Verduidelik die getuienis

 

“Above all the teaching of the Church, even above all dogma or doctrinal confession, stands Holy Scripture.” – Emil Brunner

Verduidelik die getuienis

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

Hoe verduidelik ons die leë graf, Jesus se verskynings na sy dood en die oorsprong van die dissipels se geloof in Jesus se opstanding. Kan ons dit op ander maniere verduidelik?

  • Die samesweringshipotese

Hiervolgend het die dissipels Jesus se lyk gesteel en toe vir die mense oor sy verskynings gejok. Hierdie verduideliking kry ons reeds in Matteus. As dit so was, hoekom het die dissipels ‘n storie opgemaak oor vroue wat die leë graf ontdek het – vroue is mos nie betroubare getuies nie. Hoekom is daar geen getuienis van die opstanding self nie?

Wat van al die Ou Testamentiese profesieë wat vervul is? Maar ook Jesus se verskynings. Sou Hy nie met ‘n verheerlikte liggaam verskyn het nie. Dit verduidelik nie die dissipels se geloof in Jesus Christus nie.

  • Oënskynlike dood hipotese

Jesus was nie dood toe Hy van kruis afgehaal is nie, maar net bewusteloos. Hy herleef weer in die graf en op een of ander manier ontsnap Hy en oortuig sy dissipels dat Hy uit die dood opgestaan het. Jesus het op een of ander manier sy kruisiging oorleef. Hoe kan ‘n man binne ‘n verseëlde graf die groot klip voor die opening verwyder? Hoe verduidelik jy Jesus se verskynings, want ‘n half dood man sou tog mediese sorg nodig gehad het. Dit is baie onwaarskynlik, want die Romeinse offisiere teenwoordig by die kruis sou beslis seker gemaak het dat hy dood was. Om seker te maak, het hulle ‘n spies in sy sy ingedruk. Die omvang van sy marteling was van so ‘n aard dat oorlewing onmoontlik was.

  • Die misplaasde liggaam hipotese

Hiervolgens sou Josef van Arimatea Jesus se lyk net tydelik in die graf geplaas het omdat dit so laat was. Later sou hy dan die lyk na ‘n algemene begraafplaas verskuif het – ‘n begraafplaas gereserveer vir misdadigers. Hiervan was die dissipels nie bewus nie. Hierdie hipotese sê niks van Jesus se nadoodse verskynings en die oorsprong van die dissipels se geloof nie. Hoekom sou Josef nie die dissipels ingelig het oor wat hy gedoen het nie? Hoekom het hy nie die dissipels se aanspraak dat Jesus uit die dood opgestaan het, weerlê nie? Die begraafplaas  vir misdadigers was minder as 800m van waar Jesus gekruisig is. Hoekom het Josef nie sommer Jesus se lyk direk daarheen geneem nie? Nou ontreinig hy sy familiegraf met die lyk van ‘n misdadiger.

  • Die hallusinasie hipotese

Hiervolgens sou Jesus se nadoodse verskynings blote hallusinasies gewees het. Dit verduidelik nie die leë graf of die dissipels se geloof in Jesus se opstanding nie. Die diversiteit en omvang van Jesus se verskynings oortref enigiets wat ons in die sielkunde handboeke kry. Jesus het nie net een maal op een plek aan een persoon verskyn nie.

  • Die opstandingshipotese

Kan hierdie hipotese die gebeure verklaar? Dit kan al drie fasette ter sprake verduidelik. Hierdie hipotese kan natuurlik net geloofwaardig wees as ons aanvaar dat God bestaan. Hierdie is die enigste hipotese wat staande bly as ons ons vooroordele teenoor wonderwerke laat vaar.

 

Drie feite – die leë graf, Jesus se verskynings aan mense na sy dood en die oorsprong van die Christelike geloof – wys almal na dieselfde gevolgtrekking: God het vir Jesus uit die dood opgewek.




Die oorsprong van die Christelike geloof

“In point of fact, it is impossible to say of the God whom the Biblical revelation shows us, that He is the author of Evil. But Calvin tries in vain to eliminate this conclusion from his doctrine of predestination. Here, too, his argument simply ends in saying: ‘You must not draw this conclusion!’—an exhortation which cannot be obeyed by anyone who thinks.” – Emil Brunner

Die oorsprong van die Christelike geloof

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

 

Hoekom het die Christelike geloof ontstaan? Dit was die vroeë dissipels se geloof dat Jesus uit die dood opgestaan het. Die Jode het geen begrip gehad van ‘n Messias wat nie Israel se vyande sou oorwin nie, maar as ‘n misdadiger aan die kruis sou hang nie. Messias vir hulle was ‘n persoon wat die respek van Jode en Romeine sou afdwing en die troon van Dawid weer in Jerusalem sou vestig. Maar die dissipels was oortuig dat Jesus die beloofde Messias was – ‘n Messias wat nie geheers het nie, wat verneder is en deur sy vyande doodgemaak is.

Nêrens in die antieke Joodse tekste word van so ‘n Messias gepraat nie. Vir hulle moes Jesus se kruisdood hulle hoop vernietig het.

Hoekom het die Jesus beweging voortgegaan? Die dissipels het opreg geglo dat God Jesus uit die dood opgewek het. Die opstanding keer die katastrofe van die kruisdood om. Daarom sê Petrus tydens sy toespraak op pinksterdag: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak (Handelinge 2:36). Reg van die begin af was Jesus se opstanding universeel in die kerk aanvaar.

Daar is verskille in die weergawes van die opstanding tussen die evangelies. Die historiese feit van Jesus se opstanding berus nie op hierdie besonderhede nie. Oor die basiese feite stem die vier evangelies saam. Kleiner afwykings in die opstandingsverhale beïnvloed nie die saak nie.

Is Jesus se opstanding die beste verduideliking vir al hierdie gebeure – die leë graf, Jesus se verskynings na sy dood en die ontstaan van die Christelike kerk?




Jesus se verskynings na sy dood (2)

Love is not a ‘quality’ of God, but is His Nature – Emil Brunner

Jesus se verskynings na sy dood (2)

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

Ook in die evangelies kry ons veelvuldige, onafhanklike verslae van verskynings van Jesus na sy dood. Dit sluit in van dieselfde mense in Paulus se lys. Dit is duidelik dat van hierdie verskynings, indien nie almal nie, histories korrek is, omdat hulle deur verskeie bronne bevestig word. Hierdie verskynings vind plaas in Jerusalem, dan in Galilea en dan weer in Jerusalem.

Paulus sê die verskynings was fisies. Hy verkondig nie net die onsterflikheid van die siel nie, maar ook die opstanding van die liggaam.

In 1 Korintiërs 15:42 – 44 stel Paulus vier kontraste tussen die huidige aardse liggaam en ons toekomstige opstandingsliggaam. Die aardse liggaam is sterflik, gering, swak en natuurlik. Die opstandingsliggaam is onverganklik, heerlik, kragtig en geestelik.

Wat bedoel Paulus as hy van ‘n natuurlike en geestelike liggaam praat? Natuurlik verwys na gedomineer deur of wat verband hou met die menslike natuur. As hy sê ons opstandingsliggaam is geestelik bedoel hy gedomineer deur of georiënteer na die Gees. Ons kry dit ook in 1 Korintiërs 2:14 – 15.  ‘n Geestelike persoon verwys nie na ‘n onsigbare persoon nie – dit is ‘n persoon georiënteer teenoor die Gees. Die huidige, aardse liggaam sal bevry word van die sondige menslike natuur en sal ten volle bemagtig en gerig word deur God se Gees. Die opstanding, volgens Paulus, verwys na ‘n fisiese opstanding.

Daar is dus ‘n verskil tussen ‘n visioen van Jesus en ‘n opstandingsverskyning van Jesus. Die opstandingsverskynings van Jesus het gou opgehou, maar mense het steeds visioene van Christus gesien. Wat is die verskil? ‘n Visioen was net in die denke van die persoon wat dit gesien het; ‘n opstandingsverskyning vind in die eksterne wêreld plaas. In Handelinge 7 lees ons van Stefanus se visioen van Jesus. Hy sien ‘n visioen, maar nie van ‘n mens wat fisies teenwoordig was nie, want niemand anders sien dit nie. Die opstandingsverskynings was nie innerlike, subjektiewe ondervindings nie – hulle is deur almal wat daar was gesien.

Paulus het tydens sy lewe visioene van Jesus gehad, maar sy ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus was nie ‘n visioen nie, want dit betrek dinge in die eksterne wêreld soos lig en ‘n stem. Paulus se medereisigers het dit tot ‘n wisselende mate ondervind.

Die evangelies se verskyningsverhale  was ook fisies en liggaamlik. Dit is belangrik, want baie Jode en al die heidene het nie in ‘n liggaamlike opstandig geglo nie. Om die fisiese, liggaamlike opstanding van Jesus te ontken, is nie histories nie, maar filosofies – baie kritici kan net nie wonderwerke aanvaar nie.

Volgende keer bespreek ons die derde bewys van Jesus Christus se opstanding: die oorsprong van die Christelike geloof.




Die graf was leeg: Onafhanklike beskrywings

To my mind to kill in war is not a whit better than to commit ordinary murder. -Albert Einstein (1879-1955)

Die graf was leeg: Onafhanklike beskrywings

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

Die graf was leeg. As Paulus sê dat Hy begrawe is en opgestaan het, moes die graf tog leeg gewees het. Is dit so? Markus se verhaal van die leë graf is eenvoudig. Die opstanding self word nie beskryf nie, daar is geen teologiese nadenke oor Jesus wat die sonde en die dood oorwin nie, geen goddelike titels word gebruik nie, geen aanhaling van ‘n profesie wat vervul is nie, geen beskrywing van die opgestane Here nie.

Wie het Jesus se leë graf ontdek? ‘n Aantal vroulike volgelinge van Jesus.

Om dit te verstaan, moet ons twee dinge onthou:

  • Vroue is nie as geloofwaardige getuies beskou nie. Dit is ‘n weerspieëling van die patriargale stelsel van daardie tyd. So aanvaar Josefus, die bekende Joodse geskiedskrywer, die getuienis van vroue slegs in die gevalle van Gamala en Masada – hulle was die enigste oorlewendes!
  • Vroue beklee ‘n laer vlak op die Joodse sosiale leer – hulle was tweedeklas burgers. So sluit die daaglikse gebed van ‘n Joodse man in: “Geseënd is U, Here en ons God, heerser van die heelal, wat my nie ‘n heiden, slaaf of vrou gemaak het nie.”

Daarom is dit verbasend dat dit juis vroue is wat die leë graf ontdek het en wat die belangrikste getuies daarvan was. Hoe verduidelik ons dit? Hulle het waarlik die leë graf ontdek en die evangelieskrywers het getrou neergeskryf wat vir hulle ‘n verleentheid was.

In Matteus 28:11 – 15 beskryf Matteus die berig van die wagte wat Jesus se graf moes oppas. Hulle vertel vir die priesterhoofde wat gebeur het. Hierdie priesterhoofde gee ‘n groot bedrag geld aan die wagte om te sê dat sy dissipels sy lyk gesteel het. En dan lees ons: Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.

Wat het ongelowige Jode van Jesus se opstanding gesê? Dat die mense wat sê dat Jesus opgestaan het, dronk was? Nee. Hulle sê die dissipels het die lyk gesteel. Hulle ontken nie dat die graf leeg was nie. Hulle wend ‘n hopelose poging aan om dit te verduidelik. In werklikheid sê hulle dat die graf leeg was.

Daar is egter ‘n tweede bewys dat Jesus opgestaan het: Hy verskyn na sy dood aan heelwat mense. Daarna kyk ons volgende keer.