Die oue weerklink in die nuwe: Jesus is die Koning – Jan van der Watt

  1. D) Jesus is die Koning – hy is uit die stam en wortel van Dawid

‘n Mens kan byna nie verstaan wie Jesus is as jy nie weet dat Hy deur die vroeë Christene as die nuwe Koning van God se volk gesien is nie. Dit is eintlik wat Messias of Christus beteken – Gesalfde. ‘n Gesalfde is iemand wat deur God vir ‘n spesiale taak aangewys word; in die geval van Jesus, as die Messias Koning. Konings Dawid en Salomo figureer ook prominent in sy geslagsregister (Mat 1:6; Luk 3:31) en Paulus beklemtoon ook dat Jesus uit die geslag van Dawid kom (Rom 1:3). Hy is selfs aangespreek as Seun van Dawid (Mat 9:27; 15:22 ens.). Dit was vir die vroeë Christene baie belangrik. Maar waarom?

Om te verstaan waarom dit vir die Christene so belangrik was dat Jesus die afstammeling of Seun van Dawid was, moet ons eers kyk waarom die konings, en spesifiek Dawid, so belangrik was. Dit was die prentjie wat die Christene in hulle koppe gehad het en waarmee hulle Jesus vergelyk het. Toe God sy volk uit Egipte uitgelei het, was Hy hulle enigste Koning. Hy het die Farao verslaan en saam met die volk Israel deur die woestyn getrek en hulle versorg. Hy het hulle ook in die beloofde land laat intrek en aan hulle oorwinning oor die vyandige volke gegee. Hy het die volk ‘regeer’ deur leiers soos Moses en Josua. Maar die Jode was nie tevrede nie. Hulle wou ‘n koning gehad het soos die ander volke; een waaraan hulle kon vat en wat hulle kon sien. Ons lees in 1 Sam 8 lees ons hoe die volk vir Samuel vra om vir hulle ‘n koning te salf. Luister wat God vir Sameul sê toe Hy tot God daaroor gebid het: Samuel het tot die Here gebid, en die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle (1 Sam 8:6-7).

So het die tyd van die konings aangebreek, met Saul as die eerste een. God was nog Koning, maar die aardse koning moes nou namens God regeer. Hoewel Saul goed begin het, het sy koningskap op mislukking uitgeloop omdat Hy aan God ongehoorsaam geraak het. Dit was egter Dawid wat die koning na God se hart was, al het dinge in sy latere lewe ook maar skeef geloop, veral van die tyd van Batseba af. Hy het Jerusalem verower en die hoofstad van sy vinnig groeiende ryk gemaak. Die Jode kyk met groot genoegdoening terug na Dawid se koningskap. Dit was vir hulle omtrent die hoogtepunt in hulle geskiedenis, want hulle was vry, het hulle eie land gehad en het oor die vyande geheers. So as vry mense met hulle koning in hulle eie land wil hulle leef… en dit bly vir hulle ‘n ideaal tot vandag toe.

Maar dit het nie altyd so goed gegaan nie. Salomo het ‘n mooi tempel gebou, maar sy nageslag het aan die baklei geraak en die koninkryk van Dawid het in twee geskeur – daar was die noordelike ryk en die suidelike ryk. Hoewel die suidelike ryk langer uitgehou het as die noordelike ryk, het die Perse en Babilonieërs hulle in oorloë verslaan en as ballinge na Persië en Babel toe geneem. Hulle koninkryk was weg en Jerusalem was platgeslaan. Weer was hulle as slawe in ‘n vreemde land en weer sou God hulle red. Ook hierdie geskiedenis het groot indruk op die vroeë Christene gemaak en het as voorbeeld gedien vir die reddingsverhaal van Jesus. Daaroor later meer.

Met die bietjie agtergrond kan ons baie van die dinge wat oor Jesus gesê word beter verstaan.

  1. i) Die koninkryk kom…

Die hooftema van Jesus se prediking in die eerste drie evangelies (die sinoptiese evangelies genoem) gaan oor die koninkryk wat kom: Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel/God het naby gekom”. (Mat 4:17). Jesus bring dus die koninkryk van God naby, met ander woorde, Jesus bring God as koning wat oor sy volk regeer weer naby. Nou is die vraag: was God dan nie voor dit koning nie? Waarom kom sy koninkryk nou eers?

Natuurlik is God die regeerder van die heelal, van die skepping af. As Openbaring wil verduidelik wie God is, dan word ons hemel toe geneem en sien God daar op die troon sit as koning van die heelal (Open 4).




Johannes 20:23 – Jesus se woorde aan Dissipels. – Francois Malan

Japie vra:

Onderwerp: Joh.20:23

Boodskap Teks:

Goeie more,wat bedoel Jesus met die woorde aan die dissipels.

Baie dankie.

 

ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Joh 20:23 ‘As julle mense se sonde vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.’

 

sonde (Grieks: hamartia) is om teen God se wil en wet op te tree.

julle – volgens vers 22 veronderstel die ‘julle wat vergewe’ dat dit die mense is wat die Heilige Gees van              Jesus ontvang het om hulle toe te rus vir hulle werk waartoe Jesus hulle gestuur het volgens vers 21.

die passiewe werkwoord ‘is dit vergewe’ veronderstel dat dit God is wat die mense se sonde vergewe as               Jesus se dissipels/volgelinge die mense wat God se wil en wet oortree het, vergewe het.

weerhou – (Grieks krateo) om dié mense se skuldige sondetoestand voor God te laat voortgaan die passiewe             werkwoord ‘bly dit weerhou’ beteken dat God sy vergifnis van sulke mense bly weerhou.

 

Matteus 16:19 en 18:18 het soorgelyke uitsprake van Jesus.

In Matteus 16:19 gaan dit oor Jesus wat sy kerk gaan bou deur die sleutels van die koninkryk van die hemele aan Petrus te gee om na sy opstanding deur Petrus te werk om die hemel vir mense oop of toe te  sluit.

In Matteus 18:18 gaan dit oor die gemeentelede wat ’n lidmaat in die gemeente oor sy sonde aanspreek. As   die lidmaat luister het hulle hom/haar teruggewen vir die Here; as die lidmaat egter weier om na die gemeentelede te luister word so ’n persoon as ’n heiden beskou vir wie die toegang tot die Here toegaan.

In Johannes 20 gaan dit om die voortgang van Jesus se werk ná sy opstanding, met die Heilige Gees wat oor Jesus getuig en die dissipels gebruik om van Jesus te getuig deur hulle lewe en hulle woorde (Joh 15:26-27; 16:8-11). Dit gaan oor die verkondiging van die vergifnis van sonde deur te glo in die kruisdood van Jesus vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29). Vir dié mense wat die boodskap glo en aanvaar, word die hemel oopgesluit, om saam met God te lewe as sy kinders, omdat hulle deur geloof verbind is aan sy Seun, en nou reeds daagliks deur God se Gees gelei word. Vir dié mense wat die goeie boodskap nie wil glo of aanvaar nie, bly die hemel gesluit.

Johannes 3:36: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op hom.

God vergewe die sonde van die mense wat die verkondiging van die dissipels aanvaar; maar weerhou sy vergifnis van dié mense wat die dissipels se goeie boodskap verwerp.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesus se mensheid – Hermie van Zyl

Anna vra:

In Johannes 20:17 sê Jesus dat Maria nie aan Hom mag vat nie. My vraag is: was Jesus “mens”? Wanneer kon hulle weer aan Hom vat? As hulle glad nie weer aan Hom kon vat nie, hoe het Hy dan tussen die mense beweeg sonder aanraking?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar het reeds ‘n volledige verduideliking op Bybelkennis se webblad verskyn oor hoe ons Jesus se woorde aan Maria Magdalena ná sy opstanding: “Moenie My aanraak nie”, moet verstaan. Ek versoek die vraagsteller om eers hierdie verduideliking te lees (soek dit onder “Moenie My aanraak nie”). In onderstaande antwoord gaan ek aanvanklik ‘n kort opsomming gee van genoemde verduideliking en dan handel oor die implikasies wat hierdie gebeure moontlik mag inhou vir Jesus se ware mensheid.

Jesus se woorde aan Maria (“Moenie My aanraak nie”) moet glad nie verstaan word as sou Jesus aanraking vermy het tydens sy aardse bediening, of as sou sy opgestane liggaam oor bepaalde eienskappe beskik het wat dit onwenslik of onbehoorlik vir mense sou maak om Hom aan te raak nie. Jesus se woorde aan Maria het eerder alles te make met die veranderde verhouding tussen Jesus en sy dissipels ná sy opstanding. Hy is nou nie meer hulle aardse leermeester nie, maar die opgestane Here wat opgevaar het na sy Vader. Hy het dus nie, soos in Lasarus se geval, bloot teruggekeer na hierdie lewe en sit nou maar net die aardse verhouding met sy dissipels voort nie. Nee, in die toekoms gaan Hy deur die Gees met hulle wees; dit is dus ‘n voller teenwoordigheid as voorheen. Daarom dat Hy Maria (en daarmee ook die ander volgelinge) daarop attent maak dat hulle Hom nie moet probeer vashou nie, asof hy bloot teruggekeer het na hierdie lewe en alles weer gaan wees soos voorheen. ‘n Nuwe era breek nou aan; die era van Jesus se teenwoordigheid deur die Gees. As teken hiervan blaas Hy op hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh 20:22). Laasgenoemde is Johannes se weergawe van die uitstorting van die Heilige Gees, wat Lukas in Handelinge 2 breedvoerig beskryf. Van nou af is Jesus as God die Seun teenwoordig by sy kerk; eintlik is dit God Drie-enig wat nou sy intrek neem by die gelowiges. Enige poging van die dissipels om hierdie voller teenwoordig van Jesus by sy kerk – as deel van die Goddelike Drie-eenheid – te probeer beperk, moet dus vermy word. En dít is in essensie wat Jesus vir Maria probeer sê met sy woorde: “Moenie My vashou nie”. Laasgenoemde is ook ‘n beter vertaling as: “Moenie My aanraak nie.” Want Hy sê daarmee: Moenie My probeer vashou as bloot julle aardse Leermeester nie; Ek is nou die hele kerk se Here en moet al my skape lei as die opgestane Here (Joh 10:16). (Let wel: die Drie-eenheidsgedagte kom nie in soveel woorde voor in die Johannesevangelie – of Nuwe Testament – nie. Die spore daarvan is reeds sigbaar, maar die formulering van die Goddelike Drie-eenheid sou eers heelwat later in die kerk gebeur.)

Wanneer ons Jesus se woorde aan Maria soos hierbo verstaan, word dit duidelik waarom sy woorde geen afbreuk doen aan sy ware mensheid nie, as sou Hy nie ‘n egte, warmbloedige mens gewees het nie en alle kontak en aanraking probeer vermy het. Nie eens ná sy opstanding mag dit so verstaan word nie. Dat Jesus niks teen aanraking het nie, word bevestig wanneer Hy net ‘n bietjie later vir Tomas sê: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy … ” (Joh 20:27). Die bedoeling is dat Tomas Jesus se verheerlikte liggaam sou aanraak. Jesus was dus nie ‘n spook of ‘n gees nie, en daar was geen sprake daarvan dat sy opgestane liggaam dalk “ontheilig” sou word as Tomas dit aanraak nie. ‘n Verdere aanduiding van Jesus se ware mensheid – selfs ná sy opstanding – is dat Hy saam met sy dissipels geëet het. Dit word geïmpliseer deur Johannes 21:12-15, maar eksplisiet gestel deur Lukas 24:43 as daar staan dat Jesus ‘n stuk vis voor die oë van die dissipels geëet het. Enige gedagte van Jesus wat dalk nie eg mens was nie, selfs na sy opstanding, word hiermee uit die weg geruim. Hierdie gegewens klop ook met wat Paulus in 1 Korintiërs 15 sê oor die verheerlikte liggaam. Hy sê dat in verganklikheid gesaai word, maar in onverganklikheid opgewek word. Tans het ons geen begrip van hierdie “onverganklikheid” nie, maar wat ons wel kan sê, ook op grond van wat ons uit Jesus se opgestane liggaam kan aflei, is dat die verskil tussen die liggame wat ons tans het en as verheerlikte mense sal hê, nie is dat eersgenoemde ‘n egte liggaam is en laasgenoemde nie. Die feit dat Jesus vis eet ná sy opstanding bevestig dit. Die punt is: Jesus het beide in sy aardse lewe en as verheerlikte Here ‘n egte, ware liggaam gehad. So is Hy juis die Eerste uit die dood; wat met Hom gebeur het, is ‘n vooruitskouing van wat met ons as gelowiges ook sal gebeur.

Indien ons terugkeer na die aard van Jesus se aardse liggaam is dit leersaam om kennis te neem van ‘n beweging in die vroeë kerk, genaamd die Gnostiek. Hulle het onder andere Jesus se ware mensheid onder verdenking geplaas. As Seun van God sou Hy dan net ‘n skynliggaam gehad het en sy dood sou ook nie eg gewees het nie, het hulle gesê. Die Evangelies, spesifiek die Johannesevangelie en -briewe, is egter baie eksplisiet oor die feit dat Jesus eg mens was. Johannes maak wel baie van Jesus se Goddelikheid, dat Hy deur die Vader gestuur is (Joh 8:28-29), dat Hy van Bo is (Joh 8:23), en dat Hy in die begin by God was en self ook God was (Joh 1:1). Maar dieselfde Evangelie sê uitdruklik dat die Woord mens geword het (Joh 1:14). In die oorspronklike Grieks word ‘n baie sterk woord hier gebruik. Daar staan dat Hy vlees geword het; dit beklemtoon die feit dat Hy van vlees en bloed was soos enige ander mens. Daar kan dus geen misverstand by die leser wees oor die egtheid van sy mensheid nie. Die eerste Johannesbrief sê dan ook in soveel woorde dat Jesus as die Woord van God so waarlik mens geword het dat die dissipels Hom met hulle eie oë gesien en met hulle hande aan Hom geraak het (1 Joh 1:1). Daar kan dus min twyfel bestaan omtrent sy egte mensheid. Trouens, so eg mens was Jesus dat Hy saam met sy dissipels bruilof gehou het, die water in wyn verander het sodat die gaste vrolik kon wees (Joh 2), en die blinde man se oë aangeraak het nadat Hy klei aangemaak het met sy spoeg (Joh 9). Hy het selfs versoekings ervaar (Matt 4:1-11; Heb 4:15).

Dus, voor en na sy opstanding was Hy eg mens en was aanraking deel van sy menswees. Natuurlik word hiermee nie ontken dat Hy ook waarlik God was en is nie. Dit is trouens die misterie van Jesus, dat Hy as die Godmens ons Middelaar is: waarlik mens en waarlik God.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Moenie My aanraak nie – Hermie van Zyl

Jan vra:

Onderwerp: Joh 20:17: “Raak My nie aan nie”

By Jesus se verskyning aan Maria na sy opstanding het Hy vir Maria gesê: “Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na My broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en my God en julle God.” Verder, in 20:19-20 staan daar: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week het Jesus aan hulle verskyn en … (toe) wys Hy hulle sy hande en sy sy.” (1933/53 Afr Vert.) En verder sê Hy ook vir Tomas (20:27) om aan die gate in sy hande en sy te raak en homself te oortuig dat dit regtig Jesus is.

Vraag: Kan mens die afleiding maak dat Jesus gedurende hierdie tussenpose, dit wil sê vroegoggend tot die aand, ‘n hemelvaart onderneem het om Hom aan die Vader te gaan vertoon? Anders hoekom die besondere woorde aan Maria?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Om die toneel tussen die opgestane Here Jesus en Maria Magdalena in Joh 20:14-18 te verstaan, is dit nodig om eers vier sake ter agtergrond te verduidelik. Dit het te doen met die manier waarop Johannes die gebeure ná die opstanding van Jesus vertel.

Eerstens moet ons die woorde “Raak My nie aan nie” eerder vertaal soos die 1983-Afrikaanse Vertaling dit doen, naamlik: “Moet My nie vashou nie”. Daar is ‘n verskil tussen die twee vertalings. Hoewel albei grammatikaal korrekte weergawes van die Grieks is, is die 1983-Vertaling binne die konteks en bedoeling van Johannes beter. Dit druk naamlik die gedagte uit dat daar ná die opstanding van Jesus ‘n ander verhouding tussen Jesus en sy dissipels tot stand gekom het. Hy is nou op ‘n ander manier teenwoordig by hulle as vóór sy opstanding. (Later meer hieroor.)

Tweedens, mens moenie die twee tonele waar Maria vir Jesus wil vashou en die een waar Jesus vir Tomas uitnooi om aan sy (Jesus se) littekens te raak, met mekaar in verband bring rondom die aanraak-kwessie nie. Nie net word die woord vir “aanraak/vashou” glad nie in die Tomasgebeure gebruik nie, maar dit mag ook nie so gesien word dat daar iets inherent verkeerd was daaraan om Jesus aan te raak nie, so asof dit disrespekvol van Maria sou wees om as sondige mens Jesus se verheerlikte liggaam aan te raak – dat sy so sy verheerlikte liggaam sou besoedel. Die blote feit dat Tomas uitgenooi word om Jesus wel aan te raak, wys dat dit nie oor die aanraking as sodanig gaan nie. Daar is iets anders op die spel.

Derdens, vir die Johannesevangelie is kruisiging, opstanding en hemelvaart alles deel van die tyd van verheerliking van Jesus. So word daar dikwels na Jesus se kruisiging as sy “verhoging” verwys (bv Joh 8:28; 12:32,34). Verder, hoewel Jesus in Joh 20:17 na sy hemelvaart verwys, beskryf Johannes dit nêrens in soveel woorde nie (anders bv by Lukas – Luk 24:51; Hand 1:9-11). Die rede hiervoor is dat opstanding en hemelvaart by Johannes eintlik een en dieselfde gebeure is. Let op hoedat Maria aan die dissipels sê dat sy die Here gesien het (20:18). Dieselfde woorde kom ook voor wanneer die dissipels vir Jesus sien (20:20,25) en wanneer Tomas Jesus bely as My Here en my God (20:28). Here is in hierdie konteks aanduiding van die verheerlikte staat van Jesus as die opgestane Here wat ten hemele gevaar het. Waar Lukas die opstanding en hemelvaart van Jesus as twee afsonderlike gebeure beskryf (40 dae uit mekaar), sien Johannes dit as een en dieselfde gebeure. Volgens Johannes is Jesus dus na opstanding onmiddellik by die Vader as die verheerlikte Here Jesus. Daar is nie eers, soos by Lukas, ‘n “wagperiode” van 40 dae voordat Jesus ten hemele vaar nie. Dus, volgens die Johannesevangelie, wanneer Jesus ná sy opstanding aan Maria en die dissipels verskyn, is dit as die verheerlikte Jesus, as die Een wat reeds na sy Vader gegaan het, d w s, na die hemel gevaar het. Johannes is natuurlik wel bewus daarvan dat die gelowiges aan wie hy skryf, bekend is met ‘n “aparte” hemelvaart naas die opstandingsgebeure. In die mondelinge tradisies wat in die vroeë kerk in omloop was, was dit algemene kennis. En dié wat reeds kennis gemaak het met die Lukasevangelie en Handelinge, sou dit ook daar gelees het. Johannes maak dus gebruik van die hemelvaarttradisie in sy evangelie, maar anders as Lukas teken hy opstanding en hemelvaart nie as streng aparte gebeure nie, maar, saam met die kruisiging, as deel van die één gebeure van verhoging en verheerliking van Jesus.

Vierdens, as verheerlikte Here gee Jesus ook nou sy Gees aan die dissipels (Joh 20:22). Dit is Johannes se weergawe van die uitstorting van die Heilige Gees, wat Lukas in Hand 2 beskryf. Jesus het reeds vroeër belowe dat wanneer hy na die Vader gaan, die Vader vir hulle die Heilige Gees sal stuur (Joh 15:15-16,25-26; 16:5-15). Die ontvangs van die Gees bring nou ‘n nuwe verhouding tussen Jesus en sy dissipels tot stand. Waar hulle vroeër fisies sy volgelinge was, kom daar nou ‘n dieper en voller verhouding tot stand waar die Vader, die Seun én die Heilige Gees sy intrek by die dissipels neem. Let op hoe Vader, Seun en Gees in Joh 14:26 in dieselfde asem genoem word. Hierdie voller verhouding tussen Jesus en sy volgelinge word ook duidelik in die woorde van Joh 20:17 waar Jesus vir Maria sê dat sy Vader ook hulle Vader is, en sy God ook hulle God. Met hierdie woorde probeer Jesus nie afstand skep tussen Hom en die dissipels nie (asof God op ‘n ander manier sy God is as die dissipels s’n), maar wil Hy eerder sê dat die verbond tussen God en sy volk nou op ‘n voller, ryker en inniger manier tot stand gekom het. Hierdie woorde herinner ook aan Rut wat vir Naomi sê: “U volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16). Dit druk die innige verbondenheid tussen Rut en haar skoonma uit. Net so sê Jesus dat daar nou geen verskil meer is tussen sy God en Vader en die dissipels se God en Vader nie. Die verbond tussen God en sy volk het nuut en volkome geword. Daarom dat Jesus ook van die dissipels as sy “broers” praat wanneer hy vir Maria sê: “… gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe …’ “.

 

In die lig van bostaande vier verduidelikings verstaan mens die toneel wat hom tussen Jesus en Maria afspeel beter. Maria herken Jesus toe Hy haar by die naam noem. Joh 10:2 skemer hier deur, waar staan dat Jesus as die goeie Herder sy skape by die naam roep en hulle lei. Die innige verhouding tussen Jesus en een van sy skape, Maria, word so duidelik. En Maria is so oorstelp by die gedagte dat Jesus leef dat sy Hom vasgryp, so asof sy die verlede wil laat herleef. Sy dink alles sal nou weer wees soos dit was. Maar dan wys Jesus haar daarop dat alles nou verander het; sy opstanding is nie maar net ‘n terugkeer na hoe dit was nie. Hy staan nou in ‘n ander verhouding tot hulle; Hy is nou die opgestane, verheerlikte Here, die een wat deur die dood gegaan het, dit oorwin het en nou by sy Vader is. Hy is nie net meer Maria se leermeester (“Rabboeni”), soos sy Hom geken het tydens sy aardse lewe nie, maar Hy is nou haar Here, soos sy dan ook later na Jesus verwys (Joh 20:18). Sy besef nou dat sy Jesus nie kan vashou vir haarself en die dissipelkring nie; Hy is nou die Here wat ook ander skape het wat Hy moet lei (Joh 10:16). Deur sy Gees is Hy saam met die Vader nou die Een wat in sy Goddelike volheid onder hulle woon. Maria mag Jesus dus eers “vashou” wanneer sy tot die volle besef gekom het van hierdie nuwe verhouding waarin Jesus nou tot die dissipels staan.

Mens moet dus nie Johannes se weergawe van die toneel tussen Jesus en Maria kronologies (volgens tydsverloop) verstaan nie, maar teologies. Die teologiese punt wat Johannes met sy vertelling maak, is dat Jesus se opstanding nie maar net ‘n terugkeer na sy vorige bestaan is nie (soos Lasarus in Joh 11), maar ‘n radikaal ander verhouding tot die dissipels tot stand bring. Hulle moet nou aan Hom “vashou” deur geloof, waarheid en die teenwoordigheid van die Gees. Om hierdie punt tuis te bring, gebruik Johannes die hemelvaarttradisie. Laasgenoemde was bekend in die vroeë kerk, en Johannes wend dit aan as ‘n middel om die opstanding van Jesus te interpreteer as van ‘n radikaal ander orde as wat byvoorbeeld met Lasarus gebeur het. Dit is daarom onnodig om dit so voor te stel dat Jesus tussen die Maria-toneel en die Tomasgebeure ten hemele gevaar het. Johannes se vertelstrategie werk nie op hierdie manier nie. Dit is beter om in die lig van die totale verhaal dit so te verstaan dat kruisiging, opstanding en hemelvaart vir Johannes eintlik een en dieselfde gebeure is – die verhoging en verheerliking van Jesus. En hierdie gedagte, wat per definisie nie aan tyd en ruimte gebonde is nie, moes Johannes in ‘n verhaalstruktuur giet wat noodwendig met tydsverloop en opeenvolgende gebeure werk. Daarom, die woorde “Ek het nog nie na my Vader toe opgevaar nie” en “Ek vaar op na my Vader toe” (Joh 20:17) is nie tydsaanduidings nie maar teologiese uitsprake wat wil sê: Jesus se verskynings aan die dissipels ná sy opstanding is tydelike “hulpmiddels” wat in die gemoed van Maria en die dissipels moet plek maak vir sy permanente teenwoordigheid deur die Heilige Gees by hulle. Só moet hulle Hom in die toekoms beskou, Hom aanbid, in Hom glo en Hom volg; só moet hulle aan Hom “vashou”.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl