Jesus se geslagsregister in Matteus

Human kindness has never weakened the stamina or softened the fiber of a free people. A nation does not have to be cruel to be tough. -Franklin D. Roosevelt, 32ste President van die VSA (1882-1945)

 Jesus se geslagsregister in Matteus

Vir ons lyk dit snaaks om ‘n boek met ‘n geslagsregister te begin. Tog is dit presies wat Matteus doen. Hoekom? Die geslagsregister  is belangrik vir die teologiese  argument wat Matteus wou maak.

 Die belang van Matteus se openingsverse is om te beklemtoon dat God getrou aan sy verbondsbeloftes aan Israel  en al die nasies is. Met die geboorte van Jesus, die Messias, het verlossing vir alle mense ongeag ras, geslag en status gekom. Deur onverwagse name in die geslagsregister in te sluit, wys Matteus dat God enigeen kan gebruik om sy doel te bereik. Iemand is nooit te gemarginaliseer of te verag om te gebruik nie.

 Teen die agtergrond van ‘n wêreld wat toenemend vyandig is teenoor die Christendom, maak Matteus die kerk se identiteit as die ware kinders van God vas – daar is geen etniese of ekonomiese hindernisse nie – ons is almal een in ons navolging van Jesus Christus.

Ek het onder andere van die NIV Application Commentary on Matthew gebruik gemaak.

 




Die geslagsregister van Jesus Christus

Blog1111

. -Francis Bacon

Die geslagsregister van Jesus Christus

As ons na Jesus se geslagsregister in Matteus 1 kyk, kom ‘n paar evangeliewaarhede na vore:

  • Die evangelie is nie goeie advies nie, maar goeie nuus.

  • Jesus is die middelpunt van die geskiedenis
  • Jesus neem wat die wêreld as ‘n onbelangrike familie sou beskou en organiseer die menslike geskiedenis om hulle. Dit het nie destyds gelyk asof Jesus die fokus van die geskiedenis was nie. Israel was ‘n klein, onbelangrike Romeinse provinsie en niemand in Rome gee aandag aan hierdie geslagsregister nie. Maar God het ‘n belofte aan Abraham gemaak dat Hy die wêreld sou verlos. Hy doen dit te midde van magtige nasies wat oortuig was dat hulle in beheer was.

    Vandag lyk dit ook vir ons asof Jesus nie die middelpunt van die geskiedenis is nie. Die media kyk na die markte en politici as hulle voorspellings oor die toekoms maak. Maar uit God se perspektief is dit nietighede in vergelyking met wat Hy deur Jesus se koninkryk doen.

  • God werk deur alle dinge – goed en sleg – vir sy doel
  • Matteus sluit sy geslagsregister af deur te sê dat van Abraham tot by Jesus ons drie stelle van 14 persone het. Ons weet ook dat Matteus sekere geslagte uitgelaat het om by hierdie formule uit te kom. Dit was nogal ‘n algemene praktyk destyds om geslagte uit te laat. Hoekom wou Matteus hierdie stelle van 14 hê? Veertien is natuurlik twee sewes en sewe is die Bybelse getal vir volmaaktheid. God plaas dus sy seël van goedkeuring oor die geskiedenis.

    Volmaaktheid is darem ‘n groot aanspraak om te maak. Tamar (vers 3) het haar skoonvader verlei om haar swanger te maak – sy het soos ‘n prostituut aangetrek. Dawid (vers 6) slaap by sy vriend se vrou en laat hom vermoor om die gebeurtenis stil te hou. God kyk hierna en plaas sy seël daarop – volmaak. Daarmee keur Hy nie hulle optrede goed nie.

    Van ons lewens is ook maar disfunksioneel. Dit breek God se hart. Maar Hy het ‘n oorkoepelende doel vir ons lewens: Hy wil Jesus se doel in en deur ons bereik. Hy werk in die donkerste dele van ons geslagsregisters om dit reg te kry.

  • Die evangelie is vir die buitestander
  • geslagsregister is vol buitestanders – moreel, etnies en geslag. Dit sê vir ons dat Jesus vir die uitgeworpenes soos ek en jy gekom het.

  • Jesus is die ware rus
  • Verbasend wat Jesus se geslagsregister vir ons sê.

    [Ek het hier van ‘n blog van Tim Gombis gebruik gemaak.]




    Jesus se geslagsregisters

    Jesus se geslagsregisters – Francois Malan

    Barnie vra:

    In Matteus en Lukas verskyn `n geslagsregister van Jesus, maar hulle verskil. Wat is die rede daarvoor?

    Antwoord:

    Prof Francois Malan antwoord:

    Matteus skryf aan Griekssprekende Joodse Christene, en verwys telkens na die Ou Testament om te bewys dat Jesus die beloofde Messias van die Jode is. Aan sy Joods-Christelike lesers stel hy Jesus Christus aan die begin van sy Evangelie voor as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham (1:1).

    Matteus se geslagslys begin by Abraham (1:2), die vader van die gelowiges, wat deur die Jode as hulle voorvader beskou word (3:9), en eindig by Jesus (1:16), wat sy volk van hulle sondes sal verlos (1:21).

    Matteus sê dat Jesus die Christus genoem word (1:16). Dit is die Griekse woord vir die Hebreeuse ‘Messias’ wat die Jode verwag, in Afrikaans ‘Gesalfde’ – gesalf as koning, wat ook priester en profeet is, soos Dawid. Later kom Matteus daarop terug, dat Jesus uit die geslag van Dawid kom (Mat.22:44).

    Hy is ook Immanuel, God by ons (1:23; vgl. Jes.7:14) vir wie Dawid in Ps 110:1 sê ‘Die HERE (God die Vader) het vir my (Dawid se) Here (Jesus die Seun van God) gesê: sit aan my regterhand…’(Mat.22:43-45). Vergelyk ook Petrus se belydenis in Mat.16:16 ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’

    Matteus verdeel die tyd tussen Abraham en Christus in drie maal 14 geslagte: van Abraham na Dawid, van Dawid na die Babiloniese ballingskap, van die Babiloniese ballingskap tot by Christus (al word nie volstrek 14 geslagte genoem in die derde groep nie). Matteus stel Jesus voor as die vervulling van God se beloftes aan Abraham (Gen.12:1-3) en aan Dawid (2 Sam.7:4-17). Die Babiloniese ballingskap is die laagtepunt in die geskiedenis van Israel, soos Abraham die beginpunt en Dawid die hoogtepunt is. Agter die hele geskiedenis van Israel staan God wat alles uitwerk volgens sy plan, ten spyte van laagtepunte en hoogtepunte.

    In Matteus se lys word 5 vroue genoem, wat nie Lukas se lys voorkom nie. Al vyf vroue het ‘n vraagteken agter hulle: Tamar wie se tweeling deur haar skoonvader verwek is (Gen.28), Ragab was ‘n prostituut (Josua 2:1), Rut was ‘n heidense Moabiet (Rut 2:2), Dawid pleeg owerspel met die vrou van Uria en laat Uria venmoor (2 Sam.11), en Josef wou sy verlowing met Maria stilweg verbreek toe sy swanger word (Mat.1:9). Matteus stel Jesus voor uit ‘n geslag waarin prostitute, heidene, owerspelers, en moordenaars voorkom – Hy kom hulle van hulle sonde verlos (Mat.27:42).

    Matteus wil met die geslagslys bekend maak wie Jesus is en wat hy kom doen as vervuller van God se beloftes aan Israel (Mat.10:5-7). Maar na sy opstanding stuur hy sy dissipels uit na al die nasies (Mat.28:19) en verseker Hy hulle dat Hy by hulle is al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (daarmee sluit Hy alle gelowiges deur die eeue is).


    Lukas rig sy twee werke, die Evangelie en Handelinge, aan Teofilus (Lk.1:1; Hand.1:1) met ‘n Griekse gemeente in gedagte. Sy geslagslys kom eers in hoofstuk 3, na die geboorte-verhale van Jesus se voorloper, Johannes die Doper, en van Jesus, en van hulle geskiedenisse tot by Jesus se doop. Jesus laat Johannes Hom doop, waardeur Hy Homself met die sondige mensdom vereenselwig. Nadat Jesus gedoop is, het Hy staan en bid, die hemel het oopgegaan, die Heilige Gees het in sigbare gestalte op Hom neergedaal (vgl. Hand.10:38), en ‘n stem uit die hemel het gesê: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My’ (3:21-22).

    Tussen die doop en Jesus se eerste werk (waarna 3:23 verwys), nl. die versoekings van 4:1-13, voeg Lukas die stamboom van Jesus in om te wys dat Hy ten volle ware mens is, wat Hom met die sondaars vereenselwig in die doop en in die versoekings.

    Anders as Matteus wat met Jesus eindig, begin Lukas met Jesus en noem 77 geslagte tot by Adam (teenoor Matteus se 3×14 geslagte). Vir sy Griekse gemeentes wys Lukas dat Jesus die seun van Adam is, die tweede Adam, soos Lukas in sy tweede boek aantoon, in Handelinge 17:26-31 (vgl. ook Rom.5:12-21; 1 Kor.15:45-49). Deur die al te menslike geslagte is Jesus aan die mens met sy swakhede en sonde verbind, nie net aan Israel nie, maar aan die ganse mensheid, en sy sending is eintlik gerig op die hele mensdom. God se doel met die skepping was ‘n noue kindskapsverhouding met die mens wat deur Jesus afgebeeld word, en wat Hy deel met almal wat sy dissipels word, soos Lukas uitwerk in Handelinge (vgl. bv. hoofstuk 10; 15; 17:30,31).

    Maar Adam word geteken as die seun van God in Luk.3:38, om die mens Jesus ook as die Seun van God bekend te stel, soos die stem uit die hemel met sy doop gesê het, en soos Hy bewys het deur al die versoekings te weerstaan.

    Matteus en Lukas maak gebruik van geslagslyste in Kronieke 1:28-34; 2:3-15 van Abraham tot Dawid. Lukas gebruik ook 1 Kronieke 1:1-27 van Adam tot Abraham, en Matteus 1 Kronieke 3:10-15 tot die ballingskap met die koninklike linie wat deur Salomo voortgesit word ná Dawid (vgl. ook Gen.5:3-32; 11:10-26; Rut 4:18-22).

    Lukas volg ‘n lyn van Eli na Dawid oor Natan, wat Lukas as ‘n seun of nakomeling van Dawid noem, ‘n lys van gewone mense wat nie as konings regeer het soos in Matteus se lys nie (Sommige verklaarders meen Eli was die oupa van Maria, en dat Lukas die geslagslys van Maria aangee van Dawid af, wat onwaarskynlik is. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983 se invoeging van ‘Josef was die seun van Eli’ in 3:23 staan nie in die oorspronklike nie. Die oorspronklike sê net: ‘Hy was die seun, soos hulle gemeen het, Josef van Eli’ – nie eers ‘van Josef’ nie).

     

    Skrywer: Prof Francois Malan





    Vreemde Vrouens in Jesus se gelagsregister volgens Matteus

    Vreemde Vrouens in Jesus se gelagsregister volgens Matteus

    Indien mens in ons tyd wil wys hoe belangrik iemand is, of as jy aansoek doen vir werk, sal jy jou CV voorlê. In jou CV vertel jy van al jou ervaringe, jou kwalifikasies, jou prestasies, ens. In die Bybelse tyd het mense hulle belangrikheid aangetoon deur middel van hulle geslagsregister.

    Afkoms is nou verbind aan identiteit. Indien mens gebore is uit ‘n familie wat ‘n voorvader sonder aansien gehad het, word mens sommer onder dieselfde kam geskeer en anders om. In die eerste paar verse van die evangelie volgens Matteus, lees ons van Jesus se geslagsregister. As mens dit vergelyk met byvoorbeeld Lukas (hoofstuk. 3:23-38) se evangelie, sien mens dat dit baie anders lyk. Matteus doen baie moeite om aan te toon dat Jesus van koninklike afkoms is en daarom word hy ook Seun van Dawid, die groot Koning van Israel genoem.

    Die interessante was dat Joodse mans, en veral belangrike mans in die antieke tyd, amper nooit hulself en hul afkoms of identiteit beskryf of kwalifiseer in terme van ‘n vrou nie. Inteendeel, vrouens is beskou as die eiendom van die man. Daarom is daar altyd gesê die vrou is die dogter van hierdie man, of die vrou van daardie man, maar nooit andersom nie. Die opvallende is dan dat Matteus Jesus en sy identiteit beskryf en vrouens daarin vermeld. Dit is verder interessant om te verneem dat baie van die vroue wat in Jesus se gelagsregister genoem word, vrouens was wat foute gemaak het in hulle lewe, of vrouens was wat volgens die algemeen aanvaarbare reëls van die Joodse denke in ‘n sekere sin uit plek uit was. Die eerste vrou waarvan ons lees is Tamar. Lees gerus die storie van Tamar en hoe sy haarself as tempelprostituut vermom het en met Juda gemeenskap gehad het (Genesis 38). Rut self was nie ‘n Joodse meisie nie, maar ‘n Moabiet. In Deuteronomium 23:3 word dit baie duidelik gestel dat ‘n Jood hoegenaamd nie met ‘n Moabiet mag meng nie en dat laasgenoemde nie deel van die Joodse gemeenskap mag vorm nie: “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.“(NAV). Verder weet ons dat Tamar ‘n Arameër was en Ragab die prostituut (Hebreërs 11:31) van Kanaänitiese afkoms was, wat dus beteken dat die meeste van die vrouens van uitlander afkoms en volgens die Joodse sosiaal-religieuse kartografie uit plek uit was. Hiermee dui Matteus juis aan dat Jesus se afkoms universeel geïnterpreteer kan word en dat hy dus vir alle mense gekom het. In Matteus 1:7 word die vrou van Urija genoem, wat natuurlik niemand anders as Batseba was nie (2 Samuel 11). Dit was hierdie Batseba met wie Dawid oor die tou sou trap en wie se man Urija deur Dawid om die lewe gebring is.

    In Jesus se geslagsregister sien ons dus vreemde vrouens met vreemde reputasies, maar nogtans het God hulle gebruik. Die les wat ons daaruit kan leer, is dat God onmoontlike dinge moontlik kan maak en dat sy plan altyd groter is as wat ons nou kan sien. Dikwels omskep God die grootste verleentheid in die grootste geleentheid. God kan selfs ons foute gebruik tot Sy eer.

    Skrywer:  Dr Kobus Kok