Josef se Kleed

Josef se Kleed – Kobus Kok

Chris vra:

Hoeveel kleure was daar in Josef se kleed en het hierdie kleure spesefieke betekenisse. Hierdie is ook ‘n vraag wat ek in ‘n werkstuk moet beantwoord

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

 

Ons lees in Genesis 37:1 en verder van Jakob se liefde vir sy seun Josef en die feit dat hy aan hom ‘n lang kleurvolle kleed gegee het wat moue gehad het (Gen 37:3). Die term wat gebruik word vir die kleed (kǔt·tōʹ·něṯ,) suggereer volgens sommige geleerdes dat dit soos ‘n koningskleed kon wees. Myns insiens is dit dalk te sterk gestel. Klere was in die antieke tyd dikwels met eer en rykdom verbind. Die broers van Josef het kudde in die veld opgepas. Ons weet vandag dat die klere van herders van growwe materiaal gemaak is en baie vuil was omdat hulle in die oop veld moes werk en slaap. Jakob het duidelik deur sy handeling geïllustreer dat Josef sy gunsteling was. Jakob was baie lief vir Josef se ma en die seun is vir hom gebore toe hy al oud was. Josef se broers was baie jaloers daarop en wou hom doodmaak van jaloesie. Ons weet nie watter kleure in Josef se kleed was nie omdat die vroegste bronne dit nie vir ons sê nie. Waar herders se klere oor die algemeen nie kleurstowwe ingehad het nie, omdat dit duur was, het Josef se klere kleurstof bevat. Daar was later mense wat probeer het om kleure en betekenisse daaraan te verbind, maar dit is nie wat ons in die Bybel self lees nie en is daarom spekulasie. Die punt van die storie is bloot om te illustreer dat Jakob vir Josef baie liefgehad het en hom so bietjie voorgetrek het en dat hy in die oë van sy pa meer eer en waarde gehad het as die ander broers.

Hier is ‘n voorbeeld uit die Harper’s Bible Dictionary van hoe die antieke klere gelyk het. Ons het vandag baie voorbeelde uit die Antieke nabye Oosterse kuns waarin die kunstenaars die kleredrag van mense, leiers en priesters uitgebeeld het. Josef se broers het moontlik klere gehad soos die 1b voorbeeld, terwyl Josef ‘n “tunic” gedra het wat kleurvol was (vgl. Nr 2)

josefsekleed

 

Skrywer: Dr. Kobus Kok

 




Wat het van Josef geword?

Wat het van Josef geword? – Kobus Kok

Benita vra:

Ek wil graag weet wat van Josef geword het aangesien daar later net nie meer oor hom geskryf word nie, slegs oor Maria. Is daar enige inligting oor hom of sy dood bekend?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

jesusbaba

 

Josef en die baba Jesus deur Guido Reni (1635) (http://en.wikipedia.org/wiki/Saint_Joseph )

 

In die evangelies en in die kerklike tradisie word Josef beskryf as die pa van Jesus, alhoewel hy nie die biologiese pa van Jesus is nie. Josef was ʼn houtwerker (“tektoon” (τέκτων). Sommige geleerdes is van mening dat skrynwerkers die lae klas werkers verteenwoordig het en ander geleerdes wys op Rabbiniese geskrifte waar ʼn skrynwerker as ʼn geleerde persoon en spesialis op sy gebied uitgebeeld word.

In die evangelie van Markus is dit interessant op daarop te let dat Jesus in Markus 6:3 die seun van Maria genoem word. Gewoonlik word ʼn man se identiteit gekoppel aan sy vader. Matteus en Lukas maak wel baie van Jesus se aardse afkoms en wys dat dit terug gaan na die groot Koning Dawid. Matteus en Lukas is dan ook die enigste evangelies wat vertel van Jesus se geboorte en dit is hier waar ons vir Josef ook raakloop. Volgens Lukas woon Josef in Nasaret en vertrek na Bethlehem na aanleiding van die vereiste wat aan hom gestel was deur die Romeinse regering wat op daardie stadium ʼn volkstelling gehou het. In die evangelie volgens Matteus woon Josef egter in Bethlehem, die belangrike stad van koning Dawid waar Jesus ook gebore word. Kort daarna trek hulle egter na Nasaret. In Lukas se weergawe het hulle egter in Bethlehem gebly tot kort voor koning Herodes se bloedvergietings waar hy alle baba seuntjies laat doodmaak het uit vrees vir die nuwe koning wat sou kom. Hiervolgens het Josef sy gesin na Egipte geneem en so ʼn ruk daarna, toe dit veiliger was, terug gebring na Nasaret en daar gaan woon.

Ongelukkig gee die evangelies vir ons bitter min inligting van Josef. Die laaste keer waar Josef in die evangelies te sien is (Lukas), is toe Jesus omtrent twaalf jaar oud was en die gesin in Jerusalem was. Daar het Jesus met die skrifgeleerdes in die tempel geredeneer terwyl sy ouers hartstogtelik na hom gesoek het. Daarna sien ons die karakter Josef nie meer nie. Sommige geleerdes is van mening dat Josef alreeds baie oud was toe hy met Maria getrou het en dat hy gesterf het voor Jesus met sy publieke bediening begin het. Hierdie geleerdes wys daarop dat Maria, die moeder van Jesus as ʼn weduwee uitgebeeld word. So lees ons in Johannes 19:26-27 dat Maria by die kruis teenwoordig was. Net voor Jesus gesterf het, het hy vir Johannes, die geliefde dissipel gevra om sy ma op te pas. Geleerdes argumenteer dat indien Josef nog geleef het, sou Josef teenwoordig gewees het by die kruis, en sou Jesus nie vir Johannes gesê het om sy ma op te pas nie. Volgens die beskouing was Maria dus ʼn weduwee teen die tyd dat Jesus sy publieke bediening verrig het. ʼn Verdere argument wat ter versterking hiervan dien is dat die pa ʼn belangrike rol in die begrafnis van sy seun sou speel. Josef is egter geensins betrokke by die begrafnis van Jesus nie. Alle Bybelse inligting dui dus daarop dat Josef, die pa van Jesus nie meer geleef het ten tye van Jesus se openbare bediening nie. Dit word ook duidelik uit Paulus se geskrifte, wat van die vroegste dokumente in die Nuwe Testament is (50-64 nC), en dus die naaste terug gaan na die tyd van Jesus, (die evangelies is eers rondom 70 nC geskryf) geen verwysing het na Josef nie.

Die interessante is verder dat die evangelies daarop wys dat Jesus broers en susters gehad het. Ook in Paulus lees ons dat hy kontak gehad het met Jakobus, ʼn broer van Jesus. Dit is miskien ʼn meer interessante vraag. Wat het van Jesus se broers en susters geword…

Tussen die tweede en die vyfde eeue na Christus het verskeie geskrifte ontstaan waarin daar oor Josef geskryf is. Ons moet egter in gedagte hou dat die geskrifte baie lank na die historiese gebeure plaasgevind het, tot soveel as 120 jaar daarna. Dit maak die tekste minder histories akkuraat en het dikwels ʼn ander teologiese rede en agtergrond waarom dit geskryf is. In die apokriewe boek die proto-evangelie van Jakobus lees ons dat Josef baie oud was en dat hy voorheen getroud was. Die broers en susters van Jesus word dan beskryf as dat hulle kinders van Josef was uit ʼn vorige huwelik. Die boek het egter ʼn teologiese agenda, naamlik dat dit wil argumenteer dat Maria ʼn maagd was tot haar dood, en daarom moes hulle op een of ander wyse verklaar hoekom die evangelies en Paulus praat van Jesus se broers en susters. Die oplossing was dan om gewoon te sê dat Josef al baie oud was en voorheen getroud was en kinders gehad het voor hy met Maria getrou het. In die vyfde eeu is nog ʼn boek geskryf waarin die geskiedenis van Josef die skrynwerker vertel word. Dieselfde lyn word opgetel, naamlik dat Josef baie oud was (90) en dat hy reeds getroud was en kinders gehad het en met die twaalfjarige Maria getrou het in opdrag van die Heilige Gees wat ʼn kind in haar verwek het. Volgens die boek is Josef dood op die ouderdom 111. Dit beteken dat hulle ook van mening was dat Josef dood is voor Jesus sy publieke bediening begin het.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Herodes

Herodes – Jan van der Watt

Christiaan vra:

Matteus 2:13: Nadat hulle vertrek het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

Matteus 2:19: Na die dood van Herodes verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte.

Matteus 4:12: Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan.

Wat ek wil weet, is hoe kan Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het as hy in Matteus 2:19 dood is en Jesus hoor in Matteus 4:12 dat Johannes in die tronk laat opsluit is deur Herodes ?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die antwoord is eenvoudig. Dit was twee verskillende Herodesse. Familiename het meer as vandag ‘n rol gespeel. Herodes die Grote het regeer toe Jesus klein was. Hy is waarskynlik in so 4 vC dood. (Jesus is tussen 6-4 vC gebore – die biskop wat ons huidige kalender uitgewerk het, het ‘n fout gemaak. Jesus is dus nie in die jaar 0 gebore nie). Na sy dood is sy koninkryk in vier verdeel en een van sy seuns Herodes Antipas het ‘n gedeelte gekry. Hy is waarskynlik die persoon waarna verwys word in die geval van Johannes die Doper. Lees ook Markus 6:17-29.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt