Laat sy Liefde jou Lei: Vervulling in Hom

Laat sy Liefde jou Lei: Vervulling in Hom – Milanie Vosloo

Vervulling in Hóm

As jy jou aardse roeping gevind het en dit met oorgawe en passie kan leef, is jy een van die gelukkigste mense op aarde. Dan beleef jy dikwels selfverwesenliking en vind jy vervulling in dit wat jy doen. En veral in dit wat jy is.

Wanneer jy egter jou dagtaak saam met God doen, sy wil in alles probeer doen en regtig daarna streef om Hom ook deur jou dagtaak te verheerlik, vind jy meer as vervulling. Dan beleef jy dat jou aardse bestaan direk met die ewigheid gekoppel is. Ja, dan begin jy so ietsie verstaan van die ongelooflike vervulling wat ons eendag in die vaderhuis gaan beleef.

Geniet jy jou dagtaak?

Geniet jy jou werk? Kan jy met eerlikheid sê dat jou dagtaak vir jou ’n vreugde en plesier is en dat jy soggens met verwagting uitsien na die uitdagings wat jou werk dié dag gaan inhou? As dit so is, is jy een van die min mense wat werklik vervulling in hul roeping vind. Dis so jammer dat slegs ongeveer 20% van alles mense (volgens ’n studie deur Gallup) werklik hul werk geniet en voel dat hulle dit waarmee hulle goed is, elke dag doen.

As so min van ons bevredigende werke doen, is dit nie vreemd dat daar verder beweer word dat die meeste mense slegs leef vir Vrydagmiddae nie. En dat daar Sondae-aande ’n vlaag van depressie oor die wêreld daal omdat môre “Maandag!” is.

Ons liewe Vader het nie bedoel dat ons ons werk slegs as ’n middel tot ’n doel sou sien nie. Hy wil hê dat ons ook in ons daaglikse arbeid vreugde sal vind.

Ons kan slegs ons werk geniet as ons werklik ons unieke en godgegewe talente uitleef in ’n wêreld waarin ons regtig belangstel en in ’n omgewing wat ons stimuleer. Doen jy dit?

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wat is ware sinvolheid

Laat sy Liefde jou Lei: Wat is ware sinvolheid – Milanie Vosloo

Wat is ware sinvolheid

Ons almal het ’n bepaalde plek, manier van doen, werk en leefwyse wat aan ons unieke menswees betekenisvolheid gee. Party van ons vind dit in ’n uitdagende korporatiewe loopbaan waarin ons op hoë vlak ’n bydrae lewer. Daar in die raadsale van die wêreld vind ons ’n stuk energie wat ons menswees stimuleer en ons opgewonde maak. Ander kry daardie geluksgevoel deur hul eie ding te doen en hul entrepreneursdryf uit te leef. Diesulkes maak heel dikwels ’n groot sukses van hul eie ondernemings. Dan is daar die van ons wat daarvan hou om kinders te leer en te onderrig, ander te verpleeg, maatskaplike dienste te lewer, te preek, sendingwerk te doen. Natuurlik is daar dié vir wie dit lekker is om ander mense te ondersteun, hul lewens makliker te maak en alles vir hul gesinne te gee.

Ware sinvolheid vir jou is dit wat vir jóú lekker is om te doen. Dit waarvan jý hou. Wanneer jy doen waarvan jy regtig hou, maak dit nie saak wat wêreld om jou doen nie, want dán het jy die een ding gevind wat jou laat tick: wat ’n betekenisvolle verskil in jou en ander se lewens maak.

Ware sinvolheid vergelyk nie homself met ander nie omdat elke mens se balanspunt-van-betekenis hemelsbreed van ander s’n verskil. Wanneer jy joune gevind het, sal jy vind dat jy met oorgawe leef!

Vader-God, laat ek vrede vind in dit wat ek goed kan doen.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Die regte vrae

Laat sy Liefde jou Lei: Die regte vrae – Milanie Vosloo

Die régte vrae

U het my met u eie hande gemaak. Maak my kop nou vol van u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra. Psalm 119:73

God ken sy kinders. Daarom verstaan Hy dat ons maar soms eg menslike (en kleinlike) versoeklysie-gebede bid. Hy het begrip daarvoor dat ons wêreldjies heel dikwels net om ons self, ons eie belang en die sirkel rondom ons draai. Tog dink ek die Vader wil so graag hê dat ons ook groter vrae vir Hom sal vra. Dat ons verder as onsself, ons lewe hier op aarde en ons menslike bestaan sal dink. Ja, ek glo Hy wil hê dat ons gedagtes en ons gebede ook ingestel sal wees op sý dinge: op ewigheidswaarde-kwessies wat vir Hom belangrik is.

Kom ons bid elke dag, saam met ons tipiese ménsgebede, ook die volgende hemelgebede:

Vader in die hemel, ek eer en aanbid U omdat U God is: dié God wat hemel en aarde in geskep het en elke dag in stand hou. Here Jesus, ek loof en dank U vir u ongelooflike genade in my en ander se lewens. Heilige Gees, wys aan my hoe ek my lewe aan U kan wy; hoe en waar ek u wil kan uitleef en aan wie ek vandag ’n verskil kan gaan maak. Ja, Here, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom en laat u wil geskied … tot in ewigheid.

Amen

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Watter woord is jy?

Laat sy Liefde jou Lei: Watter woord is jy? – Milanie Vosloo

Watter woord is jy?

Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra. Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor ek dit gestuur het. Jesaja 55:11

Ons is almal woorde in God se storie van die lewe. Party van ons is lang indrukwekkende paragrawe, ander is kort sinsnedes terwyl sommiges slegs kort maar kragtige woordmense is. Nou maak dit regtig nie saak hoe lank jou lewenssin is nie. Wat wel saak maak, is wat die kwaliteit van jou lewe is. Want dit bepaal hoe sinvol jy leef?

Vra jouself vandag die vraag: Watter deel van God se storielyn is ek? Waar en hoe pas ek in in die verhaal wat Hy van die lewe skryf? En meer belangrik: Wat is die kwaliteit van die mý gedeelte van God se storie?

Die feit is jou lewensverhaal maak ongetwyfeld ’n belangrike deel van God se plan uit. Dis waarom jy is wat jy is en kan doen wat net jy kan doen. Wanneer jy dus jou gedeelte van die verhaal goed uitleef, maak jy van ’n gewone storie ’n uitmuntende verhaal. En dan glimlag God oor jou!

Bid vandag dat die Gees in die volgende tyd in jou hart sal werk. Dat Hy vir jou duidelikheid sal gee oor presies watter sin jou lewe het. Meer nog, dat Hy aan jou sal wys hoe jy dinge ánders en beter kan doen sodat jou lewensdeel kwaliteit sal spel.

Meester, wys my hoe ek nog beter kan leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo