Matteus 24 – Francois Malan

Johan vra:

Boodskap Teks:
Van watter generasie praat Jesus in Matteus 24:34?. Is
dit van daardie spesifieke tyd se generasie of is dit vandag se generasie? As
dit vandag se generasie is verduidelik dan asb vir my hoekom dit vandag se generasie
is en nie die generasie van daardie tyd toe Jesus dit gese het nie. As Jesus
van daardie tyd se generasie gepraat het moes dit al gebeur het en hoe is dit
van toepassing op ons vandag. Daar is nog baie sulke gevalle.
Ek is seker dat baie van dit was Jesus gese het miskien
meer van toepassing is in vandag se tye maar die Bybel verwys na spesifieke
generasies en tye.

ANTWOORD

Prof
Francois Malan antwoord:

Mattheus
24:32-36 vorm ’n eenheid wat Mattheus woordeliks oorgeneem het uit Markus
13:28-32 en ingelei is met die voorbeeld van die vyeboom. Daarna het Mattheus
verse 37-44 daarby aangelas wat ingelei word deur die voorbeeld van Noag. Verse
37-44 kom nie in Markus voor nie, maar daar is ooreenkomste met Lukas 17:26-36
en 12:39-49 wat lyk of Mattheus en Lukas van ’n gemeenskaplike bron daarvoor
gebruik gemaak het.

Die
vyeboom se takke wat sag word en blare begin uitstoot vertel dat die somer aan
die kom is. Vers 33 se toepassing is: wanneer julle al
hierdie dinge
sien, moet julle weet dat dit naby is, voor die deur.
Die ‘dit’ verwys na die wederkoms van die Seun van die Mens wat begin met die
verduistering van die son en die maan in 29-31. Maar die tekens wat wys dat die
wederkoms naby is, voor die deur, verwys na die begintekens van die eindtyd in
24:4-28, soos die vyeboom se takke wat begin sag word. En onmiddellik na die groot verdrukking van daardie dae (vers 29) kom die eindtyd. Al hierdie dinge verwys
dus na die tekens dat die eindtyd naby is.

Vers
34 se al hierdie dinge verwys dus nie na die wederkoms
nie, maar na die tekens wat voorafgaan. Oor die tyd van die wederkoms sê vers
36 dat niemand daarvan weet nie, slegs die Vader. Vers 36 is die klimaks van
die gedeelte wat met die vyeboom in vers 32 begin as teken van die naderende
somer. Vers 36 is eintlik die finale antwoord op die dissipels se vraag in vers
3 oor wanneer hierdie dinge sal plaasvind. Daarom verwys vers 34 se al hierdie dinge wat eers moet gebeur, na die
verdrukkings van verse 4-28. Mense van Jesus se tyd belewe nog die verwoesting
van Jerusalem in 70 n.C. en die uitdelging van meeste van die stad se inwoners
en dat dié wat oorgebly het in ballingskap weggevoer word. Dit was die
inleiding tot die hele gesprek in 24:1-2 dat van die tempelgeboue nie een klip
op ’n ander gelaat sal word nie.

Die
Griekse woord geneá ‘geslag’ word gebruik vir
mense wat in dieselfde tydperk lewe, maar ook van mense van dieselfde etniese
groep, ook vir afstammelinge, en van die ganse menslike geslag. Daarom kom
Jesus se waarskuwing vir mense van sy tyd maar ook vir die ganse menslike
geslag tot vandag toe. Vers 35 voorspel dat die hemel en die aarde tot ’n einde
sal kom (met die oordeelsdag), maar beklemtoon dat Jesus se woorde nie tot ’n
einde sal kom nie.

Skrywer: Prof Francois Malan




Skape en bokke – Francois Malan

Jan vra:

In Mattheus 25 kom die Seun van die mens in sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; dan sal al die nasies versamel word en Hy sal hulle van mekaar skei — die skape aan Sy regterkant en die bokke aan Sy linkerkant.

Beide skaap en bokke het geleentheid gehad om goed te doen (Ek was honger, dors, herberg, naak, siek, in gevangenis) waaraan die skape voldoen het maar die bokke nie.

Op die vraag “wanneer” antwoord Jesus: Skape vers 40: …. vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit vir My gedoen. Bokke vers 45: …. vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit ook nie aan My gedoen nie.

Jesus se verwysing is na “nasies” en dan trek Hy dit wat “goed gedoen is of wat glad nie gedoen is nie” af na ‘n persoonlike verband nl “een van die geringstes van hierdie broeders” ten opsigte van die skape en “een van die geringstes” ten opsigte van die bokke.

Ek het dit te verstane dat die nasies wat vir Israel is die skaapnasies sou wees en die boknasies wat dit teen Israel het, maar hoe moet mens die verpersoonliking van “geringstes van hierdie broeders” verstaan asseblief?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus gebruik die woorde ‘al die nasies’ vier maal: Mt 24:9,14;  25:32; 28:19 en telkens word Israel ingesluit onder ‘al die nasies.’ Die uitdrukking verwys na alle mense op die ganse aarde – wat die volgelinge van Jesus sal haat (24:9, soos die Jode ook vir Jesus gehaat het);  na wie Jesus sy dissipels/volgelinge stuur om van die mense sy dissipels/volgelinge te maak en hulle te doop en te leer om alles te onderhou wat Hy hulle beveel het (28:19, dit sluit die Jode in). So word die uitdrukking ‘al die nasies’ ook hier in Mt 25:32 gebruik met insluiting van die Jode/Israel as een van die nasies.

Die gelykenis wat hier gebruik word van sagte skape en harde bokke wat geskei word, word toegepas op die mense uit al die nasies van die wêreld. Hulle=die mense  word van mekaar geskei as die geseëndes van Jesus se Vader en die vervloektes. In Grieks, waarin die Evangelie van Matteus oorspronklik geskryf is, is ‘al die nasies’ in 25:32 in die onsydige geslag (panta ta ethné), en die ‘hulle’ wat van mekaar geskei word, in die manlike geslag (autous) wat nie volke nie, maar mense aandui. Die oordeel gaan nie oor nasies nie, maar oor die mense uit al die nasies.

Dit gaan in Matteus 25:31-46 oor die oordeelsdag wanneer Jesus, die Seun van die Mens (vgl. Daniël 7:13-14) kom as Koning wat oor die ganse heelal regeer en oor elke mens as persoon oordeel (vgl. Mt 16:27: Die Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld; 24:40 met die koms van die Seun van die mens sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word…). Dié wat deur sy Vader geseën is, word genooi om na Hom toe te kom en die koninkryk erf, wat vir hulle voorberei is van die skepping van die wêreld af. Die regverdiges (wat die wil van God gedoen het) is die mense wie se verhouding met God reggemaak is deurdat hulle glo in Jesus wat hulle sonde aan die kruis gedra het en Hom gedien het met die barmhartigheid wat hulle uit dankbaarheid aan Hom bewys het deur hulle ontferming oor mense in nood en behoefte – die geringste van Jesus se broers. Die vervloektes sal die Koning as regter van Hom af wegstuur na die ewige vuur wat God vir die duiwel en sy engele berei het. Dit is hulle wat nie hulle hart vir Jesus as hulle Verlosser oopgemaak en Hom as die Here van hulle lewe aangeneem het nie, nie in Hom geglo het nie, en daarom nie barmhartig teenoor mense in nood en behoefte opgetree het nie.

Matteus 10:40-42 praat ook van die geringstes as die dissipels/volgelinge van Jesus, vir wie ’n beker koue water gegee is. Maar hier word  van enigiemand in nood en behoefte gepraat teenoor wie daar barmhartig opgetree is. Dit gaan nie oor die liefdeswerk as sodang nie, maar oor die mens wat as mens raakgesien is en versorg is, hongeres, dors, sonder klere, vreemdelinge, selfs die in die tronk. Jesus noem hulle sy broers, wat soos Hy nie eens ’n rusplek vir sy kop gehad het nie (Matt 8:20). Wie vir hulle raaksien en sorg, doen dit aan Jesus.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Matteus 24 – Francois Malan

Jan vra:

Mattheus se boek is vir die Jode geskryf op ‘n tydstip toe die heidene volgens Efesiërs 2: 12 nog uitgesluit was, soos Paulus dit stel: vervreemd van die burgerskap van Isarael en vreemdelinge ten aansien van die verbonde sonder hoop en sonder God in die wêreld — alhoewel ons insluiting in die liggaam van Christus ‘n “verborgenheid” was.
As Jesus dinge vir Sy dissipels voorhou praat Hy van “julle sal dit en dat ondervind”. Dit lyk vir my asof al die aspekte waarvan Jesus melding maak reeds gebeur het ofskoon daar steeds van hierdie dinge voorkom verwysende na aardbewings, pessiektes valse profete, ens.
Daar sal vir hulle, die Jode, groot verdrukking wees (ons in bekend daarmee).
Paulus sê iewers dat hy die evangelie tot aan die “eindes van die aarde” verkondig het wat vers 14 vervul?
Dan volg nog ‘n groter verdrukking met ‘n ongekende intensiteit, sodat God die dae verkort het om minstens nog vlees te red.
Dan volg besonderhede van wat na die verdrukking sal gebeur onder andere die teken van die Seun van die mens, die stamme (die Jode?) van die aarde wat rou bedryf en hulle sien Sy koms op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. Die engele wat uitgestuur word om die uitverkorenes (die Jode?) te versamel. Niks word gesê wat gebeur na die
versameling nie behalwe die gelykenis van die vyeboom.
Drie vrae: 1. Vers 34: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag (julle met wie Ek nou praat?) sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Wie is hierdie geslag?
2. Wat is die betekenis van die gelykenis van die vyeboom in die voorafgaande verband?
3 Hoe word die heiden (ons) geraak deur die inhoud van hierdie hoofstuk?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

  1. Vers 34: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag (julle met wie Ek nou praat?) sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Wie is hierdie geslag?

Vers 33 se ‘wanneer julle al hierdie dinge sien…’ verwys in die eerste plek na vers 15 se ‘wanneer julle…die ding…sien’ wat o.a. verwys na die verwoesting van Jerusalem deur die Romeine in die jaar 70 n.C., wat in vers 2 voorspel is, toe baie van die geslag se Joode-Christene betyds uit die stad gevlug het na die nie-Joodse stad Pella oos van die Jordaan, in die lig van die waarskuwing in verse 15-16. Maar oor die tyd van Jesus se wederkoms om te oordeel sê vers 36 dat niemand van die engele in die hemel weet nie, nie eers die Seun nie, maar net die Vader.

  1. Wat is die betekenis van die gelykenis van die vyeboom in die voorafgaande verband?

Wanneer die takke van die vyeboom, wat een van die min bome in Israel is wat sy blare in die winter verloor, begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook weet, wanneer julle al hierdie dinge sien wat in verse 4-26 genoem is, dat die tyd naby is, voor die deur, vir die wederkoms en oordeel, wat in verse 27-31 beskryf word. Wanneer die botsels begin wys op die takke van die vyeboom het die somer nog nie gekom nie, maar is dit naby, voor die deur. So moet gelowiges weet dat die wederkoms van Christus naby is, voor die deur, en altyd gereed wees daarvoor – soos in die volgende gelykenis van die sondvloed in die tyd van Noag, toe mense nie besef het wat aan die gang was tot die sondvloed gekom het nie (v39), en soos in die voorafgaande gelykenis in vers 27 van die koms van die Seun van die Mens soos ‘n weerligstraal, wat skielik en onverwags gebeur, maar waarvan die onweerswolke ‘n teken is van ‘n weerligstraal wat enige oomblik kan kom. Al die uitsprake in hoofstukke 24-25 dring by die gelowiges aan om elke oomblik van die dag gereed te maak en gereed te wees vir die Jesus se wederkoms. So ook die gelykenis van die vyeboom.

 

3 Hoe word die heiden (ons) geraak deur die inhoud van hierdie hoofstuk?

Alle ongelowige heidene en Jode, en alle Christus-gelowiges (Jode en nie-Jode) word deur hierdie hoofstuk gewaarsku om te enige tyd gereed te wees vir die koms van die Seun van die mens om te oordeel – vgl. ‘geen mens’ in vers 22 en telkens word van mense gepraat v5, 10, 11, nasies v7, al die nasies wat die getuienis moet hoor v14, die volke in v 30, die uitverkorenes uit elke uithoek van die aarde v31. Jesus se laaste opdrag aan die dissipels in Matteus 28:16-20 is om na alle nasies toe te gaan en die mense dissipels/leerlinge/volgelinge, van Jesus te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy die dissipels beveel het.

Die boek Matteus is nie uitsluitlik vir Jode geskryf nie, maar vir gemeentes wat bestaan uit Jodechristene en heidenchristene in ‘n Griekse omgewing, waarskynlik in Sirië, en waarskynlik ongveer die jaar 85 n.C. Die Evangelie is oorspronklik in Grieks geskryf, Joodse gebruike word as bekend voorgestel, maar Matteus gebruik Markus as bron en party van Markus se tipiese Semitiese vorme het hy vergrieks, en sy aanhalings uit die Ou Testament word gemaak uit die Griekse vertaling van die Ou Testament. Daarby word verwys na ‘hulle skrifgeleerdes’ en ‘hulle sinagoge (7:29; 9:35; 23:34) en nie na ‘ons skrifgeleerdes/sinagoge nie.

Paulus sê iewers dat hy die evangelie tot aan die “eindes van die aarde” verkondig het wat vers 14 vervul?

Die stelling is nie korrek nie. In Romeine 15:19 sê hy: En so kon ek van Jerusalem af verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer. Daarmee het hy sy werk in die Ooste van die Romeinse ryk afgehandel en wou hy na Rome en die Weste tot by Spanje begin werk (Rom 15:23-24).

Mat 24:14 word ook nie deur Paulus alleen vervul nie. En die einde het nog nie gekom met sy verkondiging nie, soos vers 14 dit aandui nie: ‘En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. En dan sal die einde kom.’

Maar oor die vertraging van die wederkoms sê 2 Petrus  3:8-9: ‘vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.’

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesus kom gou – Hermie van Zyl

Jan Smith vra:

Onderwerp: Matt 16: 28

Boodskap Teks: Die Skrif sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.

Die inhoud van die teks is nie vir my duidelik nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie sogenaamde nabye verwagtingstekste of termynuitsprake van Jesus is seker van die moeilikste om vanuit ons konteks, amper 2000 jaar later, te verstaan. Want ‘n mens se eerste reaksie is: Maar dan was Jesus mos verkeerd in sy “voorspelling” dat Hy nog in die leeftyd van die eerste Christene sou terugkeer aarde toe, m a w, dat die wederkoms van Christus binne enkele jare na sy eerste koms sou plaasvind.

Om hierdie verse te verstaan, moet ons egter die hele saak vanuit die eerste eeuse konteks benader, en nie in die eerste plek vanuit óns konteks nie. Laat ek verduidelik.

Hierdie uitsprake dat Jesus “nog in hierdie geslag” met krag sal kom in sy koninkryk, kom in Matt 16:28; Mark 9:1; Luk 9:27; Matt 24:34; Mark 13:30 en Luk 21:32 voor. Eersgenoemde drie het met Jesus se profesie oor sy naderende dood te doen, en laasgenoemde drie kom in die sogenaamde profetiese rede van Jesus oor die “eindtye” voor. Bloot die feit dat hierdie nabye verwagtingstekste in twee verskillende kontekste voorkom – in uitsprake oor Christus se naderende lyding in Jerusalem, en in dié oor die eindtye – wys dat mens versigtig moet wees om te sê dat hulle uitsluitlik op die wederkoms van toepassing is. Die bewoording van hierdie tekste dui ook daarop dat hulle nie pertinent van Jesus se “terugkeer” of “wederkoms” praat nie, maar van “hierdie geslag” of “sommige wat hier staan” wat nie “die dood sal smaak” voordat “die koninkryk (in krag) gekom het”/ “hulle die koninkryk gesien het” nie. Baie geleerdes interpreteer dit dan ook so dat hierdie tekste primêr op die kruisiging en opstanding van Jesus betrekking het. Ander noem dat hulle ook op die uitstorting van die Heilige Gees op die pinksterdag of op die val van Jerusalem in 70nC kan slaan. Veral laasgenoemde was vir baie Jode en Jode-Christene so ongeveer die einde van die wêreld. So gesien handel al hierdie gebeure oor die koms van die koninkryk (in krag) en het dit in die meeste van die aanvanklike hoorders se leeftyd plaasgevind. In daardie sin het Jesus se profesie dus reeds in vervulling gegaan teen die laaste helfte van die eerste eeu nC.

Soos wat die tyd aanbeweeg het (tweede eeu nC en verder), het hierdie tekste egter ‘n eksklusiewe toepassing op die wederkoms van Christus begin kry. So gesien is die koms van Jesus in krag nog ‘n uitstaande werklikheid, maar het die nabyheid en dringendheid daarvan weens die tydsverloop uit die meeste Christene se eindverwagtinge verdwyn. So was dit egter nie in die eerste eeu nie. Die vroeë kerk het ‘n dringende wederkomsverwagting gehad, vgl 1 Kor 7:26-31 waar Paulus sê dat die tyd min is en dat mense liefs moet bly soos hulle is; hulle moet bv nie gedruk voel om ten alle koste getroud te kom nie.

Saamgevat: Matt 16:28 en parallelle tekste kan slaan op Jesus se koms (met krag) tydens sy kruisiging, opstanding, uitstorting van die Heilige Gees, val van Jerusalem én wederkoms van Jesus. Dit is nie vreemd dat profetiese uitsprake meervoudige toepassings het nie; trouens, dit is kenmerkend van sulke uitsprake dat hulle eerder ‘n aanspraak maak op die verbeelding as dat hulle eksakte voorspellings is en daarom net een spesifieke gebeure in die oog het. Hulle kan dus meermale in vervulling gaan. Hulle behou egter hulle karakter as tekste wat die dringendheid en nabyheid van die eindgebeure onderstreep. Hulle kan enige tyd in vervulling gaan, want God se tyd is nie ons tyd nie. Ons moet dus altyd wakker en nugter lewe, met ons oë gerig op die wolke, by wyse van spreke, al is hierdie woorde reeds ongeveer 2000 jaar gelede uitgespreek en al het hulle reeds (voorlopig) in vervulling gegaan in die eerste eeu nC. Feit is dat die finale vervulling daarvan – die wederkoms van Christus in heerlikheid – nog uitstaande is.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl