Christelike dissipelskap en onderrig

No man should judge unless he asks himself in absolute honesty whether in a similar situation he might not have done the same. -Viktor Frankl, skrywer, neuroloog en psigiater (1905-1997)

Christelike dissipelskap en onderrig

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.

 

Leer is ‘n baie algemene menslike aktiwiteit – skool, kollege, vakleerling … Dit gaan oor die oordrag van kennis en vaardighede. Die Christelike godsdiens het van die begin af leer en onderrig vereis. Daarvoor was daar ouers, priesters en Leviete in die Ou Testament. Elke nuwe geslag het hierdie opdrag om ander te leer. In Jesus Christus se tyd was dit die voltydse taak van die skrifgeleerdes. Jesus Christus self was ‘n uitstekende leermeester – dink maar net aan sy gebruik van gelykenisse. In Matteus 28:18 – 20 lees ons Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels voor sy hemelvaart. Een aspek wat spesifiek gemeld word, is: Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Die Christen word dus geroep en kry ‘n spesifieke opdrag: Julle het geleer, reik nou uit en leer ander wat jy self geleer het.

Die vroeë kerk het hierdie opdrag ernstig opgeneem, nie net om foute reg te stel nie, maar ook vir die geestelike groei van die gelowiges. Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer (2 Timoteus 2:2). Die kerk moet dus ‘n gemeenskap wees wat leer en onderrig gee. Dit is ‘n integrale en belangrike deel van die diens wat ons aan ander lewer.  Vraag: Is hierdie leer en onderrig nog ‘n deel van vandag se gemeentes?

 Paulus sien onderrig as ‘n geestelike gawe: As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee (Romeine 12:7). Elke Christen moet sy vaardigheid om onderrig te gee opskerp deur nadenke, voorbereiding, oefening en die onderwerping aan evaluering. Trots en hardkoppigheid maak enige verbetering onmoontlik.

 




Hoe bou ons gelowiges?

What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.”  A.W. Tozer

Hoe bou ons gelowiges?

Believe me … the Church of God will never be preserved without catechesis (Calvyn)

In J. I. Packer en Gary A. Parrett se boek Grounded in the Gospel sê hulle dat kategese ‘n integrale deel van die Christelike groeiproses is. Omdat kategese in baie gemeentes nie meer belangrik is nie, kry ons ‘n geleidelike toename in Bybelse ongeletterdheid.  [Kategese = Godsdiensonderwys deur die kerk gegee, veral aan die jeug en in vraagvorm – HAT.]

 

Hoekom het kategese sy plek in die kerk verloor? Ons leef in ‘n tyd van kitskos – alles moet vinniger gebeur. Die probleem is dat kitskos jou gou vol maak, maar dit is nie ‘n gebalanseerd dieet nie. Dieselfde is besig om in die kerk te gebeur – die kos wat ons kry in die leer- en onderrigproses smaak lekker, maar voed ons nie juis nie.

Goed en wel: ons het ‘n nuwe dieet nodig. Die fondament waarop hierdie dieet gebou moet word, is goeie kategese. Maar nou voer ons ‘n opdraande stryd – ons swem stroomop. Hoekom?

  • In die Weste aanvaar ons nie meer eksterne gesag nie. Die gevolg is dat die waarheid en gesag van God se woord bevraagteken word. Kategese  aanvaar dat daar wel iets soos waarheid wat gesag dra en geleer moet word, is.
  • Daar is ‘n weerstand teen verdere onderrig. Baie Christene glo vandag dat as hulle aangeneem is dit nie meer nodig is om te leer nie – hulle weet nou alles wat hulle nodig het om te weet. Kinders leer ook nie meer die waarhede van die drie-enige God nie, maar net die stories van die Bybel. In ons Bybelstudies soek ons onmiddellik die persoonlike toepassing van die Skrifgedeelte – ons ignoreer die skrywer se siening oor die grootheid, die doel en die misterie van God. Die gevolg is dat ons begrip van wie en wat die God wat ons aanbid werklik is, vaag is. Leer word nou vir ons ‘n onaanvaarbare woord. In so ‘n konteks is kategese onwelkom.
  • Ons is besig. Ons gemeenteprogramme is (oor)vol. Ons sukkel om alles ingepas te kry. Daar is nie plek vir leer nie. Die gevolg: The good is blocking out the best.

As kategese – vir kinders en volwassenes – belangrik is, sal ons hierdie hindernisse moet oorbrug.