Ds Dirk Venter

Dr Dirk Venter

Dirk Venter (Geb. 20 Oktober 1978) matrikuleer in 1996 in Ermelo.  Hierna studeer hy aan die PU vir CHO waar hy die grade BA en BA (Hons, Grieks) verwerf.  Hy verwerf ook die grade Hons Teol., MDiv en MTh (Nuwe Testament) aan die Universiteit van Pretoria.  Hy ontvang die grade telkens met lof.

Sy MTh studies, waarin hy ondermeer die tema “Paulus se teologie van geldelike bydraes in II Korintiërs” behandel het, is in 2008 onder die leiding van prof. Jan van der Watt voltooi.  Hy is tans besig met voorbereidings om verder te studeer in die Nuwe Testament en DV mettertyd ‘n PhD graad daarin te voltooi.

Dirk is in Nov 2003 as leraar in die Nederduits Gereformeerde Kerk gelegitimeer, en is sedertdien werksaam in die NG Gemeente Meyerspark in Pretoria.

 

 




Dr Lodewyk Sutton

Lodewyk Sutton is gebore op 5 Januarie 1982 in Pretoria, Suid-Afrika. Hy matrikuleer gedurende die jaar 2000 aan die Hoërskool Eldoraigne. In 2006 voltooi hy ʼn LLB-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) en word as advokaat toegelaat van die Hoëhof in 2009. Hy begin sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria (UP) in 2007 en voltooi die grade BTh, Ba Honneurs in Antieke Tale en Kulture en M-Div, almal met lof. In 2015 voltooi hy sy PhD in Ou Testament studies by UP, met ʼn tesis getiteld: “A trilogy of war and renewed honour? Psalms 108, 109 and 110 as a literary composition.” In 2016 voltooi hy ʼn Post-dok by UP, waar hy ook gewerk het as deeltydse lektor in Ou Testament. Sedert 2018 is hy ʼn Senior Lektor in Ou Testament, by die departement Ou- en Nuwe Testament Studies, by die fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat (UVS). In 2019 voltooi hy ʼn Meesters in Semitiese tale by UP. Lodewyk dien ook as ʼn predikant in die Nederduitse Geformeerde Kerk (NGK).

 




Gerhard van Rooyen

Gerhard van Rooyen

Ek is ‘n Landdros in Greytown KZN en het die skripsie(geloof-Ateisme) gedoen as deel van my M-Phil (Toegepaste Teologie) wat ek in 2008 by UP verwerf het. Ek het ook ‘n Bphil (Bybelinterpretasie) by Stellenbosch behaal in 2001. Ek is op die oomblik besig met ‘n MA Teologie by UP onder Prof. Etiene De Villiers. Ek het ook ‘n LLM by Unisa behaal in 1999  en is al die afgelope 28 jaar ‘n Landdros waarvan 17 jaar op Greytown. Ek is ook die samesteller van ‘n maandelikse e-pos nuusbrief wat aan Landdroste reggor die land versprei word.  Ek is getroud met Ansie en het 3 seuns. Vereers is dit seker genoeg behalwe dat ek probeer om Jesus te volg in my elke dag se lewe.

 




Dr Wynand de Wet

Dr Wynand de Wet

 

Wynand de Wet (Geb. 25 Nov 1968) matrikuleer in 1968 in Witbank.  Na 2 jaar in die SA weermag verwerf hy BA te UNISA en aan UP met lof:  BD, MDiv en PhD (NT).
wynand_de_wet

Hy begin sy loopbaan as predikant te NG Gemeente Witbank, waar hy veral betrokke was by die onderlinge sorg-, jeug- en sendingbedieninge. Sedert 2002 het hy, sy vrou en 2 vriende Christian Development Trust (CDT) begin wat talle projekte in SA befonds het ter bevordering van die Evangelie.  Hy tree in hierdie tyd ook verskeie kere op radio op en lei in 2007 ‘n toer na Turkye, saam met prof Jan van der Watt as geestelike leier.

Hy was tydens sy studiejare betrokke as navorsingsassistent van prof Du Toit en Van der Watt en het later jare ook by UP in NT lesings aangebied van tyd tot tyd. Hy het oor baie jare ‘n Bybelskool in NG Witbank gelei en was ook betrokke by die opleiding van sendelinge in Mali en Thailand.

Hy spesialeer veral in koinonia (deelgenootskap in Jesus en met mekaar) en artikels wat al gepubliseer is fokus op hierdie tema. Hy het ook ‘n stelsel op gemeentevlak geimplimenteer wat op grond van koinonia-beginsels nuwe geestelike groei stimuleer.

Einde 2008 het hy en sy gesin na Ohio, Amerika, verhuis en dien hy tans as enigste leraar in die New Hampshire gemeente van die United Methodist Church.