God roep my: Wat beteken dit?

The more we get what we now call ‘ourselves’ out of the way and let Him take us over, the more truly ourselves we become – C. S. Lewis

God roep my: Wat beteken dit?

Kyk ons na die Bybel sien ons dat die woord verskillende betekenisse het.

  • Roeping het ‘n eenvoudige betekenis – God roep en ek antwoord. Ongelukkig het baie mense dit ‘n ingewikkelde teologiese begrip probeer maak.
  • In die Ou Testament beteken roep ook om ‘n naam te gee. So roep God vir Israel om sy volk te wees. Roep beteken dus nie net wees en doen wat ons reeds is nie. Dit beteken ook ons word wat ons nog nie is nie – Israel word God se volk.
  • In die Nuwe Testament kry die woord nog ‘n addisionele betekenis – amper sinoniem met verlossing. God roep mense na Homself om volgelinge van Jesus Christus te wees; Jesus Christus roep sy dissipels.
  • God roep mense na Homself. Hy is egter so ontsagwekkend en sy oproep so gebiedend dat net een reaksie toepaslik is. As Jesus Christus sy dissipels roep, roep Hy hulle na Homself, maar ook na ander dinge – vrede, gemeenskap, die ewige lewe, lyding, diens, ens. Hy roep ons na ‘n nog dieper dissipelskap.

Roeping is ‘n sentrale tema in die Bybel en word ‘n metafoor vir ‘n lewe van geloof. ‘n Dissipel is iemand wat geroep is en bewandel dan die Weg. (Die vroeë Christene het onder andere as mense van die Weg bekend gestaan.)

Ons word primêr na Iemand en nie na iets of iewers geroep nie. Sekondêr kan ek as geneesheer of onderwyser of boer geroep word. Natuurlik is hierdie sekondêre roeping belangrik, maar is altyd ondergeskik aan ons primêre roeping. Primêre en sekondêre roeping hoort bymekaar. Ons moet altyd seker maak dat die orde reg bly.

Alle volgelinge van Jesus Christus leef oral en in alles volgens hulle roeping. Die groot gevaar is dat ons in hierdie proses die geestelike en sekulêre aspekte van ons lewe skei. Ons glo dan dat roeping tot monnikke, priesters, sendelinge, ens beperk is. Al die ander mense het nie ‘n roeping nie, maar net ‘n werk. Maar alles wat ons in geloof en tot verheerliking van God doen, is deel van ons roeping. Die onderwyser en fabriekswerker kan God se werk doen net soos die sendeling dit doen. Luther het gesê dat God glimlag as Hy sien dat ‘n man ‘n baba se doek omruil. Jesus was ‘n timmerman; baie van die apostels was vissermanne; Paulus was ‘n tentmaker. God se roeping kom na gewone, eenvoudige mense wat alledaagse take verrig.

There is not one square inch of the entire creation about which Jesus Christ does not cry out, ‘This is mine! This belongs to me!’ (Abraham Kuyper). Roeping beteken dus dat Christus die Here oor elke deel van my lewe is.




My roeping en lewensdoel (3)

God uses men who are weak and feeble enough to lean on him. —Hudson Taylor

My roeping en lewensdoel (3)

Die groot probleem in ons soeke na ‘n lewensdoel is die afstand tussen Skepper en skepsel. Maak nie saak hoe briljant of toegewyd ons is nie, ons kan nie daardie afstand oorbrug nie. Ons kan nie vir God vind sonder God nie; ons kan nie vir God bereik sonder God nie. Ons soeke na ons lewensdoel is tevergeefs tensy God se genade die soeke inisieer en tensy God se roeping ons na Hom toe trek nie.

God kan hierdie Skepper-skepsel afstand oorbrug. Ons soek tevergeefs – alles is genade. Die geheim is nie dat ons na God toe opklim nie, maar dat Hy na ons toe afbuig.

 Jesus se genesing van die blinde Bartimeus help ons baie (Markus 10:46 – 52). Jesus kom in Jerigo aan. ‘n Skare drom om Hom saam. Toe Bartimeus hoor dat dit Jesus is, roep hy na Jesus. Die mense probeer hom stilmaak, maar Jesus sê vir hulle: Roep hom nader.  Let op sy reaksie  toe hy hoor dat Jesus hom roep: Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. Onmiddellik spring hy op en gaan na Jesus. Hy is so haastig dat hy sommer van sy klere daar los. En dan Jesus se afskeidswoord aan hom: Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.

 Hoe reageer ons as God roep? Onmiddellik of traag?




My roeping en lewensdoel (2)

You can out-distance that which is running after you, but not what is running inside you. -Rwandese spreekwoord

My roeping en lewensdoel (2)

You can get all A’s and still flunk life (walter Percy)

Geen mens kan my lewensdoel vir my ontdek nie  – elkeen moet op een of ander stadium van sy lewe self sy doel ontdek. Hoe ontdek en vervul ek die sentrale doel van my lewe? Almal van ons soek na betekenis in ons lewens; almal van ons wil graag ‘n verskil maak; almal wil graag iets nalaat vir diegene wat na ons kom. Ons passie is om die doel waarvoor ons op die aarde geplaas is, te vervul.

 

 For the secret of man’s being is not only to live … but to live for something definitive. Without a firm notion of what he is living for, man will not accept life and will rather destroy himself than remain on earth (Fyodor Dostoevsky: The Brothers Karamazov). Ons besef onmiddellik dat my lewensdoel nie ‘n filosofiese of teoretiese saak is nie, maar ‘n baie praktiese saak.

 Almal wil graag deel wees van iets groter as jyself. So ‘n groot doel kan ons aanspoor tot hoogtes wat ons nooit op ons eie sou bereik het nie. Hierdie doel is persoonlik: Ek wil weet waarom ek hier op aarde is. Soos Kierkegaard dit stel: The thing is to understand myself, to see what God really wants me to do; the thing is to find a truth that is true for me, to find the idea for which I can live and die.

 Ongelukkig is daar baie verwarring oor hierdie onderwerp. Die rede is dat die enigste roeping wat ons sal vervul, is die roeping van God. Niks anders kan die mens se begeerte na ‘n lewensdoel vervul nie. Maar wat van kennis en die wetenskap? Science is meaningless because it gives no answer to our question, the only question important to us, ‘what shall we do and how shall we live?’ (Tolstoy)

 Volgende keer kyk ons verder na my roeping en lewensdoel.




My roeping en lewensdoel (1)

If we only spent more of our time in looking at Him we should soon forget ourselves. —Martyn Lloyd-Jones

My roeping en lewensdoel (1)

Elkeen van ons soek ‘n doel vir ons lewe – ‘n doel wat groot genoeg is om ons aandag vas te gryp; wat langdurig genoeg is om ons tot die einde van ons lewens te inspireer. Daar is baie antwoorde beskikbaar – almal het vandag missiestellings; almal het meetbare uitkomste. Daar is honderde verskillende benaderings. Die vraag: Hoe kies ek tussen al hierdie benaderings? Is dit belangrik watter keuse ek maak?

 

 Die moderne mens glo dat daar geen regte of verkeerde antwoord is nie; geen goeie of slegte benaderings nie. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Daar is groot verskille tussen die verskillende benaderings en hierdie verskille is belangrik.

 Om dit baie te vereenvoudig is daar basies drie opsies.

  • Die benadering in die Ooste soos ons by die Boeddhisme en Hindoeïsme kry.
  • Die sekulêre benadering – elkeen besluit self oor sy doel in die lewe en moet dit self bereik. Ons ontdek nie ons roeping nie – ons besluit self wat ons roeping is.
  • Die Bybelse benadering. Hier speel toeval geen rol nie. Twee aspekte is van deurslaggewende belang:
  1. oGod het ons na sy beeld gemaak, maar waarvoor het Hy ons gemaak? Wie is ons gemaak om te wees?
  2. oHierdie God is ‘n persoonlike God. Hy roep ons om in ‘n persoonlike verhouding met Hom te staan. Waarvoor het Hy ons geroep en wie is ons geroep om te wees?

 

Daar is geen roeping sonder ‘n Roeper nie. Kyk na die mense om jou. Dit is ‘n rustelose soeke na hulle lewensdoel en die vervulling van hierdie doel. Dit is duidelik dat die antwoorde wat hulle op hulle soeke gekry het onvoldoende is. As ons antwoord op God se roepstem, is ons op pad om ons lewensdoel te ontdek en te vervul.

 

Volgende keer kyk ons verder na my lewensdoel en roeping.