Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (3)

. —Thomas Brooks

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (3)

In die vorige blog het ons gekyk na hoekom die Ou Testamentiese wette daar is. Ons gaan nou verder met ‘n volgende vraag: Die Ou Testamentiese wet: Wat kry ons daarin? 

Elke samelewing volg verskillende tipes wette – grondwetlik, krimineel, siviel, ens. Dit geld ook vir Israel in die Ou Testament. Daar is ‘n ou tradisie wat die Ou Testamentiese wette in  drie kategorieë verdeel: moreel, siviel en seremonieel. Nou sê mense dat hulle net die morele wet hoef te gehoorsaam – die ander kan hulle maar ignoreer.

Maar Paulus sê: Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16). Pas dit in?

Die antieke Israeliete het ten minste die volgende soort wette gehad:

  • Kriminele wette. Hierdie is oortredings teen die basis van die samelewing self – en dus ook teen God en die verbond. Vir meeste van hulle word die doodstraf voorgeskryf. Dit wys net Israel was ernstig oor enige gedrag wat die volk se verhouding met God bedreig het. Hierdie oortredings word direk of indirek aan die tien gebooie verbind.
  • Siviele wette. Dit sluit in dispute tussen burgers oor land, besittings, skade, diere, ens.
  • Familiewette. Ouers, eerder as die howe, het hierdie sake hanteer. Dit gaan oor erflating, huwelike en egskeiding. Slegs as iets buite die vermoë van die ouers om dit te hanteer, gegaan het, het die oudstes dit hanteer.
  • Godsdienstige en kultiese wette. Al die regulasies oor offers, die priesteramp, die feeste, reinheid en onreinheid, ens val in hierdie kategorie.
  • Deerniswette. Hulle is nie werklik wette nie, maar ons kry baie hiervan in die tora – hoe om armes en behoeftiges, die haweloses, diegene sonder familie en eiendom, skuldenaars, etniese minderhede en vreemdelinge te hanteer.

Enersyds was al hierdie wette bedoel vir Israel se samelewing en nie direk vir ons nie – hulle is kultuurspesifiek en beperk. Maar aan die ander kant sê Paulus  dat al die wette vir ons onderrig geskryf is en daarom nuttig vir ons is. Daarom moet ons nie vra: “Watter wette moet ek gehoorsaam en watter wette kan ek maar ignoreer?” nie. Die vraag wat ons eintlik moet vra, is: “Wat kan ek uit al hierdie wette leer van hoe God wil hê dat ek moet leef en hoe Hy wil hê sy mense en die samelewing moet leef?” Nie: “Watter reëls moet ek nakom?”nie, maar eerder: “Watter soort verhouding moet ek met God ontwikkel en moet ek uitleef onder ander mense?”

Dit gee onmiddellik aanleiding tot ons volgende vraag: Maar hoekom onderhou ons nie al die wette nie?




Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (2)

. —John Flavel

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (2)

In die vorige blog het ons na sekere misverstande oor die Bybel gepraat. Vandag kyk ons na die vraag:  Ou Testamentiese wette: Hoekom is hulle daar?

Wat ons Ou Testamentiese wette noem, beteken gewoonlik dat hulle uit die eerste vyf boeke van die Bybel kom – die tora.  Die woord tora beteken nie werklik wet nie, maar onderrig of leiding – die tora lei sy oorspronklike ontvangers. Dit lei ook vir ons, want dit plaas die wette en opdragte in die raamwerk van ‘n verhaal.

 

Voor ons by die tien gebooie kom, kry ons die verhaal van die skepping, die mens se gebrokenheid as gevolg van sonde en opstand, en die wonder van God se verlossing – die uittog uit Egipte. Die tien gebooie is gegee aan mense wat die verhaal geken het, wat die God wat agter die verhaal staan, geken het, maar wat dit ook ondervind het. God gee sy wet aan mense wat reeds sy genade, liefde en trou en sy groot verlossingsdaad ondervind het. Om die wet te gehoorsaam was nooit ‘n manier om God se verlossing te verdien nie – dit was die regte manier vir verloste mense om te reageer op God se verlossing wat hulle ondervind het.

God het aan Israel sy wet gegee om hulle in ‘n samelewing te vorm wat sy karakter en waardes te midde van al die ander nasies sou weerspieël. Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het (Deuteronomium 4:6). Mense moes die Israeliete kon onderskei,  omdat hulle God se weg geloop het – persoonlike integriteit, ekonomiese en sosiale geregtigheid en deernis vir die samelewing. Die wet was nie ‘n stel willekeurige reëls om God gelukkig te hou nie – dit was ‘n lewenswyse, ‘n kultuur in ‘n besondere tyd en plek, om te wys hoe verloste mense van God lewe.

Om “Bybels te leef” deur te probeer om soveel as moontlik antieke reëls na te kom net omdat hulle in die Bybel is, beteken dat ons die doel van die wet nie verstaan nie. Die Ou Testamentiese wette was nie net ‘n klomp reëls nie, maar gaan ook oor ‘n verhouding met God gefundeer op God se genade en verlossing en gemotiveer deur die opdrag om soos kinders van God in hierdie wêreld te leef sodat die mense die lewende God kan leer ken.

As dit dan so is: Wat kry ons in hierdie Ou Testamentiese wette? Daarna kyk ons volgende keer.




Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (1)

Preaching the gospel is to us a matter of life and death; we throw our whole soul into it. We live and are happy if you believe in Jesus and are saved. But we are almost ready to die if you refuse the gospel of Christ.”- C.H. Spurgeon, 

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (1)

In 2007  skryf A. J. Jacobs ‘n topverkoper: The Year of Living Biblically: One Man’s Humble Quest to Follow the Bible as Literally as Possible. Gedurende die jaar probeer hy die meer as 700 opdragte wat hy in die Bybel kry, nakom. Om die Bybel letterlik te verstaan, beteken nie noodwendig dat jy dit ernstig opneem nie. Rachel Held Evans volg vir ‘n jaar lank al die Bybelse opdragte wat vrouens raak. Daarna publiseer sy ‘n boek: A Year of Biblical Womanhood.  Sy kom tot die gevolgtrekking dat niemand die Bybel letterlik kan verstaan nie – dit is onmoontlik en dwaas om dit te probeer doen.

 

Volgens Christopher J. H. Wright onderstreep hierdie twee boeke sekere van die misverstande oor die Bybel. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie misverstande:

  • Hoe het die Skrif na ons gekom? Die Skrif moet in die konteks van die kultuur van die antieke Midde-Ooste geplaas word – al die besonderhede wat ons van geskiedenis en geografie lees. God was ernstig toe Hy met ons deur die verskillende persone wat in daardie kultuur geleef het, gepraat het. Om die Skrif te hanteer asof dit direk vir vandag geskryf is, beteken dat God self gedink het die wêreld sou nooit verander nie en dat ons maar net kon voortgaan om die reëls te gehoorsaam.  Dit is tog onsinnig.
  • Hoe wette in die samelewing funksioneer – toe en nou.  Soms word wette in algemene beginsels uitgedruk; soms is hulle gevalle of voorbeelde waaruit mense beginsels neerlê wat in verskillende omstandighede toegepas kan word. Soms weerspieël wette die kultuur se manier van dink oor die lewe. Die Ou Testamentiese wette is soos al hierdie. Dit wys vir ons hoe God wou gehad het dat ons sekere situasies moes hanteer. Dit beliggaam waardes en doelwitte met die veronderstelling dat mense sou verstaan hoe om uit ‘n besondere geval ‘n algemene beginsel af te lei en dit op nuwe omstandighede toe te pas. Om dus alle wette van die Ou Testament letterlik toe te pas, beteken dat ons hulle oorspronklike bedoeling misverstaan.
  • Hoe opdragte funksioneer in verhoudings en kommunikasie. As iemand in die straat skreeu: “Staan stil. Steek jou hande in die lug,” is daar twee dinge wat ek moet weet.  Wie skreeu daar?  Is dit ‘n polisieman  – iemand wie se opdrag ek moet gehoorsaam? En: “Praat hy met my?” Onwaarskynlik. Hy praat waarskynlik met ‘n dief wat besig is om weg te hardloop. Die opdrag het gesag, maar dit is nie op daardie oomblik aan my gerig nie. Dit verdien my respek, maar ek hoef nie daaraan te voldoen nie.

As Paulus vir Timoteus sê dat hy al sy kragte moet inspan om die ewige lewe as prys te behaal, is dit ‘n opdrag wat ek moet probeer gehoorsaam – dit dra vir my ‘n beginsel oor. Maar as hy vir Timoteus sê om sy perkamentrolle te bring, weet ons dit is ‘n opdrag net vir Timoteus. Die idee dat alle opdragte in die Bybel letterlik – asof hulle op my van toepassing is – opgeneem moet word, is ‘n onsinnige manier om die Bybel te hanteer.

Die vraag is nou: Maar hoekom is die Ou Testamentiese wette daar?