Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die bose huurders (Luk 20:9-19) – Francois Malan

20:20 Markus 12:13 en Matteus 22:15-16 begin met ’n sameswering tussen die Fariseërs en die Herodiane. Die Fariseërs was die godsdienstige leiers wat vyandig teen die Romeinse oorheersing was, maar dit verdra het; anders as die Selote wat daarteen baklei het. Die Herodiane was die politieke ondersteuners van die huis van Herodus wat Jesus vir wou doodmaak (Luk 13:31). Die twee groepe, die godsdiens- en politieke leiers, wat teen mekaar gestaan het, span saam om vir Jesus ’n strik te span om Hom op ’n woord uit te vang. Lukas noem nie name nie, maar sê bloot, ‘hulle’ het sake fyn dopgehou (paratêreō dieselfde woord wat Jesus in 17:20 gebruik, dat die koninkryk van God nie met waarneembare tekens kom nie). Hulle het spioene, wat voorgee dat hulle opreg is, uitgestuur om Jesus met ’n uitspraak te probeer vastrek. ‘Hulle’ verwys na die skrifkenners en die leierpriesters wat vir Jesus wou dood hê oor sy toepassing van die Skrif op hulle (20:19). Lukas gee hulle doel aan met die strik, wat hulle vir Hom wil span: om Hom oor te gee aan die heerskappy en gesag van die huidige prokurator, Pontius Pilatus, wat die verteenwoordiger was van die Romeinse keiser Tiberius in die provinsies wat aan die keiser self behoort, Judea en Samaria. Dit was daarom slegs die Romeinse regeerder wat Hom tot die dood kon veroordeel (Joh 18:31).

 20:21 Die oordrewe gevlei vooraf het die doel van hulle vraag verydel deur aan Jesus hulle valsheid te verraai. Hulle gee voor dat hulle ’n gewetensaak het waaroor hulle leiers nie uitsluitsel kan gee nie, en kom daarmee na Jesus toe. Wat hulle van Jesus sê is alles waar: ‘Ons weet dat wat U sê en onderrig reg is’ – terwyl hulle glad nie met Hom saamstem oor wat Hy sê en onderrig nie; ‘sonder voortrekkery,’ letterlik: u aanvaar nie ’n gesig nie – ’n spreekwoord vir partydigheid, voortrekkery; ‘maar verkondig die woord van God in waarheid – ’n spreekwoord vir ‘waarlik.’ Hulle het juis nie geglo dat Jesus waarlik God se woord verkondig nie. Hierdie manne sê die beste dinge oor Jesus, maar met die slegste motief.

 20:22 Wat sê God se woord oor ons belasting aan die keiser? U is mos vir geen mens bang nie, en sal vir ons die regte antwoord gee. ‘Behoort ons aan die keiser skatplig-belasting (foron) te betaal of nie?’ Die jaarlikse belasting wat die keiser oplê, foron, is die betaling deur ’n onderhorige volk aan hulle oorheerser as simbool van hulle onderworpenheid en afhanklikheid. Niemand hou daarvan nie. Met dié vraag wil die spioene vir Jesus in die moeilikheid bring, òf by die Romeinse keiser wat die belasting wil hê, òf by die Jode wat dit nie wil hê nie. Met die vraag wil hulle die volk se ondersteuning van Jesus ondermyn, of die Romeine teen Hom laat optree. 

 20:23 Jesus sien deur hulle listigheid, panourgia ’n skelmstreek wat ’n bose geslepenheid impliseer; soos van die slang wat vir Adam en Eva met listigheid verlei het (2 Kor 11:3 gebruik dieselfde woord).

 20:24 Jesus het geen geld by Hom nie, en vra hulle om vir Hom ’n denarius te wys. Daarmee word hulle oneerlikheid blootgestel. Hulle, soos die meeste Jode, dra die Romeinse geldstuk in hulle sakke rond. Dit was ’n silwermuntstuk met die kaal bolyf en kop van keiser Tiberius met ‘n lourierkrans op sy kop, soos van ’n godheid. Die onderskrif in Latyn het gelui: Tiberius, Keiser, Augustus, seun van die goddelike Augustus (augustus ‘geseënde, geheiligde, verhewene, wat verering waardig is). Agterop staan: Owerste Priester, en die afbeelding is van sy moeder met ’n septer en ’n olyftakkie. Sy is die aardse verteenwoordiger van die vredesgodin. Die silwermuntstuk is ’n simbool van mag en van die kultus.

 Op Jesus se vraag wie op die denarius afgebeeld word en wie se inskripsie daarop staan, antwoord hulle self ‘Die keiser s’n.’  Hulle loop rond met die keiser se kop op hulle geldstukke waarmee hulle alles koop en verkoop, behalwe die tempelbelasting wat met silwer sikkels betaal is (Lev 5:15; vgl. die geldwisselaars wat pelgrims se Romeinse geld vir tempelgeld wissel vir die jaarlikse tempelbelasting en vir offerandes; Matt 21:12). Aangesien hulle die denarius met sy simboliek aangeneem het en gebruik, het hulle geen teologiese of etiese grond meer om die skatplig-belasting te weier nie.

 20:25 Jesus se teenstanders het hulle eie vraag nie ernstig opgeneem nie, maar net as ’n strikvraag beskou. Maar Jesus neem dit baie ernstig op, laat hulle self daarop antwoord, nadat Hy die vraag op hulle daaglikse lewe betrek het en hulle laat nadink het. Hy gee self ook ’n antwoord wat deur die eeue die beginsel is van al die besprekings oor die probleem van sy kerk en die staat (vgl. Rom 13:1-7 alle gesag is deur God ingestel; 1 Petr 2:13-17): Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom (apodidōmi om te betaal, met die implikasie dat so’n betaling gemaak word as ’n verpligting vir wat jy ontvang het). Aan ‘n aardse heerser word voorwaardelik gehoor gegee omdat die aardse regering deur God ingestel is vir wet en orde in die samelewing. Die voorwaarde is dat die regeerder binne die opdrag van God en die perke wat God stel, sal optree. Jesus se opdrag is ook: gee aan die keiser wat hom toekom, want ook hy word deur die Here aangestel (vgl. 1 Sam 8:9 waar die Here ook die reg van die koning legitimeer). Die koning mag egter nie absolute gehoorsaamheid van sy onderdane vereis soos ’n outokraat nie. Slegs God moet absoluut gehoorsaam word. Die denarius dra die beeld van die keiser, maar die mens is beelddraer van God. Die keiser mag belasting oplê vir die dienste wat hy lewer, maar die mens is verplig om homself geheel en al aan God toe te wy. Alleen God mag/moet aanbid word. Jesus leer hulle dat Israel hulle heeltemal aan God moet toewy selfs al is hulle lojale onderdane van ’n heidense regering, wat ook deur die Here aangestel is vir hulle taak (vgl. Joh 19:11). 

 20:26 Die spioene kon Hom nie voor die volk uitvang nie, maar is self uitgevang as mense wat die voordele van die keiserryk gebruik, maar vraagtekens het oor die belasting wat hulle aan die keiser moet betaal. Maar die eerlikheid teenoor mense, soos deur die Here vereis (jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie, Eks 20:16), het nie hulle slinkse optrede gekenmerk nie. In verbasing oor Jesus se antwoord het hulle swyend teruggegaan. Later sou die menigte, ten spyte van Jesus se antwoord op hulle strikvraag, Hom valslik voor Pilatus aankla dat Hy die volk weerhou om belasting aan die keiser te betaal (Luk 23:2). 




Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die bose huurders (Luk 20:9-19) – Francois Malan

Op bedekte wyse antwoord Jesus met dié gelykenis op die leiers se vraag na sy gesag. Dit gaan oor Israel se weiering deur die eeue om hulle te bekeer, en hulle vervolging van die profete wat hulle tot bekering opgeroep het. Die gelykenis sluit aan by die Here se klag oor sy wingerd in Jesaja 5:1-7. Die gelykenis word afgesluit met ’n aanhaling uit Ps 118:22 en die toepassing daarvan in vers 18 lyk na Daniël 2:35,45 se klip. Met die verwerping van die Seun van God het hulle hulle eie verwerping bewerk. Lukas maak gebruik van en verkort Markus 12:1-12.

 20:9 In Israel wat deur die Romeine beset was, was daar baie groot plase wat deur buitelanders besit is en wat huurders aangestel het om vir hulle te boer. Soos in Jesaja 5:1-7, Jer 12:10 en Ps 80:9-12 is die wingerd ’n beeld van die volk van God. So het God sy volk versorg deur priesters en konings, en in Jesus se tyd was dit juis die leiers van die volk wat die wingerd van God moes bewerk en bewaar. Lukas laat Markus se beskrywing van die deeglike voorbereiding van die wingerd uit.

 20:10-12 Lukas beperk Markus se baie slawe wat gestuur is tot drie, met ’n styging in die mishandeling deur die boere wat die grond huur. Die eerste slaaf word, voordat hy met leë hande teruggestuur word, eers afgeransel, die tweede word afgeransel en verneder, die derde word erg verwond en uit die wingerd uitgegooi. Die slawe wat deur die eienaar gestuur word is ’n beeld van die profete wat die Here deur die eeue na Israel toe gestuur het om hulle te waarsku om na die Here terug te kom en vrug te dra deur hulle gehoorsaamheid en diens aan die Here. En telkens is die profete se bekeringsboodskap verwerp en die profete mishandel, soos bv. Jeremia wat deur die priester Pahur geslaan en in die blok gesit is (Jer 20:2), deur die priesters en valse profete tot die dood veroordeel is (Jer 26:8), en deur die vorste in die modderput gegooi is (Jer 38:6). Die profeet Uria is deur koning Jojakim met die swaard doodgemaak (Jer 26:21-23); Sagaria is op bevel van koning Joas met klippe doodgegooi (2 Kron 24:19-22). Dit alles wys na die geduld wat God met Israel en hulle verwerping van die Here (Jahweh, die Ek is, die teenwoordige barmhartige God) as hulle God gehad het.

 20:13 Die lankmoedige eienaar van die wingerd vra (homself af) wat hy moet doen. Anders as Matteus en Markus noem Lukas die man wat die wingerd geplant het hier ho kurios (die woord word gebruik vir ‘n eienaar, maar ook vir die Here), en dat Hy (Homself) afvra. Dit kan dui op ’n besluit wat die Vader en die Seun en die Heilige Gees saam neem (vgl. die Hebreeuse woord sōd vir raadskamer, geheime besluit in Jer 23:18; Job 15:8: die raadskamer van die Here; Amos 3:7: die Here se geheime besluit; Joh 8:29,42; 14:10,11; 17:21). Die besluit lui: ‘Ek sal my geliefde Seun stuur…’  – in die direkte rede, anders as Matteus en Markus se indirekte rede en Matteus wat slegs van ‘my Seun’ praat. Vir ‘my geliefde Seun’ vgl. Luk 3:22; 9:35; Jes 42:1). ‘Moontlik’(isōs, ’n gebeure met ’n hoë graad van waarskynlikheid; anders as die Afr.vertalings se ‘miskien’); Matteus 21:37 en Markus 12:6 stel dit as ’n sekere verwagting, ‘hy het gesê’); hier: ‘moontlik sal hulle Hom respekteer’ (entrepomai met respek behandel op grond van sy hoë status).

 Hiermee het Jesus aangedui dat Hy met die gesag van sy Vader gekom het; dat Hy anders is as die profete en Johannes die Doper. Hulle het wel as gestuurdes met God se gesag gekom, maar Jesus is uniek. Hy is God se geliefde Seun. Die heel laaste wat God na Israel toe stuur, en die laaste vir die hele wêreld. Ná Hom is daar geen nuwe of hoër openbarings van God nie (vgl. Joh.14:10-11). So antwoord Jesus eintlik op die leiers se vraag waar sy gesag vandaan kom (Luk 20:1-2). Hy is God se geliefde Seun! Die volk en veral hulle leiers het nou hulle laaste geleentheid om God se Eienaarskap van die ganse wêreld te erken. Jesus is die koning in God se koninkryk en sy koningsheerskappy strek oor die hele wêreld, oor elke mens, soos Hy reeds aan die Fariseërs verduidelik het (Luk 17:20-21: die koninkryk van God is in julle midde).

 20:14 Die boere reken die wingerd sal hulle eiendom word as die seun doodgemaak word. Die Palestynse erfreg van ’n nie-Jood wat sterf sonder ’n erfgenaam, laat die huurders gewoonlik eerste aanspraak maak op die besit van die grond wat hulle reeds beset het. So reken die Joodse leiers dat as Jesus uit die weg geruim is, sal hulle wetsweg tot saligheid ongestoord voortgaan.

 20:15 Anders as Markus 12:8 waar hulle die seun in die wingerd doodgemaak en sy liggaam buite gegooi het (vir die wilde diere), sê Matteus 21:39, soos Lukas, dat hulle die seun uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak het. Hebreërs 13:12 sê Jesus het buite die stadspoorte gely, soos die karkasse van die offerdiere buite die laer verbrand is, nadat die hoëpriester die bloed die heiligdom ingedra het. Hebr 13:13-14 sê: ‘sodat Hy die volk deur sy eie bloed kon heilig. Laat ons dan uitgaan na Hom buite die laer en sy smaad dra.’ Hiermee spel Jesus nog ’n maal uit dat Hy na Jerusalem gekom het om doodgemaak te word (vgl. Luk 9:22,44; 18:33).

 20:16 Markus en Lukas lê die oordeel oor die boere in Jesus se mond (Matteus beskryf dit as die reaksie van die mense op Jesus se vraag wat die eienaar aan die moordenaars sal doen). ‘Hy sal kom en die boere vernietig (apollumi) en die wingerd aan ander gee’ (Matteus voeg by: wat aan hom die vrugte op hulle tyd sal gee). So word Israel en veral sy leiers deur God verwerp, en behoort die nuwe Israel aan mense wat glo Jesus is God se geliefde Seun wat die sonde van die wêreld kom wegneem het, juis deur sy dood.  Dié wat dit gehoor het sê: ‘Mag dit nooit gebeur nie.’ Die reaksie kom slegs in Lukas voor. Uit die reaksie is dit duidelik dat die hoorders die betekenis van die gelykenis begryp het, dat die oordeel die hele volk gaan tref. Vir Jesus se teenstanders was dit ondenkbaar dat die voorregte van God se uitverkore volk aan heidene gegee kon word (in Matt 21:43 word die heidene pertinent genoem).

 In 70 n.C. word die tempel en die stad Jerusalem verwoes; die Sadduseërs met die priesterskap en die Selote opstandelinge teen Rome verdwyn van die toneel. ’n Paar oorblywende Fariseërs in Israel sit hulle studie van die wet voort in Jamnia, en Palestina word deur Romeinse soldate en oorlogsveterane gekoloniseer. Christene het reeds voor die besetting van Jerusalem na Pella, een van die tien Griekse stede in die Dekapolisgebied gevlug (vgl. Luk 21:20-24. Die Romeinse leërs het reeds in 66 n.C. met die oorlog teen Palestina in Galilea begin). Jamnia (Yafneh) naby die Middellandse see, tussen Joppe en Asdod, was in die gebied wat Herodes die Grote aan sy suster Salome nagelaat het. Sy het dit aan Augustus se vrou Livia bemaak. Na Livia se dood het dit keiser Tiberius se eiendom geword, en was dit waarskynlik daarna die eiendom van die keisers van Rome.

 20:17-18 Jesus kyk hulle stip aan (emblepō, soos ook vir Petrus wat Hom verloën, om hom tot bekering te roep; Lukas 22:61) en Jesus vra vir hulle wat die betekenis van Ps 118:22 is (die Psalm word juis gebruik as seëngroet wat die Paasfeesgangers by die tempel begroet). Vers 22 sê:  ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, dit het ’n hoeksteen (kefalê gōnias die kop van die hoek) geword’ (vgl. ook Jes 28:16; Rom 9:33; 1 Petr 2:6). Markus en Matteus haal die teks meer volledig aan. Daarby voeg Jesus ’n woord wat herinner aan Daniël 2:34-35,44-45 se klip wat die groot beeld van Nebukadnesar se droom verpletter het, as beeld van God se koninkryk wat nooit vernietig sal word nie: ‘Elkeen wat op daardie klip val, sal in stukke gebreek word (sunthlasthêsomai). As dit (daardie klip) op iemand sou val, sal dit hom verpletter’ (vgl. ook Jes 8:14-15). Met die vraag oor hulle verstaan van die aanhalings uit die Skrif, wil Jesus hulle tot besinning roep en waarsku oor wat vir hulle wag. Die mens wat aan Hom aanstoot neem, of homself toesluit vir die geliefde Seun van God, bly onder die oordeel van God (Joh 3:36). Die Skrifwoord kondig ook die vernietiging aan van Jerusalem en die verwerping van Israel as die volk van die Here. Die genadetyd van God se geduld met sy volk Israel is verby, en Hy gaan nou ’n nuwe volk, ’n nuwe Israel bou (Rom 9:6; 11:26; Gal 6:16). Die hoeksteen waarop die nuwe gebou van God gebou word is die Messias/Christus wat ’n struikelblok vir Israel geword het en deur hulle verwerp is. Jesus is ook die sluitsteen van die boog oor die ingang na die gebou van God. As die steen op iemand val wat probeer om die steen uit sy plek aan die hoof van die ingang uit te ruk, word hy verpletter. Dit is metafore waarmee die oordeel van God oor Jode en nie-Jode wat nie in Christus glo nie, aangekondig word.   

 20:19 Die skrifkenners en die leierpriesters begryp dadelik dat Jesus met hierdie gelykenis hulle aanspreek en op hulle toepas. Daarom brand hulle van begeerte om in dieselfde uur ‘hulle hande op Hom te lê,’ ’n spreekwoord wat sê ‘hulle wou Hom op die daad arresteer,’ (soos Matteus en Markus). Dit was om sy mond te snoer en Hom uit die samelewing te verwyder, so kwaad was hulle vir Hom wat dit durf waag om dié Skrifwoorde op hulle toe te pas.

 Uit vrees vir die volk wat aan Jesus se lippe hang (vgl. Luk 19:47-48) moes die leiers hulleself vir eers bedwing en probeer hulle Hom met ’n politieke vraag uitvang in die volgende gedeelte.    

 Die verhaal van die huurders se optrede teenoor die eienaar van die wingerd verkondig die onontkombare erns van die evangelie, die goeie boodskap, van die Koninkryk van God aan alle mense. Wie die Seun verwerp en die verlossing wat Hy bewerk, word deur God verwerp.




Die Evangelie volgens Lukas: Die vraag oor Jesus se gesag (Luk 20:1-8) – Francois Malan

20:1 Jesus gee daagliks onderrig aan die volk oor die koninkryk van God, met die goeie nuus (evangelie) van God se vergifnis van sonde (Luk 5:20; 9:6).  

20:2 Die godsdienstige en volksleiers staan voor ’n groot probleem. Hulle wil Jesus uit die weg ruim (vgl. Luk 19:47). Die getal van die volk wat elke dag na Jesus se goeie boodskap (evangelie) kom luister, is te groot vir ’n openlike konfrontasie as hulle Jesus laat arresteer. Daarom probeer die leiers om Hom in diskrediet by die volk te bring met hulle vraag na sy gesag. Waar kry Hy die gesag om die tempel te reinig van die priesters se onverdiende inkomste en van hulle roeping om vir die volk se sonde versoening te doen? Waar kom sy gesag vandaan om soos die skrifgeleerdes die volk te onderrig in die woord van God al is Hy nie as rabbi opgelei nie, en dan bring Hy ’n uitleg van die Skrif wat van hulle verskil? Wie gee Hom die reg  om die familiehoofde se leiding by die regspraak oor die volk by hulle oor te neem? Hulle aanvaar dat niemand gesag kan uitoefen sonder dat hy deur die regte kanale daarvoor opdrag gekry het nie. Hulle meen as Hy sou aandui dat Hy die verwagte Messias-Verlosser van sy volk is, kan die Romeine Hom kom gryp en doodmaak as ’n rebel en opstoker van rewolusie. Indien Hy egter sy Messiasskap sou ontken sal sy populariteit by die volk verdwyn.

20:3-4 Jesus trap egter nie in hulle strikvraag nie, maar stel ’n wedervraag aan hulle om hulle tot ’n persoonlike stellingname oor Hom te dwing; ‘Ek sal ook aan julle ’n vraag vra; sê julle vir My, was die doop van Johannes van die hemel of van mense?’ Iemand kan nie ’n opinie oor Jesus vorm sonder ‘n idee oor Johannes die Doper se bediening nie. Hulle twee se volmag kom uit dieselfde bron. Wie Johannes se boodskap geglo het, sal ook in Jesus glo, want Johannes het Jesus aangekondig as die verwagte Messias wat hulle met die Heilige Gees en met vuur gaan doop. Johannes het met die goeie boodskap die mense voorberei vir die koms van die Christus. Daarvoor het hy die volk tot bekering opgeroep (metanoia om jou hele lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale verandering van gedagte en houding teenoor sonde en geregtigheid) en hy het hulle gedoop met die oog op die versoening van hulle sonde wat deur Jesus bewerk sou word (Luk 3:3-6,16,18). Was Johannes se boodskap en doop slegs uit menslike oorwegings, of was dit volgens die wil van God en op God se gesag? Volgens Luk 7:29-30 het die hele volk na Johannes geluister, saamgestem dat God reg gehandel het en hulle deur Johannes laat doop. Maar die leiers het die verlossingsplan van God vir hulle verwerp. Nou word die leiers uitgedaag om voor die volk te verklaar waar hulle staan ten opsigte van Johannes se gesag. Johannes was die stem wat in die woestyn roep om die pad vir die Here se koms gereed te maak, sodat die ganse mensdom sal sien hoe God verlossing bring (3:4-6). En soos Jesus se voorloper moes sterwe oor sy boodskap, moet Jesus ook sterf om God se verlossing vir die ganse mensdom te bewerk (Joh 1:29).

20:5-6 Die leiers hou eers ’n samespreking oor die voor- en nadele van hulle antwoord. Hulle is duidelik nie bekommerd oor die waarheid nie, maar konsentreer op die gevolge wat hulle antwoord kan inhou. Al drie die sinoptiese Evangelies vertel van hulle vrees. Lukas voeg ’n rede vir hulle vrees by, dat hulle gestenig kan word. Al drie sê dat die hele volk Johannes die Doper as ’n profeet van God se woord beskou, met ander woorde dat hy met goddelike gesag oor Jesus gepraat het. En as hulle uit vrees vir die volk sou erken dat Johannes met die gesag van God gepraat het, sou Jesus met reg kon vra waarom hulle Johannes dan nie geglo het en vir Jesus aanvaar het nie. Hulle besef hulle strikvraag aan Jesus het geboemerang.

 20:7 Hulle kan nie uit oortuiging die waarheid praat nie, en sê daarom hulle weet nie waar Johannes se gesag vandaan kom nie. Daarmee erken hulle voor die volk dat hulle nie bekwame geestelike leiers is in die lewensbelangrike geloofsvraag nie. Daarmee het hulle ook hulle reg verloor om Jesus uit te vra oor waar sy gesag vandaan kom. 

 20:8 Hulle weiering om ’n uitspraak te maak impliseer dat Hy hulle tog geantwoord het, en dat Hy oortuig is dat Hy en Johannes met goddelike gesag optree. En omdat hulle dit nie gewaag het om ’n geloofsuitspraak oor Hom en Johannes die Doper te maak nie, bly die geheim van Jesus se gesag vir hulle verborge met al die gevolge daarvan vir hulle en vir die volk. Deur hulle weiering om ’n uitspraak te maak, laat dit Jesus nie sonder magtiging vir sy optrede nie, maar het hulle hulleself blootgestel as onbekwaam om die geestelike lewe van die volk te lei.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se optrede in Jerusalem (Luk 19:28-21:38) – Francois Malan

Hiervandaan volg Lukas oorwegend Markus as sy bron. Hy gebruik die vierde blok in Markus 11:1-13:37. Hier en daar word ander oorlewerings ingevleg. Hier is drie afdelings: gebeurtenisse wat met die intog saamhang, gesprekke en verduidelikings, en die toekomsrede.

 Die intog in Jerusalem (Luk 19:28-40)

19:28 Na Jesus se optrede in Jerigo en sy gelykenis oor sy wederkoms, is Jesus weer op die pad waar hy vir Saggeus in die boom sien sit het. Hy loop doelgerig voor die skare die 28 kilometer oor die berge en deur die dale na Jerusalem om deur die Jode verwerp te word, te ly, te sterf en op te staan (vgl. sy drie groot aankondigings daaroor in Lukas 9:22, 44; 18:31-33). Daar staan ‘Hy het opgegaan na Jerusalem,’ 800 meter bo seespieël in die Noord-Suid bergreeks, vanaf Jerigo 213 meter onder seespieël in die Jordaanvallei, dit wil sê 1013 meter hoër as Jerigo. Maar daar sal Hy ook aan die kruis verhoog word om almal na Hom toe te trek (vgl. Joh 12:32-33).

 19:29-30 Van Jerigo af kom hulle eers by Betanië aan die oostekant van die Olyfberg, daarna by Betfage aan die westekant van die Olyfberg (Lukas volg Markus 11:1 se onduidelike volgorde van eers Betfage en dan Betanië; vanuit Jerusalem sien ‘n mens eers Betfage en dan Betanië). Van Betfage stuur Jesus twee van sy dissipels om die vul te gaan haal (volgens Mark 11:2 ’n donkievul). Sagaria 9:9 lui: ‘Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar (Die Griekse vertaling, die Septuaginta: ‘verlosser’), hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie.’ Jesus kom om dié profetewoord te vervul. Hy is die koning, met die Heilige Gees gesalfde (Messias/Christus; Luk 3:22), die regverdige (1 Joh 2:1; vgl. Matt 27:19; Luk 23:47); oorwinnaar/verlosser wat die sonde oorwin en ons daarvan verlos (Luk 2:11), nederig (Matt 11:29).  Niemand het nog ooit op die donkievul gesit nie, ongeskonde rein vir gebruik deur die Here, soos die paaslam sonder liggaamsgebrek (Eks 12:5), soos Moses se rooi koei vir die sondeoffer (Num 19:2) en die Filistyne se melkkoeie wat die ark moes terugbring  (1 Sam 6:7). Jesus kom uit die nageslag van Juda vir wie Jakob geseën het as die oorwinnaar met ’n donkie as rydier (Gen 49:10-11). Teenoor die trotse perd as oorlogsdier, is die nederige donkie teken van sy koms in vrede.

 19:31 As iemand daaroor navraag doen moet hulle sê: ‘Die Here (ho kurios) het hom nodig.’ Jesus het konstant van Homself gepraat as ‘Die Seun van die Mens,’ ’n ware mens, maar verwys nou na Homself as ‘Die Here.’ So gaan Hy Jerusalem in, om as ware mens en ware God vir die sonde van die mensdom te sterf.

 19:32-34 Hierdie Here beskik oor al die diere op duisende heuwels (Ps 50:10) en die eienaars van die donkievul aanvaar sy seggenskap (die eienaars, hoi kurioi; die woord word gebruik vir eienaars, here, konings en vir die Here; Lukas speel hier met die twee woorde om Jesus se goddelikheid te beklemtoon teenoor die ander eienaars. Die ander Evangelies praat nie van ‘die eienaars’ nie). Jesus is die eintlike Eienaar van alles. Dat Hy die Here is word deur Lukas beklemtoon. Markus 11:3 het nog ’n belofte dat die donkie dadelik teruggestuur sal word. Matteus praat van ’n donkie en ’n vul, en dat die eienaar die twee dadelik vir die Here sal stuur (Matt 21:2-3). Johannes 12:14-15 het net die verwysing na Sagaria 9:9.

 19:35-36 Jesus ry teen die Olyfberg af deur die Kedronspruit Jerusalem binne onder die mense se verering. Hulle sprei hulle klere op die donkie en op die pad, om ’n erepad vir Hom te maak, soos met Jehu se kroning (2 Kon 9:11-13). Markus 11:8 en Matt 21:8 het ook nog takke met blare op die pad (vgl. Ps 118:27); Johannes 12:13 praat van palmtakke waarmee hulle Jesus tegemoetgegaan het. Hulle laat Jesus op die donkie klim – epibibazō laat klim/ry op; dieselfde woord word in die Griekse vertaling van 1 Kon 1:33 gebruik. Jesus, Seun van Dawid (Luk 1:32), ry Jerusalem binne soos Dawid se seun Salomo op Dawid se muil Jerusalem binne gery het na sy salwing by die Gihonfontein in die Kedrondal. Daarmee is die belofte van die Here aan Dawid vervul: ‘Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd voortbestaan’ (2 Sam 7:16; vgl. Amos 9:11 dat die Here die vervalle hut van Dawid weer gaan opbou). In die nuwe bedeling word die vervalle hut van Dawid die koninkryk van God, met Jesus as die gesalfde nederige Koning.

 19:37-38 Die skare wat saam met Hom teen die steil afdraande van die Olyfberg af beweeg sien Jerusalem en die tempel oorkant die Kedrondal voor hulle lê. Hulle roep entoesiasties die woorde van Ps 118:26 uit ‘Geseënd is Hy (die Koning – wat ook in Joh 12:13 bygevoeg is by Ps 118:26), wat kom in die Naam van die Here.’ Lukas voeg hier die woord koning in om geen twyfel te laat dat dit ’n kroningsprosessie is nie (Luk 13:35 het nie die byvoeging nie).

Ps 118:26 is die seëngroet waarmee die priester gewoonlik die pelgrims by die paasfees begroet. Daarby roep die skare: ‘Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste.’ Jesus gaan met ’n groot skare vreugdevolle juigende aanhangers die stad binne. Hulle vreugde besing die Naam van die Here – sy genadige persoonlikheid (vgl. 18:43). Die rede vir hulle vreugdesange is die wonders wat Jesus al gedoen het, en waarvan hulle getuies is. Dit is voortekens van die komende koningskap van God wat hulle in Jerusalem verwag (o.a. op grond van Sagaria 14:4). Lukas voeg by: ‘vrede in die hemel,’ terwyl die engele ‘vrede op aarde’ gesing het (Luk 2:14) – vrede in die hemel verwys daarna dat God versoen is met die mensdom. Die skare verwag dat God se koningskap, wat in die hemel herstel is, deur Jesus vanuit Sion op die aarde kom aanvaar en bewerk. Ps 118:25 bid om verlossing. Jesaja 9:5 het Hom die Vredevors genoem. Lukas vervang die Hebreeuse woord ‘Hosanna’ in die ander Evangelies, met  die Griekse word doksa (heerlike verstommende mag, verskyning in heerlikheid, eer, grootheid) ‘heerlikheid in die hoogste’ – met verwysing na God. Die atmosfeer is gelaai met die verwagting van die Messias en die entoesiasme van die skare ken geen perke nie.           

 19:39  Die Fariseërs in die skare, wat waarskynlik saam met die skare uit Galilea gekom het, was die leiers in die sinagoges in die dorpe. Hulle beskou Jesus as ’n leermeester (didaskalos) – nie as die verwagte Messias, die nuwe koning van Israel nie. Daarom sê hulle Hy moet sy leerlinge (mathêtai volgelinge, leerlinge, dissipels) bestraf (epitimaō bestraf, gedrag afkeur, dreig). Hulle moet ophou met die valse verering van hulle leermeester as die verwagte Messias. Daarby het Goewerneur Pilatus vanuit Sesarea gekom om vanuit die Burg Antonia ’n ogie te hou oor die fees, en sy soldate kan onder die volk inspring om ‘n oploop met geweld te onderdruk. Markus het nie hierdie reaksie van die Fariseërs nie, vgl. egter Matt 21:15-16 na die reaksie van die Sadduseër leierpriesters toe Jesus op die tempelterrein kom. Die priesters het die offers by die tempel in Jerusalem gebring; die Fariseër skrifkenners het die volk onderrig. Beide groepe was deel van die Joodse Raad van 70, die Sanhedrin; Johannes 2:19 vertel net van die Fariseërs wat moedeloos vir mekaar sê dat die hele wêreld agter Jesus aan loop.   

19:40 In sy antwoord verwerp Jesus die Fariseërs se waarskuwing en bevestig Hy sy koningskap. As Jesus se koningskap verwerp word, sal dit deur die klippe se uitroepe gevolg word. Dit is ’n spreekwoord uit Habakuk 2:11 wat die Here se straf op die Galdeërs van Babel aankondig omdat hulle baie volke uitgeroei het: ‘Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het.’ Deur Jerusalem se verwerping van die proklamasie van Jesus se koningskap bring hulle die oordeel oor hulleself, wat op die vernietiging van hulle en hulle stad en sy mure gaan uitloop (vgl. Luk 13:35; 21:5-6). In 70 n.C. word die stad deur die Romeine ingeneem en verwoes. Dit word in die volgende verse uitgespel.