God maak rokke

God maak rokke – Francois Malan

Jan vra:

Genesis 3: 21: En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek. God is Gees en ek wonder hoe Hy dan ‘n bok kon slag, die velle bewerk en rokke daarvan maak en om die twee dit te laat aantrek. Ek wil spekuleer dat Adam dit moes doen op die voorskrifte van God – maar dit is nie wat daar staan nie.

Antwoord:

Prof François Malan antwoord:

Calvyn het dieselfde gevoel gehad as die vraesteller, dat dit heeltemal in stryd is met die geestelike, onsienlike wese van God om ons voor te stel dat Hy, die Almagtige, eiehandig ‘n paar diere sou afslag, die velle aanmekaar werk en dit vir die twee aantrek. Hoe dit presies geskied het, kan ons nie sê nie. Maar die feit is dat God aan die eerste mense die eerste klere gegee het.

God vervang die onvoldoende verganklike blaarskorte (voorskote, Hebreeus chegorot), wat slegs hulle seksuele organe bedek het, met rokke (Hebreeus katenot) van diervelle, wat van die nek tot by die knieë of enkels bedek, wat later vir die priesters voorgeskryf is (Eks.28:41-42 maar vir hulle van linne gemaak is).

Volgens 3:21 het God die klere gemaak, wat die eerste slagting veronderstel. In 4:4 bring Kain die eerste diereoffer, en in 9:1-4 gee God die diere ook as kos vir die mens, terwyl 1:29 hulle kos tot plante beperk het voor die sondeval.

Dit is die kort antwoord op die vraag. Daar is ook ‘n baie lang antwoord, wat ek kortliks sal probeer opsom.

Die boeke Genesis tot Deuteronomium is waarskynlik op sy vroegste geskryf in die tyd van Dawid (1000 v.Chr.) of meer waarskynlik van sy seun Salomo (970-930 v.Chr.) [sommige verklaarders plaas hulle eers tydens of na die Babiloniese ballingskap tussen 600-500 v.Chr.]

Die skrywer het gebruik gemaak van geskrewe bronne, waarvan sommige tot by Moses sterk (1230 v.Chr), maar meesal van mondelinge oorlewerings. So plaas hy bv. twee skeppingsverhale na mekaar (1:1-2:4a; 2:4b-4:26), en twee verhale oor die verspreiding van die nasies (10:1-32; 11:1-9). Hy het ‘n kunswerk geskep en sy eie interpretasies gegee. Die eerste 11 hoofstukke is voorgeskiedenis, as inleiding tot die eintlike geskiedenis van God se verbond met die aartsvaders, wat met Abraham begin in 11:10. In die voorgeskiedenis wys die skrywer die plek van die mens in die skepping aan, en die plek van Israel in die volkerewêreld. Die skrywer bely dat die Here die aarde en die mens geskep het en die groot vloed gestuur het. Die skrywer het die velklere gesien as bedekking vir die mens wat in sonde verval het om sy skaamte te bedek, maar ook as ‘n herinnering aan sy sondigheid wat die dra van klere nodig gemaak het. Soos die mens God nie direk kan aanskou nie (Eksodus 33:20), mag die mens ook nie voor God onbedek lewe nie.

In Babilonië van die ballingskapstyd (597-520 v.Chr), en veel vroeër in die Sumeriese en Akkadiese tye, nog voor Abraham (1750 v.Chr.), was daar verhale oor die skepping en die groot vloed. In ‘n sekere sin is die eerste 11 hoofstukke van Genesis ‘n antwoord teen dié heidense verhale met hulle gode.

Die ou heidense stukke het melding gemaak van die verleidster wat die mens effektief verlei het, maar dat die mens daarna deur die natuur verwerp is, en sy vir hom sê dat hy nou wys is en soos ‘n god is. Daarna het sy sommige van sy klere verbeter en dit vir hom aangetrek om sy nuwe status aan te dui. Daarteen getuig die skrywer van God se genade wat die mens geklee het en geleer het om klere te maak. Maar hoe dit gedoen is, word nie uitgespel nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




God se manlikheid

God se manlikheid – Francois Malan

Saartjie vra:

My man is in twyfel oor God se geslag. Hoewel daar in die Bybel duidelik staan God die Vader beweer hy dat daar tog mense is wat dit betwyfel. Wat sê u?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God bestaan buite die grense van ons verstaan, en ons kan nie ons beperkte idees en belewenisse van vaderskap en manlikheid op God toepas nie.

In Jesaja 55:8-9 sê die Here: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Paulus sê in Romeine 11:34-36: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy veplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Jesus sê in Johannes 4:24: God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.

In die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees is daar nie sprake van manlikheid of seksuele voortbringing nie. Dit is ‘n ewige verhouding wat van ewigheid af bestaan.

In sy woord openbaar God Hom aan ons as die ewige Vader van ons Here (‘regeerder’) Jesus (‘verlosser’) Christus (‘gesalfde’ koning, priester, profeet), en die Heilige Gees wat saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is, wat ewig by ons kom bly om geloof in ons te skep in die ware God, Vader Seun en Gees, en die nuwe skepping wat Christus kom bewerk het in ons lewens uit te werk.

Vanuit die liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees (vgl. 1 Johannes 4:8,16 ‘God is liefde’) sien ons dat ons aardse vaderskap ‘n baie swak beeld van God se vaderskap is, wat ons vaderskap onder kritiek stel en aan ons vaderskap nuwe betekenis en waarde wil gee. God se Vaderskap en liefde vir sy wêreld wat Hy geskep het, het sy geliefde Seun aan ‘n kruis laat sterwe vir ons sonde, sodat ons die ewige lewe kan hê saam met sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het (Johannes 3:16). Dit gee Hy aan dié wat in sy Seun glo deur die werking van sy Heilige Gees.

Vir die gemeente in Korinte sê Paulus in 1 Kor.8:5-6: teenoor die heidene se baie sogenaamde ‘gode’ en ‘here’ is daar vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Watter faktore dra by tot ons verstaan van God?

Watter faktore dra by tot ons verstaan van God? – Francois Malan

Jaco vra:

Wil net weet water faktore dra by tot ons verstaan van God?

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

In Efesiërs 3:14-21 bid Paulus dat die gelowiges in staat sal wees om iets van die liefde van God te begryp, ‘n liefde wat ons verstand te bowe gaan. In dié verse word verwys na ‘n hele aantal ‘faktore’ wat bydra tot ons verstaan van God, die God van wie 1 Johannes 4:7-9 sê ‘…elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God, en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.’


In Efesiërs 3 word ‘n aantal ‘faktore’ genoem in die proses om God te ‘verstaan’:


1.   Dit is iets wat ons van God die Vader in nederige gebed vra (Ef.3:14). In Ef.2:18 het hy reeds gesê: deur Christus Jesus se kruisdood ‘het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees, vrye toegang tot die Vader.

God die Vader het elke familie en familie-groep gemaak, ons bestaan en ons rol in die lewe is van Hom afhanklik (3:15). Hy sorg vir ons, en ons staan onder sy beheer as die Vader van elke familie (3:9 noem Hom reeds die Skepper van alle dinge).


2.   Die inhoud van die gebed is eerstens dat God ons innerlik sal versterk deur sy Gees (3:16). In 1:17 is reeds gesê dat God deur sy Gees aan ons wysheid gee en Hom so aan ons openbaar dat ons Hom werklik kan ken. Ons ‘innerlike mens’ is die setel van ons bewussyn, 3:17 noem dit ons hart, ons morele wese, waarmee ons verstaan en keuses maak. Ons verstaan iets van God deur sy openbaring van Homself aan ons deur sy Gees, wat in ons kom woon, om ons dag vir dag te vernuwe (2 Kor.4:16). God kan alles wat ons nodig het voorsien uit die onuitputlike rykdom van sy heerlikheid.

Die innerlike versterking beteken dat Christus self permanent in ons woon om in liefde te heers oor alles wat ons is en doen (3:17a). Sy inwoning is deur geloof, en geloof is ook ‘n gawe van God (2:8). Soos wat ons Hom vertrou, so maak Hy ons hart sy woning. Die Gees is besig om ons al meer te verander om soos Christus te wees in ons denke en optrede (vgl. 2 Kor.3:18).


3.   Die gevolg van ons versterking, deur die Gees deur Christus in ons te laat woon, is dat ons in die liefde sal wortelskiet – dat alles wat ons is en doen deur Christus se liefde gevoed word, soos ‘n plant deur sy wortels gevoed word om te groei; en dat ons op die liefde gegrond sal wees, as die fondament van ons lewe en lewensuitkyk, soos ‘n gebou stewig op sy fondamente staan (17b).

1 Joh.4:7-21 sê: slégs as ons in liefde teenoor mekaar lewe, kan ons God ken, want die liefde kom van God, elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde – dit het Hy geopenbaar deur sy Seun na die wêreld te stuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.


4.   Die tweede versoek in Paulus se voorbidding is dat God aan ons die krag sal gee om te begryp hoe onmeetlik Christus se allesomvattende liefde is (3:18). Dit is ‘n gebed dat God aan al die gelowiges egte insig sal gee in die liefde van Christus.

Die begrip van die liefde van Christus impliseer ‘n persoonlike kennis daarvan, om die afmetings wat die liefde van Christus aanneem persoonlik te ervaar en uit te leef. Die ‘verstaan van God’ is nie iets wat ons met ons verstand kan begryp soos boekkennis wat ons kan gebruik of nie gebruik nie. Die ‘verstaan van God’ gebeur in ‘n persoonlike verhouding met God as ons Vader aan wie ons ons lewe toevertrou, en vir wie ons uit liefde gehoorsaam in alles wat ons doen, soos Jesus sy Vader op aarde gehoorsaam het.


5.   Maar ons kan nooit die volle omvang en diepte van Christus se onmeetlike liefde verstaan nie (3:19a).

Dit is God wat ons vol maak met die volheid van God. Sy doel is dat ons die volheid van God sal beleef (3:19b). In 4:13-16 spel Paulus dit uit: dat ons almal uiteindelik sal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en ons kennis van God, dat ons, as sy kerk, soos ‘n volwasse mens sal wees, so volwasse en volmaak soos Christus, wat in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus ons hoof toe, waar elke gelowige sy funksie in die liggaam van Christus vervul.


6.   In dit alles gaan dit nie om ons eer nie, maar om die eer van God, wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink; Hy werk in ons deur sy Gees. Maar ons kan Hom nie uit ons eie prys nie. Christus is die middelaar van God se werk in ons. Hy is ook die middelaar van ons reaksie om die Vader te prys (3:20-21).

Die ‘faktore’ (liewers die beweging) waardeur ons God ‘verstaan’ (in Romeine 11:33-36 besing Paulus God se wysheid in sy handelinge met die wêreld om die mens te verlos, en sy kennis van ons en van wat gebeur; sy oordele is ondeurgrondelik – dit is moeilik om sy optrede te verstaan maar ons weet dit is reg soos Job 5:9 en 9:10 sê, en sy weë is onnaspeurlik – hoe Hy werk om sy doel te bereik) eintlik kan ons God nie verstaan nie, maar Hom wel in sy liefde ken.

Maar die beweging om Hom te ken begin by Hom. Hy openbaar Homself aan ons, Hy maak Homself kenbaar. Dit het Hy gedoen deur Christus te stuur om ons deur sy kruisdood en opstanding van ons sonde te verlos, sodat ons die Skepper ons Vader kan noem. Die Heilige Gees het in ons kom woon om ons aan Christus te verbind om saam met die Seun van God te lewe vir ons Vader. En die hele beweging is een van liefde, want die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees is liefde. In daardie liefdesverhouding kry ons deel deurdat die Heilige Gees ons daarin opneem om die genade van Jesus Christus ons Here te ken, en die liefde van God ons Vader, deur die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor.13:13). Die Heilige Gees gebruik veral die woord van God om ons te leer, deur die Bybel te bestudeer, daaroor in gebed na te dink en toe te pas, ook deur die prediking, mense, boeke, gebeure, ens. Slegs so kry ons iets verstaan van God, Hom ook in sy skepping as Skepper herken, en Hom as die Herskepper van mens en skepping begin ken, sodat ons Hom kan loof en eer met ons denke, woorde, lied en optrede.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloof aan die bestaan van een God

Geloof aan die bestaan van een God – Francois Malan

Vraag: 

Leoni vra: 

Ek vra asb hulp met die antwoord van een vraag en dalk kan u my verwys waar ek sulke antwoorde kan opspoor Ek het al die netwerk deursoek maar kry niks. Die vraag is: Geloof aan die bestaan van een God, wat Skepper en Bestuurder van die heelal is.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 Korintiërs 8:4-6 sê Paulus: ‘ons weet…en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie is wat “Here” genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.’

Een God die Vader (soos Jesus sý Vader aan ons bekend gemaak het; deur geloof in Christus kry ons deel aan Jesus se kindskap en word so self kinders van God) is die bron en bestemming van alle dinge, ons wat in Christus glo as ons verlosser, is daarby ingesluit. Om Hom te dien en te gehoorsaam is die sin en doel van ons lewe.

Vergelyk ook Efesiërs 4:4,5,6 ‘…en net één Gees (wat die een liggaam van Christus, sy kerk, met hoop op die ewige lewe vervul)… Daar is net één Here (aan wie ons verbind is deur in Hom te glo en in Hom gedoop te wees)…één God en Vader van alles/almal: Hy wat oor almal is (wat oor sy hele skepping waak, hulle versorg en daaroor heers), deur alles en almal werk (as sy instrumente deur wie Hy in die wêreld werk om alles in die skepping in Christus te verenig; Ef.1:10), en in alles en almal is (deur sy Gees gee Hy lewe aan elke ding en mens; vgl. Ps.104:29-30; Hand.17:28).’ Van dié eenheid is die kerk die voorloper-instansie (vgl. 1 Kor.15:28).

Een Here (in die Ou Testament word God die Here genoem. In die Nuwe Testament word die titel Here veral vir sy Seun gebruik om Hom aan te dui as die een wat oor die skepping en die kerk regeer, vgl. Efesiërs 1:22-23), Jesus Christus, die goddelike middelaar deur wie God alles geskep het en deur wie Hy ons verlos tot ‘n nuwe lewe, ewig met God (vgl. ook 1 Tim 2:5 se een God en een Middelaar).

 

Skrywer: Prof Francois Malan