Verkoop van Kerk – Jan van der Watt

‘n Leser vra:
Tydens ‘n onlangse gemeentevergadering, is daar gestem oor of ons ons kerk gebou aan Moslems moet verkoop, vir R10 000 000.00 of nie. Dit sal ons finansies versterk, maar ons gemeente in twee skeur. Ons verstaan die konsep van geboue en dat die Kerk binne ons as persoon leef, sentiment en geskiedenis, hoe God die grond in die gemeente se besit gebring het, en hoe Hy voorsien het, maak alles net vir ons ‘n bitter pil om te sluk.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is inderdaad ‘n emosionele kwessie, nie alleen omdat mens geheg raak aan wat joune is nie, maar ook omdat daar soveel simboliek en geestelike herinneringe aan ‘n kerkgebou gekoppel kan word. Dink maar aan die pragtige maar baie ou Hagia Sophia in Istanbul wat byna 1500 jaar gelede deur die Bisantynse Christene as kerk gebou is. Toe Konstantinopel in Moslem hande geval het, is die gebou in die jare daarna as moskee gebruik. In die 20e eeu was dit ‘n museum (om konflik tussen Christene en Moslems te verhoed), maar is onlangs weer as Moskee ingewy. Stryd oor ‘n gebou kan dus eeue duur. Die vraag is of dit nodig is.

In die Protestantse tradisie is ‘n kerkgebou maar net ‘n gebou, niks meer nie. (Dit is ietwat anders in die Katolieke en Ortodokse tradisies). Die Protestante bely dat mense die tempels van God is in wie die Heilige Gees woon. Waar twee of drie bymekaar is (waar ook al), daar is die kerk. Die vraesteller sien dit ook so.

Wat nou bykom is tradisies, emosionele binding, herinneringe en so meer. Dit kan nie geïgnoreer word as onbelangrik nie, maar bied nie werklik ‘n godsdienstige rede waarom die kerk nie verkoop mag word nie. Dit lê meer op die vlak van praktiese en pragmatiese oorwegings en nie op die vlak van godsdienstige beginsels nie.

Oor die pragmatiese en praktiese oorwegings (bv. die geskiedenis, emosies, tradisie ens.) kan ons nie sinvol kommentaar lewer nie. Dit moet met liefde, onderlinge respek en ‘n oop gemoed onder die betrokkenes uitgepraat word.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die kerk is ‘n gebou!

New opinions are always suspected, and usually opposed, without any other reason but because they are not already common. -John Locke, filosoof (1632-1704)

Die kerk is ‘n gebou!

As ons praat van ‘n kerk dink ons aan ‘n spesifieke bouvorm met ‘n toring – met ‘n kruis of weerhaan bo-op – en ‘n boodskap voor die gebou. As kinders het ons geleer wat ons mag en nie mag doen in die “huis van God” nie. Miskien het ons hierdie beeld verwerp. Dit is egter steeds ‘n gebou, maar nou sonder toring en preekstoel. Dit is egter steeds ‘n gebou waarheen ons gaan.

 

In die proses vergeet ons die werklikheid – ons gaan nie kerk toe nie … ons is die kerk. Om ‘n vaste vergaderplek – tradisioneel, koffiewinkel, huis of wat ook al – te hê,  is goed. Dit is ‘n wonderlike manier om na die gemeenskap om die gebou uit te reik. Of dit nou ‘n tradisionele gebou of huis is, is nie belangrik nie

Vroeë Christene sou nie verstaan het as jy vir hulle gesê het: Kom ons gaan kerk toe, nie. Vir hulle was die kerk nie ‘n gebou of tent nie … dit was hulle. Hierdie werklikheid vergeet ons dikwels. As ons die kerk as ‘n gebou sien, kan dit verskeie probleme veroorsaak.

  • Die kerk en daarom die Christendom word in kompartemente verdeel. Ons is geneig om ons lewe in kompartemente te verdeel en dit is dikwels as gevolg van plek – werk of skool of huis. Dit is hoekom ons dikwels Sondae as die totaliteit  van ons godsdiens sien. As ons die kerk as gebou sien, mag ons glo dat ons verhouding met God daar plaasvind – daardie spesifieke plek. Dit is maklik om Christus in ‘n plek waar almal om jou dink dat jy Christus moet volg, te volg. Om kerk te wees, word nie deur gebou en tyd beperk nie. As jou godsdiens net in ‘n gebou en om ander Christene beperk word, verstaan jy nie die Christelike geloof nie.
  • Kerk en godsdiens word beperk as jy kerk as ‘n gebou sien. God ken mense se harte. As hy my vra om iets te doen of te sê en ek gehoorsaam Hom, kom ek in aanraking met mense wat Hom nodig het. As jy nie die kerk is nie, bereik jy nie jou volle potensiaal in sy koninkryk nie.
  • Kerk en godsdiens word geïsoleer as ons kerk bloot as ‘n gebou sien. Jy isoleer jouself van die mense wat jou kan help om jou doel in die lewe te ontsluit. As jy ‘n aktiewe deel van ‘n plaaslike gemeente is, lei dit tot geestelike groei – jy kan nie jou geestelike lewe alleen uitleef nie. In die vroeë kerk het mense tyd met mekaar deurgebring, mekaar se behoeftes hanteer en hulle sonde teenoor mekaar bely. Persoonlike kontak, gesprekke en ‘n lewe saam verbreed ons perspektiewe. Moenie jou isoleer van die mense wat jou kan help om jou doel in die lewe te identifiseer nie.

In die Bybel verwys kerk altyd na mense en nie na ‘n plek nie. Die kerk is die beliggaming van Christus – sy mond en arms en bene – vir ‘n wêreld waarin so baie mense Hom nie ken nie. Dink net wat die kerk kan bereik as hy hom nie in kompartemente verdeel of beperk of isoleer nie – en dit net omdat ons dink die kerk is ‘n gebou.