Die Israeliete trek deur die Rooisee (4)

If Jesus Christ be God, and died for me, then no sacrifice can be too great for me to make for him –  C. T. Studd

 

Die Israeliete trek deur die Rooisee (4)

In Eksodus 14 kry ons een van die hoogtepunte van Israel se uittog uit Egipte – die deurtog deur die Rooisee. Wat kan ons uit hierdie deurtog deur die Rooisee van Jesus Christus en verlossing leer? Drie dinge:

  • Ons trek uit gebondenheid/slawerny – lae en lae bande wat ons vasbind.
  • Ons trek uit deur genade.
  • In die proses het ons ‘n Middelaar.

Verlossing gaan oor hoekom ons kan loskom – ons het ‘n Middelaar

 

Die Israeliete trek veilig deur die see; die Egiptenare word vernietig. Water is ‘n beeld van chaos en dood: Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef (Genesis 1:2). God se Gees bring orde. Israel is nie verlos omdat hulle sulke goeie mense was nie; hulle was nie beter as die Egiptenare nie. Hoekom tref dieselfde lot nie vir hulle nie? Hulle het ‘n Middelaar gehad: Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek (14:15). Ons Middelaar is Jesus Christus; Hy is dié Middelaar. Daarom kan ek en jy ook deur die see trek.

Gevolgtrekking

Let mooi op: God het nie vir die Israeliete die wet gegee en toe hulle Hom gehoorsaam, laat Hy hulle uit Egipte trek nie. Nee, Hy laat hulle uittrek en toe gee Hy vir hulle die wet. Dit is nie omdat ek God gehoorsaam dat ek gered word nie. Nee, omdat ek gered is deur God se genade wil ek Hom gehoorsaam. Iemand wat die genade van God werklik verstaan, sal nie sonde sommer ligtelik opneem nie. As jy genade werklik verstaan, sal jy jou gedrag verander. God bring sy mense uit Egipte, deur die see, tot by Sinai waar hulle sy wet ontvang.

Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde (1 Johannes 1:7).

Soos die Israeliete moet ons stil wees wetende dat ons verlossing volkome in God se hande is.




Die Israeliete trek deur die Rooisee (3)

Preaching on unity doesn’t unify a church. Preaching Jesus unifies a church. —Steve Dighton

Die Israeliete trek deur die Rooisee (3)

In Eksodus 14 kry ons een van die hoogtepunte van Israel se uittog uit Egipte – die deurtog deur die Rooisee. Wat kan ons uit hierdie deurtog deur die Rooisee van Jesus Christus en verlossing leer? Drie dinge:

  • Ons trek uit gebondenheid/slawerny – lae en lae bande wat ons vasbind.
  • Ons trek uit deur genade.
  • In die proses het ons ‘n Middelaar.

Hoe trek ons uit Egipte – deur genade

 

Hoe reageer Moses op die bang, klaende Israeliete? Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenare nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (14:13 – 14). Die beginsel van genade kan nie duideliker as dit gestel word nie – staan vas, want die Here gaan vir julle veg. Staan vas en moenie na julle werke kyk nie. Verkry verlossing deur wat God vir jou doen en nie deur wat jy self doen nie.

Aan die een kant van die see was Israel binne bereik van die Egiptenare. Daarom trek hulle deur die see terwyl die Egiptenare gestuit word. Die Israeliete trek van die dood na die lewe, van veroordeling en die doodsvonnis na vryheid. In alle ander godsdienste moet mense hulle pad na die ander kant toe oopveg. Die Christelike godsdiens is anders: Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kolossense 1:13); Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (Johannes 5:24).

Ons kan nie iets by God se verlossing byvoeg nie. Wat moet ons dan doen? Net wat die Israeliete gedoen het: Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red. Dit is vir ons moeilik, want ons wil iets doen. God het reeds jou sonde hanteer. Sien raak wat God in Christus vir jou gedoen het.




Die Israeliete trek deur die Rooisee (2)

An ounce of mother is worth a pound of clergy. –Spaanse Spreekwoord

Die Israeliete trek deur die Rooisee (2)

In Eksodus 14 kry ons een van die hoogtepunte van Israel se uittog uit Egipte – die deurtog deur die Rooisee. Wat kan ons uit hierdie deurtog deur die Rooisee van Jesus Christus en verlossing leer? Drie dinge:

  • Ons trek uit gebondenheid/slawerny – lae en lae bande wat ons vasbind.
  • Ons trek uit deur genade.
  • In die proses het ons ‘n Middelaar.

Waaruit trek ons as ons verlos word?

Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het? Nou is ons hulle diens kwyt (14:5). Die Egiptenare het hulle slawe verloor en daarom klim hulle op hulle strydwaens en sit die Israeliete agterna. Die Israeliete sien hulle kom: Hulle het baie bang geword en na die Here geroep. Maar dan voeg hulle by: Is daar nie ‘n begraafplaas in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? Dit is nie waar nie, want in Eksodus 4:29 – 30 lees ons dat Moses en Aäron die leiers van die volk bymekaar geroep het voordat ‘n besluit om te trek, geneem is. Israel sou nog telkemale in die toekoms vir Moses verwyt omdat hulle uit Egipte getrek het.

 

Israel maak hom los van die slawebande. Israel was in werklikheid nie vry van die bande nie, want hulle tree nog soos slawe op. In die Bybel lees ons gereeld van dinge wat mense vasbind en waaruit God ons moet verlos.

  • Christene word objektief deur die bande van die wet gebind

Almal van ons het onder skuld en veroordeling gestaan: ons het gesondig, ons het God nie met ons hele wese lief nie, ons het nie ons naaste soos onsself lief nie. Ons staan dus direk onder God se toorn. Ons was vasgebind deur die wet, maar toe kom Jesus Christus en maak die bande los: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1); Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade (Romeine 6:14).

  • Christene word subjektief deur die wet gebind.

Hoe reageer ons in hierdie geval? Ons terugvalposisie is geregtigheid deur goeie werke. Die hele boek Galasiërs gaan oor mense wat vrygestel is van skuld, maar dan weer terugval na werksgeregtigheid. Hoekom? Diep binne ons voel ons dat ons volmaak moet wees, want God is volmaak.  Ons voel ons leef nie die lewe wat ons behoort te lewe nie. Subjektief bly ons aan die wet gebonde.

  • Christene word nog deur hulle eie sondige natuur gebind

Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade (Romeine 6:14). Sonde verhoed dat ek doen wat reg is. As jy een keer gesondig het, is dit makliker om dit die volgende keer weer te doen. Ons sonde verdwyn nie as ons Christene word nie – ons bly steeds deur die sonde gebind.

  • Christene word nog deur afgode gebind

As ek iets meer as God liefhet, as iets belangriker in my lewe is as God, as ek my sekuriteit by iets/iemand behalwe by God soek, is dit ‘n afgod. Die farao was nie meer die heerser oor die Israeliete nie, want  hy het hulle laat gaan. Hulle is vry. Maar nou wil hy die Israeliete terug hê, want hy is hulle diens kwyt. Dit gebeur met ons almal – ons afgode kom terug. Ons weet ons is van die slawerny van sonde gered en is vry. Maar ons is steeds ‘n slaaf as ons streef na sukses, geld, status, ens.

Verlossing beteken ek kom los van die bande wat van my ‘n slaaf maak. Maar elke af en toe kom ons agter ons is nie vry nie. Ons moet soos die Israeliete uittrek uit Egipte – die bande wat ons vasbind.




Die Israeliete trek deur die Rooisee (1)

You do not fall because you are weak, you fall because you think you are strong.” ~ Joodse Spreekwoord

Die Israeliete trek deur die Rooisee (1)

In Eksodus 14 kry ons een van die hoogtepunte van Israel se uittog uit Egipte – die deurtog deur die Rooisee. In die Ou Testament  kry ons meer as 20 direkte verwysings en heelwat indirekte verwysings na hierdie gebeurtenis. Ook in die Nuwe Testament  kry ons sekere betekenisvolle stellings:

  • Matteus 2:15: So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”  Die profeet waarna hier verwys word, is Hosea. Hosea 11:1 het na die uittog verwys; die seun in Hosea verwys na Israel. Hier verbind Matteus die werk van Jesus direk aan die uittog.
  • Tydens Jesus se verheerliking op die berg (Lukas 9) lees ons van twee manne wat met Jesus praat. Dit was Moses en Elia: Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi. Uittog hier verwys sekerlik na Jesus se dood. Lukas sê dat dit wat Jesus in Jerusalem reggekry het die eksodus is.
  • In Hebreërs 3:1 – 6 lees ons dat Jesus meer is as Moses. Moses was ‘n getroue dienaar in die huis van God. Christus, daarenteen, is as Seun getrou oor die huis van God. Moses wys na Jesus.
  • Hebreërs 11 praat oor die Christelike geloof. Die skrywer gebruik die deurtog deur die Rooisee as ‘n beeld van Christelike geloof: Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond (vers 29).
  • In 1 Korintiërs 10 waarsku Paulus teen afgodery: Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het. Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop …Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie (vers 1 – 2, 5).

Wat kan ons uit hierdie deurtog deur die Rooisee van Jesus Christus en verlossing leer? Drie dinge:

  • Ons trek uit gebondenheid/slawerny – lae en lae bande wat ons vasbind.
  • Ons trek uit deur genade.
  • In die proses het ons ‘n Middelaar.

In die volgende paar blogs gaan ons verder na hierdie drie aspekte kyk.