Alternatiewe siening oor Jesus se einde – Hermie van Zyl

Eerw Dr Darryl H A Schroeder vra:

Boodskapteks: In bogenoemde program is die volgende voorgehou oor Jesus se einde: “Jesus het die seun van Pilatus genees. Pilatus het dus opdrag gegee dat Jesus na ’n sekere tyd van die kruis verwyder moes word voordat Hy sterf. Met die hulp van Jesus se oom, Josef van Arimatea, is Jesus toe in die sorg van ’n wonderlike kruiedokter geplaas wat Hom genees het. Na afloop van drie dae het Jesus opgestaan, Maria Magdalena (met wie Hy getroud was) en hulle drie kinders, sowel as die dissipels, gegroet en na oosterse lande vertrek (Persië, Tibet, Indië) om verdere navorsing oor die geestelikheid te doen. Hy was baie lief vir die Boeddhistiese godsdiens. Hy het geleef tot die ouderdom van 80 jaar.”

Dit staan glo alles in die Akasiese Rekords en in die boek van Édouard Schuré: The Great Initiates.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is allerlei legendes oor Jesus wat in die loop van die eeue ontstaan het nadat die kanonieke Evangelies tot stand gekom het. Hierdie legendes het geen historiese basis nie – so is dit al deur etlike grondige ondersoeke uitgewys – en verander dus niks aan die Jesusverhaal soos ons dit in die Bybel vind nie. Hulle voeg ook geen waarde toe tot ons Christelike geloof soos op die Bybel gebaseer nie. Hulle het hoogstens godsdienshistoriese waarde, dit wil sê, hulle gee vir ons ’n kykie in die godsdienstige belewing en belangstellings van gelowiges in die eeue wat gevolg het op die Nuwe Testament se vaslegging. Sommige van die legendes is opgeteken in die sogenaamde Nuwe-Testamentiese Apokriewe Evangelies, ander het later gevolg. Ek gaan net kortliks in op enkele van die gedagtes wat in ons vraagsteller se stuk genoem word.

Die idee dat Jesus Pilatus se seun genees het, kom nêrens in die kanonieke Evangelies voor nie. Die idee het waarskynlik ontstaan uit ’n verwarring met die seun / slaaf van die hoofman oor honderd / koninklike amptenaar wat wel deur Jesus genees is (Matteus 8:5-13; Lukas 7:1-10; Johannes 4:46-53). Maar dié gebeure het niks te doen met Pilatus nie. Eerstens het hierdie gebeure in Kapernaum in Galilea afgespeel, nie in Jerusalem in Judea, waar Pilatus gesetel was nie. En tweedens was hierdie hoofman / amptenaar waarskynlik verbonde aan die leërafdeling of paleis van Herodes Antipas, die viervors van Galilea en Perea, en nie deel van Pilatus se soldate wat in Jerusalem gestasioneer was nie. Daar het dus nooit ’n situasie ontstaan waar Pilatus iets aan Jesus verskuldig was en hy Hom so van die kruis sou red nie.

Josef van Arimatea het inderdaad Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en in sy eie, nuwe graf begrawe (Matteus 27:57-60 en parallelle). Maar die gedagte dat hy Jesus se oom was, kom nêrens in die Bybel voor nie. Hierdie idee het waarskynlik ontspring uit die feit dat dit gewoonlik familielede was wat vir die begrafnis van afgestorwe familie verantwoordelik was. En omdat Josef Jesus se begrafnis waargeneem het, is later gespekuleer dat hy familie was. In die Middeleeue het daar legendes ontstaan dat hy die oom was van Maria, Jesus se moeder. Ander het weer gesê dat hy die oom was van Josef, Maria se man, seker omdat hulle dieselfde name het. So gesien was hy dus Jesus se groot-oom. Maar niks hiervan is waar nie. Al wat ons weet uit die Nuwe Testament is dat hy ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en ’n volgeling van Jesus was, en uitgesien het na die koninkryk van God (Matteus 27:57; Markus 15:42-43). Daar is nog ander legendes ook oor Josef van Arimatea, soos dat hy die eerste ontvanger van die Heilige Graal was en dit toe met sy volgelinge na Engeland gestuur het, en so die Christendom na Engeland gebring het. Maar dis alles vrome duimsuigery.

Die gedagte dat Jesus getroud was, spesifiek met Maria Magdalena, het in ons tyd weer nuwe belangstelling gewek met die rolprent, The Da Vinci Code, van Dan Brown, in 2003. Hiervolgens sou ’n geheime genootskap die geheim van Jesus se huwelik vir eeue bewaar het. Meer onlangs (2012) is ’n poskaartgrootte fragment van die sogenaamde Evangelie van Jesus se Vrou, wat uit die vierde eeu nC stam, ontdek en gepubliseer waarin daar ook ’n vae verwysing is dat Jesus moontlik getroud was. Hierdie fragment se outentisiteit word egter deur baie historici, na grondige ondersoeke, betwis. Verder terug in die geskiedenis is daar ook die apokriewe Evangelies uit die laat tweede en derde eeu nC, Die Evangelie van Filippus en Die Evangelie van Maria, waarin vae verwysings na ’n verhouding tussen Jesus en Maria Magdalena voorkom. Maar hoekom juis sy? Dit het waarskynlik uit Johannes 20:11-18 ontstaan. Latere Christene het te veel afgelei uit die feit dat sy die eerste volgeling was aan wie Jesus na sy opstanding verskyn het. (Hy sou dan eerste aan sy vrou verskyn het om haar te troos.) Verder het Hy haar tydens dié ontmoeting verbied om Hom vas te hou (v17), waaruit dan die afleiding gemaak word dat sy oorstelp was om Hom weer te sien en Hom toe, synde haar man, vasgegryp het. En so het die legende ontstaan, lank na die eerste ooggetuies reeds oorlede is, dat Maria Magdalena Jesus se vrou was. Maar, weer eens, dis alles bloot sensasiewekkende afleidings wat nie gestaaf word deur die kanonieke Nuwe Testament nie, ook nie deur ander betroubare en stawende historiese dokumente nie. Dit is verder veelseggend dat Maria na Jesus as “my Here” en “leermeester” in Johannes 20:13,16 verwys, wat nie die gewone terme is wat ’n vrou vir haar man sou gebruik nie. Nog meer, wanneer Jesus aan die kruis spesiale reëlings tref vir die versorging van sy ma ná sy dood (Johannes 19:25-27), word geen voorsorg vir Maria Magdalena gemaak nie, wat vreemd is as sy regtig sy vrou was, en dit terwyl sy ook by die kruisiging teenwoordig was. Ons moet egter besef dat daar nie iets verkeerd daarmee sou wees as Jesus wel getroud was nie, want die huwelik as sodanig is nie sondig nie. Trouens, God het dit self ingestel, en deur die huwelik vermeerder Hy die menslike geslag. Maar ’n mens kan wel wonder oor die teologiese implikasies as Jesus getroud was. Soos byvoorbeeld: Sou dit nie die metafoor dat die kerk Jesus se bruid is, in die gedrang bring nie (vgl 2 Korintiërs 11:2; Efesiërs 5:22-33; Openbaring 21:2)? Verder, as Hy een vrou bo ander liefgehad het (soos die huwelik veronderstel), sou dit nie beteken dat Hy sekere mense meer of minder liefhet as ander nie? En wat as Jesus kinders gehad het, watter implikasies hou dit vir hulle in met ’n vader wat die Seun van God is? Maak dit van hulle iets meer as gewone mense? En so kan mens voortgaan. Vir sekere van hierdie vrae sou mens wel antwoorde kon gee, maar hulle onderstreep nogtans die uniekheid van die vleeswording van God in Jesus Christus.

Laastens, wat die Akasiese Rekords en die boek van Édouard Schuré: The Great Initiates, betref, as sou dit die inligting bevat wat die vraagsteller noem, kan ons kort gaan. Die Akasiese Rekords bevat na bewering die totale rekord van alle lewe op aarde, van die begin van die wêreld tot vandag. Dit bestaan egter nie in geskrewe vorm nie, maar is slegs toeganklik vir sommiges wat die besondere geestelike vermoëns ontvang of verwerf het om toegang te verkry. As iemand dus beweer dat hy of sy inligting oor Jesus bekom het wat in hierdie rekords staan, is dit vir ander, wat nie oor hierdie vermoëns beskik nie, nie kontroleerbaar nie. Daar is dus nie veel wat mens daaroor kan sê nie. Die boek van Schuré, die eerste keer gepubliseer in 1889, is wel kontroleerbaar. Dit handel oor die groot geestelikes van die geskiedenis, wat volgens hom alle godsdienste onderlê. Hy handel ook oor Jesus, synde een van die ingewydes in die geestelike dimensie van die heelal, se bydrae tot die wêreld se geestelike ervaring. Maar hier staan niks in van Jesus wat getroud was, reise na die Ooste onderneem het en geleef het tot die ouderdom van 80 nie.

Om saam te vat: Die kanonieke Nuwe Testament, soos dit in die Bybel voorkom, bevat ons mees betroubare gegewens omtrent die lewensloop en ware identiteit van Jesus. Dit het die tand van die tyd oorleef, en blyk steeds die lig te wees waarby die kerk van Christus op aarde leef. Dis moeilik om te aanvaar dat God sedert die geboorte van Jesus vir ons lewensbelangrike inligting weggesteek het. Hoewel die Bybel baie interpretasieprobleme bied, bly dit steeds ons betroubaarste gids oor die allerlaaste vrae rakende hierdie en die toekomstige lewe.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Jesus se “vrou”

Jesus se “vrou”

Sedert die ontdekking van die sogenaamde gnostiese evangelies by Nag Hammadi in 1945 kry ons kort-kort ‘n alternatiewe siening van Jesus se lewe. Ons dink byvoorbeeld aan die evangelies van Tomas, Petrus, Maria en Judas. Vrae ontstaan: Is verhale van Jesus doelbewus uit die Nuwe Testament uitgelaat? Was alternatiewe sienings van die Christendom onderdruk? Gee die evangelies in die Bybel werklik ‘n akkurate prentjie van Jesus?

 

Wat moet ons van hierdie manuskrip maak? Michael J. Kruger sê dat daar ‘n paar dinge is wat ons moet oorweeg:

  • Egtheid

Vervalsings is baie algemeen as ons na antieke dokumente kyk. In hierdie dokument is daar dinge wat pla. Daar is kenners wat die egtheid van die fragment bevraagteken veral omdat van die letters vreemd gevorm is. Hierdie skeptisisme word vererger omdat daar onsekerheid is oor waar die dokument ontdek is en die identiteit van die anonieme eienaar. Alhoewel daar vraagtekens oor die egtheid van die dokument is, kan dit nie sommer as ’n vervalsing beskou word nie – meer kundiges moet dit eers ondersoek.

  • Samestelling
  • As hierdie dokument eg sou wees, is daar vrae oor die samestelling daarvan:

    • Met watter soort dokument het ons hier te doen? Dit lyk soos ‘n “evangelie” wat stories en gesegdes van Jesus bevat. Dit lyk asof Jesus, soos in baie ander tekste, hier met sy dissipels praat.
    • Historiese waarde

    Daar is nie ‘n enkele geskiedkundige bron uit die vroeë Christendom wat daarop dui dat Jesus getroud was nie – nie in die evangeliese of apokriewe evangelies nie, niks in die geskrifte van die kerkvaders nie, niks elders nie.

  • Sameswerings en die kanonieke evangelies
  • Almal hou van goeie samesweringsteorieë. Die apokriewe boeke is deur die vroeë Christene verwerp. Die kanon is nie sommer arbitrêr deur die kerk in die vierde of vyfde eeu saamgestel nie. Die kerk het slegs bevestig wat reeds vir baie jare die geval was – reeds van vroeg af is die vier evangelies wat ons in die Bybel kry deur die Christene aanvaar. Net die vier evangelies in die Bybel se datum van oorsprong is in die 1ste eeu nC. As ons wil weet hoe Jesus was, is dit beter om te kyk na die evangelies wat geskryf is toe daar nog ooggetuies van Jesus se tyd geleef het. Net vier evangelies voldoen aan daardie standaard.

    Wat is ons gevolgtrekking? Op hierdie stadium moet ons aanvaar dat ons hier met ‘n latere dokument te doen het en dat die inhoud daarom nie betroubaar is nie. Ons kan dus aanvaar dat Jesus nie getroud was nie.