Merke in Jesus se hande en voete?

Merke in Jesus se hande en voete?

Het jy geweet dat nie Markus of Matteus van enige spykers of van merke in die hande of voete van Jesus praat nie?

By Lukas (24:39-40) hoor ons dat Jesus sy hande en voete (nie die merke nie) vir sy dissipels wys as bewys dat dit Hy in lewende lywe, ja, in vlees en bloed is. Dit is Johannes wat ons hier ‘n bietjie verder help. Daar sê Tomas: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” (20:25) en dan antwoord Jesus hom: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy” (20:27). Hier word die spykers in die hande (nie in die voete nie) direk genoem. Lukas noem van die voete, maar nie van die spykers nie. So, met die saamsit van die gegewens is daar uiteindelik afgelei daar was spykers in Jesus se hande en voete, maar dit staan nêrens so in die Bybel nie. Die probleem is verder dat ons nie soveel weet van hoe die spykers gebruik is nie – daar is baie min daaroor uit die antieke wêreld bekend. Ons weet byvoorbeeld nie waar die spykers ingeslaan is nie (hoewel daar een opgrawing is waar die spykers deur die enkel geslaan is), of wanneer daar van toue en wanneer van spykers gebruik gemaak is nie. Hoe is gekeer dat die spykers nie uitskeur nie? Uit hierdie getuienis van Johannes, Paulus en moontlik Lukas ook, asook die argeologiese getuienis blyk dit of daar met redelike sekerheid aangeneem kan word dat Jesus wel met spykers aan die kruis vasgemaak kon gewees het. Of beide sy hande en voete aan die kruis vasgespyker is, bly onseker.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Hoe is Jesus van die kruis afgehaal?

Hoe is Jesus van die kruis afgehaal?

Dit klink miskien na ‘n onnodige vraag, maar as ‘n mens in gedagte hou dat Jesus in die middel van die dag gekruisig is en die son al byna begin water trek het toe Hy dood is, raak die vraag meer interessant.

Dinge moes vinnig gaan om alles voor sononder klaar te kry. Die getuienis uit al vier evangelies stel dit bloot dat Jesus se liggaam afgehaal en weggeneem is. Van die wyse waarop Hy afgehaal is, word niks gesê nie. Dit was destyds nie so maklik om ‘n vasgespykerde liggaam van die kruis af te kry nie. Die spykers is goed ingekap en is oënskynlik soms omgeklink, volgens van die opgrawings wat al gedoen is. Uit die opgrawings blyk dit ook dat van die spykers so dik soos ‘n man se vingers was. As jy dus ‘n liggaam van die kruis moes afhaal, moes jy eers met die spykers spook. Dit kon nie maklik gewees het nie, want die hande en voete (gewrigte) was nie hard sodat jy dit maklik kon uitkry nie. Dit lyk selfs of die vasgespykerde hande en voete soms afgekap is om die liggaam vinniger af te kry. As in ag geneem word dat die helpers van Jesus in ‘n wedloop teen die naderende sonsondergang (Sabbat) was, sou so-iets dus ‘n moontlikheid kon gewees het. Die moontlikheid hiervoor word selfs groter as opgemerk word dat volgens Matteus 27:58-59 Josef skynbaar nie self die liggaam van die kruis afgehaal het nie, hoewel Markus 15:46 en Lukas 23:53 egter sê dat Josef dit wel gedoen het. Soldate sou waarskynlik nie dieselfde respek vir die liggaam gehad het as wat sy dissipels sou gehad het nie. Daar is egter geen direkte getuienis oor hoe die liggaam van die kruis afgehaal is nie, wat maar net sê dat die tekeninge en skilderye wat ons so dikwels sien met die gaatjies in Jesus se hande en voete nie noodwendig die regte voorstelling is nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Wat is die nota (titulus) wat aan die kruis vasgespyker is?

Wat is die nota (titulus) wat aan die kruis vasgespyker is?

Hoewel daar huidiglik geen ander bewyse uit antieke dokumente is rondom notas wat aan kruise vasgespyker is nie, was die rede vir die nota waarskynlik die volgende: Mense is nie destyds gekruisig om hulle te straf nie (dit ook), maar kruisiging is veral as afskrikmiddel gebruik.

Dit is brutaal en wreed gedoen, sodat mense wat dit sien daar en dan besluit hulle wil nie dieselfde pad loop nie. Maar dan moes hulle weet wat die persoon verkeerd gedoen het, sodat hulle nie dieselfde doen nie, en daarvoor is die nota opgesit. Jesus s’n is in drie tale (Hebreeus, Grieks en Latyn – Joh 19:20) opgesit sodat al die mense kon verstaan. Dit het gelees: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” (Joh 19:19).

Wat sou die mense wat dit gelees het daaronder verstaan het? Die Romeinse Ryk het oor die hele bekende wêreld van destyds geheers. Daarom was iemand wat homself as koning van ‘n volk voordoen vir hulle ‘n politieke bedreiging en moes uit die weg geruim word. As die mense dus Koning van die Jode sou lees, sou hulle dadelik verstaan het dat hier iemand was wat in opstand teen die owerheid wou of kon kom. Jesus is dus onder ‘n politieke nota gekruisig.

Die titulus is volgens die beskikbare Nuwe-Testamentiese getuienis op ‘n manier bokant Jesus se kop vasgemaak sodat dit bokant Jesus se kop moes uitsteek. Daaruit lei geleerdes af dat die nota aan die stuk van die kruis wat bokant Jesus se kop uitgesteek het, vasgemaak is. Daaruit kan ons dus ook aflei dat die kruis nie T- of X-vormig was nie, maar gelyk het soos “ons bekende kruisvorm” (crux imissa).

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Hoe is Jesus gekruisig?

Hoe is Jesus gekruisig? – die beskrywing daarvan in die Nuwe Testament

Hoewel die kruisiging so sentraal in die Christelike godsdiens staan, vertel die evangelies ons omtrent niks van hoe dit gedoen is nie.

Hulle stel die feit net kort en kragtig: “Toe kruisig hulle Hom” (Mark 15:24; sien ook Matt 27:35; Luk 23:33; Joh 19:18). Hier word niks gesê van die manier van kruisiging nie, byvoorbeeld of daar spykers of toue gebruik is om sy liggaam aan die kruis vas te kry, of sy arms oopgespalk is of nie, of hy eers aan ‘n dwarsbalk vasgesit is en toe teen ‘n regop paal opgehys is of so iets nie (alles dinge wat moontlik was). Die verwysings in die res van die Nuwe Testament help ook nie veel nie, want dit gee nie ekstra inligting nie (bv. Matt 20:19; 23:34; 26:2; 27:22,23,26,31,35,38; 28:5; Mk 15:13,14,15,20,24,25,27; 16:6; Luk 23:21,23,33; 24:7,20; Joh 19:6,10,15,16,18,20,23,41; Hand 2:36; 4:10; 1 Kor 1:13,23; 2:2, 8; 2 Kor 13:4; Gal  3:1 en Open 11:8). Wat ons wel weet is dat daar spykers by die proses betrokke was, maar meer nie. Maar waarop is die evangelies so stil oor hierdie onderwerp? Die kriptiese hantering van hierdie gegewens deur die evangeliste hang waarskynlik saam met die gebruik van daardie tyd om nie die grusame kruisgebeure gedetailleerd te beskryf of simbolies voor te stel nie. As ‘n mens byvoorbeeld gaan soek na beeldhouwerke of tekeninge op potskerwe uit daardie tyd wat oor kruisiging gaan, kry jy feitlik niks, wat vir ons sê dat dit nie ‘n onderwerp was waaroor mense baie spraaksaam was nie. Daar is wel tekste waarin kruisigings beskryf word, maar dit is baie skaars. (Jan van der Watt).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt