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos, en is julle nog gevange in julle sondes (1 Korintiërs 15:17). Dan is Jesus wat gesê het dat Hy uit die dood sou opstaan, ‘n bedrieër.

 

Tydens sy bediening maak Jesus daarop aanspraak dat Hy God se enigste Seun is. God self het Hom as sy Seun by Jesus se doop verklaar. Op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here (Romeine 1:4). Die opstanding is die bewys dat Jesus God se Seun is en ook die Here van hemel en aarde is. Alles wat ons in verband met Jesus glo, hang af van die waarheid en geldigheid van die opstanding.

 

Opstanding was ‘n radikale begrip in die antieke wêreld. Slegs die Jode het in ‘n fisiese opstanding geglo, maar dan iewers in die toekoms. Jesus sluit hierby aan as Hy vir sy dissipels sê: Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan (Markus 9:31). Jesus het ook nooit weer die dood ondervind nie.

 

Baie mense is skepties oor Jesus se opstanding. Maar: Hoekom sou Jesus se vroeë volgelinge oor sy dood gejok het? Hoe kon hulle ‘n hele nuwe godsdiens op ‘n leuen gebou het? Hoekom het so baie mense as martelare gesterf omdat hulle in Jesus en sy opstanding geglo het?

 

Die opstanding van Jesus gee aan ons nuwe geloof – ons kan Hom vertrou. Jesus se opstanding fokus opnuut ons hoop. Ons hoop is op lewe na ons dood. Ons sal ook eendag die opstanding beleef. Die opstanding van Jesus gee aan ons herstelde liefde. God het ons so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, nie om ‘n nuwe godsdiens te begin nie, maar om die liefdesverhouding tussen Skepper en skepsel te herstel.

 

Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy volgelinge vir 40 dae. Daarna vaar Hy op na die hemel. Daar beklee Hy die ereplek aan die regterhand van God. Jesus het sy Vader goed gedien en daarom verheerlik God Hom na ‘n posisie van eer, waardigheid en gesag. Die hemel is God se bevelspos.

 

 




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

We are more concerned about looking stupid (a fear of people) than we are about acting sinfully (fear of the Lord). —Ed Welch

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Vader: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde

 

Die belydenis begin met vier lewensveranderende woorde: Ek glo in God … Die res van die belydenis vloei uit hierdie stelling voort. Om te glo dat God bestaan, beïnvloed ons elke gedagte, ons optrede en ons verhoudings. Hy is almagtig en staan oor en bokant die aktiwiteite van die mense op aarde. Geen verhouding met Hom is moontlik voordat ons eers glo dat Hy bestaan nie. Maar om te sê ons glo in God en om Hom toe te laat om ons lewens te vorm, is twee verskillende dinge. Die belydenis lei ons om meer van hierdie God in wie ons glo, te ontdek.

 

In hierdie openingsreël is daar twee basiese beskrywings van God: Hy is Vader en Skepper. Dit wys vir ons dat die God in wie ons glo, leef in verhoudings – Hy is Vader. Hy is nie ‘n beweginglose God nie. God die Vader wys vir ons Hy is ‘n persoonlike God – nie ‘n abstrakte geestelike energie nie; nie ‘n stel idees of beginsels nie. Ons kan Hom ken. God as Skepper wys vir ons Hy is magtig en aktief – Hy skep.

 

Ons leer baie van God as ons sy handewerk in die skepping bestudeer. Dit het egter ‘n Persoon vereis om vir ons te wys dat God ook ‘n Vader is. As Jesus mense geleer het oor God se koninkryk of oor hoe om te bid, verwys Hy na God as Vader: Ons Vader in die hemel … Ander godsdienste beskryf hulle god as magtig en verhewe, maar nie as ‘n vader nie.

 

Om te verhoed dat ons nou nie te familiêr word met God nie, herinner die belydenis ons daaraan dat Hy die Almagtige is. God se krag kan nie deur mensgemaakte grense aan bande gelê word nie. Ons kan Hom nie manipuleer nie; ons kan Hom nie dwing om te doen wat ons verlang nie. Dit beteken nie dat ons in vrees moet wegkruip nie – Hy is mos ons Vader.

 

God is die magtige Here van hemel en aarde, maar dit beteken nie dat ons Hom nie kan nader nie. Ons kan Hom nader, met Hom praat, na Hom luister en Hom ken. Jesus het God aan ons geopenbaar, nie as ‘n rots soos ons in die psalms lees nie, maar as ‘n Persoon. Daarom kan ons ‘n persoonlike verhouding met God hê, maar dan moet ons verstaan dat Hy die Vader en die Almagtige is. Ons verhouding met Hom is op sy voorwaardes en volgens sy waardes.

 

Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik (Jesaja 40:28) As ons glo dat God die Skepper van hemel en aarde is, ontdek ons betekenis in die lewe.

 




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (1)

Joy is not necessarily the absence of suffering, it is the presence of God. —Sam Storms

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (1)

In baie gemeentes word die Apostoliese Geloofsbelydenis elke Sondag hardop opgesê deur die gemeente tydens die erediens. Is dit nie ‘n waardelose ritueel nie? Moderne mense stel tog nie meer in belydenisse belang nie – hulle soek ‘n ware ontmoeting met God. Maar die Apostoliese Geloofsbelydenis is een van die stabiliserende elemente in ons geestelike reis. Is dit nie tyd om weer in diepte hierna te kyk nie?

 

 

Ons klem vandag is op ondervindings, maar dit mag gou in sentimentaliteit verval – ‘n soort “voel goed godsdiens.” In ‘n wêreld wat toenemend sekulêr, selfs vyandig teenoor godsdiens, word, moet gelowiges helder en diep oor hulle geloof kan dink. Een aspek is om weer die belydenisse met nuwe oë te lees. Sommige Christene glo nog: Geen belydenis, net die Bybel – so asof die belydenis die Bybel gaan verplaas of die Bybel weerspreek. Die geloofsbelydenis staan in harmonie met die Bybel en het die vermoë om ons in die Bybelse storie in te lei – dit help ons om deur die NT te navigeer.

 

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 




Die rol van die Apostoliese Geloofsbelydenis

Whenever two people meet, there are really six people present. There is each man as he sees himself, each man as the other person sees him, and each man as he really is. –William James,sielkundige en filosoof (1842-1910)

 

Die rol van die Apostoliese Geloofsbelydenis

[Ek gaan volgende jaar ‘n reeks oor die Apostoliese Geloofsbelydenis skryf. Hiermee ‘n kort inleiding en agtergrond tot die reeks.]

In Petrus se toespraak op pinksterdag (Handelinge 2:14 – 36) kry ons ‘n raamwerk van die Christelike geloof. Hierdie is ‘n beginpunt  om die noodsaaklike punte van die geloof te verstaan – dit is wat die vroeë Christene bely en geglo het. Hulle het besef dat dit belangrik was om hulle geloof getrou te bely.

 

 

Baie mense sê (vandag nog) dat die regte leer noodsaaklik is en dat ons dit slegs in die Bybel kan kry. Baie van die kerke wat so sê het ‘n baie kort geskiedenis. Daarom kry ons dat belangrike leerstellings – soos byvoorbeeld die Drie-eenheid – vir hierdie jong kerke nie baie belangrik is nie. Die korrekte leer is belangrik vir die kerk. Hiermee kan die geloofsbelydenisse ons help.

 

Die waarde van die Apostoliese Geloofsbelydenis

Die Apostoliese Geloofsbelydenis rangskik die noodsaaklike waarhede van die Christelike geloof in terme van ‘n natuurlike en logiese vooruitgang. Die orde van die Goddelike openbaring, gebou op die fondament van die Drie-eenheid, word getrou gevolg. Die belydenis beweeg van God die Vader en sy skepping na die persoon en werk van Jesus Christus – sy bonatuurlike geboorte, lewe, dood en opstanding. Daarna kom ons by die Heilige Gees, die kerk en ander toekomsgebeure. [Die Belydenis van Nicea volg dieselfde orde.]

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is nie ‘n logiese beskrywing van abstrakte leerstellings nie, maar ‘n belydenis van feite wat leef en red. Augustinus het na die belydenis verwys as a brief and grand regulator of true faith. Luther glo dat die Christelike geloof nie in ‘n korter en duideliker manier gestel kan word nie. Calvyn noem dit ‘n korrekte opsomming van die Christelike geloof.

 

Die kern van die Apostoliese Geloofsbelydenis

Hierdie belydenis is nie deur die apostels geskryf nie, maar dit verteenwoordig ‘n ware en getroue raamwerk van dit wat die apostels verkondig het. Waarskynlik is vroeë belydenisse by die doop van gelowiges gebruik. Die vroegste belydenis was kort en eenvoudig: Jesus is die Here. Nee, die Skrif sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered (Romeine 10:8 – 10).

 

Hierdie vroeë en kort belydenisse word uitgebrei om die implikasies duidelik uit te bring. Ons weet ook dat die kerke in die vierde eeu almal stellings en belydenisse gebruik het om te verduidelik wat hulle geglo het. Hierdie belydenisse was almal feitlik identies.

 

Drie eienskappe van die Apostoliese Geloofsbelydenis

  • Die belydenis beklemtoon dat geloof primêr vertroue in die lewende en ware God is: Ek glo in God die Vader, die Almagtige … En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun … Ek glo in die Heilige Gees.  Die belydenis sê nie dat ek dit of dat glo nie – ek glo in.
  • Die belydenis in primêr ‘n ware geskiedkundige verhaal. Kyk net na die name wat gebruik word: Maria Pontius Pilatus, Jesus. Dit verwys ook na spesifieke gebeure in die geskiedenis – Jesus se dood, begrafnis en opstanding. Dit berus op werklike geskiedkundige gebeure. Die belydenis is nie abstrakte teologie nie, maar goeie nuus.
  • Die belydenis praat van die Drie-eenheid lank voor ‘n kerkvergadering hierdie leer bespreek het.

 

Gevolgtrekking

Alle kerke behoort die belydenis te gebruik, maar dan nie as ‘n gewoonte nie, maar as ‘n uitdrukking wat ons geloof bevestig. Ons moet dit leer, aan ander leer en dit uitleef. Ons moet die kop en die hart verbind. As ons ons geloof reg verstaan, kan ons in die wêreld uitgaan en ons naaste liefhê en dien in die Naam en krag van Jesus Christus.