Vraag: Gesig van die Vader – Jan van der Watt

Vraag:

Tjaart vra hoe dit verstaan moet word dat daar in Eksodus 33 staan dat niemand God se aangesig sal sien nie, maar dat Moses het God wel van agter gesien het.

Prof Jan van der Watt Antwoord

Daar staan in ‘n paar plekke in die Bybel dat mense God nie mag of kan sien nie (bv. Eksodus 33:20, 23; of Johannes 1:18). Die verskil tussen God en mens is te groot. God se heerlikheid is ver bo wat ‘n mens kan aanskou.

Ons moet Eksodus 33 dus in verband sien. Moses verteenwoordig God se volk en is in gesprek met God. In die gesprek vra Hy om God se magtige verskyning te sien. Uit genade het God se magtige voortreflikheid wel voor Moses verbygekom en in Eksodus 33:21-23 word dan verduidelik hoe dit gebeur. God sal Moses se oë met die palm van sy hand toegehou tot Hy verby is. So het God self vir Moses beskerm om nie dalk tog na Hom te kyk (te loer) nie. Hy het God toe net van agter gesien. In vers 23 word dan gesê wat presies bedoel word met “om God te sien’’: “Niemand mag sy gesig sien nie”, staan daar. Hierdie gebeurtenis moet as ‘n spesiale genadegeskenk van God aan Moses gesien word.

Daar is egter geleerdes wat argumenteer dat Moses God glad nie gesien het nie. God se heilige teenwoordigheid het by Moses verbygegaan en toe God verby is, kon Moses alleen maar die weg sien waar God by hom verbygegaan het. Die verklaring vertolk egter nie presies wat daar in die teks staan nie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Vader, Seun en Heilige Gees in berading – Hermie van Zyl

Liesl vra:

Ek wil graag weet of julle my dalk kan help met die volgende: Wat is die rol van die Vader, Seun en Heilige Gees in berading?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Om hierdie vraag na behore te antwoord, moet mens begin met die vraag: Wat is berading? Die antwoord hierop is nie so eenvoudig nie, want berading kan met verskillende oogmerke beoefen word. So is daar berading met die oog op huweliksherstel, tienerbegeleiding, kinderontwikkeling, of vir mense wat worstel met menseverhoudings, selfdoodneigings, of sukkel met die nagevolge van seksuele molestering. Selfs mense wat nie kan koers kry met hulle finansies nie of in skuld vasgevang is, soek hulp en raad. Maar ek meen die gemene deler tussen al hierdie vorme van berading is dat mense wat berading soek, graag in staat gestel wil word om as volwasse, heel mense die lewe aan te durf. En veral om dit vanuit ’n geloofsperspektief te doen – vanuit hulle verhouding met God. Hulle wil graag as Christengelowiges vanuit die Woord begelei word hoe om verskillende lewensprobleme die hoof te bied. Kortom, berading het op die oog om mense te help om hulle volle potensiaal as Christengelowiges te ontwikkel sodat hulle die uitdagings van die lewe kan hanteer.

Noudat die oogmerk van berading duideliker in die oog is, kan ons probeer om die vraag te beantwoord wat die rol van God as Vader, Seun en Heilige Gees in berading is. Maar daar is nóg kwessie wat eers aandag moet kry: Wat is ons mensbeskouing as Christene? As jy byvoorbeeld – soos baie beraders en sielkundiges – ’n bloot sekulêre mensbeskouing het, word die mens gesien as ’n “behoeftedier” wie se wense na die beste van sy of haar vermoë “gediens” moet word. Dit gaan oor wat vir die méns belangrik is, wat sy belange en welsyn die beste dien. Hiervolgens is die mens ’n outonome wese wat self oor sy eie heil besluit; net hy weet wat goed en reg is vir hom. En die terapeut of berader is bloot daar om die innerlike genesingskragte van die pasiënt te ontsluit en te mobiliseer. Enigiets wat die mens gelukkig kan maak, is dan aanvaarbaar, maak nie saak of dit vanuit ’n normatiewe etiek bedenklik mag wees nie. Byvoorbeeld, iemand wat sukkel met seksuele verhoudings in die huwelik, mag die raad ontvang om seksueel te “eksperimenteer” ten einde sy of haar seksuele vryheid te ontdek – op voorwaarde dat die persoon daarmee “gemaklik” is – ongeag of dit vanuit Christelike perspektief teen die wil van God ingaan of nie.

Berading vanuit Bybels-Christelike perspektief werk egter met ’n ander mensbeeld. Die mens word nie in die sentrum gestel nie, maar God en sy Woord. So ’n mensbeeld gaan uit van ’n paar kern-aannames, soos die volgende: Die mens is geskape na die beeld van God en verteenwoordig God dus in al sy doen en late; in die laaste instansie is die mens aan God verantwoording verskuldig. Verder word erken dat die mens nie aan die doel beantwoord waarvoor God hom geskape het nie, maar in eiesinnige en selfgerigte gedrag verval het – in Bybelse taal: in sonde geval het. Die mens het dus nood aan verlossing van hierdie destruktiewe selfgerigtheid. En die enigste manier om daarvan verlos te word, is om dit te bely, die vergifnis van God in en deur die offer van Jesus Christus te aanvaar, en deur die Heilige Gees ’n lewe van heiligmaking te lei – tot eer van God, tot genesing van die self en tot seën van die gemeenskap. Bybelse berading lei dus nie primêr tot behoeftebevrediging of selfverwesenliking nie, maar het op die oog om die mens met bostaande insigte te begelei na ’n lewe wat God kan verheerlik. En eers dan, wanneer die mens in pas met God lewe, kom daar persoonlike verryking.

Vanuit hierdie mensbeeld kan ons dan vra na die rol wat Vader, Seun en Heilige Gees in berading speel. Ons sou kon sê dat God die Vader veral as Skepper van die mens na vore tree. Die mens is kragtens sy status as skepsel, beeld van God (Gen 1:27). In al ons doen en late moet ons dus as God se verteenwoordigers op aarde optree. En berading moet daarop ingestel wees om die ander daaraan te herinner dat ons die verantwoordelikheid het om God se beeld te vertoon. Omdat Hy regverdig, barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde is, behoort ons omgang met mekaar ook iets hiervan te weerspieël. As naakte selfsug en eiebelang ons lewens ontsier, is ons nie beelddraers van God die Skepper nie en beantwoord ons nie aan ons doel as mense nie, en sal daar vir seker allerlei patologiese gedragspatrone manifesteer wat in berading hanteer behoort te word.

As Seun is God veral die Verlosser. Deur sy offer in ons plek kom daar genesing vir ons sonde. Dit is een van die troosryke aspekte van Christelike berading dat aan die ander vergifnis van sonde verkondig kan word. As ons oorlaai en moeg is, kan ons na Christus toe kom en rus ontvang (Matt 11:28). Ons hoef nie self te dra aan die las van ons sonde, verkeerde besluite en dwase optredes van die verlede nie. Ons kan daarvoor vergifnis ontvang en as nuwe mense herbore word. 2 Korintiërs 5:17 stel dit onomwonde: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” In berading vanuit Christelike perspektief sal hierdie faset een of ander tyd ter sprake kom.

En die Heilige Gees wil ons lei na ’n lewe van heiligmaking. As Christus die vrou wat in owerspel betrap is, vergewe, dan sê Hy ook vir haar: “Sondig nie meer nie” (Joh 8:11). Dít is heiligmaking. Dit het egter niks daarmee te make dat ons nou skielik sonder sonde is nie; dít kan niemand van ons op aarde wees nie. Maar dit beteken wel dat ons die stryd teen die sonde deur die krag van die Heilige Gees aanpak. Ons hoef nie ’n slagoffer van ons eie mislukkings te wees nie. Ons kan nou aan die eise van God se wil begin voldoen omdat ons nie meer deur ons sondige natuur beheers word nie, maar deur die Gees (Rom 8:4). Die vrug van die Gees – liefde, vreugde, vrede, en al die ander (Gal 5:22) – begin nou ons lewe versier. Christelike berading sal dit ten doel stel om die een wat beraad word, te lei na ’n lewe van heiligmaking.

Bogenoemde het veral die onderskeie rolle van Vader, Seun en Heilige Gees beklemtoon. Maar daar is ook ’n ander aspek wat uit die drie Goddelike Persone voortvloei wat in berading ’n rol behoort te speel. Die drie Persone vorm saam die Goddelike Drie-eenheid, of Triniteit. En dit is veral die relasie of verhouding tussen die drie Persone wat in die onlangse teologiese besinning taamlik klem ontvang het. Dit gaan met name oor die interpersoonlike verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees wat eenheid in die Triniteit skep. Wat hier voorop staan is nie soseer elkeen se besondere wese of werk nie, maar die feit dat hulle altyd in verhouding tot en interafhanklikheid van mekaar optree. ’n Mens kan sover gaan om te sê dat hulle onderskeie identiteite as Persone juis in hulle intersubjektiewe verhouding lê. Hulle tree nooit onafhanklik van mekaar op nie, maar altyd as ’n heilige Triniteit, uitreikend en luisterend na, en ondersteunend van mekaar. In hierdie sin van die woord is die Triniteit ook ’n model vir menslike optrede. Dit is opmerklik dat wanneer Genesis 1:27 sê dat die mens na God se beeld geskape is, daar onmiddellik bygevoeg word: “man en vrou het Hy hulle geskep”. Dis juis in die mens se interafhanklikheid dat hy die beeld van God verteenwoordig en sy identiteit na vore tree. Dit gaan nie net oor die mens as enkeling met sy besondere eienskappe waarin die spesifieke identiteit van die mens opgesluit lê nie, maar daarin dat hy saam met en deur ander mense mens is. Die ander is wesenlik deel van ’n individu se identiteit. In die mate dat die individu uitreik na ander, die ander omhels, ruimte maak vir die ander, in daardie mate is die mens meer mens; trouens, in daardie mate vertoon ons die beeld van God as Triniteitswese. God is in sy eie wese altyd God-in-verhouding-met-die-Ander. So is die mens ook slegs waarlik mens as hy ruimte maak vir die ander.

In berading is hierdie perspektief enorm belangrik. Want die meeste probleme waarmee beraders te kampe het, is verhoudingsprobleme – mense wat nie met ander oor die weg kan kom nie. Sekulêre berading is dikwels daarop ingestel om die mens tot individuele selfverwesenliking te lei. Maar vanuit Christelike Triniteitsperspektief is dit baie belangrik om die persoon wat berading ontvang altyd te begelei tot die aanvaarding van en uitreik na die ander, hoe moeilik en riskant dit ook al is. Want juis hierin kom ons eie identiteit die beste na vore. Só is ons geskape. Immers, dis deur te gee, dat ons ontvang (vgl Hand 20:35). Dis deur jouself vir die ander oop te stel, dat jy jouself en jou eie waarde ontdek. En presies dít het groot genesingskrag in die konteks van berading.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




“Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46) – Hermie van Zyl

Clifford vra:

Wat is die betekenis van hierdie woorde van Jesus?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is een van die sogenaamde sewe kruiswoorde van Jesus. Die kruiswoorde verwys na die sewe keer toe Jesus gepraat het terwyl Hy aan die kruis van Golgota gehang het. ‘n Mens kan sê dat dit Jesus se sterfbedwoorde was. Daarom dra dit besondere gewig. Dit trek die gordyn effens weg en gee ons ‘n kykie in die siel van Jesus – hoe Hy Self in daardie oomblikke sy lyding en naderende dood ervaar het.

Die kruiswoorde is egter baie meer as ‘n selfonthulling van Jesus se sielestryd. Dit laat ons ook die betekenis van sy dood vir ons beter verstaan. Wanneer Jesus aan die kruis sterf, is dit immers nie as gevolg van sy eie oortredinge nie, maar juis ter wille van ons (2 Kor 5:14-15, 21).

Die sewe kruiswoorde kom nie almal in elkeen van die vier Evangelies voor nie. Hulle lê verspreid: drie kom uit die Lukasevangelie, drie uit die Johannesevangelie en een uit Matteus en Markus gesamentlik. Dit is dus nie moontlik om te sê in presies watter historiese volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Want ondanks die onderlinge ooreenstemming tussen die Evangelies, gee elkeen sy eie weergawe van die kruisgebeure. Die volgorde van die kruiswoorde soos dit soms voorgehou word, is dus eerder ‘n samestelling deur die kerk wat baie ver in die geskiedenis teruggaan.

Na alles is dit egter nie belangrik om te weet presies in watter volgorde die kruiswoorde uitgespreek is nie. Wat wel belangrik is, is of ons die boodskap daarvan in die geloof toe-eien.

Die kruiswoord “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46), is volgens kerklike tradisie die laaste van die sewe kruiswoorde. Volgens die Lukasevangelie was Jesus se eerste woorde aan die kruis ’n gebed: “Vader, vergeef hulle ….” (23:34). Dieselfde Evangelie berig dat sy laaste woorde ook ’n gebed was. Daar is vier momente van hierdie gebed wat uitstaan:

Eerstens, bloot die feit dat dit ‘n gebed was. Seer sekerlik is gebed ‘n gepaste manier om jou lewe mee af te sluit. Maar om dit te kan doen, moes jy saam met God gelewe het. En dit was by uitstek waar van Jesus. Hoeveel maal lees ons nie dat Hy die aangesig van sy Vader in gebed opgesoek het nie. En nie net in krisistye nie (Matt 26:36,39), maar dit was sy gewoonte (Matt 14:23; Mark 1:35; Luk 3:21; 9:18, 29; ens).

Tweedens is hierdie gebed ‘n aanhaling uit die Skrif – Psalm 31:6. Soos gebed natúúrlik by Jesus gekom het, het die Skrif ook. Hy het gelewe vanuit die Woord van God. Kleintyd al het Hy die Skrifgeleerdes verbaas met sy kennis (Luk 3:46-47). Verder, die ooreenkoms tussen Jesus en Stefanus se laaste woorde is opmerklik. Handelinge 7:59 sê dat Stefanus met dieselfde gebed op sy lippe gesterf het, behalwe net dat hy sy gees aan Jesus toevertrou het en nie aan die Vader nie. Maar wesenlik is daar geen verskil nie. Verder, Stefanus bid ook vir sy vyande terwyl hy sterf (“Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie”, Hand 7:60), net soos Jesus dit aan die kruis gedoen het: “Vader, vergeef hulle …”.

Wat geld van gebed, geld ook hier: as jy wil sterf met die Skrif op jou lippe, moet jy leef met die Skrif in jou hart.

Derdens spreek hierdie gebed van vertroue. Van kleinsaf was dit die vrome Jood se aandgebed. In die aand vertrou jy jou gees aan God toe sodat Hy dit in die môre weer aan jou kan teruggee. Wanneer Jesus dit hier aan die kruis doen, is dit met die volle vertroue dat sy Vader weer sy lewe aan Hom sal teruggee. Wat ook op die derde môre na sy dood gebeur het toe sy Vader Hom opgewek het uit die dood om nooit weer te sterf nie. Dis treffend dat Jesus op die negende uur (d w s omtrent 15:00, Luk 23:44; Mark 15:33), op dieselfde tyd dat die basuingeskal in die tempel die volk oproep tot die aandgebed, ook sy aandgebed tot die Vader rig. In hierdie stadium, net voor sy dood, vind Hy ook weer vrede en rus by sy Vader, nadat Hy volgens Matteus en Markus in sterwensangs was en deur God verlate gevoel het (“My God, my God, waarom het U my verlaat?”). In sy ervaring van Godverlatenheid bly Hy egter steeds aan God vashou (My God …). Dit is dus nie vreemd dat Hy sy Gees aan sy Vader toevertrou nie. Verder, Jesus se opregte Godsvertroue word bevestig in die volgende vers (Luk 23:47) wanneer die toesighoudende Romeinse offisier opmerk dat Jesus “werklik onskuldig” was. Daar staan letterlik dat Jesus “regverdig” was – sonder skuld voor God. Jesus is by uitstek die waarlik vrome of onskuldige mens omdat Hy Homself ten volle aan sy Vader se wil oorgegee het, selfs toe Hy deur sy Vader verlate gevoel het.

Laastens, in Christus is God ook my Vader. Aan Hom kan ek my ganse lewe toevertrou. Daarom kan ek aan die einde daarvan my gees in die dood aan God oorhandig, in die volle vertroue dat Hy, net soos met Jesus, dit in die opstanding aan my sal teruggee. Soos die pragtige aandgesang se laaste vers lui:

Ek weet aan wie’k my toevertrou het,

al wissel dan ook dag en nag;

ek ken die Rots op wie’k gebou het,

van wie ek al my heil verwag.

Eens aan die einde van my lewe

sal ek, van dood en sonde vry,

vir al u seën en goedheid, Here,

U nuut my dank- en loflied wy.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die slot van die Ons Vader

Die slot van die Ons Vader – Francois Malan

Hein vra:

Mattheus 6:13 word die laaste gedeelte van die teks uitgelaat in die 1983 vertaling (want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen) Kan u vir my verduidelik asb. In Openbaring 8:3 lees ons van die engel wat aan hom baie wierook gegee is om saam met die gebede van al die gelowiges voor die troon te offer. Is dit in vandag se tyd verkeerd om wierook aan te steek wanneer jy bid, of is dit heidens? Verstaan ek die teksgedeelte verkeerd?

Prof. Francois Malan antwoord

1 Slot van die Onse Vader

Die oudste Manuskripte van die Nuwe Testament, kodeks Sinaïticus en kodeks Vaticanus, uit die 4e eeu n.C., kodeks Beza vyfde eeu n.C, kodeks Dublin 6e eeu n.C., het nie die slot gehad nie. Die manuskripte wat dit wel bevat, is die manuskripte wat gekry is in Parys 6e eeu n.C, Washington 5e eeu n.C, en in Koridethi 9e eeu n.C. Maar van die kerkvaders en leesroosters sedert die tweede eeu n.C. het die slot by die oorspronklike teks van die Onse Vader bygevoeg vir gebruik in die eredienste. Dit is ‘n samevatting uit die lof aan God in die dankgebed van Dawid in 1 Kronieke 29:11-13. Deur die eeue is daar ‘n verskeidenheid weergawes van die slot ingeskryf soos dit in verskillende gemeentes gebid is.

2 Wierook

In Eksodus 30:34-38 gee die Here aan Moses presiese voorskrifte oor die meng en gebruik van wierook wat aan die Here alleen gewy word as teken van die ware en unieke teenwoordigheid van die Here in Israel, wat ook van hulle ‘n ware en unieke toewyding aan die Here alleen vra.

Volgens Levitikus 2:1,16 word wierook bo-op die verskillende offers gesit wat op die altaar verbrand word om die Here goedgunstig te stem. Wierook is in die huise van die Oosterlinge gebrand om ‘n gewyde atmosfeer in die huis te skep (die wyses uit die Ooste bring vir die baba Jesus o.a. wierook as geskenk om Hom eer te bewys, Matteus 2:2,11). Hooglied 4:5 vergelyk die geur van die vrou se borste met ‘n wierookheuwel. Jesaja 60:6 verwys na die nasies wat o.a. wierook na Jerusalem toe bring om die lof van die Here te verkondig. Maar in Jeremia 6:20 verwerp die Here die wierook wat die ongehoorsame Israel vir die Here brand.

In Openbarig 8:3 sinspeel die wierook wat met die gebede van die gelowiges gemeng is waarskynlik op die versugtinge van die Heilige Gees waarvan Romeine 8:27-27 praat, dat die Gees self vir ons pleit met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie, om ons gebede vir God aanneemlik te maak, want Hy bid volgens die wil van God vir die gelowiges.

Openbaring 18:13 verwys onder andere na wierook wat die lus van die ongelowiges se lewe was, en met God se oordeel daarmee heen sal wees.

Wierook sal nie ons gebede versier of aanneemlik vir God maak nie. Jesus het gesê: ‘ware aanbidders sal van nou af die Vader in Gees en waarheid aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê (Johannes 4:23). Daarom moet ons bid dat God die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, ons in ons gebede lei om volgens die wil van ons Vader te bid, en sy liefde in ons harte te gee sodat ons in liefde met mekaar sal saam lewe (vgl. Galasiërs 5:22-23 vir die vrug van die werk van die Heilige Gees in ons). In Romeine 12:1 roep Paulus die gemeente op om hulle liggame as ‘n lewende, heilige  en aanneemlike offer vir God aan te bied, en sê dat dit sinvolle godsdiens is

 

Skrywer:  Prof Francois Malan