NEHEMIA – MOTIVERING (3)

When money speaks, the truth keeps silent. –Russiese Spreekwoord

Nehemia – Motivering (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #6: Motivering

 

Lesse van motivering

Nehemia het sterk in die opbou van Jerusalem en die welstand van sy mense geglo. Hy kry mense om by hom aan te sluit vir die saak wat hy bevorder. Wat leer ons by hom?

 

  • Motivering begin by jou. As jy opgewonde is, sal ander ook opgewonde wees; as jy ‘n positiewe siening en gesindheid het, sal ander by jou aansluit. As jy vertroue uitstraal, sal ander ook vertroue hê om jou te volg.
  • Motivering kom van binne. As mense jou visie aanvaar en jou saak internaliseer, sal hulle gemotiveer bly al raak dinge moeilik.
  • Motivering beskryf geleenthede. Die moeilikheidsgraad van die projek en die opofferings wat mense sou moet maak, het Nehemia nie ontmoedig nie. Hulle het in ieder geval niks gevorder oor 90 jaar nie. Hy rig hulle oë op die toekoms. Hy help hulle om oplossings en nie probleme nie te sien.
  • Motivering skep ‘n behoefte vir verandering. ‘n Wyse leier weet wanneer om sy mense uit die status quo te beweeg na ‘n nuwe oplossing. Nehemia wys hulle op hulle haglike toestand; hy wys vir hulle dat verandering noodsaaklik is; hy mobiliseer almal om die muur te herbou en so hulle nasionale trots te herwin.
  • Motivering ontdek hulpbronne. Die hoe is belangrik, want tydens hierdie fase kry ons algemeen frustrasie en ontmoediging. As jy mense motiveer moet jy sorg dat hulle die werk kan doen.
  • Motivering brei jou leierskap uit. Een persoon, al is hy hoe doeltreffend en kundig en bekwaam, is steeds net een persoon. Hy het hulp nodig. Watter soort hulp? Motivering laat mense vlam vat. Hulle word ‘n lewenskragtige mag wat saam werk om ‘n visie te vervul. As jy nie ander kan motiveer nie, is dit twyfelagtig of jy ‘n goeie leier kan wees.

Nehemia stuur die mense van Jerusalem weg van hulle vrese en na die Here toe. Hy vestig hulle oë op God en wat Hy besig is om vir hulle te doen. Vir 90 jaar kon hulle niks regkry nie. Nehemia raak hulle harte aan  en gee hulle ‘n rede om sterk te wees. Die mense verenig en begin bou. Hulle gaan oor tot aksie, want hulle glo dat hulle dit kan doen.

 

Volgende keer begin ons met die sewende kenmerk van ‘n leier – delegering.




NEHEMIA – MOTIVERING (2)

“I’d rather be able to pray than to be a great preacher; Jesus Christ never taught his disciples how to preach but only how to pray.” ~ D.L. Moody

 

Nehemia – Motivering (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #6: Motivering

 

Dek die tafel – voorbereiding

Susa na Jerusalem is 1400 kilometers – ten minste 2 tot 3 maande se reistyd. Die koning het soldate vir hom gegee om sy geselskap te beskerm; hy moes aan die goewerneurs van die provinsies waardeur hy gereis het die koning se briewe wys. Dit alles het Nehemia gereël voordat hy vertrek het.

In Jerusalem dink die mense net aan oorlewing – niemand kom na vore om die werk te doen nie. Nog slegte nuus: Sanballat …  en Tobija … het dit as ‘n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen (2:10).

 

Neem beheer

 As die nuwe leier inkom en links en regs hiet en gebied, gaan iemand seerkry. Nehemia was nuut; hy moes beheer oorneem. Hy kon sterk optree – hy het immers die koning se soldate, die koning se toestemming, die koning se hulpbronne. Stap in en neem oor.

 

Nehemia besef dat hy sy mense moet oortuig dat dit God is wat hom lei. Dit kon hy alleen doen deur persoonlike navorsing en beplanning. Drie dae lank is hy in Jerusalem – hy bid , hy dink en hy leer van die mense ken. Hy werf ‘n paar manne wat hy kon vertrou en ondersoek die mure – hy ontleed die probleme wat voorlê. Hy ondersoek die muur reg rondom Jerusalem. Hoekom doen hy dit in die nag? Hy wou seker verhoed dat ander sy planne antisipeer voordat hy seker is van wat hy moet doen.

 

Word ‘n agent vir verandering

Hy weet wat hy wil doen – hy het die inligting wat hy nodig het. Nou moet hy sy mense motiveer. Geskiedkundiges glo dat die muur ongeveer 8 kilometer lank was. Mense wil ontspan en rus; mense verkies die status quo; mense hou nie van verandering nie; mense hou nie van ontwrigting nie – veral as ons nie ‘n duidelike rede sien om te verander nie. Nehemia moes eers die mense ontevrede met die status quo maak – hulle moes besef dat hulle huidige situasie sleg was. Mense moet self besef dat verandering nodig is.

 

Motivering begin by jou

Jy kan nie ‘n ander man se hart aan die brand kry as die vuur in jou eie hart nie eers aangesteek is nie. Jy moet eers begin beweeg voor ander sal beweeg. Daar is geen groei in die status quo nie. Dit mag maklik en gemaklik wees, maar algaande gaan jy agteruit. Jou potensiaal verloor momentum Jy moet eers jouself uitdaag en motiveer. ‘n Uitdaging laat jou groei; dit toets jou vaardighede en slyp jou potensiaal. Nehemia vra nie vir die mense om iets te doen wat hy nie self bereid was om te doen nie. Hy was bereid om die uitdaging te aanvaar en langs hulle te werk. Hy lei die veranderinge – een uitdaging op ‘n slag.

 

Daag die mense uit

Daar is drie soorte mense in die wêreld: diegene wat nie weet wat gebeur nie; diegene wat kyk wat is besig om te gebeur; diegene wat dinge laat gebeur. Hy het die mure verken; hy het ‘n plan om die taak te voltooi. Nou moes hy vir die mense sê hoekom hy in Jerusalem is. Hy kry al die mense bymekaar en vertel vir hulle wat sy plan is. Kyk na sy benadering teenoor skeptiese mense wat moed verloor het.

  •  (2:17).

    • §Hy definieer die probleem. Dikwels is mense ongemotiveerd, want hulle verstaan nie die probleme nie. Hierdie mense leef immers al 90 jaar in hierdie benarde toestand. Hulle is heeltemal apaties oor die toestande in Jerusalem. Nehemia besef dat hy hulle sal moet skok. Hy verwys na die benarde toestand waarin hulle verkeer: Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand.
    • §Hy ontwikkel die plan. Dikwels is die beste plan die eenvoudigste plan. Hy kom nie met ‘n gedetailleerde bloudruk nie – hy fokus op die eindresultaat: Kom ons herbou die muur van Jerusalem.
    • §Beskryf die doel. Hoekom moet hulle dit doen? Dat die vernedering nie langer op ons rus nie. Hulle bure kyk na hierdie patetiese situasie met minagting – nie alleen na die Jode nie, maar ook hulle God. Hy maak aanspraak op hulle nasionalistiese en godsdienstige ywer.
    • Dat Nehemia geslaag het, is duidelik: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak (2:18).

       




NEHEMIA – MOTIVERING (1)

 “We complain today that ministers do not know how to preach; but is it not equally true that our congregations do not know how to hear?” ~ J.I. Packer

 

Nehemia – Motivering (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #6: Motivering

Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak (Nehemia 2:18).

 

Die reis van Susa na Jerusalem was lank en moeilik. Maar Nehemia se probleme was nie op ‘n einde nie. Hy het die koning se toestemming gehad; die koning het materiaal voorsien. Die taak wat voorlê was enorm. Baie voor hom het probeer om die mure te herbou – sonder sukses. Hoe sou hy ‘n verskil kon maak?

 

Nehemia was drie dae in Jerusalem toe hy met ‘n paar man die nag uitgegaan het  om die mure te inspekteer. Hy wou met sy eie oë die omvang van die taak sien. Na sy verkenningstog was sy planne gefinaliseer. Hy besef egter dat die taak te groot is vir hom alleen. Hy het die hulp van ander nodig gehad. Maar hierdie selfde mense het reeds dekades lank nog niks aan die muur gedoen nie. Op een of ander manier moes hy hulle motiveer dat dit belangrik was om die veiligheid van Jerusalem te verseker. Hy was opgewonde – hoe kry hy sy mense ook opgewonde.

 

Leiers gebruik twee primêre vorme van motivering:

  • §Intrinsieke motivering. Dit het ‘n sterker en langdurige effek. Hierdie spreek tot die hart van die persoon. Leierskap is die vermoë om iemand so ver te kry dat hy doen wat jy wil hê hy moet doen, wanneer jy wil hê dat hy dit moet doen, op ‘n manier wat jy wil hê hy dit moet doen, want hy wil dit doen.

 

Maar hoe doen jy dit? Daarna gaan ons volgende keer kyk.