Jesaja – Vrede in die nuwe skepping (11:6-10) – Francois Malan

11:6-8 Die digter spring van menseverhoudings na die dierewêreld, met beelde uit Dawid se skaapwagterdae. ‘n Jong seun of dogter as herder van die skape, bokke, en kalwers, lei die kudde soggens veld toe lei en bring hulle saans terug (1 Sam 16:11; 17:33-37). Die onskuld en vertroue van kinderherders, babatjies en klein kindertjies beklemtoon ‘n wêreld sonder gevaar of ongelukke. Hierdie tekening van die nuwe skepping in verse 6-8 is verbind aan verse 1-5 se afwagting op die nuwe verhouding tussen mense en teenoor die Here. Die vyandskap tussen die nageslag van die slang en die nageslag van die vrou in Gen 3:15 is die straf op die mense se verkragting van die Here se orde, en hier as die gevolg van die menslike hebsug en geweld wat die dierewêreld tot slinkse geweld en doodmaak vir kos dryf. In die nuwe bedeling sal die leeus weer gras eet soos aan die begin (Gen 1:30).  Romeine 8:19,21 sê: Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word…en die vryheid sal smaak wat die heerlikheid van God se kinders sal kenmerk.  Dit is alles dinge wat vir die wêreld onmoontlik lyk, soos die redding van Jerusalem uit die mag van die omsingelende leërs van die vyand.

11:9 Hier beweeg die digter na nog ‘n wyer kring, na die hele skepping wat die aarde en die see insluit. ‘my heilige berg’ – Sion (beteken ‘vesting’), Jerusalem (beteken ‘fondament van vrede’) – sonder bedrog en geweld, met harmonie en vrede – dit is ‘n embleem vir die hele wêreld (letterlik: hulle – die mense en die diere – sal nie seermaak of vernietig op die hele berg van my heiligheid nie). Die hele skepping sal vol wees van die kennis van die Here – wat deur die Gees gegee word (11:2; vgl. Rom 8:21-23,26: die Gees sug tans saam met ons en die skepping, om ons van die verganklikheid te bevry; vgl. Kol 3:8-11). Die transformasie raak die hele skepping, wat God se heiligdom sal wees, sonder verdelings en skeidsmure, die sigbare openbare lewe en die intiem persoonlike lewe (vgl. Jes 6:3). Dit is God se gawe en sy roeping vir die nuwe loot uit die ou stomp, die nuwe mens wat vir God leef, uit die ou mens wat vir homself leef.

Die gedeelte verseker die voortgang van die Dawidiese konings ná die Assiriese krisis. Dit word vervul deur Hiskia en ‘n eeu later deur Josia. Maar die gedeelte beklemtoon eintlik drie fasette van die Here se ondersteuning en seën:  die Gees van die Here (11:2) wat die wysheid voorsien wat nodig is vir die regering;  die vrees/eerbied vir die Here (11:2,3) wat  reg en geregtigheid moontlik maak (11:4); die kennis van die Here (11:2,9) wat die regering van vrede verseker.  Dit is nie die werk van die koning nie, maar fasette van die Here se teenwoordigheid in Jerusalem. As die koning regeer deur die Gees van die Here, in die vrees van die Here om die kennis van die Here te versprei is die koningskap van Dawid aan die werk. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar; wanneer regeerders gelei word deur hulle eie ambisie en mag, word God se bedoeling gedwarsboom en wag daar oordeel en onvrede.

11:10 Die tempelberg sal nie die versamelpunt van die nasies en die volke wees soos in 2:1-4 voorsien is nie, maar die wortel van Isai sal die vaandel wees vir die volke en die nasies, die godsvlag en simbool wat almal byeenroep na die vrede en goeie lewe vir alle nasies. Hierdie visioen strek verder as die Jodedom. Dat sy woonplek hoë aansien sal geniet word in Ps 72:10-11 aan die regering van Salomo toegedig, in Haggai 2:7 word dit voorsien vir die huis van die Here wat Serubabel, uit die Dawidsgeslag, na die ballingskap sal bou, en in Openb 21:24 van die nuwe Jerusalem.

Die gedeelte, 11:1-10, gaan in die eerste plek oor die tyd van Agas en Hiskia in die 8e eeu v.C. en die terugkeer van die ballinge in die 6e eeu v.C. onder leiding van Serubbabel, die loot uit die geslag/stomp van Dawid/Isai, in opdrag van die Persiese koning Kores (1 Kron 3:19; Esra 1:2-4; 2:2; Neh 7:6-7; Haggai 1:1; Sag. 3:8; 6:12-13).  Maar  ná die bou van die tempel verdwyn Serubbabel se naam, en die Nuwe Testament verbind die oordeel en verlossingsboodskap aan die koms van Jesus, wat nie net elke persoon raak nie, maar ook die vernuwing van die hele gemeenskap en die hele skepping. Paulus praat daarvan as ‘n nuwe skepping (1983-vertaling: nuwe mens) in Christus deur wie God die wêreld met Homself versoen het (2 Kor 5:17-18). Terwyl die Sinoptiese Evangelies die openbare optrede van Jesus onder die Jode skilder (vgl. Mt 10:5-6 se beperking; maar Mt 28:19 na al die nasies), getuig die Johannes-Evangelie van God se liefde vir die wêreld (Jn 1:4,19; 3:1; 17:2,18)

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesaja – Die loot uit die stomp van Isai (11:1-16) – Francois Malan

11:1 Die Libanonbos is ‘n beeld vir Jerusalem se leiers en inwoners, wat afgekap is. Uit die afgekapte stomp groei daar ‘n takkie uit (6:13), en waar ‘n stomp makeer, spruit ‘n loot uit die wortels om vrug te dra – ‘n flikkering van lig na die diepe mislukking van sy voorgangers uit die koningsgeslag van Dawid, wat die hoop van Juda moes gewees het. Dit is die stomp van Isai van Betlehem, die pa van Dawid (1 Sam 16:1). Isai se afstammeling sal ‘n nuwe pad inslaan, soos Hiskia inderdaad gedoen het (vgl. 2 Kon 18:1-3;  2 Kron 29:1-3).   Romeine 15:12 pas Jesaja se verwysing na Isai se nakomeling toe op Christus, wat die nuwe regeerder en die hoop van die nasies is.

11:2  Die verklaring waarom die nuwe koning die beste eienskappe van die koninklike gesag sal uitoefen, is die Gees van die Here wat op hom rus – wat op Saul gewerk het (1 Sam 11:6) van hom gewyk het (1 Sam 16:14),   en toe kragtig in Dawid gewerk het (1 Sam 16:13), maar in Saul vervang is deur ‘n bose gees wat hom gedryf het (1 Sam 11:16). Die Gees van die Here is ‘n krag wat lewend maak, krag, energie en moed gee om te doen wat die wêreld as onmoontlik beskou. En toe die krag van die Here die spruit toerus, kry Juda ‘n koning wat al die wanhoop van Juda omskep in nuwe moontlikhede (In Joh 1:32 sê Johannes die Doper van Jesus: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het om Hom gebly; vgl. 1 Petr 4:14; Openb 5:5-6).

Die gawes waarmee die Gees die nuwe koning toerus is eerstens die wysheid van insig (1 Kon 3:12) en die onderskeiding om die titels, waarmee hy besing is, uit te voer: ‘wonderbare raadsman’ en ‘vredevors’ (9:6). Deur die reg en geregtigheid wat hy gaan toepas word ‘n samelewing geskep wat dit uitlewe en belewe. Die grondslag van die nuwe koning se optrede is sy vreugde in sy vrees/eerbied vir die Here’ – ‘n toewyding en gehoorsaamheid wat ooreenstem met die kennis van God se gedagte oor sy lewe en optrede.  Deur sy aanvaarding van die Here se leiding verskil hy radikaal van sy voorgangers. Sy raad en die sterkte om dit uit te voer, kom van die Gees van die Here, so ook sy kennis hoe om sy volk te regeer – dit alles is so in teenstelling met Agas en die koning van Assirië op wie Agas vertrou (10:12-13; vgl. die gawes van die Wysheid van Spr 8:14).

11:3-5 Die taak van die nuwe koning is veral om te reg te spreek deur te onderskei tussen botsende belange en eise, twiste in die gemeenskap, en te sorg vir elke lid van die Here se volk se sekuriteit en goeie lewe (vgl. Salomo se gebed in 1 Kon 3:9). Ellende wag vir die volk as hulle koning dit nie doen (5:20) maar die reg van die armes verdraai (10:1-3). Die koning moet nie regspreek ‘volgens dit wat die oë sien nie en wat sy ore hoor nie (1983-vertaling: volgens uiterlike skyn en hoorsê nie). ‘n Regeerder wat kan onderskei word nie beïnvloed deur die gunste van die rykes of die manipulasies van die magtiges of die markkragte nie.  Die regeerder is verantwoordelik vir die billike en regverdige verhoor van die armes en kwesbares (weduwees en wese) van die land. Die goddeloses sal hy doodmaak, nie met die swaard nie, maar ‘met die roede van sy mond en die asem van sy lippe’ (vgl. Jeremia 22:3 se uitspraak net voor die ballingskap van Juda; en sy verwagting oor ná die ballingskap in Jer 23:5; Esegiël 34:2-6 spel die rede vir die ballingskap uit;  vgl. 2 Tess 2:8; Ef 6:17 die woord as die swaard van die Gees; Hand 5:5).

Hy (die takkie) sal vreugde vind in die vrees/eerbied van die Here (1983-vertaling: die diens van die Here). Die woord en wet van die Here is die basis vir goeie regering. Regverdigheid en onpartydigheid is kenmerke van die Here wat Hy ook vereis van regeerders as sy verteenwoordigers (Ps 72:1-4; tydens die regering van Nero skryf Paulus Romeine 13:1-2!).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die oorblyfsel van Israel sal terugkom (10:20-34) – Francois Malan

Die gedeelte 10:20-23 handel oor die oorblyfsel uit die tien stamme van Israel wat ontvlug het uit die vernietiging van die huis van Jakob (hulle voorvader; die naam Israel beteken ‘God veg/worstel’ soos Hy met Jakob geworstel het om van die sterk Jakob ’n swak kreupele te maak wat net op die Here vertrou (Gen 32:28,31). Sy ou naam was Jakob, ‘bedrieër,’ Gen 28:37). Die volgende gedeelte, 10:24-27, handel oor Sion/Jerusalem. Op daardie dag (1983-vertaling: in dié tyd) van die Here se oordeel oor Assirië, sal die klein oorblyfsel waarna 10:19 verwys het, ‘nie meer leun op Assirië wat aan kom is/of besig is om hulle te vertap nie. Maar hulle sal in waarheid/waarlik leun op die Here, die Heilige van Israel (die woord ‘heilig’ het ook die element van toewyding, die Here is aan Israel toegewy).’

10:20 Een van die groot selfmisleidings van die mense wat die Here wantrou is die sterk versoeking om juis te vertrou op die instansie wat hulle gaan vernietig (soos bv. sekuriteit en bewapening, wat nie veiligheid kan waarborg nie – vgl. egter Ps 91:1-16 vir ware beskerming). Van die oorblyfsel word egter verwag dat hulle eg op die Here sal vertrou en van Hom afhanklik sal wees, en nie op politieke en militêre mag te vertrou nie.

10:21 Die oorblyfsel is dié mense wat sal terugkom na die magtige God toe, soos die naam van Jesaja se eerste kind bevestig het: Sear-Jasub ‘’n oorblyfsel kom terug’ (7:3). Dit impliseer nie net ‘n terugkeer na Noord-Israel nie, maar veral ‘n terugkeer na die Here, die magtige (sterk vegter) God, wat hulle groepie laat oorbly en laat ontvlug het, om Hom te vertrou en te dien, selfs in die ballingskap.

10:22-23 Die nag toe Jakob se naam verander is na Israel, het Jakob die Here herinner aan sy belofte dat Hy sy nageslag so baie soos die sand van die see sal maak (Gen 32:12; vgl. 22:16-17; 28:13-15; Hebr 11:12). Maar anders as Jakob, wat sy hulp by die Here gesoek het en op Hom vertrou het, het sy nageslag die Here verlaat en wil hulle nie op Hom vertrou in hulle vrees en nood nie. Daarom sal die ontelbare skare krimp tot ‘n klein oorblyfsel wat op die Here vertrou. ‘n Oorblyfsel van hulle kom terug (Sear-Jasub). ‘vernietiging is bepaal, geregtigheid oorstroom’ – die Here se besluit om Israel te vernietig staan vas en sy geregtigheid, wat deur Assirië toegedien word, sal Israel oorstroom (8:8). Die Here HERE van die leërskare het vas besluit op hulle vernietiging.

10:24 Verse 24-27 handel oor Sion, oor die tweestamme ryk van Juda. ‘Daarom so sê die Here HERE van die leërskare (vir wie Jesaja gesien het, 6:5) wat mag het oor al die leërs van die wêreld. Hy spreek ‘n woord van redding om die vrees van Juda, wat hulle dwaas en radeloos maak, te laat bedaar. Assirië is die Here se stok en staf om Jerusalem te slaan (1983-vertaling: julle vertrap en slawe maak).

10:25 Die toorn van die Here teen Juda sal egter nog ‘n klein rukkie duur, en daarna sal die toorn van die Here Assirië uitroei. Met die versekering van die klein rukkie word Juda uitgenooi om op die Here te vertrou en te hoop terwyl die Here se toorn nog steeds oor hulle woed.

10:26 Die oorwinning van Gideon se bende met 300 man oor die Midianiete is reeds in 9:3 as voorbeeld van die Here se wonderlike optrede genoem (Rigt. 6:33-7:25). Omdat die Israeliete destyds gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, het Hy hulle vir 7 jaar oorgegee aan die mag van die Midianiete, wat hulle hard behandel het en die land kaal gestroop het (Rigt. 6:1-5). En toe het Israel tot die Here geroep om hulp. In opdrag van die Here het Gideon in die nag sy pa Joas se altaar vir Baäl en sy Asjerapaal afgebreek en sy pa se 7 jaar oud bul geoffer op die altaar wat Gideon vir die Here gebou het (6:24-28). Na die Here se sifting het Gideon se 300 man in die nag met fakkels en met die blaas op ramshorings die Midianiete en hulle bure in die kamp wakker geskud en die Here het die Midianiete onder mekaar laat veg en op die vlug laat slaan (7:21-22; vir die Orebrots vgl. Rigt 7:25; Ps 83:10-13). Die ander voorbeeld van die Here se wonder-uitredding verwys na Eksodus 14:26-28, toe Moses, in opdrag van die Here, sy hand oor die see uitgesteek het, en nie een van die hele agtervolgende leërmag van die farao oorgebly het nie. So sal die Here ook die leërmag van Assirië, wat die land oorstroom het, uitwis. Assirië was ‘n stok en staf in die hand van die Here om Juda te straf (10:5,24). Maar Assirië sal met ‘n sweep geslaan word.

10:27 Die juk is beeld van onderworpenheid en knegskap aan die Assiriërs (9:3; Ps 2:3). Die Here sal hulle daaruit verlos, soos vir Israel van ouds uit die slawehuis van Egipte en die onderworpenheid aan Midian. Die Here het dieselfde gebly. Vertrou op Hom!

 

Opmars en vernietiging van Assirië (10:28-34)

10:28-32 Die opmars van Assirië se magtige leër word beskryf met ritse woorde met alliterasies in Hebreeus. Dit begin by Aja (Ai van Josua 7-8) noord van Jerusalem oor die berge; hulle bêre hulle voorade in die kloof by Mikmas, waar die Filistyne 300 jaar tevore kamp opgeslaan het teen Saul (1 Sam 13:11); hulle trek oor die bergpas tussen Migron en Geba op pad na Jerusalem – die omliggende dorpies bewe en vlug weg; hulle slaan kamp op in Nob aan die bergreeks waarvan die Olyfberg deel is, vanwaar hulle afkyk op Jerusalem en die hand dreigend waai na die heuwel waarop Jerusalem en die tempel gebou is. Die groot goddelike drama ontvou in die majestieuse woorde van die teks. Die Here kom in majesteit en krag as die Here ook van hierdie leërskare.

10:33-34 ’Kyk! – hier volg ‘n belangrike aankondiging: ‘Die Here HERE van die leërskare is besig om die takke met geweld af te kap…’ Die Libanon-berg in die noorde van Israel met sy digte bosse wat afgekap word, is ‘n beeld van Jerusalem wat deur die ‘magtige’ afgekap word, die hoë bome van die leiers van Jerusalem, en die digte bosse van die bevolking. Die ‘magtige’ verwys na die magtige leërs van die Assiriërs wat onder die aanvoering van die HERE van die leërskare staan (die 1983-vertaling sien Assirië as die Libanonbos wat deur die magtige God afgekap word).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesaja – Teen Assirië (10:5-19) – Francois Malan

Dié komposisie is een van die sterkste litterêre meesterstukke in die hele boek, met balans tussen woorde en hulle samestellings en klanke. Vir dié mense wat meen dat die Here ‘n besonder band met Jerusalem het, is dit onreëlmatig dat die Here hulle vyand teen hulle gebruik as sy verkose instrument (10:7,15). In 10:5-6 word sy opdrag aan Assirië gegee en in 10:12,16-17 belowe Hy om die ambisie van die konng van Assirië te straf. Die leser word in die groot en veeleisende wêreld van die wêreldpolitiek gedompel. Hier en daar word Assirië ‘n simbool vir die super-moonhede van alle tye.

 

10:5-7 Hier is die Here aan die woord om Assirië se posisie te verduidelik. Die Here het hulle uitgestuur om sy volk, wat Hom diep teleurgestel het deur ‘n godlose nasie te word (9:16 teen Israel, hier teen Juda), te beroof, hulle land te plunder en te vertrap. Assirië is die stok waarmee die Here straf. Maar Assirië het verder gegaan as hulle opdrag en het arrogant opgetree met lafhartige genadeloosheid. Die verkore instrument het te groot geword in sy eie oë en het onafhanklik van God opgetree; hy wou nie net tugtig (as slaanstok en septer, 10:5) nie, maar het probeer om baie nasies te vernietig en uit te roei (10:7). Daarom begin die gedeelte met die klaagsang wat dood voorspel: ‘O wee,’ dié keer nie oor Juda, soos in 5:8-23, en oor Israel in 10:1 nie, maar oor hulle vyand. Die tema wêreldryk teenoor Godsryk wat in hoofstuk 7 begin, word voortgesit.

In 10:8-11 gee die profeet die arrogante woorde van Assirië weer.

10:8-9 Sy grootdoenerigheid baseer hy op sy militêre en administratiewe mag en die suksesse wat hy al in oorloë behaal het. Sy vorste is konings, soos hy state verower, stel hy hulle konings aan as sy vorste wat hom verteenwoordig. Die stede (stadstate) wat genoem word, lê op die roete van sy opmars van Ninevé na Jerusalem.

10:10-11 Die Assiriese koning roem: ‘soos my hand die koningryke van die nietige godjies en hulle afgodsbeelde gevat het, wie is Jerusalem en Samaria dan?’ – die Hebreeuse woord vir dié afgode is minagtend. Die Assiriese koning Tiglat-Pileser erken die rol van godsdiens in elke stadstaat wat hy ingeneem het, maar het nie veel respek vir die god van die mense wat hy platloop nie. Dit was in 733 v.C., toe Peka doodgemaak is, en Hosea in sy plek deur die Assiriese koning aangestel is (2 Kon 15:29-30). Tiglat-Pileser reken die stadstate van Sirië, wat hy ingeneem het – Damaskus in 732 v.C. – het meer en belangriker afgodjies en afgodsbeelde gehad as Jerusalem en Samaria. Wat hy met Samaria van Israel en haar afgodjies gedoen het, sal hy mos met Jerusalem en haar afgodsbeeltjie kan doen. Hoe kan Jerusalem teen hom standhou? (Tiglat-Pileser sterf in 727 v.C., Salmaneser volg hom op, Hosea rebeleer, Salmaneser gooi Hosea in die tronk, Samaria word vir 3 jaar lank beleër, en finaal in 722 v.C. oorwin deur Salmaneser se opvolger, Sargon II; vgl. 2 Kon 17:3-6).

10:12 ‘Die Here wag tot sy werk op Sionsberg en in Jerusalem afgehandel is’ – sy straf word afgehandel deur hulle in 597 v.C. en 587 v.C. in ballingskap na Babel toe te laat gaan – ‘dan sal Hy die koning van Assirië straf oor die vrug van sy astrante brutale hart (houding) en die selfverheerlikking van sy trotse oë/voorkoms.’ Assirië, soos enige nasie of magsbasis val onder die Here se heerskappy, hoewel hulle dit nie weet nie, en waarop Juda in sy vrees nie vertrou nie. Die profete let nie op die nasies se kennis en vrees nie, maar stippel die alternatiewe wêreld van geloof in die Here uit.

10:13-14 In die koning van Assirië se tweede gedig beskuldig hy homself met sy trotse verklarings dat hy die internasionale orde geskend het deur nasionale grense te verskuif. Dit ondersteun die Here se oordeel oor Assirië. Die koning spog oor sy eie mag, insig en verstand (daarteenoor staan die Kneg van die Here in 9:5: ‘n wonderbare raadsman, en sterke God, wat soos ‘n Vader optree en die Vredevors is). Assirië se roofsug om sy grense uit te brei, het duidelik ernstige politieke wanorde veroorsaak – deur die leiers van die onafhanklike volke af te maai; en dit het baie lyding en ontberings veroorsaak – al hulle voorrade is geplunder, om sy strooptogte en sy ryk te finansier; dit word skerp geskets met die beeld van Assirië wat maklik eiers onder ‘n broeihen uithaal, soos ‘n jakkals in ‘n hoenderhok. Daar word egter geen protes aangeteken nie, want niemand waag dit nie.

In 10:15-19 word die uitspraak en vonnis van die Here voltrek oor Assirië se wrede uitvoering van die Here se opdrag aan hom in 10:5-6.

10:15 Die retoriese vrae in 10:15 moet negatief beantwoord word: Die byl kan homself nie verheerlik teen die houtkapper wat hom swaai nie! Die saag kan nie homself grootmaak teenoor die een wat hom heen-en-weer stoot en trek nie (menifo)! So kan die stok ook nie swaai (hanif) teen die een wat hom oplig nie (merimaw)! Ook kan die staf homself nie oplig (harim) teen die hout/boom waaruit hy gesny is nie. Assirië was die byl, saag, stok, staf, die instrument in die Hand van die Here, die Heerser oor alle nasies, om sy volk te straf. Maar Assirië plaas homself in die plek van God, wat hom swaai.

10:16 Daarom – na die beredenering van Assirië se houding en optrede, volg die vonnis – stuur die Here HERE van die leërskare vermaering/uitmergeling onder sy vet prinse (die woord vir prinse beteken ook vettes), en onder (tagat) sy glorie (kebod reputasie, luisterrykheid, maar ook gewig, besit, aansien, en ‘n las) brand (jekad) ‘n vuur (jekod) soos die brand (jekod) van ‘n vuur.’ Die koning van Assirië het hom op sy vorste beroem (10:8) maar die Here sal hulle laat krepeer van ellende; sy onbeskryflik groot geroofde besittings (10:14) sal deur vuur verteer word.

10:17 Die Lig-van-Israel (9:1) sal die vuur wees (nie ‘n vuur veroorsaak nie, maar self die vuur wees), en sy Heilige die vlam – in 5:19,24 is die Heilige die aanvoerder van die Heilige oorlog teen Juda en Jerusalem wat hulle rug op Hom gedraai het met hulle onheilige lewe; hier teen Assirië, die Here se byl om Juda te straf, maar homself bo die Here verhef (10:15). Dat die Here die Lig-van-Israel genoem word impliseer dat die oordeel oor Assirië, Israel se redding sal beteken. Hier gaan dit egter nog eers oor die oordeel oor Assirië. En dit sal sy dorings en sy distels op een dag brand en verteer – in 5:6; 7:23-24 word die stad Jerusalem ‘n woesteny met dorings en distels (vgl. Adam se straf in Gen 3:18); in Jes 9:17 is die goddeloosheid van Israel ‘n vuur wat begin by hulle ‘dorings en distels.’ Dorings en distels wat oorneem is eers ‘n dreiging teen die land van Juda, dan as beeld vir Israel se goddeloosheid en hier van Assirië se goddeloses (1983-vertaling beskou dit as hulle geringes).

10:18-19 ‘En die heerlikheid (1983-vertaling: vernames) van sy bos en sy vrugbare land, van beide sal Hy siel en liggaam vernietig soos ‘n sieke (siek boom?) wat wegkwyn.’ Maar ook van hierdie arrogante koninkryk sal ‘n paar (‘n res) oorbly, so min dat ‘n seuntjie hulle kan tel. Die profeet sien in die geloof dat die Here in staat is om die magtige Assiriese volk, wat in 2,500 v.C. klein begin het (die stad Assur dateer uit 2,600 v.C., hulle hoofgod Assur reeds vanaf 3,000 v.C.), uit te roei tot net enkeles oorbly. Van 634 v.C. af het die Assiriërs onder mekaar begin baklei. In die jaar 612 v.C. het hulle (by Assur en Nineve) geval voor die magte van die   Babiloniërs en die Meders en twee jaar later in 610 v.C. het Haran, die laaste bastion van die Assiriërs, geval, en is die ryk van die Assiriërs beëindig. Die oorblyfsel het deel van die Babiloniese ryk geword, maar het in die helfte van die 7e eeu n.C. onder die Moslems byna heeltemal verdwyn. Vandag is daar nog oorblyfsels in die noorde van Irak, Iran, Sirië en die weste van Turkye, waarvan die meeste Christene is (Tiglat Pileser III het die Akadies van die Assiriërs met die Aramese alfabet van die Siriërs vervang, en dit het die omgangstaal van die hele Midde-Ooste geword, wat ook in die tyd van Jesus gebruik is).

Skrywer:  Prof Francois Malan