Die Heiligheid van God – Hermie van Zyl

Francois vra:

In die Ou Testament word die heiligheid van God oor-en -oor beklemtoon en mense wat die heiligheid nie gerespekteer het nie, is erg gestraf, selfs met die dood. In die Nuwe Testament word daar baie minder, en minder eksplisiet, verwys na die heiligheid van God (met moontlik die uitsondering van in Openbaring en die Ananias en Safira gebeurtenis). Jesus se koms het tog nie God se heiligheid verminder nie. 1. Hoe moet God se heiligheid volgens die Nuwe Testament verstaan word? 2. Hoe moet die heiligheid van God vandag deur sy kinders uitgeleef word?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die term “heilig” in die Bybel het meer as een betekenis. Toegepas op God druk dit die essensie van sy wese uit as die Een wat nie soos mense is nie maar vlekkeloos, sondeloos en absoluut volmaak. So besing die hemelse wesens dan ook sy heiligheid (vgl die sg trishagion, of te wel, “drie maal heilig”-uitroep in Jes 6:3 en Op 4:8). As die Heilige verdra Hy ook nie onreg en sonde nie; uiteindelik moet die sonde gestraf word (Jes 65:1-5; Am 2:7).

As die Heilige in absolute sin is God nie net anders as mense nie, maar ook anders as die sogenaamde gode, wat eintlik maar net projeksies van mense was en dieselfde eienskappe as mense vertoon het, behalwe net dat hulle baie magtiger as mense was. Mense moes daarom voortdurend die gode paai en kalmeer sodat hulle nie in toorn ontbrand teen mense nie. Die lewende God se heiligheid kom egter veral in sy liefde, barmhartigheid en genade na vore. Dit maak Hom nie net totaal anders as die gode nie, maar ook as mense. Waar die gode in blinde woede kan reageer, is God lankmoedig en genadig. Waar mense ontrou is, is God betroubaar en onwankelbaar in sy liefde en genade (vgl Hos 11:9).

“Heilig” word verder ook op die kinders van God toegepas, bv Lev 19:2 en 1 Pet 1:15-16, waar gesê word dat hulle heilig moet wees omdat God heilig is. So gesien kan dit nie “sondeloos” of “volmaak” beteken nie, maar eerder dat God se kinders volkome toegewyd aan God moet lewe. God se heiligheid skuur as’t ware af op sy kinders. Hy wil hê dat sy kinders hulle moet wegkeer van wat sondig is en toegewyd aan Hom moet lewe. Hier is “heilig” dan nie soseer ‘n wesenskwaliteit van mense nie, maar eerder ‘n etiese kwaliteit, d w s, hoe mense moet lewe om daardeur te wys dat hulle aan God behoort. Toewyding het ook die betekeniskomponent van “afsondering”, wat veral in die OT ten opsigte van die priesters gegeld het. Hulle moes hulle van sekere praktyke wegkeer of afsonder om daardeur hulle toewyding aan God te demonstreer (vgl 1 Kron 23:13). Afsondering het egter niks te make met wêreldvreemdheid of wêreldmyding nie, maar dat God se kinders in hierdie wêreld maar nie van die wêreld nie sal wees.

In die Ou Testament (OT) was dit veral nodig om die heiligheid van God te beklemtoon sodat die volk Israel sou weet dat hulle God nie maar soos ‘n gewone mens is, net baie magtiger nie. Nee, Hy is die “gans andere”, die een wat die Skepper is van hemel en aarde, wat ontoeganklike lig bewoon (Ps 104:2; Dan 2:22; vgl 1 Tim 6:16), en tog Homself as die barmhartige en genadige betoon wat besorg is oor die weduwee, die weeskind en die arme.

Dit is veral lg aspek wat in die Nuwe Testament (NT) baie meer prominent is as in die OT. Want die NT leer dat die Heilige, die Ewige, méns geword het in Jesus Christus, dat Hy naby ons gekom het, dat Hy die gestalte van ‘n slaaf aangeneem het (Fil 2:7), om te dien, selfs tot in die dood toe. Dus, die heilige God is in Jesus Christus volkome mens, maar sonder sonde (Heb 4:15). Juis so het God kom toon wie Hy en wat ware menswees eintlik is.

Dis om hierdie rede dat die NT minder klem lê op die afstand tussen God en mens en meer die nabyheid van God aan die mens benadruk. Maar Hy is steeds Gód, en ons ménse. Geen wonder nie dat Paulus die absolute andersheid en ondeurgrondelikheid van God in Rom 11:33-36 besing. Sy nabyheid hef dus nie sy Godheid of heiligheid op nie. Dit gee net daaraan ‘n bepaalde dimensie wat voorheen in die OT nog nie so prominent was nie.

Die slotsom van bogenoemde is dat ons vandag nie beangs en bevrees vir God hoef te lewe nie. Sy heiligheid maak ons nie bevrees om in sy teenwoordigheid te verskyn nie, maar nooi ons eerder uit om in gemeenskap met Hom te lewe. Maar dit beteken ook dat ons, synde God se kinders, hoe langer hoe meer God die Heilige se eienskappe in ons lewe sal reflekteer.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Woorde uit die Bybel – Heiligmaking (4)

Woorde uit die Bybel – Heiligmaking (4)

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

Ons het verskeie aspekte van heiligheid bespreek. Ons sluit nou af met die heiligheid van die hemel. Ons moet egter onthou dat volmaakte heiligheid op aarde nie moontlik is nie. Dit word eers volledig bereik na hierdie lewe:  Ek sien toe ook hoe God sy stad, die nuwe Jerusalem, uit die hemel laat afkom. Die stad was pragtig, soos ‘n bruid wat haar vir haar bruidegom mooigemaak het. Ek hoor toe ‘n harde stem sê: “God bly nou by en tussen sy mense; ja, Hy gaan saam met hulle bly. Hulle sal sy mense wees (Openbaring 21:2 – 3).

Hierdie sluit ons bespreking oor heiligheid en heiligmaking af. Dit is ook die laaste woord wat ons gaan bespreek.




Woorde uit die Bybel – Heiligheid (3)

Woorde uit die Bybel – Heiligheid (3)

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

Hierdie gawe wat God van sy kinders vereis, is ‘n gawe van God af. God en God alleen het dit vir ons moontlik gemaak om Christus Jesus te leer ken … deur Hom word ons saak met God reggemaak, word ons mense wat geheel en al net vir God leef. Ja, Hy is die Een deur wie God ons sy vriende maak (1 Korintiërs 1:30);  Maar julle lewe het verander – God het die sondes soos vuilgoed van julle afgewas; Hy het julle spesiaal net Syne gemaak. Julle saak met God is nou heeltemal reg. Daarvoor het die Here Jesus Christus self gesorg saam met die Gees van ons God (1 Korintiërs 6:11).

Hierdie gawe van heiligheid het twee aspekte:

  • ‘n Verhoudingsaspek. Die verhouding tussen God en sondaars word herstel: Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het (Hebreërs 10:14). Hierdie is ‘n voorreg wat die Christen na sy bekering geniet: Dit is die mense wat aan God behoort omdat hulle Jesus Christus ken. God het hulle geroep om net vir Hom te leef (1 Korintiërs 1:2).
  • Het die mens dan enige rol te speel in die proses van heiligmaking? Beslis: Toe jy ‘n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ‘n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef (1 Timoteus 6:12)




Woorde uit die Bybel – Heiligheid (2)

Woorde uit die Bybel – Heiligheid (2)

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

Die heiligheid van die mens

Wat beteken dit in die praktyk? Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ‘n mens nuwe klere aantrek. Ons nuwe lewe moet ons al hoe meer soos God laat lyk; ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy (Efesiërs 4:24); Leef soos mense wat eenkant geplaas is om God voltyds te dien (Romeine 6:19).

Ons praat hier nie van ‘n gevoel of ‘n belewenis nie, maar van ‘n lewenstyl wat verander. Die lewe sentreer nie meer op die dinge van die bose nie. Dit beteken nie dat die gelowiges hulle uit die samelewing moet onttrek nie – in kloosters gaan woon nie. Ons moet hierdie nuwe lewenstyl in die samelewing uitleef.

Ongelukkig, vir die moderne mens, het heiligheid ‘n negatiewe betekenis – ‘n soort passiewe lewe. Dit is nie wat die Bybel sê nie.

Volgende keer gaan ons na die gawe van heiligheid kyk.