Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (4)

 

“Have you forgot … the milkhouse, the stable, the barn, and the like, where God did visit your soul?” John Bunyan

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (4)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Die vraag waarna ons nou kyk is waarom Jesus mens moes word. In Johannes 11: 38 lees ons: Jesus kom toe, terwyl Hy in Homself diep getref was, by die graf (die direkte vertaling in die Interliniêre Bylel). Eintlik staan hier dat Jesus kwaad was. Vir wie? Vir die dood – die mens se grootste vrees. Maar hoekom maak die dood Hom kwaad?  Die bose en die dood is die gevolg van sonde – dit was nie deel van God se oorspronklike ontwerp vir die wêreld nie. God het nie die wêreld vol siekte en lyding en dood gemaak nie.

 

Hoekom maak Jesus Christus dan nie die wêreld reg nie? As Hy met die swaard van God se toorn teen die bose in hierdie wêreld sou kom, sal niemand dit oorleef nie. Maar Jesus kom nie met die swaard in die hand nie; Hy kom nie om te oordeel, maar om veroordeel te word. Die godsdiensleiers van destyds besef onmiddellik wat Jesus gedoen het toe Hy Lasarus uit die dood laat opstaan het. Hulle besef Hy is vir hulle gevaarliker as wat hulle gedink het. Daarom lees ons: Van daardie dag as was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak (11:53).

Jesus het dit besef. Hy weet dat as Hy Lasarus lewend uit die graf sou bring Hy self in die graf moes gaan. As Jesus ons van die dood wil red, sal Hy self die pad van die kruis moes loop. Hy sal die oordeel wat ons moet verdien, dra. Hy weet dit alles, maar tog laat Hy Lasarus uit die dood opstaan. Jesus het gehuil (11:35). Jesus huil nie net vir Lasarus nie, maar ook vir ons.

God het na die wêreld wat Hy goed gemaak het, gekyk. Hy sien die mens is besig om sy wêreld te vernietig deur ons rug na Hom te draai. Daarom stuur Hy sy Seun om die wêreld reg te stel. Ons vraag was: Wie of wat kan die wêreld weer regstel? Ons antwoord is: Jesus Christus.

Volgende keer kyk ons na nog ‘n ontmoeting van Jesus: die bruilof by Kana




Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (3)

 

 “The main end of our lives is to serve God in the serving of men in the works of our callings.” William Perkins

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (3)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Uit Jesus se ontmoeting met Marta kry ons ‘n kykie in sy Godheid en mag – Jesus is God. Dit verduidelik nie alles wat Hy is nie, want die volgende oomblik sien Hy vir Maria en Jesus huil. ‘n Mens verwag tog nie dat as Jesus werklik God was Hy emosies sou ondervind nie. Wat ons hier sien is Jesus as God en Jesus as mens. Ten spyte van sy aanspraak dat Hy die opstanding en lewe is, reageer Hy op menslike wyse toe Hy Maria se hartseer sien.

 

Beteken dit dat Jesus 50% God en 50% mens is? Nee, Hy is 100% God en 100% mens. Daar is geen ander godsdiens wat so ‘n aanspraak maak nie. Ook ons sukkel om dit te glo. Jesus gee vir Marta wat ons sou noem die bediening van die waarheid, want dit was wat sy op daardie oomblik nodig gehad het. Hy sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Moenie wanhoop nie. Ek is hier en Ek is die opstanding en die lewe.” Vir Maria gee Hy die bediening van trane, want dit is wat sy die meeste nodig gehad het. Jesus is mens genoeg om haar hartseer met haar te deel.

Almal van ons het op verskillende tye in ons lewe een van hierdie bedienings nodig. Nie een van ons het die temperament of geduld of insig om aan al die mense die bediening te gee wat hulle op daardie spesifieke oomblik nodig het nie. Party van ons se gawe is om ander te vertroos; party van ons se gawe is om ander te onderrig. Jesus kan beide doen en weet ook wanneer ek wat nodig het.

Jesus word daarom as die Leeu, maar ook die Lam beskryf. Hy kan deur die swakste onder ons genader word. Teenoor die korruptes en magtiges is Hy vreesloos. Hy is teer, maar nie swak nie; Hy is streng sonder om skerp te wees; Hy is nederig, maar nie sonder vertroue nie; Hy is magtig, maar nie onsensitief nie. Jesus Christus is God wat mens geword het.

Daar bly nog een vraag oor: Hoekom het Jesus mens geword? Daarna gaan ons volgende keer kyk.




Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (2)

No other God have I but Thee,

Born in a manger, died on a tree.

Martin Luther

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (2)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Mense sukkel om te glo dat Jesus waarlik God is. Hulle erken dat Jesus uniek was, dat Hy ‘n uitsonderlike Leermeester was, dat Hy ‘n wysheidsleraar was, ens. Maar Jesus eis van elkeen ‘n radikale reaksie. Moontlikhede is:

  • Hy was ‘n bedrieër. Al Jesus se vroeë volgelinge was Jode. Die Jode se siening van God was so verhewe dat hulle nie eers sy Naam wou sê of skryf nie. Enige voorstel dat God swak vlees en bloed kon wees, sou hulle onmiddellik verwerp het. Die idees van God-mens het nooit by die Jode opgekom nie.
  • Hy was verstandelik versteur. Daar was sulke mense wat beweer het dat hulle God was, maar hulle het gewoonlik net ‘n klein groepie aanhangers gehad. Jy kan nie mense oortuig dat jy God is as jy die normale menslike tekortkominge van die mense het nie – dinge soos selfsug, trots, oneerlikheid … Daar is altyd mense wat na genoeg aan so ‘n aanspraakmaker leef om deur Hom te sien.
  • Hy was eg – aanbid Hom as God. Kort na sy dood was daar ‘n groep mense wat Jesus as God begin aanbid het. Hierdie groep het vinnig gegroei.

Wat ons nie kan doen, is om iewers tussenin ‘n antwoord te probeer soek nie. Elkeen van ons moet op sy aansprake reageer. Kort na sy dood het mense reeds aanvaar dat Hy Goddelik was – dit is nie iets wat eers lank na sy dood gebeur het nie. Twee dekades na sy dood skryf Paulus in Filippense 2:5 – 11:

5Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel.

6Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. 7Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. 8As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.

910Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig. 11Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is. (Die Boodskap).

Die groot vraag: Is Jesus God of mens? Daarna gaan ons volgende keer verder kyk.

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (1)

 

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (1)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Niemand beweer dat alles in die wêreld reg is en dat daar niks met die mense verkeerd is nie. Die groot vraag is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel? Christene glo dat die antwoord Jesus Christus is. In Johannes 11 lees ons van Jesus se ontmoeting met die twee susters net na Lasarus – vir wie Jesus baie lief gehad het – dood is.

 

Lasarus is baie siek. Die susters stuur iemand na Jesus met die boodskap dat Lasarus siek is. Toe Jesus uiteindelik by hulle aankom was Lasarus al dood en begrawe. Almal is in rou. Marta is die eerste suster wat vir Jesus sien kom. Sy sê vir Jesus: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Marta gaan later vir Maria roep en lig haar in dat Jesus daar is. Maria gaan na Jesus en sê vir Hom: Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.

Ons het hier twee susters in dieselfde omstandighede wat presies dieselfde woorde vir Jesus sê, maar Jesus reageer verskillend. Met Marta  argumenteer Jesus. Sy sê Hy het te laat daar aangekom, maar Jesus sê vir haar dat dit vir Hom nooit te laat is nie: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo sal lewe al sterwe hy ook. Jesus hanteer Marta se wanhoop, wys haar tereg oor haar twyfel en gee vir haar hoop. Sy benadering tot Maria verskil radikaal. Toe Hy sien dat Maria huil het sy gemoed vol geskiet en Hy was aangedaan.  Hy vra net: Waar het julle hom begrawe?

Hoekom behandel Jesus die twee susters verskillend? Omdat Hy verhoudings verstaan. Hy weet jy kan nie alle mense eenders hanteer nie. Dit sê vir ons iets van sy karakter. Hierdie ontmoeting wys vir ons dat Jesus waarlik mens, maar ook  waarlik God is. Vir Marta sê Jesus dat  net God lewe kan gee en lewe kan neem. Hy sê nie vir Marta dat Hy Lasarus gaan opwek nie; Hy sê: Ek is die opstanding en die lewe. In Lukas 10:18 sê Jesus dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het – Hy het Satan se prehistoriese val gesien. Dit beteken Hy was van altyd af daar – Hy is God.

Baie mense sukkel hiermee. Hoe kan Jesus God wees as Hy hier op aarde as mens rondgestap het? Daarna kyk ons volgende keer.