‘n Nuwe Kategismus: Vraag 49

 

The fights over should be minimised so that the fights for can be maximised.” – Jonathan Robinson

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 49

Vraag:

Waar is Christus nou?

Antwoord:

Christus het liggaamlik op die derde dag na sy dood uit die graf uit opgestaan en sit aan die regterhand van die Vader. Daar heers Hy oor sy koninkryk en tree vir ons in, totdat Hy terugkeer om die hele wêreld te oordeel en te vernuwe. [Onderstreepte deel is die antwoord vir kinders.]

 

Skrifgedeelte:

Dit is dieselfde kragtige uitwerking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van  mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom (Efesiërs 1:19 – 21).

Kommentaar

God, Hy is ‘Ek is wat Ek is’ … en Christus Hy is ‘gister, vandag, môre en vir ewig dieselfde’ … ‘n Mens kan nie van enige skepsel van die wêreld sê dat dit wat gister was môre en vir ewig sal wees nie. Ons kan dit van Christus sê Hy is die alfa en die omega, die eerste en die laaste, Hy was en is en sal wees.. Daarom die wat op Hom gefundeer is, wat hulle vreugde in Hom het, hulle is ferm soos Hy ferm is; diegene wat op enigiets anders bou, verdwyn as die ding verdwyn. Daar is niks in die wêreld wat so ‘n wese het nie. Dit is net ‘n Christen wat in Christus is wat so ferm soos Christus is. Christus kan nooit wees behalwe dit wat Hy is nie. God moet altyd soos Hyself wees. Hy is die Here, ‘Ek is wat Ek is’ te alle tye. Sonder hierdie in Christus, wat is ons? Wat is bose mense? Kaf wat die wind wegwaai. Hulle is gras – niks weggevoer deur elke wind. Maar ‘n Christen is in steen, ‘n rots, gebou op Jesus Christus.

Hierdie kommentaar is deur Richard Sibbes (1577 – 1635), ‘n Engelse Puriteinse teoloog, geskrywe. In die vroeë 17de eeu staan hy in Londen bekend as the Heavenly Doctor Sibbes. Hy was die leraar by Gray’ Inn in Londen en Hoof van Catherine Hall in Cambridge. Sy bekendste werk was The Bruised Reed and Smoking Flax.

Hierdie kommentaar kom uit:   “Commentary on 2 Corinthians Chapter 1” in The Complete Works of Richard Sibbes, Volume 3 (Edinburgh, James Nichol, 1862), 426.

Verdere leesstof

 Concise Theology, deur J. I. Packer.

Gebed:

O God stempel ewigheid op my oë.

Hierdie gebed is deur Jonathan Edwards (1703–1758) geskryf. Hy was ‘n koloniale Amerikaanse prediker, teoloog en filosoof. Hy word die pastor van sy kerk in Northampton,  Massachusetts in 1726. Hy is welbekend vir sy preek “Sinners in the Hands of an Angry God” sowel as vir sy baie boeke insluitend  The End For Which God Created the World en A Treatise Concerning Religious Affections.  Edwards sterf na ‘n inenting teen pokke kort nadat hy president van die  the College of New Jersey (later Princeton Universiteit) geword het.

Dit kom uit Edwards se gebed aangehaal in  Holman Old Testament Commentary: Psalms 76–150, deur Steven Lawson (Nashville: B&H Publishing Group, 2006), 81.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




‘n Nuwe Kategimus: Vraag 48

When thou prayest, rather let thy heart be without words, than thy words without  a heart – John Bunyan

‘n Nuwe Kategimus: Vraag 48

Vraag:

Wat is die kerk?

 

Antwoord:

God kies en bewaar vir Homself ‘n gemeenskap verkies vir die ewige lewe, verenig deur geloof en wat saam God liefhet, volg, leer van en aanbid.  God stuur hierdie gemeenskap uit om die evangelie te verkondig en om as model vir sy koninkryk te dien deur die gehalte van hulle lewe saam en hulle liefde vir mekaar. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders,]

 

 

Skrifgedeelte

Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo (2 Tessalonisense 2:13).

 

Kommentaar

Broers, julle moet te alle tye soos Christus wees. Boots Hom in die openbaar na. Baie van ons woon in een of ander vorm van publisiteit; baie van ons is geroep om elke dag voor ons medemense te werk. Ons word dopgehou; ons woorde word gehoor; ons lewens word ondersoek. Die wêreld met sy arendsoë sien alles wat ons doen; skerp kritici is op ons. Laat ons die lewe van Christus in die openbaar lewe. Laat ons seker maak dat ons ons Meester ten toon stel – nie onsself nie. Dan kan ons sê dat dit nie langer ons is wat lewe nie, maar Christus in ons. Jy moet dit ook in die kerk indra … wees soos Christus in die kerk. Hoeveel is daar wat nie die kalklig soek nie? Hoeveel van ons wil nie waardigheid en mag oor ons mede-Christene hê nie. Die basiese reël van alle kerke is dat alle mense gelyk is – soos broers en moet as sulks ontvang word. Dra die Gees van Christus uit in jou kerk en waar jy ook al is. Laat jou medelidmate van jou sê: Hy was met Christus.

Hierdie kommentaar is deur Charles Haddon Spurgeon (1834 – 1892), ‘n Engelse Baptiste prediker geskryf. Spurgeon word die pastor van New Park Street Church (later die Metropolitan Tabernacle) toe hy slegs 20 jaar oud was. Hy preek dikwels vir meer as 10 000 mense sonder enige klankversterking. Hy skryf baie en sy gedrukte werke is baie. Toe hy sterf het hy amper 3 600 preke gelewer. Hy het 49 volumes kommentare, liedere en dagstukke geskryf.

Hierdie kommentaar kom uit   “Christ’s People—Imitators of Him” in Sermons of the Rev. C. H. Spurgeon (New York: Sheldon, Blakeman & Co.,1858), 263–264.

 

Verdere leesstof

 “Church” en “The Kingdom of God” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

Gebed

My daaglikse gebed, broers, sal wees dat in hierdie tyd waar so baie mense van die waarheid afdwaal, en dit selfs teenstaan aan die een kant;  daar is ‘n groot onverskilligheid ten opsigte van die dinge van God; min van die oorblywendes word bruikbaar vir God gemaak deur ‘n kombinasie van ywer vir die waarheid en die vermoë om dit te verdedig. Jy sal hulp van Bo kry en bemoediging om op alle maniere moontlik betrokke te raak deur die evangelie van Jesus Christus te versprei en om voortdurend te werk om te verseker dat die waarhede van God nie onder die voete van mense vertrap word nie; dat jy nie moeg word nie ten spyte van al die teenstand, veragting wat jy sal ondervind; dat jy nie sal afdwaal en met foute en valshede betrokke raak nie; dat jy naby die gesonde woorde van die leer van die evangelie bly; dat jy as ‘n lig sal skyn te midde van ‘n skewe wêreld en perverse geslag. Jy weet tog dit is nog net ‘n kort tydjie voor Hy weer kom. Ja, kom Here Jesus, kom.

“The Doctrine of the Saints’ Perseverance Explained and Confirmed” in The Works of John Owen, geredigeer deur Thomas Russell, Volume VI (London, 1826), xxix–xxx.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 47

 

 

 ‘n Nuwe Kategismus: Vraag 47

Vraag:

Voeg die Nagmaal iets by tot God se versoeningswerk?

 

Antwoord:

Nee, Christus het een maal vir altyd gesterf.  Die Nagmaal is ‘n verbondsmaaltyd wat Christus se versoeningswerk vier. Dit is ook ‘n manier om, as ons na Hom kyk,  ons geloof te versterk en dit is ‘n voorsmaak van die toekomstige fees. Maar diegene wat deelneem met ‘n hart sonder berou, eet en drink ‘n oordeel oor hulleself. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Skrifgedeelte:

Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is (1 Petrus 3:18).

 

Kommentaar:

Laat ons baie duidelik besef dat die Nagmaal nie as ‘n manier van versoening of bekering gegee is nie. Dit was nooit bedoel om genade te gee waar daar nie al reeds genade is nie of om  vryspraak te gee waar vryspraak nie alreeds teenwoordig is nie. Dit kan nie voorsien in dit wat tekortkom as gevolg van ‘n afwesigheid van berou teenoor God en geloof in die Here Jesus Christus nie. Dit is ‘n instelling vir die boetvaardige, nie vir die onboetvaardige nie – vir die gelowige en nie die ongelowige nie – vir die bekeerde en nie die onbekeerde nie. Die onbekeerde mens wat dink dat hy ‘n kortpad na die hemel kan vind deur die Nagmaal te gebruik, sonder om deur die stappe van bekering en geloof te loop, sal eendag tot sy nadeel uitvind dat hy mislei is. Die Nagmaal is bedoel om die genade wat die mens het te vermeerder en te help, maar nie om genade, wat hy nie het nie, te gee. Dit is nooit bedoel om vrede met God, versoening, of bekering te bewerkstellig nie.  Om dit eenvoudig te stel: die voordeel wat ‘n gelowige uit die Nagmaal sal kry … is die versterking en verfrissing van ons siele; duideliker sienings van Christus en sy versoeningswerk; duideliker sienings van Christus se ampte as Middelaar en Advokaat; duideliker siening van die volledige verlossing wat Christus vir ons verkry het deur sy plaasvervangende dood aan die kruis; duideliker sienings van  ons volle en volmaakte aanvaarding in Christus voor God; vars redes vir diepe berou oor ons sondes; vars redes vir ‘n lewende geloof; vars redes om ‘n heilige, toegewyde lewe en meer en meer soos Christus te leef – hierdie is van die belangrikste gevolge wat ‘n gelowige met vertroue kan verwag met sy deelname aan die Nagmaal. Hy wat in die regte gees die brood eet en die wyn drink, sal vind dat hy in nouer gemeenskap met Christus getrek word. Hy sal voel dat hy Christus beter ken en beter verstaan … met die eet van die brood en die drink van die beker, sal so ‘n mens voel dat sy verlossing verdiep, sy geloof vermeerder, sy kennis uitgebrei , sy heilige leefwyse versterk, word.  Hy sal die “ware teenwoordigheid” van Christus in sy hart ondervind. Deur die brood in geloof te eet, sal hy ‘n nouer gemeenskap met die liggaam van Christus ondervind. Deur die wyn in geloof te drink, sal hy ‘n nouer gemeenskap met die bloed van Christus ondervind. Hy sal duideliker sien wat Christus vir hom is en wat hy vir Christus is. Hy sal duideliker verstaan wat dit beteken om “een met Christus en Christus een met hom” te wees.  Hy sal ondervind dat die wortels van sy siel se geestelike lewe water kry, en dat die genadewerke in sy hart gevestig, opgebou en vorentoe gedra word. Alles lyk en voel soos dwaasheid vir die natuurlike mense, maar vir die ware Christen is hierdie dinge lig en gesondheid en lewe en vrede.

 

Hierdie kommentaar is deur John Charles Ryle (1816 – 1900) geskryf. Hy was die eerste Anglikaanse biskop van Liverpool. Sy aanstelling was op aanbeveling van die Eerste Minister Benjamin Disraeli. Ryle was ‘n skrywer en pastor, maar ook ‘n atleet wat vir die Universiteit van Oxford geroei en krieket gespeel het.. Hy was ook verantwoordelik vir die bou van meer as veertig kerke.

Hierdie kommentaar kom uit  Thoughts on the Supper of the Lord” in Principles for Churchmen(London: William Hunt, 1884), 267 – 270.

 

Verdere leesstof:

 “The Lord’s Supper” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.

 

Gebed:

O, genadige en geseënde God, wat ons vir Uself gemaak het en wat ons deur die bloed van u enigste en geliefde Seun verlos het, aan U behoort ons. Ons is bewus dat ons nie ons eie is nie . Ons is vir ‘n duur prys gekoop en daarom moet ons U met ons liggame en ons gees, wat aan U behoort, verheerlik. Ons wil ons daarom aan U toewy; en wil, in u teenwoordigheid, nie langer vir onsself leef nie, maar vir Hom wat vir ons gesterf het en weer opgestaan het. Mag ons nooit hierdie eed vergeet nie of in teenstelling daarmee optree nie. Ons erken U vandag as ons God; ons gee onsself as U oor as U kinders; ons begeer dat U ons volkome heilig sal maak en dat ons hele gees en siel en liggaam vlekkeloos behoue sal bly totdat ons Here Jesus Christus weer kom.

 

Hierdie gebed is deur Charles Simeon (1759 – 1836) geskryf. Hy was vir 49 jaar die rektor van Trinity Church in Cambridge. Hy is die leierskap van hierdie kerk aangebied terwyl hy besig was om voor te berei vir sy finale studies.  Aanvanklik het die lidmate hulle ongelukkigheid met sy prediking gewys deur  gereelde onderbrekings en deur die klein deurtjies na die banke te sluit sodat niemand kon sit nie. Simeon is veral bekend vir sy Horae Homilecticeae – ‘n versameling van uitgebreide raamwerke vir preke uit al 66 boeke van die Bybel. Dit was 21 volumes lank.

 

Hierdie gebed kom uit  “Asa’s Covenant with God” in Horae Homilecticae: or Discourses (Principally in the Form of Skeletons) and Forming a Commentary upon Every Book of the Old and New Testament, Volume IV (London: Holdsworth & Ball, 1832), 111.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 45

. —Vance Havner

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 45

Vraag:

Is die doop met water die afwassing van sonde?

 

Antwoord:

Nee, net die bloed van Christus en die vernuwing deur die Heilige Gees kan ons van sonde reinig. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Skrifgedeelte:

Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.” (Lukas 3:16)

 

 Kommentaar:

Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.” Die vraag word gevra waarom Johannes nie gesê het dat dit slegs Christus is wat siele met bloed was nie. Die rede is dat dié was deur die krag van die Heilige Gees gedoen word. Johannes het gereken dit is voldoende om die hele effek van die doop deur die een woord – Gees – uit te druk. Die betekenis is duidelik: Christus alleen gee al die genade wat nodig is. Figuurlik word dit deur die uitwendige doop verteenwoordig, want dit is Hy wat die gewete  besprinkel met sy bloed. Dit is ook Hy wat die ou mens doodmaak en die gees van regenerasie gee. Die woord vuur word bygevoeg en op die Gees toegepas, want Hy neem ons besoedeling weg – soos vuur goud suiwer.

 Hierdie kommentaar is deur Johannes Calvyn (1509 – 1564) geskryf. Gebore in Frankryk as kind in ‘n streng Rooms-Katolieke familie was hy ‘n teoloog, administreerder en pastor. Vir die grootste deel van sy lewe het hy in Geneve gewerk en die Gereformeerde Kerk georganiseer Hy skryf  The Institutes of the Christian Religion, die Geneva Catechism, sowel as baie kommentare op die Skrif. Hierdie kommentaar kom uit Calvin’s Bible Commentaries: Matthew, Mark and Luke, Deel I, vertaal deur John King (Forgotten Books, 2007), 187.

Verdere Leesstof:

 “Illumination” en “Regeneration” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Ons vader … ons kom na U en bid dat, vir Jesus se onthalwe, en deur die bloed wat eenmaal vir baie gestort is vir die vergifnis van sonde, dat U ons volledig vergewe vir elke oortreding van die verlede. Verwyder al ons sondes, o God, dat hulle nooit weer gesien word nie. Gee aan ons ook die woord van vrede soos belowe en soos in die Heilige Gees verkry word, dat deur die vryspraak deur geloof ons vrede met God deur Jesus Christus ons Here mag ontvang. Laat ons vergewe word en dit weet, en mag daar geen voortslepende vraag in ons harte wees oor ons versoening met God nie – net ‘n vaste versekering gebou op geloof in die afgehandelde werk van Christus. Mag ons staan as mans en vrouens wat verlos is teenoor wie geen oortreding meer vermeld sal word nie. En dan, Here, het ons nog genade om te vra – iets wat ons in ons gebede sal voorlê. Dit is dat U ons sal help om sulke lewens te leef soos mense wat vrygekoop is. Ons het maar ‘n kort tydjie om hier deur te bring, want ons lewe is maar net ‘n wasem wat vinnig verdwyn. Maar ons is angstig dat ons die tyd van ons reis hier op aarde in heilige vrees sal lewe, dat genade  van die begin van ons Christelike lewe tot aan die einde van ons aardse bestaan op ons sal wees.

 

 Hierdie gebed is deur Charles Haddon Spurgeon (1834 – 1892), ‘n Engelse Baptiste prediker geskryf. Spurgeon word die pastor van New Park Street Church (later die Metropolitan Tabernacle) toe hy slegs 20 jaar oud was. Hy preek dikwels vir meer as 10 000 mense sonder enige klankversterking. Hy skryf baie en sy gedrukte werke is baie. Toe hy sterf het hy amper 3 600 preke gelewer. Hy het 49 volumes kommentare, liedere en dagstukke geskryf.

Hierdie gebed kom uit  “Prayer XIII: The Wings of Prayer” in Prayers from Metropolitan Pulpit: C. H. Spurgeon’s Prayers (New York, Revell, 1906), 71–72

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.