Voor Jesus se hemelvaart

Voor Jesus se hemelvaart – Francois Malan

Benita vra:

Wat weet ons van Jesus se 40dae voor die Hemelvaart. Hy het maar paar keer aan sy dissipels en volgelinge verskyn. Is daar aantekeninge oor die res van die tyd?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybel vertel van ‘n hele aantal verskynings van Jesus van sy opstanding af tot sy hemelvaart, maar die getal en hoe hulle agtermekaar kom, is nie seker nie (vgl. ook Hand.1:3 se opmerking oor verskeie geleenthede wat Jesus saam met sy dissipels was):

Johannes 20-21 vertel van ‘n paar verskynings:

Die Johannes Evangelie bevestig met tekens dat Jesus God is (1:1) wat mens geword het (1:14), en as mens en God aan die kruis gesterf het om die sonde van die wêreld weg te neem (1:29) – as sondelose mens om ons sonde op Hom te neem, as God omdat net God self die straf op die massa sonde van die ganse wêreld van alle tye kan dra – sodat ons deur te glo in sy Naam = in die Seun van God self, die lewe kan hê (20:31) en dit kom omdat God die wêreld so liefhet dat Hy sy Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (3:16).

2.1 aan Maria Magdalena (Joh.20:11-18) op die opstandingsmôre sê sy hulle het haar Here (wat haar lewe regeer) weggeneem, sy noem Hom rabboeni (haar menslike leermeester), en nadat Hy gesê het hy vaar op na sy Vader en sy God toe, en sy gaan vertel vir die dissipels sy het die Here (God) gesien

2.2 Die aand verskyn Hy aan 10? dissipels (20:19-25; sonder Judas en Tomas) en met sy opstandingsliggaam gaan hy deur geslote deure wat Hom nie meer kan keer nie. Jesus groet hulle met ‘n vredestoesegging (die vrede wat Hy deur sy dood bewerk het, tussen God en mens en mense onder mekaar), en ‘n opdrag waarmee Hy hulle na die wêreld toe stuur om aan die mense die vergiffenis van hulle sonde deur sy lewe en offer aan die kruis te verkondig, en hulle daarvoor toerus met die Heilige Gees, God wat self in ons kom woon om in en deur ons te werk.

2.3 ‘n week later op die Sondagaand (20:26-29) is Tomas by, Jesus kom deur die geslote deur, maar wys sy deurboorde hande en sy as die tekens van sy dood aan die kruis. Tomas bely hom as sy Here en sy God. Nou sien Tomas Jesus is waarlik mens en waarlik God. En Jesus spreek die seën uit oor almal wat hom nie gesien het nie, en tog glo – tot vandag toe nog!

2.4 by die see van Tiberias (21:1-25) aan 6 dissipels wat gaan visvang, na ‘n vrugtelose nag in opdrag van Jesus ‘n groot vrag vis uittrek sonder dat die net skeur (om die eenheid van die kerk te beklemtoon, en Jesus se voorsiening vir ons daaglikse brood), Petrus word in sy amp herstel, nadat hy Jesus drie maal verloën het, om uit liefde Jesus se gelowiges (swak lammers en skape) te versorg, as ‘n visser van mense (Lk 5:10). Hy eet saam met hulle as mens, maar het self vis op die vuur sonder dat Hy gaan visvang het – as God wat selfs die skole vis beheer. Vir Petrus kondig hy lyding en sy dood ter wille van die evangelie aan, en die geliefde dissipel skryf die van die dinge wat Jesus gedoen het, maar daar is te veel om op te noem.

Lukas 24 vertel van ‘n paar verskynings:

2.5 die Sondagaand op pad na Emmaus verskyn Hy aan Kleopas en nog ‘n volgeling van Jesus en word bekend toe Hy die brood breek by die maaltyd (24:13-32). Op pad verduidelik Hy vir hulle uit die Ou Testament dat die Christus moes ly om in sy heerlikheid in te gaan (mens en God om ons sonde te dra), sodat ons ook die Ou Testament so sal verstaan as ‘n heenwysing na God se reddingsplan deur sy Seun, en dat ons deur vreemdelinge te versorg ook die Here beter sal leer ken soos die Emmausgangers wat Hom ingenooi het.

2.6 Maar terwyl Hy in Emmaus was, het Hy ook aan Simon Petrus verskyn – tegelyk? (24:33).

2.7 Toe die Emmausgangers hulle ondervinding aan die 11 dissipels en ander mense by hulle vertel, staan Jesus meteens tussen hulle, groet met die vredegroet, wys sy hande en voete en sê voel aan my, en eet saam met hulle om te wys Hy is regtig mens al kon Hy skielik tussen hulle staan. Hy verduidelik weer die Ou Testament se geskrifte oor sy lyding en opstanding en gee opdrag dat hulle die goeie nuus van Jerusalem af en verder moet gaan vertel met bekering en vergewing van sonde aan al die nasies, met die belofte dat hulle daarvoor sal toegerus sal word deur die belofte van die Vader dat God self in ons kom woon.

2.8 Die boek sluit af met die hemelvaart van Betanië af waar hulle Hom aanbid het en met groot blydskap terug is Jerusalem toe, en by die tempel God deurentyd geprys het.

Matteus 28 vertel van die verskyning aan Maria Magdalena en die ander Maria op die Sondagmôre van die opstanding (vers 9-10) – Matteus is lief daarvoor om telkens twee getuies te noem (vgl. twee blindes by Jerigo 20:30, terwyl Markus 10:46 en Lukas 18:35 net van een blinde vertel)

2.9 Matt.28:16-20 vertel van die verskyning in Galilea aan 11 dissipels met die opdrag om uit alle nasies dissipels van Jesus te maak, te doop, te leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het, met die belofte dat Hy self (deur sy Gees) by hulle sal wees tot die voleinding van die wêreld.

Markus 16:9-20 was nie oorspronklik deel van die Evangelie nie, en is ‘n slot wat later bygeskryf is en van die ander Evangelies se verhale opgesom het, met die verskyning aan Maria Magdalena, aan die twee Emmausgangers, aan die elftal wat aan tafel was met die opdragte aan hulle, en met sy hemelvaart.

Handelinge (deur Lukas as die vervolg op sy Evangelie geskryf) vertel van verskynings:

2.10 toe Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was (wat kan impliseer dat dit meer kere plaasgevind het, vgl. 1:3 in die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat), beloof Hy dat die Heilige Gees in hulle sal kom woon om hulle vir hulle taak toe te rus om sy getuies te wees tot aan die uithoeke van die wêreld.

Daarna vertel Lukas weer van die hemelvaart.

In 1 Kor 15 verwys Paulus na verskynings van Jesus:

Hy verwys na die verskyning aan Petrus 15:5, daarna aan die twaalf (al was dit net 11), en

2.11 aan meer as 500 gelowiges tegelyk 15:6

2.12 daarna aan Jakobus (Jesus se broer wat die leiding in die gemeente in Jerusalem oorgeneem het, toe die apostels almal moes vlug) 15:7

En toe aan al die apostels –waarskynlik een van die verskynings wat deur die Evangelies genoem is 15:7.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hemelvaart

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hemelvaart

Hemelvaart

Die hemelvaart van Jesus staan baie sterk in die skadu van sy won­derwerke, kruis en opstanding waaraan baie meer aandag gegee word in die Bybel en in die kerklike lewe. Dit is net Lukas wat dit beskryf (Luk 24:51; Hand 1:2, 9-11, 22; 2:33-34), maar daar is ‘n aantal direkte en indirekte verwysings daarna (Ef 4:8-10; 1 Tim 3:16; Heb 4:14; 7:26; 9:24). Die verwysing in Markus 16:19 is deel van 16:9-20 wat waarskynlik nie oorspronklik in die Evangelie van Markus ingesluit was nie, maar later bygevoeg is.

Wat die hemelvaart nie beteken nie

Jesus se hemelvaart het be­sondere betekenis. Maar kom ons kyk eers na wat dit nie be­te­ken nie. Jesus se hemelvaart beteken nie dat Hy weg is en ‘n plaasvervanger in sy plek gestuur het nie (by­voorbeeld die Hei­li­ge Gees of die pous). Dit is tog opvallend dat Matteus sy Evan­gelie afsluit met Jesus se woorde dat Hy altyd by ons bly (28:20) sonder enige verwysing na sy hemelvaart. Indien Jesus se he­melvaart sy vertrek was, kon Matteus dit tog nie gedoen het nie. Dis net so opvallend dat Johannes skynbaar impliseer dat Jesus wel ‘n hemelvaart gehad het, maar daarna weer by die dissi­pels was. Maria mag nog nie aan Hom vat nie omdat Hy nog nie na die Vader opgevaar het nie (20:17). Maar daarna mag Tomas wel (20:27). Beteken dit dat Johannes die voorstelling het dat Jesus tussen hemel en aarde beweeg?

Dit alles beteken dat Jesus vandag nog by ons is, net op ‘n an­der manier as by die dissipels. Hy was in persoon by hulle, maar Hy is deur die Heilige Gees by ons. Hy en die Vader het beide deur die Gees in die gemeente kom woon (Joh 14:23) en Jesus sit sy werk on­der ons voort (Hand 2:47). Ons is sy liggaam en Hy ons hoof (kop), en ‘n liggaam kan tog nie sonder ‘n kop wees nie.

En tog is Hy ook in die hemel aan die regterhand van die Vader (Matt 26:64; Hand 2:33; 3:21; 5:31). En juis in hierdie opsig het sy hemelvaart vir ons besondere betekenis.

Wat sy hemelvaart wel beteken

Eerstens is sy hemelvaart die voltooiing van sy verhoging. Meestal word daar onderskei tus­sen Jesus se vernedering en sy verhoging. Sy vernedering was sy menswording, aardse be­die­ning, kruisi­­ging, dood, begrafnis en hellevaart. (*Ter helle neergedaal) Sy verho­­ging is sy opstanding en sy hemelvaart. Sy opstanding is die teken dat die Vader sy kruisoffer aanvaar het. Sy hemelvaart is sy terug­keer na waar Hy was, maar met baie meer heerlikheid (Fil 2:9-11).

Tweedens is daar nou al klaar ‘n mens by die Vader, of liewer dié Mens Jesus. Dit gee ons die dubbele versekering dat die Vader ons altyd voor oë het en ons nooit sal vergeet nie. Trouens, daar is ‘n sin waarin ons self klaar in die hemel is (Ef 2:6). Ons is met Jesus verenig. Ons is sy liggaam. Hy is ons lewe (Kol 3:4). Hy kan tog nie sonder sy liggaam by die Vader wees nie. Miskien help dit ons ook om iets te probeer verstaan van ons lewe na ons dood. (*Tussentoestand) Ons is klaar met Christus ver­enig. Hy het op­gestaan in ‘n verheerlikte lewe waaroor die dood geen mag het nie. Ons deel in hierdie lewe. Daarom kan die dood ons nie van Hom skei nie. Die dood is ‘n beëindiging van ons lewe, maar nie van ons aandeel aan sy lewe nie.

Derdens tree Hy voortdurend by die Vader in vir ons (Heb 7:25). Die feit dat Hy in die direkte teenwoordigheid van die Vader is, word op ‘n interessante manier beklemtoon. Ons lees dat Hy “deur die hemele gegaan het” (Heb 4:14). Die “hemele” sien waarskyn­lik op die wolkehemel en die firmament of blou koepel bo die aarde. Die derde hemel, die eintlike woonplek van God, is dan bokant hier­die hemele. As Jesus dan deur hierdie hemele gegaan het, beteken dit dat Hy nie net op aarde deur die voorhangsel in die tempel tot in die Allerheiligste gegaan het soos die priesters van die Ou Testa­ment nie, maar deur die hemele om direk in die teenwoordigheid van God te wees (“die heiligdom,” die ware “allerheiligste”, Heb 9:12) om daar vir ons in te tree.

Maar daar is nog iets. Tomas se eis om die wonde van die krui­siging aan Jesus te sien, en Jesus se uitnodiging dat hy kan kom kyk en voel (Joh 20), veronderstel dat Jesus ná sy opstanding nog die merke van sy kruisdood dra. Dit beteken dat Hy dit as’t ware in die hemel voor die Vader kan ophou wanneer Hy op grond van sy offer vir ons by die Vader intree.

Die feit dat Jesus deur die hemele gegaan het, het nog ‘n bete­kenis. Hy het “alles met sy teenwoordigheid vervul” (Ef 4:10). Dit is die vierde betekenis van sy hemelvaart. Dit herinner ‘n mens aan die ander omvattende uitsprake oor Jesus, soos dat Hy alles in almal vervul (Ef 1:23), dat dit God se doel is om alles onder Hom as Hoof te verenig (Ef 1:10), dat alles vir Hom geskep is en deur Hom in stand bly (Kol 1:16-17). Terwyl dit nie regtig duidelik is wat dit alles beteken nie, bring dit ‘n mens nogtans in aanbidding voor Hom. Hy is wonderlik!

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die hemelvaart

Die hemelvaart – Jan van der Watt

Elmarie vra:

Hoeveel dae na Jesus se opstanding hy Jesus opgevaar na die hemel?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

 

Die hemelvaart het volgens Handelinge 1:3 veertig dae na sy opstanding plaasgevind.

Outeur: Prof Jan van der Watt