Leef uit jou Doop: 3.6 Die verband tussen die besnydenis en die doop

Leef uit jou Doop: 3.6 Die verband tussen die besnydenis en die doop – Adrio König

3.6 Die verband tussen die besnydenis en die doop

Ons het hier met een van die mees omstrede sake te doen. Groepe wat die kinderdoop verwerp, is oortuig die besnydenis is ’n vleeslike teken. Dit sou niks meer gewees het nie as ’n teken dat iemand ’n Jood is. Dit sou deel van die ou verbond gewees het wat vervang is deur die nuwe verbond. Hulle wys ook daarop dat Paulus die besnydenis skerp afgewys het (Gal 5:3). Omdat die besnydenis volgens hulle net ’n vleeslike teken van die ou verbond was, kan dit geen sinvolle verband hê met die doop wat ’n geloofsakrament van die nuwe verbond is nie.

Kom ons kyk na hierdie standpunt. Ons kan dit net doen deur die betekenis van die besnydenis in die Ou Testament én in die Nuwe te ondersoek. Ons het reeds gekyk na die ryk betekenisse van die doop (hoofstuk 2). Ons sal dan die twee met mekaar kan vergelyk.

 

Ou Testament

Die besnydenis in die Ou Testament is ’n voluit geestelike saak. Israel is besny nie omdat hulle Israel, nog ’n volk was nie, maar omdat hulle die volk van God was. Hy het nie vir Abraham gekies en geroep om maar net nóg ’n volk te maak nie, maar om sy volk te wees. Daarom het die besnydenis ’n duidelik geestelike betekenis. Die Ou Testament is vol daarvan. Ons lees in die 1953-vertaling van onbesnede ore, lippe en harte, en Israel word dikwels vermaan om hulle harte te besny (Lev 26:41;

Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7, 9). Die nuwere vertalings vertaal

♦   ’n “onbesnede” hart met geestelike begrippe: ongehoorsaamheid, hardkoppigheid, ontrou;

♦   en ’n “besnede hart” met ’n “toegewyde hart”.

In Jeremia 9:25-26 het ons ’n uiters belangrike uitspraak. Daar was in Israel se omgewing ook ander volke wat die besnydenis beoefen het. Maar net vir Israel was dit ’n verbondsteken. Nou word hierdie volke hier in ’n ry genoem, almal volke wat besny is. Maar hier staan hulle is onbesnede al is hulle besny. Eintlik staan hier letterlik hulle is net aan die voorhuid besny, nie in die hart nie. Daarom

word God se oordeel oor hulle aangekondig. Maar tussen hierdie ry heidense volke staan dan ook Juda! Skielik bevind die Godsvolk hom tussen die heidene, op dieselfde vlak. Waarom? Presies om dieselfde rede: Ook hulle is net aan die voorhuid besny, nie aan die hart nie. Daarom word hulle saam met die heidene geoordeel.

Die letterlike besnydenis het dus geen betekenis as dit nie in die hart en lewe ingaan nie. In twee gevalle kom die letterlike besnydenis en die geestelike besnydenis in een sin langs mekaar voor. Daar

word van dieselfde mense geskryf hulle is “onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees” (Eseg 44:7, 9). Dit beteken nog ’n keer dat die letterlike, “vleeslike” besnydenis ’n geestelike betekenis gehad het.

Wanneer ’n mens hierdie uitsprake nagaan, is dit duidelik dat besnydenis in verband staan met bekering, geloof, liefde vir God, gehoorsaamheid aan Hom, ’n nuwe lewe tot sy eer.

 

Die Nuwe Testament

Natuurlik moet ons ook kyk na die betekenis wat in die Nuwe Testament aan die besnydenis gegee word. Veral Paulus verwys dikwels na die besnydenis. En dis maklik om sy verwysings in drie verskillende groepe in te deel: neutraal, negatief, positief.

♦   Neutraal Paulus verwys soms saaklik-neutraal na die besnydenis, sonder enige voor- of afkeur. Hy praat van besnedenes (Jode) en onbesnedenes (heidene) bloot as groepe (Gal 2:6-9; Ef 2:11; Kol 3:11; Tit 1:10). Dikwels is die besnydenis ook totaal onbelangrik (Rom 3:30; 1 Kor 7:18, 19; Gal 5:6; 6:15; Kol 3:11).

♦   Positief Hy kan egter ook groot waardering vir die besnydenis uitspreek en veral die geestelike betekenis van die besnydenis vir die Jode beklemtoon (Rom 2:25-29; 3:1-3; 4:11-12). Hy sien sy eie besnydenis as deel van die erfenis waarop hy sou kon roem (Fil 3:3- 5). Hy is ook bereid om vir Timoteus te laat besny – al is dit waarskynlik meer om strategiese redes as om geestelike redes (Hand 16:3).

♦   Negatief Maar hy kan ook sterk negatief oor die besnydenis oordeel en dit selfs veroordeel (Gal 2:12; 5:2- 4, 6, 11; 6:12-13; Fil 3:2. Kyk ook na Hand 15:1, 5, 24).

 

Negatief

Kom ons kyk eers na die negatiewe betekenis wat hy aan die besnydenis heg. Dit is opvallend dat dit in elke geval gaan om Jode of Joodse Christene wat eis dat gelowiges uit die heidene besny moet word. Dit is deur en deur die situasie in Galasië. Dit is trouens die hoofrede waarom hierdie brief geskryf is, en daarom kom omtrent al die negatiewe verwysings na die besnydenis hier voor. In Filippense gaan dit oor dieselfde saak.

Waarom is Paulus so skerp negatief? Omdat die Jode en sommige Joodse Christene geëis het dat die bekeerlinge uit die heidendom die wet moes hou anders kon hulle nie gered word nie. Vir Paulus het dit beteken dat Jesus dan nie genoeg was nie, dat daar by sy kruis en opstanding iets moes bykom, en wat dit nog erger maak, dat die mens dit wat dan sou kortkom, deur wetsonderhouding moes

by sit. Dit was vir hom sonder meer die vernietiging van die evangelie, en daarom dreig hy ook: As hierdie heidene hulle laat besny, sal hulle die band met Christus verbreek en die genade van God verbeur (Gal 5:4).

Dit gaan in Paulus se veroordeling van die besnydenis dus glad nie om die betekenis van die besnydenis in die Ou Testament of oor die betekenis vir die Joodse gelowiges nie. Dit gaan om die gelowiges uit die heidene, en sy argument is dat Jesus genoeg gedoen het, dat ons nie iets hoef by te dra deur die wet te hou nie. Dit was tog ook die besluit van die kerkvergadering in Jerusalem (Hand 15).

Dis skynbaar eintlik omdat die Judaïste vereis het dat die wet gehou moet word, en toe die besnydenis as deel van die wet voorgehou het, dat Paulus so skerp teen die besnydenis was. Ons sal sien dat sy positiewe waardering van die besnydenis in ’n ander verband voorkom waar die wet nie ’n rol gespeel het nie. Dit is die situasie waarin hy die besnydenis op sigself beoordeel, en nie as deel van die wet nie. Kom ons kyk daarna.

 

Positief

Wanneer ons kom by Paulus se positiewe waardering van die besnydenis, verander die prentjie radikaal. Ons kyk hier na twee dele uit Romeine, 2:17-29 en 4:11-12.

Romeine 2:17-29

In twee parallelle gedeeltes behandel Paulus eers die wet (17-24) en dan die besnydenis (25-29). In beide gevalle gebruik hy dieselfde onderskeiding: uiterlik-innerlik of letterlik-werklik.

♦   Dit help nie om die wet uiterlik, letterlik te besit, maar dit nie te hou, nie werklik daarvolgens te leef nie.

♦   Dit help nie om uiterlik, vleeslik, letterlik besny te wees, maar jou hart is nie deur die Gees besny nie.

Dit beteken Paulus handhaaf volledig die geestelike betekenis van die besnydenis wat ons in die Ou Testament gekry het. En hy verbind dit selfs met die werk van die Gees. Dan kan daar geen sprake daarvan wees dat die besnydenis maar net ’n vleeslike teken was dat iemand ’n Jood is nie. Hy noem hier selfs die moontlikheid dat iemand wat nie letterlik besny is nie, tog werklik die geestelike besnydenis kan hê (v 26). Dié moontlikheid het ons nie eens in die Ou Testament gekry nie. Let daarop hoe ontspanne Paulus hier oor die besnydenis oordeel wanneer dit nie, soos in Galasië, vereis word as ons bydrae by die verlossing in Jesus om gered te word nie.

Romeine 4:11-12

Hier ontwikkel Paulus die betekenis van die besnydenis soos ons dit by Abraham gekry het. En hier het ons inderdaad sy heel belangrikste uitsprake oor die geestelike betekenis van die besnydenis.

Net soos in Galasiërs gaan dit in Romeine 4 oor die regverdiging (redding) net deur die geloof. Hy gebruik Abraham as dié voorbeeld. Abraham het nog nie die wet gehad nie. Die wet is eers eeue later tydens die uittog aan Israel gegee. Maar Abraham is dus geregverdig sonder die wet, maar óók voordat hy besny is (4:9-10). Ook die besnydenis kon dus nie sy “bydrae” tot sy redding wees nie. Die

Here het hom dus net deur sy geloof gered (4:3; vgl Gen 15:6).

Wat was dan die betekenis van die besnydenis? “Hy het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was” (4:11).

Dit kan geen twyfel lei dat Paulus hier die geestelike betekenis van die besnydenis voluit erken nie. Hy bring dit direk met die geloof en die redding (regverdiging) in verband.

 

Besnydenis-doop

Watter verband is daar nou tussen die besnydenis en die doop? Ons kan na twee kante kyk.

♦   Daar is duidelik ’n sterk verband.

♦   Maar die doop het ’n baie ryker betekenis as die besnydenis.

Dit het uit sowel die Ou Testament as die Nuwe duidelik geword dat die besnydenis van die begin af ’n ryk geestelike betekenis gehad het. In die Ou Testament is Israel keer op keer aangespreek oor hulle onbesnede van hart, ore, lippe is, dit beteken dat hulle ontrou, ongehoorsaam aan God, sonder liefde vir Hom was. En net so is verwys na die geestelike betekenis as die besnydenis van hart, lippe, ore. Dit het gedui op geloof, gehoorsaamheid, liefde vir God, op toewyding en ’n nuwe lewe tot sy eer. Israel is gewaarsku dat die letterlike besnydenis nie genoeg is nie, dat iemand wat net letterlik besny is, eintlik nog onbesnede is. Ons het gekyk na die ontstellende gelykstelling van Juda aan

die heidene omdat ook Juda net “aan die voorhuid besny” is (Jer 9:25, 26). Dit beteken tog eintlik dat ’n Jood wat net besny is, maar nie glo nie, nie regtig deel van die volk van God is nie. En dit is tog presies die teenoorgestelde van die gedagte dat die besnydenis ’n nasionale teken was wat net van mense Jode gemaak het.

Dit is tog duidelik dat daar ’n opvallende ooreenkoms is met die betekenisse van die doop. Ook in die doop gaan dit om ’n letterlike saak met ’n geestelike betekenis. En ook hier het die betekenis alles te doen met gehoorsaamheid en liefde vir God, met ’n toegewyde lewe. Maar die belangrikste ooreenkoms is dat God deur beide besnydenis en doop mense in die verbond met Abraham opneem.

Dis verder interessant dat ook Christene vermaan word dat hulle nie die betekenis van die doop verstaan nie (Rom 6:1-3). Ook Simon kan gedoop wees sonder dat dit uitwerk in sy lewe (Hand 8:14-23) – presies wat met die ongehoorsame Israel gebeur het. ’n Mens sou van Simon kon sê dat hy ’n “ongedoopte” hart, ore, lippe gehad het. Die ooreenkoms met Israel en die besnydenis is so

duidelik dat dit nie intensief beredeneer hoef te word nie.

Maar alhoewel daar dus ’n opvallende ooreenkoms is tussen die besnydenis en die doop, is dit net so waar dat die betekenis van die doop baie ryker is as dié van die besnydenis.

♦   Eerstens is die heilservaring waaraan God ons deur die doop deel gee, baie ryker uitgewerk in die Nuwe Testament. Heelwat van die Nuwe Testament se heilsbegrippe kom nog nie in die Ou Testament voor nie, soos die wedergeboorte. Maar in beginsel gaan dit in beide Testamente oor die verhouding met God en die nuwe lewe.

♦   Verder kon sekere van die doop se betekenisse eers ná die dood en opstanding van Jesus na vore kom. Ons het dit al vroeër gesien toe ons gekyk het na die verskille tussen die doop van Johannes en die Christelike doop. Johannes se doop kon mense nog nie met Christus se dood en opstanding verenig nie. Dit geld net so vir die besnydenis. Maar ons moet terselfdertyd onthou dit alles is net ’n verryking en verfyning van die heil, terwyl dit nog altyd om dieselfde saak gaan: ’n nuwe lewe van liefde en gehoorsaamheid aan God.

♦   Die doop gaan nie net terug op die besnydenis as inlywing in die verbond nie, maar miskien nog sterker op die Groot Versoendag (Lev 16) waar die jaarlikse offer vir die sonde gebring is, en ook op die algemene offerdiens (Heb). Daarom het die vroegste verwysings na die doop met sondevergifnis en reiniging verband (Hand 3:38; 22:16). As ons kyk na die ontwikkeling in die Nuwe Testament, is dit dus waarskynlik dat die doop aanvanklik eerder by die offers van die Ou Testament aangesluit het, en later eers die inlywende betekenis van die besnydenis gekry het. Alles was nie in die tyd van die Nuwe Testament van die begin af duidelik nie. Die doop is aan die begin baie sterker betrek op vergifnis van sonde, terwyl die inlywing in die verbond eers later kom (Gal 3:29). Die Joodse gelowiges het nog taamlik lank die besnydenis beoefen (Hand 21:21) wat beteken dat hulle nog nie behoefte gehad het aan die doop as inlywing in die verbond nie.

♦   Die belangrikste verskil is egter waarskynlik dat God ons baie duideliker deur die doop as deur die besnydenis in staat stel om die nuwe lewe te lei. Die besnydenis was in ’n sin net ’n appèl om aan die Here gehoorsaam te wees, terwyl die doop ’n appèl én ’n bemagtiging is. Deur die doop lyf Hy ons nie net in die Abrahamverbond in nie, maar verenig Hy ons met Christus sodat ons ’n aandeel kry in sy opstandingslewe. Juis dit stel ons natuurlik op ’n buitengewone manier in staat om die nuwe lewe te lei. Ons hoef net aan sy lewe deel te neem. Miskien kry ons alreeds by die profete iets hiervan. Hulle het in die toekoms gesien dat God Israel op ’n nuwe manier in staat gaan stel om aan Hom gehoorsaam te wees. Esegiël skryf van ’n nuwe hart en ’n nuwe gees wat ’n gawe van God gaan wees,  iets wat nog nie regtig by die besnydenis ter sprake was nie (Eseg 36:24-27). Ook Jeremia praat daarvan dat God sy woord op Israel se harte sal skryf (31:33).

In die lig van hierdie bespreking is dit dus nie verantwoord om die besnydenis selfs ’n vleeslike, nasionale te ken te noem dat iemand ’n Jood was nie. Dis verre daar vandaan! Die besnydenis het van die begin af ’n sterk geestelike betekenis gehad sodat die volk aanhoudend vermaan kon

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 


 

Skrywer: Prof Adrio König

Leef uit jou Doop: 3.5 Die verband tussen die woord en die doop

Leef uit jou Doop: 3.5 Die verband tussen die woord en die doop -Adrio König

3.5 Die verband tussen die woord en die doop

Die doop het ook ’n verband met die woord, met die evangelie. Ons lees Christus het die kerk deur die water(bad) en die woord gereinig (Ef 5:26).

Ook elders lees ons van die reddende krag van die woord (die evangelie). Jesus sê vir die dissipels: “Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het” (Joh 15:3). Mense kom ook tot geloof deur die woorde van die dissipels (Joh 17:20). Ons lees ook dat die woord van God lewend en kragtig is, skerper as enige swaard met twee snykante, en dat daar uit die mond van die verheerlikte Christus ’n skerp swaard met twee snykante kom (Heb 4:12; Op 1:16). Dit alles sien op die krag van die evangelie, en dit is hierdie evangelie wat direk in verband met die doop staan, een van die ander heilsmiddels in God se hand.


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König




Leef uit jou Doop: 3.4 Die gelyktydigheid van doop en geloof

3.4 Die gelyktydigheid van doop en geloof

Daar is ’n opvallende gebruik in verband met die doop in die Nuwe Testament. Ons het reeds ’n paar keer daarna gekyk. Mense is gou gedoop, eintlik dadelik nadat hulle tot geloof gekom het. Dit is net nog ’n getuienis van die noue verband tussen doop en geloof.

Kom ons lys die voorbeelde van doop in Handelinge. Een na die ander toon hierdie voorbeelde dat daar dadelik gedoop is, dat daar geen betekenisvolle tydsverloop was tussen geloof (bekering) en die doop nie.

♦ Wanneer Petrus op die Pinksterfees die evangelie verkondig en mense word geraak, word dié wat sy woorde aangeneem het, dadelik gedoop (Hand 2:41).

♦ Die ontmande Etiopiër kom tot geloof wanneer Filippus die evangelie vir hom bring, en by die eerste stroompie word hy gedoop (Hand 8:36).

♦ Saulus sien die lig op die pad na Damaskus. Hy word blind en na Damaskus gelei. Die Here stuur Ananias na hom, en as dit duidelik is dat hy glo, doop Ananias hom dadelik, selfs nog voor hy weer eet (Hand 9:18).

♦ Petrus gaan verkondig die evangelie aan Kornelius en sy mense, en dadelik nadat hulle die Gees ontvang het, is hulle gedoop (Hand 10:44-48).

♦ Die bekering van die tronkbewaarder gebeur onder dramatiese omstandighede (Hand 16:25-34). Daar is ’n aardbewing in die tronk teen middernag, die bewaarder skrik hom byna dood, Paulus roep hom op om te glo, Paulus preek vir hom en sy huismense, dis duidelik dat die man glo, en dadelik word hy gedoop – middernag! (Hand 16:33)

Hoe moet ons dit verstaan? Ons ken dit nie. Wanneer is hierdie mense onderrig? Wat het die tronkbewaarder van die evangelie geweet? Was Paulus nie oorhaastig om hom te doop nie? Die man skrik hom byna dood vir die chaos van die aardbewing, besef sy lewe hang aan ’n draadjie, gryp in wanhoop na die “redding” wat Paulus aanbied, al het hy waarskynlik nie eens goed geweet wat dit beteken nie. Let op die aardbewing was om middernag, en “op daardie uur” is hy en sy mense gedoop (16:25, 33).

Twee sake. Eerstens, wat van die onderrig? Wanneer kom dit? Dit was duidelik bedoel om daarna te kom, gedurende die res van die gedoopte se lewe as lid van ’n gemeente. Wie glo, word dadelik gedoop, word daardeur in die geloofsgemeenskap opgeneem om op ’n deurgaande basis lewenslank onderrig te word. Dit is tog presies wat ons in Jesus se doopbevel kry: Maak dissipels, doop hulle, en leer hulle (Matt 28:19-20). Dus: éérs doop, en agterna leer. Dit klop met die interessante feit dat daar geen dooponderrig in Handelinge gegee word waar die dope plaasvind nie, maar eers later, in die Briewe aan gemeentes. Dáár het die mense gesit wat klaar gedoop is. Hulle word onderrig oor die betekenis van die doop (Rom 6; Kol 2-4). In Handelinge word mense gedoop, en in die Briewe word gedooptes dan agterna geleer wat die doop beteken.

Tweedens, waarom was die apostels so haastig met die doop? Waarom dadelik doop? Geen groep waarvan ek weet, doen dit vandag nog nie. Inteendeel, baie kerke is juis ingestel op nog meer en deegliker onderrig. Soms eis groepe dat dit nie net eers duidelik moet wees dat iemand die evangelie verstaan nie, maar ook dat hy/sy gaan volhard, dat Christenwees hulle erns is. Immers, as so ’n persoon later weer terugval, is dit net tot oneer van die evangelie. In omtrent al die sendingsituasies verloop daar selfs jare tussen die bekering (tot geloof kom) en die doop. Maar van al hierdie “gesonde”, “sterk” argumente is daar niks in Handelinge nie. Trouens hierdie gebruik van “eers deeglik onderrig”, staan nie net teenoor die praktyk in Handelinge nie, maar ook direk teenoor die volgorde in Jesus se doopbevel: “Maak dissipels, doop hulle, leer hulle.” Ons het dit verander in: “Leer hulle, doop hulle.” In die Nuwe Testament geld: As jy glo, bring die water. Dit word nêrens verduidelik nie, maar moet ons dit nie miskien verstaan in die lig daarvan dat geloof en doop dieselfde waarde het nie? God doen dieselfde deur die doop en die geloof. Ons het reeds in die tabel gekyk na die merkwaardige ooreenkoms in die betekenisse van die geloof en die doop. God gee ons deur beide doop en geloof deel aan die volle heil. Deur die doop skenk Hy dit, en deur die geloof neem ons dit aan.

Beteken dit nie as iemand tot geloof kom, moet hy/sy eintlik dadelik gedoop word nie, omdat doop en geloof die selfde betekenisse het, omdat dit in beide geloof en doop om die opname in die heilsgemeenskap gaan, om die persoonlike deelkry aan die heil, om vergifnis, reiniging, regverdiging, redding, vereniging met Christus? God bewerk dit alles deur die geloof en die doop wat eintlik ’n

eenheid vorm. Dit beteken God bewerk dit alles deur die doop vir dié wat glo.

Uit dit alles kan ons seker aflei dat doop en geloof langs mekaar staan as twee instrumente in God se hand waardeur Hy die heil aan ons gee, die heil wat Christus deur sy sterwe en opstanding verdien het.

 

En die uitgestelde doop?

Dit bring interessante vrae na vore oor ’n doop wat eers bedien word lank nadat die persoon tot geloof gekom het, die normale manier hoe daar vandag gedoop word. Sou dit beteken dat hierdie doop dan nie meer sy Nuwe-Testamentiese betekenis kan hê nie? God het dan alreeds lank tevore die persoon deur die geloof gered, geregverdig, vergewe, gereinig, en nou kom die doop agterna. Sou die uitgestelde doop dan net iets soos ’n doopviering word? Wat God deur die doop wil doen, is dus klaar teenwoordig in die persoon se lewe. Is dit dan ook die enigste betekenis wat die sogenaamde “oordoop” kan hê omdat dit bedien word aan mense wat al lank die Here ken, maar later eers tot nuwe doop-oortuigings kom?


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König




Leef uit jou Doop: 3.3 Die verband tussen die doop en geloof

3.3 Die verband tussen die doop en geloof

Dis merkwaardig in watter noue verband die doop en die geloof werk. Kom ons kyk in meer besonderhede daarna. Omtrent alles wat aan die doop toegeskryf word, word ook aan die geloof toegeskryf.

Heilswerk Deur die doop Deur die geloof

  • Vereniging met  Christus Gal 3:27 Ef 3:27
  • Vereniging met sy dood en opstanding Rom 6:1 ev Gal 2:19-20
  • Regverdiging 1 Kor 6:11 ev Kol 2:12; Rom 8:12-13
  • Vergifnis van sonde Hand 2:38 1 Joh 1:9
  • Reiniging van sonde Hand 22:16 1 Joh 1:9
  • Weergeboorte en die nuwe lewe Tit 3:5; Joh 3:5 Joh 3:14, 16; 20:31
  • Die verskillende verbande waarin die doop voorkom
  • Redding 1 Pet 3:21 Rom 1:16; Ef 2:8

Eenvoudig omtrent al die heilsbegrippe kom in hierdie lys voor. Dit beteken dat God die volle heil wat Christus vir ons verdien het, deur die geloof en die doop aan ons gee. Is dit vreemd dat die doop en die geloof selde saam genoem word? Of is daar eenvoudig ’n versweë aanname agter hierdie uitsprake sodat die doop veronderstel word as daar na die geloof verwys word, en andersom? Die enkele kere waar hulle wel saam genoem word, bevestig dit. Kolossense 2:12 is een van die min voorbeelde: “Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Christus begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.”

So ’n uitspraak gee ons die vrymoedigheid om te aanvaar dat Paulus inderdaad in ’n gedeelte soos Romeine 6, waar hy net die doop noem, inderdaad ook die geloof daar by bedoel. En ander uitsprake waar dit weer net oor die geloof gaan, veronderstel dan weer die doop. In Galasiërs 2:19-20 skryf Paulus dat hy saam met Christus gekruisig is, en dat Christus nou in hom leef. Maar hy noem net die geloof (v 20). Maar dis dieselfde as wat hy van die doop skryf in Romeine 6. Ons kan dus aanvaar dat hy ook in Galasiërs die doop bybedoel. En dit geld ook vir ons deelname aan Christus se opstanding deur die geloof (Ef 2:4-8).

Die ou mense sal verstaan as ’n mens skryf die doop en die geloof is soos twee karperde wat saam die kar trek.

“Samewerking” tussen God en mens?

Dit is ’n vraag of ons uit die noue verband tussen doop en geloof ook die volgende kan afl ei. Ons het gesien dat dit in die doop om God se werk gaan. Ons weet dat dit in die geloof om ons antwoord aan Hom gaan. Sou dit dus beteken dat die noue verband tussen doop (God se werk) en geloof (ons antwoord aan Hom) beteken dat dit gaan om die “samewerking” tussen God en ons, om die feit dat

God in ons lewe inkom (die doop), en ons daarop moet antwoord (die geloof)?

Die vraag is maar net wat ons onder “samewerking” ver staan. Want eintlik is ons geloof glad nie ons bydrae nie. Ons het trouens geen bydrae nie. God doen alles. Hy het deur Jesus volkome voorsiening vir ons redding gemaak. Deur die doop skenk Hy ons die redding. Ons geloof is ons “dankie” vir wat Hy gedoen het, nie ons bydrae wat sy werk moet aanvul nie.

“Samewerking” kan dus nie ’n 50/50-verhouding wees of ’n 90/10-verhouding nie. Dit is nie eens ’n 99/1-verhouding nie. Ons praat graag van ons geloof as “leë” geloof. Dit beteken daar is geen bydrae van ons kant in nie. Dis net ’n “dankie” omdat Hy alles gedoen het. Ons geloof is immers niks anders nie as ons antwoord op God se voltooide heilswerk in Christus. Wanneer ons in Christus se verlossing glo, glo ons in ’n volkome, volmaakte verlossing. As ons daarin glo, is dit juis omdat ons niks van ons kant het om by te dra nie.

Maar intussen moet ons nie té bang wees vir die woord “samewerking” nie, al sit ons dit doelbewus in aanhalingstekens. As ons dit reg verstaan, is dit ’n gepaste woord vir die verbondsverhouding tussen God en ons. Immers ’n verbond het twee kante. As ons nooit reageer (dan kie sê) op die genade van God nie, is ons verlore. God gee ons in die doop die redding, die volle heil, maar as ons

dit nie aanvaar nie, is ons verlore. Ons dankie is dus nie ons bydrae nie, dis ons erkenning dat ons niks het nie, dat al les van Hom af kom. Miskien moet ons van “ongelyke samewerking” praat. Genesis 17 is ’n goeie voorbeeld.

♦ Die inisiatief kom van God se kant af. God kom na Abraham, Abraham gaan smeek nie by God om na hom te kom nie.

♦ God kondig die verbond eensydig aan. Dis nie ’n onderhandeling tussen Hom en Abraham nie.

♦ God kondig selfs al die besonderhede alleen aan, en dit terwyl Abraham op sy knieë val.

♦ Vir 16 verse lank is dit net God wat praat, en van Abraham lees ons net die een sinnetjie: “Abram het op sy knieë geval.”

Dis hoe die “samewerking” tussen God en mens werk. Eintlik kom alles van God se kant. Maar Abraham moes wel op sy knieë val. Dit is seker bedoel as die aanduiding dat hy aanvaar het wat God eensydig afkondig. Dit is geloof.


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König