Die verlamde man in Markus 2

Die verlamde man in Markus 2 – Francois Malan

Jan vra:

In Markus 2 laat die verlamde man se vriende hom met bed en al deur die dak om hom by Jesus te kry. Jesus prys hulle geloof en sê vir die man jou sondes is vergewe. Dan vra die skrifgeleerdes waar Hy die mag kry om sondes te vergewe. Hy antwoord: Wat is makliker om te sê: Die sondes is vergewe of om te sê: Staan op neem jou bed op en loop. Ek verstaan nie mooi die verband in Jesus se argument nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Vir die skrifgeleerdes is die opdrag om op te staan en te loop die swaarste, want dit sou ‘n wonder wees wat deur almal gesien kan word as bewys daarvan. Om te sê ‘jou sonde is vergewe’ is die maklikste, want niemand kan sien of dit wel die geval is nie, en hulle is oortuig dat net God sonde kan vergewe, daarom meen hulle dat Jesus, wat vir hulle bloot ‘n mens is, godslasterlik praat deur die gesag van God vir hom toe te eien (Mk 2:7).

 

Vir Jesus is sondevergifnis die moeilikste, want daarvoor moes Hy sy goddelike heerlikheid verlaat en mens word (vgl. Seun van die mens), en moet Hy aan ‘n kruis gaan sterf en deur God verlaat word. Terwyl die genesing van ‘n verlamde vir die Seun van God die maklikste is met die volmag wat Hy het om te genees as bewys van sy volmag om sonde te vergewe (Mk 2:10).

 

God vergewe in Christus. Jesus se woord hang onlosmaaklik saam met sy lewe en sterwe en opstanding. Jesus kan vergewe omdat Hy as die Messias/Christus/Gesalfde ook die lydende en sterwende Kneg van die Here is. Die Seun van die mens het gekom om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense (Mk 10:45). Sy vergewing geskied nie sonder sy sterwe nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (2)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (2) – Jan van der Watt

ii) Hoe lyk die Markusevangelie op die oog af?

 

a) Wat is die doel?

In Mk 1:1 staan: Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só…

  • Daar is geen geboorteverhaal van Jesus nie, wat beteken dat die evangelie sonder ‘n geboorteverhaal van Jesus en sonder verhale van sy kinderdae vertel kan word. Die “evangelie” begin hier met Johannes die Doper.
  • Hoe lyk die inhoud van die evangelie? Byna die helfte gaan oor Jesus wat Jerusalem toe gaan om gekruisig te word. Daarom word daar dikwels gesê dat Markus ‘n lydensverhaal met ‘n inleiding is. Die hele klem lê dus op Jesus wat kom sterf en opstaan.  Lees bv. Mk 8:31.
  • Die doel blyk tog te wees: om die verhaal van Jesus te vertel in die lig van wat Hy kom doen en sê het om so die nuwe wêreld van God (die koninkryk van God) tussen die mense te kom aankondig en vestig. (Lees Mk 1:15 en kyk wat het Hy gesê). Dit sluit sy preke, sy wonders en ook sy dood en opstanding in.

 

b) Hoe lyk die indeling van Markus?

As mens sommer net deur Markus blaai, lyk dit effens deurmekaar, want dit is preke, wonders, gelykenisse, wat mekaar so afwissel. Maar ‘n mens moet jou nie laat bluf nie. Daar is ‘n baie sistematiese patroon in die Evangelie.

 

Markus het ‘n “wipplank” struktuur.

  • Van Mk 1:1-8:21 word die suksesvolle optrede van Jesus beskryf. Hy doen wonders, preek pragtig, bring ‘n nuwe boodskap… dit lyk of daar min keer aan Hom is. Die “wipplank” gaan net op en op.
  • Van Mk 8:22-16:20 begin dinge anders lyk. Jesus begin in die rigting van Jerusalem gaan en die skaduwee van die kruis begin oor Hom val. Die opposisie word al hoe groter tot dit Hom aan die kruis laat vasspyker. Die “wipplank” gaan af en af.

 

Die twee sye van Jesus – die op en af – vertel vir ons wie die Seun van God (Mk 1:1) presies is. Die een sy kan nie sonder die ander sy nie, anders het ‘n mens nie ‘n volledige prentjie van die Seun van God nie.

 

c) Markus is ‘n “periodiese vertelling”

Daar is baie maniere om ‘n storie te vertel. Markus het gekies om dit in sulke blokke (periodes) te vertel. Hy sit ‘n klomp klein stories en gebeure saam om een sentrale boodskap te beklemtoon. Jy moet dus die klein stories en gebeure saam lees en in verhouding met mekaar verstaan om die groter boodskap te snap. So is daar paar sulke “blokke” of periodes wat elkeen ‘n sentrale boodskap het. Uiteindelik moet ons weer die boodskap van die afsonderlike “blokke” saam lees om die hele boodskap van Markus te snap. Ons gaan dit in die volgende twee dele so doen.

 

Dus:

BybelstudieMarkus2

 

 

 

As jy nog tyd het, lees asseblief (ter voorbereiding vir volgende keer) Markus 1:1-8:21 deur. Sê wat jou indruk is van die “prentjie” wat Markus van Jesus teken…………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

volgende keer begin ons na die inhoud van die Markusevangelie kyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (1)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (1) – Jan van der Watt

Deel 1 – Verskeie Evangelies met een boodskap

 

i) Waar kom die Evangelies vandaan?

Die mense het nie destyds boeke geskryf soos ons nie – die meeste kon nie skryf nie en die materiaal was baie duur. (Daar was nie CNA’s waar mens vinnig papier kon koop nie). Omdat alles nie neergeskryf is nie, is die mense van kleins af geleer om te onthou – hulle moes dinge memoriseer. (Daar word vertel dat van Griekse kinders verwag is om bv. die Iliad – ‘n reuse dik boek – te memoriseer). Juis omdat niks neergeskryf is nie, was dit ‘n storiekultuur. Die aand om die vuur is die stories wat belangrik was oor en oor vertel en die mense het daaruit geleer. So deur en saam met stories het hulle baie belangrike kennis opgetel oor die lewe.

 

 

So het dit ook gewerk met Jesus. Hy het niks neergeskryf nie. Sy dissipels het alles gehoor en… onthou. Na Jesus se hemelvaart het die dissipels die verhale oor wat Jesus gesê en gedoen het, oorvertel aan die Christene. Hulle het dit weer onthou en vir ander vertel. Dit was die eerste wortels van die Evangelies – die verhaal van Jesus was in die koppe van die Christene bewaar. Die dissipels/apostels het gesorg dat die ouens nie sommer die stories verander nie. Hulle was die waarborg vir die waarheid van die stories.

 

Toe die apostels begin doodgaan en die kerk begin uitbrei het dit nodig geword om ‘n ander plan te maak – die verhale is neergeskryf. So is die verhale “bewaar” – nou kan mense dit nie verander nie en het dit outentiek gebly soos die dissipels dit vertel het. Markus was die eerste evangelis wat die verhaal van Jesus neergeskryf het. (Die Markusevangelie is dus ons oudste evangelie). Dit het so 30-40 jaar na Jesus se hemelvaart gebeur, dus so tussen 60 en 70nC. Dit is belangrik om net weer te sê: die evangelie het nie toe tot stand gekom nie. Dit is net toe neergeskryf. Dit wat van die begin af in die geheue van die Christene was en elke dag aan mekaar oorvertel is, is toe net neergeskryf.

 

Dus:

 BybelstudieMarkus1

 


          

 

Hoewel dit altyd moeilik is om vas te stel wie ‘n boek geskryf het (hoe weet ‘n mens presies as jy nie die persoon self sien skryf het nie), is daar tradisioneel aanvaar dat Markus die skrywer was. Dit is ook nie seker waar hy presies was toe hy die evangelie geskryf het nie, maar Antiogië aan die Orontes (die hoofstad van Sirië) is ‘n goeie moontlikheid. Dit was in die eerste eeu die hoofstad van die Christene buite Jerusalem en was ook die stad vanwaar Paulus sy sendingreise onderneem het.

 

Die kerkvader Eusebius haal vir Papias aan wat weer by iemand anders gehoor het dat ‘n ouderling die Evangelie geskryf het. Markus, volgens die berig, was Petrus se interpreteerder en het alles mooi en akkuraat opgeskryf. Hoewel daar baie onsekerheid bestaan oor wie die skrywer was, kon dit die Markus wees van wie ons in die Bybel lees.

Lees die volgende gedeeltes en teken dan jou prentjie van die moontlike skrywer: Hand 12:12 – sy familiebande; Hand 13:5,13 saam met Hand 15:37 – sy sendingwerk; 1 Pet 5:13 – sy verhouding met Petrus; Hand 15:37-39 – Paulus se indruk van hom; Kol 4:10 – Paulus maak tog vrede…………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………………

 

 

Volgende keer kyk ons verder na die Markusevangelie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Sinoptiese evangelies

Die Groot Geloofswoordeboek: Sinoptiese evangelies

Sinoptiese Evangelies

Matteus, Markus en Lukas word die Sinoptiese Evangelies ge­noem. Die woord “sinopties” is afgelei van ‘n Griekse woord wat “saam­kyk” beteken. Deur van die Sinoptiese Evangelies (ook Si­nop­tici genoem) te praat bedoel ons dat hulle saam na Jesus kyk, dat hulle ongeveer dieselfde oor Jesus skryf. Dit staan dan teen­oor Johannes wat ander dinge beklemtoon. Johannes gee baie lang gesprekke weer tussen Jesus en die “Jode” (Joodse leiers). Die Si­nop­tici het nie sulke gesprekke nie, maar eerder meer ge­skie­de­nis­se van wat Jesus gedoen het, baie meer wonderwerke, en veral meer duiweluitdrywings. Die Sinoptici noem net een besoek van Jesus aan Jerusalem, die een aan die einde toe Jesus daar gevang en gekruisig is, terwyl Johannes drie besoeke aan Jerusalem vermeld (2:13 ev; 5:1 ev; 7:10 ev). Dit beteken dat Jesus volgens Johannes die grootste deel van sy bediening in Jerusalem werk, terwyl Hy volgens die Sinoptici feitlik sy hele bediening in Galilea is.

In die opstandingsverhale kry ons nog ‘n goeie voorbeeld van die verskille. Die verhale van die Sinoptici stem in ‘n groot ma­te oor­een terwyl Johannes heeltemal sy eie verhaal oor die op­stan­ding het. Die Sinoptici het dus “saam gekyk” na die lewe van Jesus. Dit beteken nie dat hulle alles presies dieselfde oor Jesus skryf nie, maar dat daar groot ooreenstemming tussen hulle is terwyl Johannes meer sy eie pad loop.

Oor die probleme wat die verskille in die Evangelies na vore bring, kyk by *Sinoptiese probleem.

Vandag word taamlik algemeen aanvaar dat Markus eer­ste ge­skryf is, en Matteus en Lukas sy Evangelie gebruik het toe hulle hulle Evangelies geskryf het. Lukas skryf ook uitdruklik dat hy van bron­ne gebruik gemaak het (1:1-4), en daar is inderdaad groot oor­een­stemmings, soms selfs woordeliks, tussen Lukas, Matteus en Mar­kus. Hulle het waarskynlik ook ‘n ander bron gebruik, die so­­ge­naamde Q-bron, wat net ‘n lys uitsprake van Jesus bevat. Mat­teus was waarskynlik van hierdie bron afhanklik vir sy weer­gawe van die Bergrede (5-7). Maar dan is dit ook interessant om te kyk na elkeen se “eiegoed”, soos dit genoem word; dit wil sê die dinge wat nét Matteus het, en wat nét Lukas het.

Lukas het byvoorbeeld ‘n aantal verhale oor vrouens wat die ander twee nie het nie:

•             die engel wat aan Maria verskyn (1:26 ev)

•             Maria se besoek aan Elizabet (1:39-45) en haar loflied (1:46-56)

•             die opwekking van die weduwee van Naïn se seun (7:11 ev)

•             die straatvrou wat agter by Jesus se voete staan en huil (7:36 ev)

•             vrouens wat vir Jesus gesorg het (8:1-3)

•             Jesus se besoek by Marta en Maria (10:38-42)

•             die vrou wat uitroep oor die bevoorregte vrou (11:27-28)

•             die gebreklike vrou (13:10 ev)

•             die gelykenis van die vrou en die verlore geldstuk (15:8-10)

•             die gelykenis van die weduwee en die regter (18:1-8)

•             Die vrouens wat saam loop en huil terwyl Jesus sy kruis dra (23:27-29)

 

Dit is regtig ‘n indrukwekkende lys. Dit is verreweg die groot­ste deel van die “eiegoed” van Lukas, waaruit ‘n mens kan aflei dat hy besondere belangstelling gehad het in die vrou­ens in Jesus se bediening. Waarom? Daar is mense wat oortuig is dat hy aan vrouens ‘n besondere plek wou gee en veral wou aantoon dat Jesus vrouens ‘n bepaalde plek en regte gegee het wat hulle nie in die Ou Testament en in die Joodse samelewing gehad het nie. (*Fe­mi­nisme)

Daar word taamlik algemeen aanvaar dat hierdie drie Evan­ge­lies in die laat sestigerjare van die eerste eeu geskryf is, dus meer as 30 jaar na die opstanding van Jesus. Johannes is dalk nog baie later geskryf, dalk eers teen die einde van die eerste eeu.

 

Skrywer: Prof Adrio König