Woorde uit die Bybel – Openbaring (1)

John Bunyan

Woorde uit die Bybel – Openbaring (1)

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan. J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde.

 

Openbaring

Die Griekse woord wat gebruik word, is apokalipsis wat oopmaak beteken (HAT). Dit beteken dat God die sluier wegneem en vir ons dinge wys wat vantevore verborge was. God neem ons as ‘t ware in sy vertroue en deel sy geheime met ons.

Onmiddellik kom drie vrae na vore:

  • Hoekom is ‘n openbaring nodig? Daar is sekere dinge wat vir ons verborge is totdat God dit vir ons openbaar.
  • Wat is die doel van openbaring? God gee hiermee vir ons kennis van hierdie verborge dinge.
  • Wat moet ons gesindheid teenoor openbaring wees? Ons moet met dankbaarheid die openbaring ontvang en hoor wat God aan ons bekend wil maak. As God praat, moet ons luister, leer en reageer.

As ons aan die woord openbaring dink, is daar verskeie aspekte waaraan ons aandag moet gee:

  • Persoonlike openbaring
  • Openbaring in die Ou en Nuwe Testament
  • Wat is dit wat God in die Bybelse tyd geopenbaar het?
  • Algemene en spesiale openbaring
  • Huidige en toekomstige openbaring

Volgende keer gaan ons na die eerste twee aspekte kyk: Persoonlike openbaring en openbaring in die Ou en die Nuwe Testament.

Algemene en spesiale openbaring

 

Algemene en spesiale openbaring

Openbaring verwys na die bekendmaking van iets wat vantevore onbekend was. In teologie beteken dit die openbaarmaking van die kennis van God se karakter en sy weë. In die Bybel lees ons van twee tipes openbaarmaking:

 

  • Algemene openbaring

Dit verwys na ons kennis van God wat in die skepping geopenbaar word: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee (Psalm 19:2 – 3). Paulus maak dit duidelik in Romeine 1:18 – 20: God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want Gods het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie.

 

  • Spesiale openbaring

Hierdie kennis van God kom na ons deur veral die profetiese woord wat ons in die Bybel kry. Dit is waarna Paulus in 2 Timoteus 3:14 – 15 verwys:  Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was, en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Sonder hierdie heilige Skrif wat van God af kom – die spesiale openbaring –  is verlossing onmoontlik. Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” (Romeine 10:13 – 15)

 

Die mens verwerp die algemene openbaring van God. Maar in sy genade stuur Hy vir ons ‘n ander Woord – een van barmhartigheid en versoening deur die dood van sy Seun. Almal wat hierdie openbaring ontvang en daarop vertrou, sal gered word.

‘n Nuwe Naam

‘n Nuwe Naam – Francois Malan

Clive vra: 

Die beloftes aan die gemeente van Filadelfia is onder andere “..En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. ” Wat sou die nuwe Naam wees/ beteken ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Openbaring 3:12,13 ‘Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op Hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

Christus sal drie dinge skryf op die gelowiges wat steeds oorwin oor die beproewings van hulle geloof: die naam van sy God, die naam van God se stad, en Christus se eie nuwe Naam. Die drievoudige inskripsie op die pilaar (dit is die standvastige gelowige) in die hemelse tempel verseker dat

(i) die gelowige God se eiendom is (vgl. Num 6:22-27 se seën wat die priesters uitspreek, met die Naam Here drie maal herhaal, telkens met sy werke aan ons – vir ons van die Nuwe Testament klink dit na die werke van die Vader se sorg, en die Seun se genadige verlossing en die Heilige Gees wat vir ons tree en vrede gee),

(ii) ‘n burger van die nuwe Jerusalem is (vgl. Eseg 48:35 die naam van die stad met 12 poorte vir almal van die volk van die Here om in te kom: Die Here is daar),

(iii) wat op ‘n besondere intieme wyse aan die opgestane Christus verbind is (vgl. Rom 6:5 ‘aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding).

Openbaring 19:12 sê: daar was ‘n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Ons sal moet wag tot by Christus se wederkoms om sy nuwe Naam te hoor, wat die nuwe rol sal wees wat Hy dan sal speel. 3:12 sê: die nuwe Naam van Christus sal op elke gelowige geskryf wees om hulle identiteit as God se eiendom aan te dui (vgl. 7:3 en 14:1), en so elkeen se nuwe rol in die ewige lewe aandui.

Openb. 19:13 sê sy huidige Naam is ‘Die Woord van God.’ Eers by sy wederkoms sal ons regtig hoor wat die nuwe Naam van Christus is. Hierdie nuwe Naam sal op elke gelowige geskryf wees. Hulle sal die pilare in God se nuwe tempel wees. In ons huidige bedeling, waar ons nog wag op sy wederkoms, is dit vir die gelowiges genoeg om te bely dat Jesus Christus, die Seun van God is, die opgestane Here en Verlosser – daarom dra ons die naam Christene, en die Heilige Gees is besig om ons te verander om soos Christus te word (2 Kor 3:18), om met sy gesindheid van nederige liefde teenoor mekaar te lewe (Filippense 2:1-11).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Openbaring 22:18 – 19

Openbaring 22:18 – 19 – Francois Malan

Pieter vra:

Kan u my asb meer duidelikheid en uiteensetting gee oor die boek Openbaring 22:18-19. Baie dankie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Openbaring 22:18-19 is ‘n eedformule (‘ek betuig’) wat die betroubaarheid bevestig van die woorde van hierdie profetiese boek. Vergelyk bv. Spreuke 22:18 ‘Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar.’ So is hierdie verse in Openbaring ook ‘n waarskuwing teen vervalsing van die boodskap van die boek.

Die doel van hierdie eedformule – dat niemand iets mag byvoeg of weglaat nie – is om die gesag van die inhoud van die profesie te bevestig en te beskerm. Dit sou vals profete en leraars ook verhinder om aan die boodskap te torring. ‘n Profesie vertel van God se plan met die wêreld en die mense, en wat sy wil is wat hulle moet doen – wat vir hulle die beste pad is.

Dit was ‘n algemene gebruik om ‘n vloek uit te spreek aan die einde van ‘n publikasie om enige verdraaiing of vervalsing te voorkom, omdat dit so algemeen voorgekom het. Dit het ook vir die wet van God gegeld. Deuteronomium 4:2 sê: ‘Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en  moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.’ Spreuke 30:5,6 sê: ‘Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar.’ Galasiërs 1:6-9 praat van die vloek van God wat iemand sal tref wat die evangelie van Christus probeer verdraai. En 1 Korintiërs 16:22 sê: ‘As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy!’

Die boek Openbaring is aanvanklik gerig aan Christene in Klein-Asië (die huidige Turkye) aan die einde van die eerste eeu na Christus, om hulle te bemoedig in hulle swaarkry en krisissituasie. Die gelowiges wat geweier het om openlik te bely dat die keiser van Rome die Here is, is vervolg en doodgemaak. Sommige gelowiges het as gevolg daarvan hulle geloof dat Jesus die Here is, afgesweer. Hulle word deur hierdie verse gewaarsku teen die groter gevaar dat die Here hulle sal verwerp as hulle Hom verwerp (vgl. Matteus 10:28,33).

Openbaring bemoedig egter alle gelowiges om moed te hou en te leef wat jy glo. God is in beheer van die wêreld en die geskiedenis waarvan ons ook nou deel is.

 

Skrywer: Prof Francois Malan