Die kuise mans van Openbaring 14:4 – Hermie van Zyl

Japie vra:

Wat beteken dié vers? Wie is die mans in dié vers wat hulle nie met vrouens besoedel het nie?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Openbaring 14:4a lui soos volg (1983-Afrikaanse Vertaling): “Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly.”

Openbaring 14:1-5 gee vir ons ‘n glimp van die hemelse heerlikheid waaraan dié deel het wat op aarde enduit volhard het in die geloof. Johannes sien hulle saam met die Lam op die berg Sion; hulle getal is 144 000; en hulle is die losgekooptes van die aarde. Al hierdie beelde is ontleen aan die Ou Testament en funksioneer as simbole om die gelowiges mee te beskryf wat saam met die Lam in die hemel is. Die berg Sion is simbolies van God wat by sy volk woon, soos die tempel op die Sionsberg teken van God se nabyheid by sy volk was. Die Lam is Jesus Christus, en word beskryf in terme van die Ou-Testamentiese offerkultus: deur die bloed van offerdiere is versoening vir die volk Israel se sondes bewerkstellig; deur sy bloed aan die kruis het Christus sy kerk losgekoop van die sonde. Die 144 000 verwys simbolies na die kerk, al die gelowiges uit die Ou en Nuwe Testament, en word opgemaak uit 12 (OT stamme = gelowige Israel) x 12 (NT apostels = kerk) x 10 x 10 x 10; laasgenoemde is drie maal die volmaakte getal, die volle getal gelowiges, nie een kom kort nie. Die loskoop-gedagte kom weer uit die wêreld van slawerny van destyds. ‘n Slaaf het ‘n bepaalde geldwaarde gehad en kon deur iemand anders los- of vrygekoop word en so in vryheid gestel word. So het Christus ons losgekoop van die sonde en ons vrygestel om Hom te volg en te dien.

Ons het hier dus ‘n beeldryke voorstelling van hulle wat aan Christus behoort, en wat met hulle gebeur na al die swaarkry op aarde. Hulle deel in die volle heerlikheid saam met Christus. Hulle word in 14:4-5 op vyf maniere beskryf, wat almal uitdruk hoe hierdie gelowiges in alle opsigte waardig is om die hemelse heerlikheid te ontvang. Hulle is naamlik mense wat (1) hulle nie met vrouens besoedel het nie, (2) die Lam volg, (3) losgekoop is as eerstelinge vir God, (4) nie leuens vertel nie, en (5) onberispelik is. Dit gaan vir ons nou net oor die eerste “kwalifikasie” – dat hulle hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Wat sou dit beteken?

‘n Mens kan natuurlik begin deur vanuit ons konteks vandag tong in die kies te vra: Maar bestaan die 144 000 dan net uit mans? Is daar nie ook vroue wat hulle nie met mans besoedel het nie? Dis egter ‘n verkeerde vraag om te vra. Die skrywer skryf as eerste eeuse mens, vanuit ‘n deur en deur patriargale samelewing. Bogenoemde vraag wat vandag spontaan by ‘n mens opkom, sou nie eens destyds as ‘n probleem gefigureer het nie; trouens, dit sou as ‘n onverstaanbare en verspotte opmerking beleef gewees het. Alles is immers destyds vanuit ‘n manlike perspektief bedink en beskryf. Vroue is byvoorbeeld selde in geskrifte of toesprake direk aangespreek, hoewel hulle vir seker deel uitgemaak het van die gehoor. Vergelyk bv Handelinge 2:29 en Romeine 12:1 (en talle ander plekke) waar net die “broers” aangespreek word maar die vroue kennelik ingesluit is; dit was gewoon die veronderstelling. Ons moet dus nie irrelevante vrae aan die teks stel nie, maar eerder agter die kap van die byl van hierdie ietwat vreemde “kwalifikasie” in Openbaring 14:4 probeer kom. Die punt is, vanuit bostaande verduideliking is vroue vir seker ingesluit by die 144 000, ten spyte van die chauvinistiese formulering.

Uitleggers is nie eenstemmig oor wat die betekenis van hierdie enigmatiese opmerking in 14:4a is nie. Die antwoorde wissel van suiwer simbolies tot die aanvaarding van een of ander letterlike agtergrond, met ‘n ingeboude simboliese betekenis. Ek behandel die moontlikhede kortliks.

Aan die suiwer simboliese of figuurlike kant word genoem dat besoedeling met vroue vir hoerery kan staan, wat in oud-Israel dikwels gedien het as simbool van afgodery – om vreemde gode aan te hang in plaas daarvan om getrou te bly aan die ware en lewende God. Israel het as God se bruid meermale haar “man” – die ware God – verlaat en agter ander gode aan “gehoereer” (Jeremia 3:6-7; Hosea 2:5-12). So gesien is Openbaring 14:4 dan ‘n simboliese verwysing na diegene wat juis nie op hierdie manier “gehoereer” het nie, maar getrou gebly het aan Christus. Hulle het nie meegedoen aan die keiserverering nie en het nie gemene saak gemaak met vals leringe nie. Hulle het “kuis” gebly.

Die probleem met hierdie verklaring is net dat die verwysing na vrouens baie spesifiek is en tog ‘n soort letterlike agtergrond veronderstel. Daarom is kenners meer geneig om een of ander letterlike seksuele konnotasie as uitleg te aanvaar, met ‘n mindere of meerdere mate van simboliese betekenis. Ek gee nou hieraan aandag.

Die eerste wat genoem kan word, is dat apokaliptiese werke, soos Openbaring, dikwels ‘n asketiese streep geopenbaar het. Ons weet dat veral in die tweede eeu nC die asketiese ideaal en ‘n selibate lewenswyse dikwels as ‘n hoë Christelike deug voorgehou is. Die spore van hierdie denkrigting kom reeds in die Nuwe Testament voor. Hiervolgens is die huwelik dikwels in ‘n negatiewe lig beskou, as sou seksuele omgang selfs binne die huwelik jou onrein maak vir ware godsdiens. Paulus se uitsprake oor die huwelik in 1 Korintiërs 7 (die ongetroudes doen beter deur ongetroud te bly), of eerder: ‘n bepaalde verstaan van wat Paulus sou bedoel het, het ook baie daartoe bygedra dat sommige Christene in die vroeë jare dit as ‘n hoër geestelike deug beskou het om selibaat te bly as om te trou. Daar is genoeg bewyse dat die huwelik as sodanig, en selfs seksuele omgang deur getroudes, deur sekere individuele Christene en Christelike groeperings in die beginjare negatief beoordeel is, en dat hierdie gedagte dalk moontlik Openbaring 14:4 onderlê. Die kuises sou dan hulle wees wat nie getrou het nie of selfs binne die huwelik hulle van seksuele verkeer onthou het.

Die probleem is net dat met hierdie interpretasie die huwelik erg gedevalueer word, terwyl dit nêrens in die Bybel die geval is nie. Trouens, in Efesiërs 5:21-33 word die verhouding tussen Christus en die kerk juis as voorbeeld voorgehou hoe man en vrou in die huwelik moet lewe. En Paulus, hoewel sommige van sy uitsprake vreemd mag klink, het nooit sover gegaan om die huwelik prinsipieel te devalueer of seksuele omgang in ‘n negatiewe lig te stel nie – inteendeel, kyk bv 1 Kor 7:2-5. Dit is dus moeilik om te aanvaar dat die vermyding van seksuele omgang binne die huwelik, of die vermyding van die huwelik as sodanig, hier as ‘n deug voorgehou word waarvoor die 144 000 geloof en “beloon” word.

Tweedens, weens die problematiese aspekte vervat in die vorige uitleg, het ander uitleggers eerder gedink aan seksuele sondes wat hier ter sprake is, soos owerspel of seksuele losbandigheid deur ongetroudes. Die 144 000 sou hierdie sondes dan konsekwent vermy het. Hulle het hulle streng gehou by God se gebooie, rein geleef, hetsy as getroudes hetsy as ongetroudes, en het hulle nooit skuldig gemaak aan seksuele wanpraktyke nie.

Derdens, ‘n uitleg wat deesdae deur baie geleerdes aangehang word, is om die agtergrond vir die ietwat vreemde uitspraak in 14:4 te soek in die sogenaamde heilige oorlog-konteks. Dit is bekend, en ook in die Ou Testament opgeteken, dat mans wat oorlog gevoer het, of, meer spesifiek, in ‘n heilige oorlog betrokke was, hulle moes onthou van seksuele omgang. Nie vir altyd nie, maar solank as wat hulle diens gedoen het (vgl Deut 23:9-10; 1 Sam 21:5; 2 Sam 11:8-11). So gesien word hierdie uitspraak dan ‘n simbool van algehele toewyding aan God en sy saak. Die 144 000 is hulle wat tydens hulle diens op aarde volledig toegewy was aan God se koninkryk. Hulle was altyd “aan diens”, was gewikkel in ‘n geestelik stryd en het nooit gehuiwer om opofferings te maak met die oog op die uitbreiding van God se koninkryk op aarde nie. Hulle was soos soldate wat aan ‘n heilige oorlog deelgeneem het – volledig oorgegee aan hulle taak en roeping. En daarvoor ontvang hulle loon.

Die laaste twee verstaansopsies dien sigself aan as die beste, waarvan die laaste uitleg die waarskynlikste is. Dit pas ook mooi in by die ander vier “kwalifikasies” van die 144 000, soos bo genoem; dié het almal te doen met volledige toewyding aan die Lam se saak.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (3) – Mans is Baas

Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (3) – Mans is Baas – Kobus Kok

“Die man is die onbetwiste hoof van die huis, deur die gode gemaak om te heers en die vrou is gemaak om hom te gehoorsaam,” so het die belangrike Romeinse filosoof Seneka, raadgewer van keiser Nero, op ʼn goeie dag luidkeels geargumenteer. Die antieke wêreld was ʼn wêreld vir die manne, en die patriargale familie was die hartklop van die samelewing. In die Joodse samelewing het dieselfde beginsel gegeld. Mans het oor vrouens geheers en vrouens was dikwels as niks meer as die man se besitting beskou nie. Vrouens het ook nie aan die politiek en formele religieuse sisteme as leiers deelgeneem nie. Ons lees in die Misjna, wat uit ʼn versameling Joodse mondelinge tradisies bestaan het dat vrouens nie die wet saam met mans kon bestudeer nie. Filo van Aleksandrië het opgemerk dat ʼn goeie vrou nie onnodig in die publieke plekke rondlê nie, en indien sy wel na die tempel toe wil gaan sy dit nie op die besigste tyd van die dag moet doen nie aangesien dit dalk die verkeerde indruk kan skep. Indien ʼn vrou wel in die publiek verskyn, soos byvoorbeeld om mark toe te gaan, moes sy ʼn sluier dra en mag sy nie met ander mans oogkontak maak of praat nie. Vrouens se plek en interaksie in die samelewing is dus deur mans beheer. Een Rabbi het selfs so ver gegaan om te sê dat vrouens ʼn stuk vleis is waarmee mans kan doen wat hulle wil. Sommige Joodse groepe was van mening dat die vrou verantwoordelik was vir die sondeval. Dinge het skeefgeloop omdat Adam destyds sy ore uitgeleen het aan die vrou, Eva. Vir hulle was dit die groot bewys dat mans eerder die leiding moet neem en dat vrouens in hulle ruimte moet bly en dat die man die onbetwiste hoof van die huis moet wees.

Hierdie hiërargiese struktuur van die antieke wêreld word dan ook uitgedruk in die afgebakende rolle wat daar vir elke lid van die gesin bestaan het. Die paterfamilias, of hoof van die familie/gesin, het die belangrikste plek in die sisteem beklee en hy het lewenslange mag oor sy gesin gehad. Hierdie beheer wat die vader oor sy gesin uitgeoefen het, het in die Romeinse wêreld bekend gestaan as die patria potestas. Die pa kon byvoorbeeld besluit of hy sy kind na geboorte wil hê of nie. Sommige kinders is selfs op die ashoop gegooi indien die pa besluit het dat hy nie die kind wil hê nie. Indien die kinders nie gehoorsaam was nie, het die pa die mag gehad om sy kinders as slawe te verkoop. Uit die aard van die saak het daar meer as dikwels vergrype plaasgevind en uiteindelik sou Keiser Valentinianus in 374 n.C. die pa se mag oor lewe en dood wetlik beperk.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Jesus se optrede so radikaal anders is. Jesus het die antieke wêreld letterlik op sy kop gedraai. Jesus deurbreek die tradisionele simboliese magstrukture van die tyd. Die sosioloog Pierre Bourdieu het baie oor sogenaamde simboliese magstrukture in die samelewing geskryf. Hy wys daarop dat samelewings dikwels in die alledaagse manier van dinge doen, implisiete magstrukture het. Ek onthou hoe ek eendag iemand se huishulp êrens heen moes neem. Die huishulp het onmiddellik die agterdeur van my motor oopgemaak en het geweier om voor by die passasierskant te sit. Haar rede was dat dit nie is hoe mens dinge doen nie – huishulpe sit nie voor in die kar nie. Pierre Bourdieu sal dadelik opmerk dat die simboliese “sit op die agterste bank” implisiete magsstrukture illustreer. En hy is natuurlik reg – in baie mense se koppe is die “ou” pre-1994 magstrukture nog lewend. Net so mis mens dikwels die implisiete magsdimensies wat Jesus deurbreek het – deur dinge wat vir ons sommer net “gewoon” lyk. Jesus het die patriargale wêreld op sy kop gedraai. In Johannes 4:1-42 word die onrein Samaritaanse vrou ʼn radikale missionêre figuur en vertel vir almal in die dorp dat sy die Messias ontmoet het. Op grond van haar woorde – die woorde van hierdie onrein Samaritaanse vrou kom die dorp se manne tot bekering. Dit was uiters ongewoon in Jesus se tyd. Vrouens se getuienis was nie betroubaar nie, en veral nie die van ‘n Samaritaanse vrou nie. Jesus breek die simboliese magstrukture heeltemal af en kom wys hoe hy die randfigure, die “nobodies” van hierdie lewe in “somebodies”, in betekenisvolle mense van impak, kan omskep. In die geskiedenis van die vroeë Christendom is dit dan ook baie interessant om te sien dat vrouens ʼn leidende rol in die kerk speel. Lees gerus Paulus en Tekla, ʼn apokriewe boek, wat vertel van ʼn vrou met die naam Tekla, wat ʼn vurige prediker was in die vroeë kerk. In Handelinge 17:12 lees ons ook dat vooraanstaande vroue in Berea gelowiges geword het onder die prediking van Paulus. Jesus se optrede leer ons om sensitief te wees vir implisiete magstrukture en herinner ons daaraan dat mense gelyk is en dat magsmisbruik omskep moet word in wedersydse respek en liefdevolle diens aan mekaar.

 

Outeur: Dr Kobus Kok




Vrouwees (en manwees) in die Bybel – Enkele kantlyn aantekeninge

Vrouwees (en manwees) in die Bybel – Enkele kantlyn aantekeninge – Stephan Joubert

In die ou tyd was vroue tweedeklas-burgers. Aristoteles, die groot filosoof uit die vierde eeu voor Christus, het al gesê dat vroue eintlik maar misvormd-gebore mans is! Die Joodse filosoof, Filo van Aleksandrië, het verkondig dat slegs mans na die beeld van God geskape is. Vroue het net hier by die ribbebeen langs iets van die man se heerlikheid getref! G’n wonder nie dat ʼn bekende Joodse rabbi in die tyd van die Nuwe Testament kon sê daar is drie dinge aan ʼn vrou wat altyd bedek moet wees: haar mond, haar bene en haar hare. Met haar mond praat sy glo nonsens; met haar bene verlei sy ander mans, en met los hare daag sy haar man se gesag uit. Die stereotipe persepsie oor vroue was dat hulle dom, verleidelik en agterbaks was. Daarom dat hulle plek altyd binne die huis was.

 

Genesis vertel ʼn ander storie

Genesis 2 vertel dat God die vrou as die man se helper gemaak het, as sy gelyke. Binne die huwelik word man en vrou een in harmonie voor God. Genesis 2 is ongetwyfeld God se oorspronklike skeppingsdoel met die huwelik. Dit was voordat die sonde alles kom verwoes het. Genesis 2 sê onomwonde man en vrou is gelyk. Die vrou is selfs hier ʼn helper vir die man! En iemand kan net help as hy of sy iets beter kan doen as diegene wat daardie hulp nodig het!

Eers na die sondeval in Genesis 3 hoor ons dat die man oor die vrou sal heers. Nou is heerskappy egter straf. Heerskappy, baasskap van die kant van die man funksioneer van die sonde se dae af as straf op sonde binne man-vrou verhoudings en nie as die natuurlike stand van sake nie. Manlike baasskap is hoegenaamd NIE God se oorspronklike skeppingsdoel nie.

 

Jesus deurbreek die stereotipes van die Jode oor vroue

Blaai mens na Jesus se uitsprake oor die huwelik (Markus 10), dan neem Hy die oorspronklike doel van die huwelik haastig terug na Genesis 2 toe, nie na Moses se nood-uitspraak oor egskeiding in Deuteronomium 24 nie. Dus verander die Here Jesus sy kinders se huwelike weer in ʼn paradys. Hy maak gelowiges se huwelike van voor af Genesis. Netsoos wat Christene as sodanig van kop tot tone ʼn tweede skeppingswonder is (2 Korintiërs 4:1-6), net so is ons huwelike ook ʼn nuwe Genesis. Binne ons as Christene se huweliksverhoudings geld die oorspronklike skeppingsdoel nou weer – naamlik een vlees, een voor God waar man en vrou mekaar help, dien, liefhet, eer en beskerm.

Jesus het ʼn finale einde aan die Joodse stereotipe rolverdeling van baasskap en onderdrukking tussen mans en vroue gebring. Hy het byvoorbeeld nie gehuiwer om vroue deel te maak van sy volgelinge nie (Lukas 8:1-3), of om hulle ook in die openbaar te onderrig nie (Lukas 10:38vv). Mans het dus nie regtig ʼn hoër godsdienstige status voor God as vroue nie. Paulus skryf trouens in Galasiërs 3:28 dat daar in Christus nie meer Jode of Grieke, slawe of vrymanne, mans of vroue is nie. Alle grense is afgebreek. Nou tel mense se afkoms, sosiale status of geslag niks meer voor God nie.

 

Paulus: Die regte Christelike rolverdeling

Maar wat dan van daardie baasskap tekste in die Bybel; tekste soos 1 Korintiërs 11:3 en Efesiërs 5:22 met hulle verwysings na die onderdanigheid van die vrou? Wel, in ʼn neutedop gesê, bedoel Paulus nie hier dat man die koning is met die vrou as vloerlap nie. Wat die apostel wel sê, is dat daar rolverdelings tussen die geslagte bestaan (bv 1 Korintiërs 11). Hiermee saam wil hy ook sê dat beide man en vrou binne ʼn Christelike huwelik mekaar moet dien. Inderdaad het die man as die sterkste geslag sekere verantwoordelikhede rondom die versorging en beskerming van sy vrou. Eweneens het die vrou die verantwoordelikheid om haar man te dien en te ondersteun. Maar hierdie is wederkerige rolle wat gegrond is op Christus se voorbeeld. Christenmans en vroue moet altyd optree tot voordeel van mekaar. Die enigste gedagte in hulle harte behoort te wees wat hulle kan doen om hulle huweliksmaats nog meer beeld van God te laat wees.

 

Efesiërs 5 as voorbeeld

Paulus roep beide mans en vroue in die huwelik op tot onderdanigheid aan mekaar in Efesiërs 5:21vv. Die Griekse woord wat in Afrikaans vertaal word met onderdanigheid (hupotassein), beteken onder andere om diensbaar te wees aan iemand anders.

Paulus trek ook in Efesiërs 5:21vv die huwelik binne die raamwerk van God se oorspronklike doel in Genesis 2 in as hy oor vroulike onderdanigheid (soos die kerk aan die Here) en manlike liefde (soos die Here teenoor die kerk en ʼn man teenoor sy liggaam) praat. Let wel, nooit word in die NT oor vroue se rol gepraat in isolasie van die man s’n nie. Onderdanigheid en liefde is kop en stert, wedersyds aanvullend. Volgens Paulus is man en vrou nou een voor God; daarom dat hy in Galasiërs 3:28 die Here se bedoeling met man en vrou helder, kernagtig en ongekwalifiseerd uitstippel: In Christus is daar nie meer man of vrou, slaaf of vry, Jood of Griek nie.

Natuurlik moet vroue diensbaar aan hul mans wees (vgl ook 1 Petrus 3) – soos die gemeente aan die Here. Maar mans moet op hul beurt hul vroue weer liefhê soos Jesus sy kerk liefhet. En hoe het Jesus sy kerk lief? Markus 10:45 bied die antwoord hierop as Jesus sê dat Hy ons kom dien het. Jesus stel dit glashelder dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om  te dien. Tereg is dit edel dat vroue hul mans dien. Net so edel is dit egter ook wanneer mans hul vroue dienend liefhet en nie meer oor hulle wil baasspeel nie. Immers, in 1 Korintiërs 7 noem Paulus dat mans selfs die mag oor hul eie liggame afstaan aan hul vroue – ʼn gedagte wat totaal vreemd was aan ʼn hiërargiese samelewing destyds waar mans die vroue oorheers het.  Dus moet mans hul vroue ook dien, want liefde volgens die Woord sluit altyd dienslewering in.

 

Outeur: Dr Stephan Joubert