Het ons ons godsdiens afgewater? ‘n Verhaal van ‘n Moslemvrou

If there be a man before me who says that the wrath of God is too heavy a punishment for his little sin, I ask him, if the sin be little, why does he not give it up? – C. H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? ‘n Verhaal van ‘n Moslemvrou

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie. Lees die verhaal van Ayan. In haar geval was daar veel meer op die spel.

 

Ayan is ‘n Moslem. Haar persoonlike identiteit, eer en sosiale status is nou verbonde aan haar godsdiens – Islam. Sy weet dat as sy haar geloof sou verlaat, sy haar lewe kan verloor – nie noodwendig letterlik nie, maar sy sal ‘n uitgeworpene in haar samelewing wees. As haar familie agterkom dat sy nie meer ‘n Moslem is nie, sal hulle haar keel afsny. Jy begin met haar oor Jesus Christus praat. Met verloop van tyd kom jy agter dat haar hart versag. Sy bewe as sy net dink aan die prys wat sy sal moet betaal as sy ‘n Christen sou word.

Met geloof in haar hart, maar met vrees in haar oë, vra sy: “Hoe word ek ‘n Christen?”  Wat sê jy vir haar?

  • Aanvaar sekere waarhede; bid ‘n sekere gebed en jy is verlos. Dit is al wat nodig is. OF
  • God roep jou om te sterf. Jy moet letterlik sterf van jou lewe, jou gesin, jou vriende, jou toekoms … Die EK moet eers doodgaan voor ek vir Christus kan lewe. Dan word ek deel van ‘n globale familie van alle ouderdomme.

Hulle het vir haar die tweede antwoord gegee. Sy het Jesus Christus as haar Verlosser aangeneem, maar sy moes vlug van haar familie en vriende. Om Jesus Christus te volg het sekere opofferings van haar vereis. Die vraag is of ons bereid is om dit vir mense te sê wat vir ons vra wat hulle moet doen om Christene te word. Of skram ons weg en gee ‘n maklike, oppervlakkige antwoord? Glo ons nog dat om Christus te volg, ‘n prys van ons vra?

Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie probleem spandeer. Volgende keer kyk ons na vier vissermanne en wat hulle moes opoffer.




Ons nuwe godsdiens

Cheerfulness and contentment are great beautifiers and are famous preservers of youthful looks. –Charles Dickens (1812-1870)

Ons nuwe godsdiens

A fundamental principle of Christian communication: the audience not the message is sovereign. Wat George Barna in werklikheid hier sê, is dat die boodskap van die kerk vandag in baie gevalle deur die gehoor bepaal word. Hulle besluit wat is aanvaarbaar en wat nie. Hoe gebeur dit?

 

Sosioloë, onder andere Marsha Witten, beskryf ‘n proses:

  • Die groot, soewereine, transendente God word vir ons familiêr. Ons glo nog aan God, maar sien Hom nou as ons vriend en nie meer as ons Koning nie. Baie min mense sal vandag ooit erken dat hulle God vrees.
  • Godsdiens word nou geprivatiseer.  Jesus Christus word vir ons terapeuties bruikbaar. Hy is die antwoord vir ons slegte gevoelens – nie vir ons sonde en skuld voor God nie.
  • Alles wat vantevore as die soewereine werk van God beskou is, word nou aan onsself toegeskryf. Stap na die boekwinkel en kyk hoeveel selfhelp boeke is daar – How to … Hierdie tipe boeke het veral toegeneem na Norman Vincent Peale se boek The Power of Positive Thinking.

Die sleutel tot verlossing lê nou in onsself – ons moet net na ons innerlike stemmetjie luister. Dan is alles reg. Johannes 14:6 (Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na my Vader toe behalwe deur My nie) is outyds en nie meer van toepassing nie. Die gevolgtrekking: There is nothing here that couldn’t be found in secular alternatives (Marsha Witten).

Kwaai woorde met baie waarheid daarin.