Die genesing van die melaatse (1)

Happiness is not in the mere possession of money; it lies in the joy of achievement, in the thrill of creative effort  – Franklin D. Roosevelt

 

Die genesing van die melaatse (1)

Jesus het afgekom van die berg af, en ‘n groot menigte mense het saam met Hom gegaan. ‘n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak (Matteus 8:1 – 2).

Melaatsheid was destyds ‘n gevreesde aansteeklike siekte. Vir die antieke Israeliete was mense met melaatsheid ‘n sigbare les oor sonde. Soos melaatsheid mettertyd die hele persoon affekteer, affekteer sonde ook die hele persoon; melaatsheid is lelik en ongeneeslik behalwe as buitengewone maatreëls getref word,

 

 

Daar is ‘n paar interessante kenmerke van hierdie man met melaatsheid:

  • Hy kom met vertroue na Jesus. Hy het waarskynlik Jesus se liefde en deernis aangevoel en besef dat Jesus nie omgee om met hom geassosieer te wees nie. Die melaatse se primêre bekommernis was sy groot behoefte en Jesus se vermoë en gewilligheid om dit te hanteer.
  • Die melaatse nader Jesus met eerbied. Sy roep na Jesus en sy naderkom na Jesus, wat streng verbied is, was nie aanmatigend nie, maar die gevolg van nederige aanbidding. Kniel beteken in werklikheid neergeval voor Jesus. Sy gesindheid bewys dat hy Jesus  as Here beskou het – hy herken Jesus se Goddelikheid; hy weet dat Jesus, as God se Seun, hom kan genees.
  • Die man kom vol verwagting, maar nie met eise nie. Daarom nader hy Jesus met eerbied en nederigheid. Dit is duidelik dat hy graag genees wil word, maar hy vra nie eksplisiet vir Jesus vir hierdie guns nie. Dit was darem te veel om te vra. Daarom sê hy: Here, as U wil, kan U my gesond maak.  Vandag kry ons by sommige gelowiges die gesindheid  dat as hulle vra God hulle moet gesond maak.
  • Die man se geloof was opreg – hy is oortuig dat God hom gesond kon maak, maar hy onderwerp hom aan die soewereine wil van God – Jesus kon sy melaatsheid genees, maar Hy was nie verplig om dit te doen nie. Sy geloof herinner ons aan die geloof van Daniël en sy drie vriende: Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie (Daniël 3:17 – 18). Net so sal die melaatse ook aanvaar wat Jesus ook al besluit.

 

Hierdie man staan teenoor die Joodse leiers. Hulle was altyd reg; hulle was mooi aangetrek; inwendig was hulle egter korrup en ongelowig. Die melaatse was uitwendig afstootlik in voorkoms, maar inwendig was hy vol opregte geloof.

 

Dink oor die ooreenkoms van melaatsheid en sonde. As sonde se gevolge duidelik in ons gesig en op ons vel sigbaar was soos melaatsheid, hoe sou dit ons gedrag en gehoorsaamheid beïnvloed het?

 

Ek het hier gebruik gemaak van Daily Readings from the Life of Christ, Vol. 1, John MacArthur.




Die genesing van die melaatse (2)

Just don’t give up trying to do what you really want to do. Where there’s love and inspiration, I don’t think you can go wrong – Ella Jane Fitzgerald

 

Die genesing van die melaatse (2)

Toe steek Jesus sy hand uit, raak aan hom en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg (Matteus 8:3).

In die vorige blog het ons baie aandag aan die melaatse gegee en gelet op sekere interessante eienskappe by hom. Kom ons kyk na Jesus se optrede.

 

Die wet van Moses verbied Jode on aan melaatses te vat, want hulle was onrein. In Levitikus 13 lees ons van velsiektes wat ‘n persoon onrein maak. Baie van die beskrywings daar kan met melaatsheid inpas. Levitikus 5:3 sê dat as iemand raak aan iets onreins van ‘n mens, iets wat hom onrein maak, en hy is nie bewus daarvan nie, is hy skuldig. Toe Jesus aan hierdie man raak, was Hy onmiddellik seremonieel onrein.

Melaatses is uit die samelewing gewerp en moes buite die dorpe woon. Hulle moes hardop skreeu as hulle nader kom, sodat die mense kan padgee voor hulle onrein word. Dink nou net aan die melaatses. Al geselskap wat hulle gehad het, was ander melaatses. Hoe het hulle nie verlang na nabye kontak met ‘n persoon wat gesond is nie

Jesus raak aan hierdie man. Dit was nie nodig nie – Hy kon die man met ‘n woord gesond gemaak het. Ongelooflik. Die Seun van God reik in liefde uit en raak aan hierdie uitgeworpene van die uitgeworpenes. Niemand anders sou dit gedoen het nie.

Jesus genees hom onmiddellik: En sy melaatsheid was onmiddellik weg.  Toe Jesus aan hom raak, verdwyn sy melaatsheid. Jesus het soms mense in stadia genees. Die blinde man in Betsaida (Markus 8:22 – 26) en die man wat blind gebore is (Johannes 9:6 – 7) is voorbeelde hiervan. Hierdie moes ‘n dramatiese ondervinding vir die ooggetuies gewees het. ‘n Uitgeworpene, sy vel vol swere, staan skielik op – gesond. Sy ledemate is normaal; sy gesig is sonder littekens; sy oë is helder en blink; sy stem is sterk en vol vertroue. Die moderne wetenskap met al sy wonderlike kundigheid en vermoë om te genees, kan nie ‘n melaatse onmiddellik genees nie.

Is daar sekere mense aan wie jy nie graag wil raak nie – nie fisies of met oogkontak nie? Wat gee aan ons die reg om nie met liefde na ‘n ander persoon in nood te kyk nie – om ons hulp aan te bied en om hom te aanvaar?

Ek het hier gebruik gemaak van Daily Readings from the Life of Christ, Vol. 1, John MacArthur.