Die Groot Geloofswoordeboek: Panteïsme en Panenteïsme

Die Groot Geloofswoordeboek: Panteïsme en Panenteïsme

Panteïsme

Dit kom van twee Griekse woorde: pas (alles), theos (God). Dit is die gedagte dat alles eintlik God is en God alles. God en die heelal is identies. Daar is godsdienste soos die Hindoeïsme wat sterk hieroor voel. Die Judaïsme, die Christelike godsdiens en die Islam maak egter ‘n duidelike onderskeid tussen God en die werklikheid. Net God is God en Goddelik. Alle ander dinge is sy skepsels.

Panenteïsme

Panenteïsme kom van drie Griekse woorde af: pas (alles), en (in), theos (God). Dit is die oortuiging dat God se wese die heel­al insluit en deurdring. Alles is in God, en God is in alles, maar anders as Panteïsme, meen hulle dat God ook meer is as die werklikheid.

Beide oortuigings lei daartoe dat God nie meer regtig teenoor die werklikheid staan nie. Daar vind ‘n vermenging van God en werk­likheid plaas, wat uiteindelik neerkom op ‘n miskenning van die onafhanklikheid en verhewenheid van God, en ‘n ver­god­deliking van die werklikheid.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Is alles God?(Panteïsme)

Is alles God? (Panteïsme)

Daar is mense wat glo dat god alles is en dat alles god is.

Die hele skepping, plante, bome, diere, ja, alles is god. Amper soos ink water heeltemal kleur, is god alles. Sulke mense glo dan gewoonlik nie aan ʼn persoonlike god of ʼn god wat dinge geskep of gemaak het nie. As god alles is, kan hy tog nie alles gemaak het nie – hy kon homself tog nie gemaak het nie. Boonop kan jy hom nie van die aarde en aardse dinge losmaak nie. Hy is die aardse dinge. Daarom is elke mens ook ʼn stukkie god. As jy dan alles bymekaar gaan sit, kry jy god.

Die soort geloof trek ʼn streep deur feitlik alles wat die Bybel ons van God vertel. Hy is ʼn persoonlike God wat alles gemaak het. Hy is nie deel van die skepping nie (net soos klei nie deel van die pottebakker is nie), maar sorg en onderhou die skepping. Hy is nie deel van die skepping nie, maar hou dit in sy hand. En wat mense betref, staan Hy in ʼn besondere verhouding met hulle, sonder om die mense te “word”, soos die panteïste  sê.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Proj Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy