Die gesindhede van iemand wat Christus volg

The precepts of the Christian religion, I will answer, first, second and third, humility –  Augustinus

 

Die gesindhede van iemand wat Christus volg

Attitude determines altitude (John Maxwell)

Die Bybel lei ons om vir ‘n gesonde gesindheid te werk. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8). Ons as Christene moet ons gedagtes op alles wat prysenswaardig is, rig.

 

Hier is ‘n paar gesindhede wat God van ons verwag.

  • ‘n “Kan-doen” gesindheid

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13). Wat ook al oor ons pad kom, kan ons hanteer, want God loop saam met ons. Daarom kan ons met vertroue en doelgerigtheid deur ons dae loop.

 

  • ‘n ‘Kyk-na-die-helder-kant” gesindheid

Filippense 4;8 sê dat ons elke dag moet soek na daardie dinge waarvoor ons dankbaar kan wees. Soms is dit moeilik, maar God het aan almal van ons baie goeie dinge waarvoor ons dankbaar kan wees, gegee. Daar is baie mense met minder as ons wat die pad na blydskap ontdek het. Viktor Frankl, wat die Duitese konsentrasiekampe oorleef het, skryf in sy boek Man’s Search for Meaning: Everything can be taken from a man but one thing: the last of human freedoms—to choose one’s attitude in any given set of circumstances.”  Onder die moeilikste omstandighede denkbaar het hy ‘n manier gekry om te kies hoe hy op die lewe gaan reageer. Nie alle dinge in die lewe is goed nie, maar as ons God vertrou, kan Hy alles te goede laat werk.

  • Begin met die gesindheid van jou eie hart

I know I am experiencing a fresh touch of God when I stop confessing everyone else’s sins and start with my own. (Alvin Reid) Ons moet ophou om na almal om ons te kyk en eerder voortdurend ons eie harte en motiewe bevraagteken. God het ons geroep om ander mense te seën – nie om hulle te vervloek nie. Is dit die gesindheid van ons harte? Ons is so geneig om alles en almal af te takel. Ons moet weer ontdek wat die Bybel oor deernis, sagtheid en genade leer. Ons moet vergeet van die splinter in die oë van ander. Word meer opgewonde oor ander en minder opgewonde oor onsself.

 

  • ‘n Evangelie-gesentreerde gesindheid

Die evangelie is dié bemagtiging vir ‘n positiewe gesindheid – maak nie saak wat die omstandighede is nie. Ons weet dat niks ons ware skat kan raak nie. God is ons skat. Dink net aan alles wat Paulus moes verduur en dan verloor ons vertroue in God, want Hy het een van ons gebede nie beantwoord soos ons dit wou hê nie. Ons moenie Jesus liefhê afhangend van wat Hy vir ons doen nie. Ons moet Hom met ons hele lewe liefhê oor dit wat Hy reeds vir ons gedoen het.




Die woord gesindheid

Die woord gesindheid – Francois Malan

Derick vra:

Hoeveel keer kom die woord gesindheid in die Bybel voor?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Dit hang af watter vertaling van die Bybel gebruik word. In die 1983-vertaling in Afrikaans word die woord ‘gesindheid’ bv. gebruik as vertaling/verduideliking vir die volgende woorde in die Hebreeuse Ou Testament, die Griekse vertaling van die Ou Testament, en die Griekse Nuwe Testament, in vergelyking met die 1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel, en die 2014-Direkte-vertaling van die NT en Psalms in Afrikaans.

 

Numeri 14:24: die gesindheid van Kaleb, vir die Hebreeuse ruag gees, in Grieks pneuma soos die 53-vertaling dit letterlik met ‘gees’ vertaal het – so ook in Spreuke 16:2.

 

1 Kronieke 29:18: hierdie gesindheid in die gemoed van die volk, vir die Hebreeuse: as die gestalte jezêr van die gedagtes van die hart van u volk, 1953: so ‘n gesindheid in die gedagtes van die hart van die volk.

 

Spreuke 21:2 die Here toets die gesindheid, vir Hebreeuse libot ‘harte,’ Grieks kardias ‘harte’  in die 1953-vertaling letterlik vertaal met ‘harte.’ So ook in 1 Samuel 10:9; Esra 6:22; Psalm 105:25 (ook die 2014-vertaling); Spreuke 17:3; 21:2; Jeremia 12:3; Esegiël 18:31

 

Sagaria 6:14 aan die goeie gesindheid van.., vir Hebreeus gen ‘gewilligheid,’ Grieks charis ‘guns,’ 1953-vertaling ‘vriendelikheid.’

 

In die Nuwe Testament gebruik die 1983-vertaling gesindheid vir die volgende Griekse woorde:

 

Matteus 10:13 as die huismense se gesindheid goed is, vir die Grieks: as die huis dit aksia ‘waardig’ is, soos 1953 letterlik vertaal; 2014 ‘as hulle dit werd is.’ Aksios druk ‘n waarde-oordeel uit, en ‘n optrede wat by die verwagting pas.

 

Lukas 2:35 so sal die gesindheid van baie mense, vir die Griekse ‘so sal die ‘gedagtes/redenering/beredenering’ dialogismoi uit baie harte kardias (vir 1983 se ‘mense’),’ 1953: sodat die gedagtes uit baie harte; 2014-vertaling: sodat die ‘bedoelinge’ van baie mense

 

Handelinge 8:21 jou gesindheid teenoor God, vir die Griekse ‘jou hart teenoor God’ wat 1953 en 2014 met ‘hart’ vertaal. Die Griekse figuurlike gebruik van ‘hart’ kardia dui die innerlike dryfveer vir jou dade aan, met klem op jou gedagtes wat in dade omgesit word, wat eintlik meer sê as net jou gesindheid wat nie noodwendig tot dade lei nie.

 

Handelinge 8:22 hierdie gesindheid van jou hart, vir die Griekse ‘hierdie bedoeling epinoia van jou hart; 1953: die gedagte van jou hart; 2014: die bedoeling van jou hart.

 

1 Korintiërs 1:10 ‘in dieselfde gesindheid,’ vir die Griekse ‘in dieselfde nous,’wat veral na die denkwyse verwys waarby die gesindheid ingesluit is; 1953: in dieselfde gesindheid; 2014: ‘eensgesind.’

 

In Efesiërs 6:9 voeg 1983 ‘gesindheid’ in, waar daar in die Grieks slegs staan ‘doen dieselfde,’ 1953: doen dieselfde; 2014: ‘tree net so op’ – ‘dieselfde’ verwys terug na die hele gesindheid van die hart en die optrede wat vereis word in 6:5-8.

 

In Filippense 2:5 word die Griekse sinsnede ‘froneite hierdie onder julle’in 1983 vertaal met ‘dieselfde gesindheid moet in julle wees.’ So ook in 1953 en 2014. Die Griekse werkwoord beskryf deurdagte beplanning met beklemtoning van die houding of gesindheid – om op ‘n spesifieke manier te dink en op te tree met ‘n spesifieke gesindheid van waardering en eerbetoon teenoor die persoon teen wie jy optree soos in 2:4 verduidelik word.

 

In Filippense 2:20 word die Griekse ‘ek het niemand soos hy nie’ in 1983 vertaal met ‘ek het niemand met dieselfde gesindheid as hy nie,’ so ook in 1953 en 2014. Hier word ‘gesindheid’ ook ingevoeg vir duidelikheid vanuit die res van die sin.

 

In Filippense 3:15 gebruik die Grieks twee maal die woord froneoo. 1983 vertaal die eerste met ‘gesindheid’ en die tweede met ‘optrede.’ 1953 twee maal ‘so gesind;’  2014 twee maal: ‘so hieroor dink’ (vgl. hierbo by 2:5).

 

Hebreërs 3:12 ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof, vir ‘n bose hart (kardia ponera) van ongeloof in die oorspronklike Grieks; 1953 ‘n bose ongelowige hart; 2014 ‘n bose hart vol ongeloof.

 

Van die 22 keer wat die 1983-vertaling in die tekste hierbo met ‘gesindheid’ vertaal het, het die 1953-vertaling gesindheid slegs in 1 Kronieke 29:18, 1 Korintiërs 1:10, Filippense 2:5,20 (in Filippense 3:15 vertaal 1953: so gesind);  en die 2014-vertaling slegs in Filippense  2:5,20 (1 Korintiërs 1:10 so gesind).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Paulus se gesindheid

“Ask, could my gifts, education, career, or experience be used to spread the gospel where it’s needed most?” – David Platt

Paulus se gesindheid

Paulus begin Filippense 1:12 – 18 met: Ek wil hê julle moet weet, broers. Hy is ‘n gevangene met boeie vasgeketting aan ‘n Romeinse soldaat. Ons sou verwag dat hy nou sy lesers gaan vertel van sy haglike persoonlike omstandighede, maar hy fokus eerder op dit wat werklik van belang is – die verspreiding van die evangelie. Uit hierdie verse leer ons onder andere drie dinge van Paulus se gesindheid.

  • Hy modelleer die gesindheid wat hy graag in sy lesers wil sien – nederigheid

Ons stories gaan so dikwels oor onsself – wat ons doen, hoe swaar ons kry … Paulus se storie gaan oor God. Hy maak homself klein in sy storie en Jesus se evangelie word groot. Hy besef Jesus Christus en sy evangelie het ons volle aandag nodig.

  • Hy sien God aan die werk in sy omstandighede

Ons vergeet dikwels dat lyding ‘n spesifieke plek in God se verlossingsplan het. Paulus vergelyk dit selfs met ‘n bevalling: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook (Romeine 8:22 – 23). As ons besef dat gelowiges nie van lyding vrygestel is nie, sien ons ons eie omstandighede anders. Paulus kon nie vrylik rondbeweeg en die evangelie op die markplein verkondig nie. Dit beteken nie dat hy sy roeping as apostel nie kan uitvoer nie. Al wat hy doen, is om die manier waarop hy sy take as apostel verrig by sy omstandighede aan te pas.

  • Vind vreugde in alles

Paulus het nie ‘n rigiede verwagting oor hoe die Here hom gaan gebruik nie. Wat vir hom belangrik is, is nie sy eie sukses nie, maar die uitbreiding van die koninkryk van God. Hy is gelukkig as ander ook die evangelie verkondig: In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. Paulus is bly al word sy bediening en sy persoon deur ander aangeval.

Hier is drie belangrike lesse oor die gesindheid wat van gelowiges verwag word.