Jesus tree in vir ons: Twee advokate

“The ultimate measure of a man is not where he stands in moments of comfort and convenience, but where he stands at times of challenge and controversy.” – Martin Luther King, Jr.

Jesus tree in vir ons: Twee advokate

Dit is die laaste aand wat Jesus met sy dissipels bymekaar is. Hy weet sy tyd is kort. Wat weeg die swaarste op sy hart? My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle … Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie (Johannes 13:33). Die dissipels is baie ontstel oor hierdie stelling. Petrus sê dat hy sy lewe vir Jesus sal aflê. Tomas sê dat hulle Hom nie kan volg nie, want hulle weet nie waarheen Jesus gaan nie. Filippus vra: Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg (14:8). Dan Jesus se antwoord: Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie? Filippus, Wie My sien, sien die Vader.

Jesus het hierdie dissipels self uitgesoek; drie jaar bly hulle in sy teenwoordigheid; Jesus het hulle uitgekies om sy boodskap in die wêreld uit te dra. Die volgende dag sou Jesus sterf … en sy dissipels ken Hom nie.

Jesus weet wat vir hulle voorlê – vervolging en teenstand. Is daar enige hoop? Ja. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid (14:16 – 17). Die OAV verwys na ‘n ander Trooster; die NIV verwys na another advocate.

Jesus praat van die Gees op ‘n paar interessante maniere:

  • Hy praat van die Gees nie as ‘n mag nie, maar as ‘n Persoon – maar julle ken Hom. Jesus sê dus dat nadat Hy gesterf het die Vader ‘n ander Persoon na hulle gaan stuur.
  • Jesus wys vir die dissipels dat dit tot hulle voordeel is dat Hy weggaan, want anders sal die Heilige Gees nie na hulle toe kom nie (16:7). Hierdie Gees sal hulle in die waarheid lei (16:13). Hierdie Gees kom langs jou om jou te ondersteun. Hy is ons advokaat vir die verdediging; Hy is daar om jou saak te bevorder.

In Johannes 14: 16 praat Jesus van ‘n ander advokaat. Wie is san die eerste advokaat? In 1 Johannes 2:1 – 2 lees ons van Jesus as ons voorspraak by die Vader – Jesus is ons eerste Advokaat. Wat sê hierdie woord van Jesus se werk? Jesus Christus het aan die kruis vir ons sondes gesterf. Korrek, maar onvolledig. Dit is meer radikaal as dit.

  • Iewers is daar ‘n universele, goddelike hofsaal waar almal op een of ander stadium moet staan. Daar is ook ‘n standaard neergelê vir ons lewens. Maar watter hoop het ons in so ‘n hofsaal? Ons voldoen tog nie aan God se standaarde nie. Dit is nou reeds ‘n probleem vir ons – ons gewetens kla ons nou reeds aan. Diep binne in my weet ek van hierdie hofsaal. Ek weet ook ek is in geen toestand om daar alleen voor God te staan nie.
  • In hierdie hofsaal is Jesus ons advokaat. In ‘n sekere sin is my advokaat ekself – as jy hakkel en hy is welsprekend is jy ook welsprekend. My advokaat verskyn in my plek. Ons is skuldig. Wat het ons nou nodig? ‘n Advokaat om namens my voor die Vader te verskyn – iemand wat daar my saak kan stel. Ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader (1 Johannes 2:1 – 2).

Die taak van ons eerste Advokaat- Jesus – is om voor die Vader te sê: “Aanvaar hulle in my Naam.

Wat is dan die taak van die tweede Advokaat – die Heilige Gees? Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26). Die Heilige Gees hou ons hand vas, gee vir ons krag en leer ons die lewensveranderende waarheid. Hy leer ons om te leef ooreenkomstig dit wat Christus gesê en gedoen het.

Sonder die werk van die Heilige Gees kan nie Jesus of sy vrede kom nie. Maar ons hoef nie bekommerd te wees nie – ons het immers twee Advokate wat ons bystaan.