DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 1 (3) – Dionne Craffort

HOOFSTUK  1 (vervolg)

GOD SE WIL GEOPENBAAR.

God se openbaring aan Israel en die profete

  Teen 2000 v.c. het God ‘n verbond gesluit met Abraham en hom na die beloofde land laat trek. Met Abraham het God Hom op ‘n besondere manier bemoei.Ons sien dit in sy roeping, die beloftes wat God aan hom maak, en die verbond wat God met hom sluit. { Gen. 12 –17}. As verbondsteken stel God die besnydenis in sodat Abraham en sy se openbaring deur Israel  en die profete. nageslag  altyd herinner sal word aan hulle blywende verbintenis tot God en aan God se eis dat hulle die verbond moet nakom.{Gen. 17:9-15}.

  Teen 1445v.c. het die uittog uit Egipte plaasgevind en by Sinai sluit God ‘n besondere verbond met Israel deur sy kneg Moses en die tien gebooie word aan die volk geskenk. So word die tien gebooie die eerste opgetekende woorde van God aan sy volk. Daarna het die God van Israel Hom oor meer as 1000 jaar in die geskiedenis en deur die profete as die enigste ware God bekendgestel. Hierdie kennis moes deur Israel ook na die nasies vloei. Die hoogtepunt van God se selfopenbaring sou egter eers plaasvind in die menswording van Jesus Christus. Toe het God se ewige bedoeling met die mens as sy verteenwoordiger op aarde eers werklik duidelik geword.

Die openbaring van God in die natuur, die geskiedenis en in die gewete van die mens.

Voordat die openbaring in woorde na die mens gekom het, kon hy tog iets van God se grootheid in die natuur aanskou. Magtige natuurverskynsels en wondere in die diere- en planteryk het mense van oertye af al tot aanbidding gedryf. Dit het gelei tot aanbidding van natuurverskynsels en later van vele natuurgode. Denkers en priesters in baie kulture het mettertyd tot die insig gekom dat agter al die natuurverskynsels daar ‘n Oppergod moet wees wat alles geskep het en nog onderhou en bestuur. Dit was slegs deur God se selfopenbaring aan mense soos Abraham, Moses en die profete dat die kennis van die een Skeppergod wat alles deur sy Gees bestuur in Israel gegroei het en eindelik tot die nasies deurgedring het.

  God kan dus uit sy handewerk in die natuur aan mense op ‘n bepaalde manier bekend word. Soos ‘n goed ontwerpte motor getuig van die vaardighede van sy ontwerpers,so getuig die skepping van die almag van God. Hoe meer bekend word van die oneidige ruimtes en onmeetbare kragte in die skepping, hoe groter word die beeld van die Skepper van die alles. In Rom. 1:20 sê Paulus: “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is,hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie”. Geen mens kan hom dus self verontskuldig dat hy hoegenamd nie van God geweet het nie. Tog sê Paulus dat hierdie kennis sondige mense nie bring tot diens aan die onverganklike God nie, maar tot die aanbidding van afgode. { Rom.1:22}.

  Calvijn aanvaar ook dat daar by alle mense ‘n natuurlike gevoel is dat God bestaan. Dit kan hulle egter nie bring tot ware kennis van God se wil nie.Hulle verstand is so verduister deur die sonde dat hulle harte fabrieke van afgode word eerder as dat hulle oorgaan tot diens aan die een ware God.Sy konklusie is dat mens slegs deur die besondere openbaring soos vervat in die Heilige Skrif tot ware kennis van God en sy wil kan kom.  Dit is dus duidelik dat alhoewel die spore van God in die natuur sigbaar word, sy wil vir die mens en die wêreld nie daaruit afgelei kan word nie.

   God se bestuur van die wêreld kan ook in die geskiedenis ontdek word. Die natuurgeskiedenis sowel as die wêreldgeskiedenis en die kerkgeskiedenis getuig telkens van onverwagte wendinge wat op niks anders dui nie, as dat God ook op een of ander wyse sy wil ook op die geskiedenis afdruk.Tog is dit so dat geloof ten grondslag moet lê aan so ‘n interpretasie van die geskiedenis. Die rede hiervoor is dat God aan mense groot vryheid van optrede toelaat. Mense kan tot ‘n groot mate hulle eie geskiedenis maak. Dit is egter meeste van die tyd ‘n selfsugtige geskiedenis wat die merktekens van die sonde dra en dus weinig kan vertoon van die wil van God.Tog is dit God wat uiteindelik sy doel met die geskiedenis bereik. Israel moes veertig jaar in die woestyn ronddwaal maar het uiteindelik tog die beloofde land bereik soos God beloof het. Mense van Oos – Europa moes vir langer as ‘n halfeeu ly onder die juk van kommunisme maar wanneer die tyd ryp is, stort dit in duie. Uiteindelik sal die wil van God altyd seëvier in die geskiedenis ten spyte van die sondige stempel wat die mens daarop afgedruk het.

  God se teenwoordigheid in die geskiedenis is dus nie in elke gegewe gebeurtenis sigbaar nie. Die teenwoordigheid van sondige mense is egter deurgaans sigbaar. As ‘n mens egter kyk deur ‘n geloofsoog, sien jy dat mense wik maar dat God uiteindelik beskik. Die geskiedenis getuig wel van God se beskikking en van sy verlossende ingryping in talle momente van die geskiedenis. Tog kan die geskiedenis ons nie tot voldoende kennis van die wil van God bring nie, omdat dit te veel deurspek is van die sondige motiewe van mense.

   Calvijn aanvaar verder dat daar ‘n kern van godsdienstigheid in elke mens is en dat dit tot uiting kom in die gewete van mense.Dit bring mee dat daar ‘n algemene gevoel is van wat reg is en wat verkeerd is en dat daar by alle mense ‘n algemene moraliteit in een of ander vorm is. Die mate waarin God in die gewetes van mense werksaam is,veroorsaak dat die wêreld nie in ‘n totale moeras van geweld en onsedelikheid verval nie. Maar nou leer die ervaring ons dat sondige mense baie goed daarin slaag om die stem van die gewete te onderdruk.  Dit verklaar waarom hulle die wil van God nie bloot op grond van die stem van hulle gewete kan ontdek nie. Die stem van die gewete word dikwels oordonder deur baie ander stemme wat die mens weg van God af lei. Tog is dit ook so dat baie mense onder aansporing van hulle gewete tog streef na die goeie. Van hulle sê Paulus: “ Wanneer heidene, wat nie die wet het nie,tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself ‘n wet al het hulle nie die wet nie.. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetes getuig daarvan wanneer hulle in ‘n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word”. ( Rom.2:14,15).

   God se werking in die gewetes van mense kan dus die uitwerking van die sonde teenwerk. Die mens se gewete kan hom egter ook nie bring tot die ware kennis van God nie. Die enigste plek waar mens dus die wil van God vir jou eie lewe, vir die mensdom en vir die wêreld te wete kan kom, is in die geopenbaarde Woord van God. Na hierdie aspek moet ons vervolgens kyk.

Skrywer:  Prof Dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 1 (2) – Dionne Craffort

HOOFSTUK  1

 GOD SE WIL GEOPENBAAR.

Die skepping voorberei vir God se openbaring.

God is die almagtige, alomteenwoordige, ewige en alwyse Wese wat in die ontoeganklikheid van Sy heerlikheid en heiligheid bestaan. Hy is onkenbaar totdat Hy besluit om Hom kenbaar te maak. God het uit sy ontoeganklikheid getree toe Hy  oorgegaan het tot die skepping van die geskape werklikheid. God bestaan in ‘n dimensie wat nie deur tyd of ruimte begrens word nie. Vir ons as mense wat gebind is deur die begrensing  van tyd en ruimte is dit ‘n totaal onbegryplike werklikheid. Dit is die transendente werklikheid wat alles wat ons ken transendeer  en verhewe is bo ons begripsvermoë. Dit is ‘n werlikheid wat ons nie kan lokaliseer nie omdat dit buite ons ervaringswêreld geleë is.

   Uit hierdie ewige en ruimtelose dimensie het God getree toe Hy die tydelike en ruimtelike geskep het as die geskape werklikheid. Toe die skepping aan die begin uitgebars het as ‘n geweldige knal en soos ‘n eindelose ballon ontvou het in duisende miljoene melkweë wat soos skitterende spiraalwiele van miljarde sterre die klein ligspikkels in die onmeetbare sfeer van tyd en ruimte gevorm het, het God reeds iets van sy oneindige almag laat sien. Natuurlik was daar 15000 miljoen jaar gelede nie menslike oë wat dit kon aanskou nie. Vandag ontrafel wetenskaplikes die geheime van die skepping brokkie vir brokkie en dit lei tot meer kennis van die oneindige grootheid van die Skepper. Tans word die teorie van die oerknal as oorsprong van die heelal baie wyd aanvaar. Dit maak egter nie saak watter teorie uiteindelik die oorhand kry nie. Dit bly nog steeds getuig van die oneindige almag en wysheid van die Skepper.

   As dit so is dat God Homself deur die geskape werklikheid wou kenbaar maak,moes daar wesens wees met sodanige kwaliteite dat hulle iets van God sou kon ken en verstaan en Hom sou kon verheerlik. Die onmeetlike skepping was dus van die begin af gerig op die verskyning van die mens –  die skepsel wat God se openbaring sou kon ontvang en  wat bedoel was om op God gerig te lewe.

   Die geweldige energie wat deur die eerste skeppingswoorde losgelaat is, is omvorm tot atome en deur die kombinasie van atome het sterre en sterrestelsels ontstaan. Uit die geweldige hitte en drukking in sterre is die swaarder materie gebore waaruit die aarde gevorm kon word.As gevolg van God se beskikking was tien duisende faktore in die groot heelal net reg sodat ons sonnestelsel kon ontstaan met die klein planeet Aarde waarop duisende faktore weer net reg was om lewe te kon onderhou. Na miljoene jare se voorbereiding was die tyd ryp vir God om te sê: “ Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard”. Vyf duisend miljoen jaar gelede het lewende selle in die oseane ontstaan. Primitiewe plantselle het suurstof begin vervaardig en die pad voorberei vir landplante en later diere en voëls. Oor die eeue het miljoene spesies plante en diere ontstaan en talle daarvan het  weer verdwyn. Eers nadat die aarde bevolk is met plante en diere, met berge , watersrome en oseane wat hulle grense geken het, was die tyd ryp vir die verskyning van die mens.

Die mens voorberei vir God se openbaring.

    Ongeveer ‘n kwartmiljoen jaar gelede het die mens sy veskyning gemaak.Soos met die res van die skepping, staan ons vandag nog verstom voor die misterie van hierdie skeppingsdaad van God.Die mens is anders as al die diere van die aarde. God het aan hom ‘n siel en ‘n selfbewussyn gegee wat ander skepsels nie het nie. ‘n Vonkie van die ewige dimensie waarin God bestaan,is aan die mens gegee sodat hy die enigste wese geword het wat bestem was om ook daardie dimensie te kon betree. Die mens is vir God geskape en met die moontlikheid om ook met God te kon kommunikeer. Hy is beelddraer van God –  hy kan dink en redeneer, leer uit die verlede,vooruitkyk na die toekoms en hy kon praat en luister, As beelddraer van God was die mens aanspreekbaar deur God  en bestem om eenmaal uit die sigbare na die onsigbare dimensie te verhuis. Daar sou egter nog tienduisende jare moes verloop voordat die mens se ingeskape kwaliteite deur oefening en ontwikkeling sodanig sou ontwikkel het dat God Hom deur woorde aan mense sou kon openbaar.

   Die ontwikkeling van veeteelt en landbou was belangrike stappe in die beskawingsgeskiedenis van die mens. Die saamwoon in nedersettings en die ontwikkeling van ‘n geordende gemeenskapslewe  het geleidelik gegroei. Sosiale politieke en religieuse strukture het ontwikkel. Baie van hierdie ontwikkelinge het plaasgevind in die streke rondom die middelandse see.  Die eerste beskawings met regeringstelsels, ekonomiese stelsels, religieuse strukture en kennis van  verwerking van metale en seevaart, sou egter in Egipte en die Nabye Ooste  hulle verskyning maak.

   Vanaf 4000 v.c. het die ou beskawings van Egipte, Babilonieë, Assirië en Kanaan ontstaan en gegroei as belangrike leerskole en bakens van menslike ontwikkeling. Die mens se bevatlikheid en religieuse vermoëns het in die eeue sodanig ontwikkel dat dit die mens ryp gemaak het vir God se besondere openbaring aan hom. Hiertoe het die ontwikkeling van skrif veral grootliks bygedra. Voordat die mens nie geleer het om te skryf nie, sou die openbaringswoorde van God nie neergeskryf kon word nie. So het God dan oor duisende jare die mens voorberei om die wese te word aan wie Hy hom sou openbaar as die Skepper en Onderhouer en as die Verlosser en Voleinder van alle dinge.

Skrywer: Prof Dionne Craffort




God se wil/my wil – Hermie van Zyl

Francois vra:

Ek sukkel om my vraag te omskryf, maar dit gaan basies oor God se wil en my wil. Het wat ek wil enigsins `n kans. Neem God enigsins “wat ek wil” ook soms in ag ?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek antwoord graag met ‘n uittreksel uit ‘n artikel wat ek ‘n tyd gelede geskryf het wat presies hierdie saak van God se wil en my wil aanraak. Dit word geskryf vanuit die hoek van gebed en die wil van God.

Die oorkoepelende doel van gebed is om ons in pas te bring met God en sy wil. Juis daarom is dit verrassend hoe min kere in die Bybel gebed in soveel woorde met die wil van God in verband gebring word. Tog moet die saak van God se wil altyd as agtergrond vir gebed veronderstel word. Reeds in die Ou Testament is dit duidelik dat God nie as vanselfsprekend geneem kan word nie. Hy is nie die Groot Staatmaker wat maar altyd net gewillig is om mense ter wille te wees nie. Inteendeel, Hy is die soewereine Heer, en daarom is sy antwoord op gebed altyd van sy Raad en besluite/wil afhanklik. Hierdie toedrag van sake word in die Nuwe Testament voortgesit. Wanneer Jesus in die Bergrede oor ons daaglikse stryd om den brode handel, verseker Hy ons van God se versorging, maar herinner Hy ons terselfdertyd daaraan dat ons ons allereers moet beywer vir God se koninkryk en sy (God se) geregtigheid (Matt 6:33). God se oorkoepelende saak/wil vorm so die konteks waarbinne die gelowige werk en bid. En in die normatiewe Ons Vader-gebed word ons by name geleer om te bid dat God se wil sal geskied (Matt 6:10), met die implikasie dat die gelowige hom daaraan sal onderwerp.

In die algemeen skep die wete dat ons moet bid volgens die wil van God nie probleme vir die gebedslewe nie. Maar dis wanneer allerlei “logiese” afleidings omtrent die verband tussen gebed en die wil van God gemaak word dat probleme ontstaan. Dit kom naamlik daarop neer dat gebed as oorbodig, futiel, beleef kan word in die lig daarvan dat God se wil in elk geval geskied. Waarom bid mens nog vir ‘n bepaalde saak as dit “reeds duidelik” is dat God se wil in ‘n ander rigting lê, of, as God in elk geval alles, lank gelede, “voor die grondlegging van die wêreld”, in ‘n onveranderlike en gedetailleerde bloudruk vir die wêreld vasgelê het? Hoe kan gebed enigiets verander aan God se wil?

Hierdie soort denke is die rede waarom mens soms stemme hoor dat die gelowige in sy/haar gebed eintlik net moet konsentreer op lof en dank. Die voorbidding-element moet liefs gelaat word omdat God Hom nie laat verbid nie. Sy wil en Raad staan vas. Hy is die Groot Beplanner wat ongeag menslike optrede of versoeke sy wil onverbiddelik deurvoer. Al wat die gelowige kan doen, is om God vir sy wil te loof en te dank – in weerwil van die lyding en smart wat sy wil mag meebring – en dit gelowig-inskiklik uit God se hand te ontvang.

Hierdie siening van gebed is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n bepalende invloed ‘n mens se teologie, veral jou Godsbeeld, op gebed kan hê. Die standpunt dat mens God se wil nie moet probeer verander nie, maar net daarvoor moet buig, mag baie vroom voorkom, maar dit stuit op die duidelike voorbeelde in die Bybel waar gelowiges nie sonder meer die wil van God gelate aanvaar nie, maar met God “stry” oor wat met hulle aan die gebeur is. En in sommige gevalle verander God inderdaad sy plan, maar in ander gevalle nie. Voorbeelde van eersgenoemde is Hiskia wat, ná hy berig ontvang dat hy nie van sy siekte sou herstel nie maar dat God hom sou laat sterwe, ernstig tot God bid, en God sy plan verander en nog 15 jaar by Hiskia se lewe voeg (2 Kon 20:1-6). ‘n Ander geval is die gebeure wat in die boek Jona beskryf word. God beplan om Nineve te verwoes vanweë dié se sonde, maar die Nineviete kom tot bekering en roep tot God om af te sien van sy plan. Toe God hulle berouvolle optrede sien, verander Hy inderdaad van besluit (Jona 3:3-10). Voorbeelde waar God nie sy plan verander nie, is by Jesus se Getsemane-gebed (Mark 14:36,39 par) en by Paulus se gebed om die verwydering van die doring in die vlees (2 Kor 12:1-10). Jesus is bewus van die lydensbeker wat Hy moet drink – wat die wil van sy Vader is (vgl die drievoudige lydensaankondigings in Mark 8, 9 en 10) – maar smeek God desnieteenstaande om die lydensbeker by Hom te laat verbygaan. Is daar nie dalk ‘n ander weg tot sy koms in heerlikheid nie? Nogtans onderwerp Jesus Hom aan wat God ook al mag besluit. En God hou by sy plan en laat Jesus die kruispad loop. Dieselfde by Paulus: Die doring in die vlees blý; God se genade is genoeg om dit draaglik te maak.

Dit word nou duidelik dat die verhouding tussen ons gebede en God se wil nie vir menslike – selfs gelowige – denke deursigtig is nie. Die voorbeelde hierbo wys juis uit dat gebed wat soek na die wil van God met veel worsteling gepaardgaan. Maar wat wel uit die voorbeelde duidelik behoort te wees, is dat die konsep dat God onveranderlik en onbeweeglik in sy wil is, mank gaan aan grondige denke. Daar is geen teenstrydigheid tussen God se soewereine Heerskap en sy openheid tot verandering nie. Ja, God ís die Groot Beplanner, die Meesterbrein wat die wêreld – en individue – stuur en rig volgens sy welbehae, maar op die een of ander manier betrek en inkorporeer Hy ons gebede by sy meesterplan. Dis die minste wat ons kan sê, maar waarskynlik ook die meeste. Die belangrike is egter dat hierdie insig die gelowige nie by voorbaat laat boedel oorgee nie, en die gebed nie laat verstom wanneer ons gekonfronteer word met wat vir ons na die onveranderlike en onbeweeglike wil van God lyk nie. Nee, die wete – die kinderlike geloof! – dat God nie buite ons om nie, maar sáám met ons sy wil volvoer, nooi ons juis uit om Hom in die gebed te raadpleeg, voorbidding te doen – tot in die fynste besonderhede toe – en met Hom te worstel totdat ons die saak “deurgebid” het (soos Jesus en Paulus) en ons gemoed tot rus gekom het in sy wil.

Mens moet egter nie dink dat gebed en Goddelike antwoord ‘n simplistiese “ek vra God gee”-verhouding is nie. Wanneer God van plan verander, is dit steeds in ooreenstemming met sy Goddelike natuur en Raad. God handel nie vóór ons gebede strydig met sy Goddelike aard, en ná ons gebede meer op een lyn daarmee nie. Nee, wanneer God verander, doen Hy dit as God, in ooreenstemming met sy Goddelike wese en Raad.

Maar ook wanneer God nie van plan verander nie, of waar dit na baie worsteling nog nie duidelik is wat God se wil is nie, of dit nie duidelik is óf Hy hoegenaamd, en indien wel, hóé Hy my gebede verhoor nie, kan ons steeds rus in die wete dat Hy wel ons gebede verhoor. Die toestaan van ons versoeke deur God, en gebedsverhoring, val nie noodwendig saam nie. God mag dalk nie aan ons versoeke gehoor gee nie, maar dit beteken nie dat ons gebed nie verhoor word nie. Indien ons gebedsverhoring en die toestaan van ons versoeke met mekaar sou identifiseer, sou dit beteken dat Jesus se Getsemane-gebed en Paulus se se doring-in-die-vlees-gebed nie verhoor is nie. En so ‘n afleiding lyk nie geregverdig in die lig van die teksgegewens nie. As ons Jesus se Getsemane-gebed en die verdere verloop van gebeure in oënskou neem, is dit duidelik dat Hy deur sy gebedsworsteling in die tuin versterk is en sy kruisdood met ‘n nuwe aanvaarding tegemoet getree het. Trouens, in die Matteusweergawe van Jesus se tuin-gebed is dit duidelik dat daar groei in Jesus se onderwerping aan die wil van sy Vader plaasvind. Anders as Markus, rapporteer Matteus die tweede gebedsmeking van Jesus in groter besonderhede. Die eerste keer pleit Jesus nog met ‘n positiewe verwagting: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan” (Matt 26:39). Maar die tweede keer is daar al klaar ‘n groter aanvaarding van sy Vader se wil as Hy in die negatief bid: “… as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie …” (26:42). Jesus se gebed moes dus op ‘n ander, hoër, vlak verhoor gewees het as bloot dié van die toestaan van sy versoek. Dieselfde met Paulus wat rus in die genade van God wat genoeg is. Hy kry nie wat hy vra nie, ten spyte daarvan dat hy God dringend en volhardend vra, maar hy rus uiteindelik daarin dat sy versoek betrek word by ‘n groter waarheid omtrent sy lewe as waarop hy aanvanklik gereken het – die wil van God. Paulus het die grense van wat hy kon vra – die wil van God, spesifiek omtrent lyding – nie by voorbaat geken nie; hy moes dit al biddende leer. Die Christelike gebede wat ons in die Nuwe Testament aantref, word algaande gevorm deur ‘n teologie van die kruis, waar gebedsverhoring nie soseer in die toestaan van versoeke bestaan nie, maar in die openbaring van God se genade en krag in swaarkry.

Hierdie insigte bring ‘n dimensie in ons gebedslewe na vore wat kortsigtigheid en tonnelvisie verminder en vryheid en vrymoedigheid bring. As dit die oorkoepelende doel van gebed is om in pas te kom met die wil van God, dan open dit ons oë vir die welbehae van God, dat Hy goed is vir ons, maar dat sy goed-wees soms onbegryplik anders kan wees as wat ons versoek. Ons moet God steeds God laat bly in ons versoeke, soos Jesus gemaak het: Hy vra – voluit – dat die lydensbeker by Hom sal verbygaan, maar lê Hom terselfdertyd neer by die wil van sy Vader, as dié anders mag blyk te wees.

Dat ons gebede in die “dun lug” van God se wil moet beweeg, is nie bedoel om ons kortasem te maak nie. Dit wil nie ons gebede intimideer, inhibeer, inkort of selfs die swye oplê nie. Dit rig eerder die uitdaging aan ons om die gesprek met ons hemelse Vader op ‘n “gevorderde” vlak – op God se vlak – voort te sit. Dis hier waar ‘n mens se geloofspiere tot die uiterste ingespan word. Want eintlik is ons besig om uit te reik na God se gedagtes wat hoër en anders is as ons s’n. Maar wie met hierdie gesprek volhard, het die versekering dat dit uiteindelik rus sál bring, al gaan dit met baie wroeging en worsteling gepaard. God wil hê dat ons klein versoeke sal saamsmelt met sy liefdevolle groter wil vir ons.

Samevatting:

  • God se wil is nie iets wat alles so deterministies bepaal dat gebed – veral gebed as voorbidding/versoeke – daarmee die swye opgelê word nie. Die kontekste waarin gebed in verband met die wil van God voorkom, toon juis aan dat God Hom laat verbid; Hy is nie onver-bid-delik nie. God kan “van plan verander”. Hierdie planverandering is egter nie willekeurig nie. God tree steeds in ooreenstemming met sy Goddelike wese en Raad op wanneer Hy van plan verander. Hy is nie ná sy planverandering meer God as daarvóór nie.
  • God se wil is nie deursigtig nie. Daarom staan Hy ons gebedsversoeke dikwels nie toe nie. Sulke gebede moet egter nie as onverhoord aangemerk word nie. God verhoor altyd gebede. Maar gebed open juis ons oë vir ‘n groter waarheid omtrent ons lewe as waarvoor ons aanvanklik gevra het.
  • Of God “van plan verander” en ons gebedsversoeke toestaan, of nie – sy wil is altyd goed; dit wil die beste vir ons, hoewel hierdie “goed” en “beste” dikwels onbegryplik is. Daarom is gebed volgens die wil van God altyd ‘n uitdaging. So ‘n gebed reik uit na God se gedagtes wat hoër is as ons s’n. Maar wie met hierdie gesprek volhard, sal uiteindelik rus vind in God.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




God se rigiede teenoor sy toelaatbare wil

God se rigiede teenoor sy toelaatbare wil – Francois Malan

Jan vra:

[Hierdie is ’n opvolgvraag]

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

1 elkeen aan wie die Seun dit WIL openbaar – rigied?

en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. En nooi dan uit: Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is (wat verklaar word as die swaar laste wat die Fariseërs op die Jode gelaai het met 613 gebooie wat hulle in die Ou Testament gekry het wat elkeen moet onderhou om God te behaag). Neem my juk op julle en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig. En dan gee Jesus vir sy volgelinge ‘n nuwe wet: om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet en aan die kruis in ons plek sterf (Johannes 13:34-35).

  

Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Ver 23: Wie nie die Seun eer nie (soos die Jode), eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Vers 24: Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan.   (klink dit rigied?)

Johannes 12 is die afsluiting van Jesus se bediening aan die ongelowige Jode waarin Hy hulle in elke hoofstuk probeer oortuig dat Hy God is wat mens geword het (vgl. Jn 1:1-3,14) (in Hoofstukke 13-17 gee Hy onderrig net aan sy klein groepie dissipels, veral na Judas se vertrek uit die bokamer). 12:37-43 is eintlik die skrywer se kommentaar dat die Jode, ten spyte van Jesus se baie tekens wat Hy in hulle teenwoordigheid gedoen het, nie in Hom geglo nie. En dan het hy twee aanhalings uit Jesaja wat hy op Jesus toepas (Js 53:1 en Js 6:10).