Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 2

Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 2 – Retha Pretorius

Job se tweede toets, en mense om hom se reaksies

Die aanklaer, die satan, het gesê dat Job sal ophou om God te dien as sy gesondheid weggeneem word.

God het ingestem tot so ‘n toets.

Job se vrou kon nie verstaan dat hy nog vir God dien nie, en sy moedig hom aan om God te vloek en te sterf aan sy pynlike swere. Job se antwoord was: ” Ek het goeie geskenke uit God se hand aanvaar. Moet ek nie nou ook die slegte aanvaar nie?” Job het steeds niks verkeerd gedoen of gesê nie. (Job 2:10)

Sy vriende was sprakeloos oor sy smart en verliese, en sy fisiese toestand. Vir sewe dae en nagte het hulle in stilte by hom gesit, en sy smart gedeel: “Hulle kon sien dat Job se smart te groot is vir woorde” (2:13)

Kan ek iets hieruit leer, oor hoe om met ander se smart om te gaan? Praat ek nie dikwels te veel nie?

 

Job word rebels

Job was aanvanklik verdraagsaam en het sy lyding aanvaar. Die lydsame Job word egter nou ‘n uitgesproke rebel, wat begin om sy geboortedag te vervloek: “As my geboortedag tog nooit aangebreek het nie……..Mag dit vir niemand enige vreugde bring nie. (3:3-7)

Job is opstandig oor sy leed en smart, maar nooit, ooit laster hy vir God nie. Hy verwoord sy leed, en is eerlik teenoor God oor sy lyding.

Job se hantering van sy lyding is vir my ‘n navolgenswaardige voorbeeld – hy het nooit oorweeg om sy eie lewe te neem nie, maar het in alle opregtheid, met magtelose en passiewe woede sy situasie na God gebring.

Rampe is deel van die onverklaarbaarheid van die lewe, en, soos Job, kan ek ‘n ontmoeting met God beleef midde-in ‘n smartlike situasie, en met die vrede wat alle verstand te bowe gaan aan die anderkant uitkom.

 

Die boek Job, saam met Prediker, vorm werke van “proteswysheid” en is familie van die klaagpsalms en die klaagliedere van Jeremia.

In deel 3 sal Job se vriende en hulle optrede onder oë geneem word.

Skrywer: Retha Pretorius




Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 1

Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 1 – Retha Pretorius

Ter inleiding

Hierdie meditasies het hulle ontstaan gehad in ‘n idee wat die Here in my hart geplaas het, om Job se gedagtes en gebede in verkorte vorm te dokumenteer, en my eie perspektiewe daaroor te bewaar vir toekomstige weer en weer lees.

Ek hoop dat die gedagtes en gebede vir elkeen wat dit lees iets sal beteken, en sal bydra tot geestelike groei.

‘n Persoonlike getuienis

Ek kan onomwonde getuig dat dit Job, meer as enige ander boek in die Bybel, was wat my deur trauma en hartseer gedra het, so asof die Here met my persoonlik gepraat het.

Die bottom line van Job is vir my dit: Wie is die mens, om die Skepper van die Heelal te bevraagteken? Ons is geskape om ons Maker te verheerlik, Hy is nie daar om ons gemak en gerief te verseker nie, maar….. Hy is altyd dáár vir ons, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

 

Gedagtes oor Job se eerste toets

Job het eerstens al sy materiële welvaart en al sy kinders verloor, met God se toestemming. Nogtans het hy op die grond voor God neergeval en hierdie hartverskeurende, onsterflike gebed aan God gerig:

“Naak het ek

uit my ma se skoot gekom,

en naak sal ek weer

van alles gestroop wees

die dag wanneer ek doodgaan.

Die Here het my alles gegee

wat ek gehad het,

en nou het Hy

dit alles weggeneem.

Prys die naam van die Here!”

(Die Nuwe Lewende Vertaling)

 

Soveel vrae kom by ons op oor die toelatende wil van die Here –  maar, al wat ek, en elkeen van ons hoef te weet is dat ons vertroue op God kan hê, ten spyte van, soos Job gehad het.

‘n Lied wat ek oor die radio gehoor het, sê die volgende: “I realized I have to go through the valley to stand on the mountain of God.”

God se prioriteit is dat ek ‘n beter begrip van Hom sal vorm. Hy is meer geïnteresseerd in wat binne-in my aangaan, as wat om my gebeur.

Job is terloops ook ‘n ongelooflike stuk literatuur, sowel die prosa-gedeeltes as die digkuns-gedeeltes is, volgens kenners, van die beste wat nog ooit die wêreld ingestuur is. Net die beste is goed genoeg vir ons God!

 

Hiermee ook erkenning aan die Bybellenium Naslaanwerk vir aanvullende gedagtes en stellings.

 

Skrywer: Retha Pretorius