Saamwoon en trou – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Indien ’n paartjie al vir baie jare saamwoon in onthouding, is dit dan steeds sonde en is dit steeds nodig om te trou?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier word bitter min inligting gegee om op te gaan. Ek moet dus sekere aannames maak en dan daarvolgens antwoord.

Die eerste aanname is dat hier van ’n heteroseksuele paartjie gepraat word. Verder, die frase “in onthouding” roep die situasie op van ’n paartjie wat nie ’n seksuele verhouding het nie, hoewel die “baie jare saamwoon” veronderstel dat hulle tog ’n baie hegte verhouding het, amper ’n soort huwelik, maar sonder seks. Maar nou wil dit tog lyk of die vraagsteller hierdie “saamwoon in onthouding” as sondig ervaar, want sy vra of dit “steeds sonde” is. Met die (geïmpliseerde) vraag daarby: indien dit nie sonde is nie, is dit dan nodig om te trou?

Die hele situasie, soos ek dit hierbo gekonstrueer het, kom tog ’n bietjie vreemd voor. Saamwoon veronderstel gewoonlik ’n volledig fisiese verhouding, maar sonder dat ’n formele huwelik aangegaan word. Maar hier het ons ’n saamwoon sonder dat seks ter sprake is. Hulle deel net ’n gesamentlike woonruimte, deel waarskynlik ook die finansiële en ander verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, ondersteun mekaar op sosiale en emosionele vlak, maar begeer nie iets meer as dit nie. ’n Soort gerieflikheidsverhouding dus.

Vanuit Christelik-etiese perspektief hoef die hele kwessie van sonde in so ’n situasie myns insiens nie ter sprake te kom nie. Ek kan my voorstel dat ’n man en ’n vrou ’n woonruimte deel om daaruit bepaalde voordele te trek, sonder dat hulle die bedoeling het om soos man en vrou in die huwelik te lewe. Amper soos goeie vriende of soos broer en suster wat bloot ’n woonstel deel ter wille van die gerief daarvan, maar tog ook omdat hulle van mekaar se geselskap en teenwoordigheid hou. Soos reeds gesê, indien dít die situasie is, hoef ons vraagsteller haar nie druk te maak oor of dit sondig is of nie. (Sonde is in elk geval ’n baie breër aangeleentheid as net die vraag of hulle in so ’n saamwoonverhouding seks het of nie. Selfs binne ’n huwelik, waar seks formeel geoorloof is, kan man en vrou in sonde leef, weens die manier waarop hulle met mekaar en met die kinders omgaan.)

Natuurlik kan die situasie soos geskets deur ons vraagsteller vrae na buite oproep. Mense wat weet dat hulle “saamwoon” sal waarskynlik dadelik die afleiding maak dat hulle ook ’n seksuele verhouding het. Die paartjie sal dus voortdurend “vure moet doodslaan” om misverstande uit die weg te ruim, wat op die lang duur stremmend kan inwerk op hulle saamwoon. Verder, die paartjie kan later gevoelens vir mekaar ontwikkel wat dan uitloop op ’n seksuele verhouding. En ’n mens wonder of dit nie presies so ’n situasie is wat besig is om te ontwikkel en wat die vraagsteller noop om navraag te doen nie. Die blote feit dat ons vraagsteller die kwessie van sonde ter sprake bring, laat my juis dink dat dit vir haar belangrik is om die verhouding binne algemeen aanvaarbare Christelike norme te hou. Tot hiertoe was hulle saamwoonreëling nie vir haar sonde nie, maar nou raak dit ’n kwessie, gegewe die moontlike verandering in die verhouding. Indien ek die situasie reg opsom, wil ek vervolgens ’n paar opmerkings maak oor saamwoon-met-seks as ’n alternatief vir die huwelik.

Ek is bewus daarvan dat baie Christene vandag dit nie as sonde beskou om saam te woon sonder dat hulle tot trou oorgaan nie. Dit word nie meer as ’n “doodsonde” beskou nie; in sekere kontekste word dit amper as normaal aanvaar, die wenkbroue lig nie eens daaroor nie. Selfs in Christelike huise word dit maar stilswyend aanvaar as deel van die moderne samelewing waar die vrou in alle opsigte die man se gelyke is. Sy het haar eie beroep en het nie meer die man se geld of ondersteuning nodig om haar eie ding te doen nie. Trou is ’n vrye keuse, en nie ’n samelewings- of religieus-voorskriftelike norm meer nie. In ’n sekulêre samelewing word die huwelik ook as ’n “uitgediende” instelling beskou. ’n Mens het nie “papiere” nodig om saam met iemand anders in ’n intieme lewensgemeenskap te leef nie. As daar konsensuele toestemming tussen volwassenes is, is dit niemand anders se besigheid nie, word gesê. Daar bestaan ook deesdae wetgewing wat saamwoon-verhoudings en -gesinne beskerm. Daar het dus stil-stil ’n totale sosiale omwenteling plaasgevind wat die siening oor en status van die huwelik betref. En dít moet mens in ag neem wanneer oor en teen saamwoon gepraat word. ’n Mens moet oppas om nie met groot voete in te klim en links en regs te veroordeel nie.

En tog is die huwelik beslis nie uitgedien nie. Mense trou nog! Dis asof daar ’n diepliggende aanvoeling is dat die huwelik vir iets meer staan as maar net dat mense nou amptelike toestemming het om as man en vrou saam te woon. Want die huwelik, Bybels gesien, gaan oor onvoorwaardelike oorgawe en verbintenis aan mekaar, wat, godsdienstig gesproke, ook uitdrukking is van die liefde tussen Christus en sy gemeente. Soos Christus die gemeente liefhet en sy lewe daarvoor gegee het, so moet die man sy vrou liefhê en versorg (Efesiërs 5:25-33). Dit gaan eintlik oor ’n wedersydse oorgawe en onderwerping aan mekaar (Efesiërs 5:21), waar man en vrou mekaar deur dik en dun, in swaarkry en goeie tye, in siekte en gesondheid, ondersteun, liefhet en dra. In die lig hiervan is blote saamwoon as “proeflopie” om te kyk of dinge gaan uitwerk, ’n miskenning van waarvoor die huwelik ten diepste staan. Saamwoon is eintlik maar ’n voortydige en selfsugtige toe-eiening van die voorregte van ’n intieme verhouding sonder dat die geestelike kapitaal en verantwoordelikhede wat belê moet word in so ’n verhouding, aanvaar word. Hoe dikwels het dit nie al gebeur dat een van die partye eenvoudig uitstap uit so ’n verhouding en die ander met die gevolge laat nie.

Maar natuurlik, in saamwoonverhoudinge kan dinge ook goed uitwerk, terwyl dit weer in formele huwelike ellendig sleg daaraan kan toegaan. Maar in laasgenoemde geval is dit dan nie die huwelik as instelling se skuld nie, maar die mense in die huwelik wat weens die hardheid van hulle harte dit nie laat slaag nie (Matteus 19:8). So, eerder as om die huwelik die skuld te gee dat verhoudings nie uitwerk nie en dan ander opsies volg wat sy eie stel probleme skep, is dit beter om dit wat God vir ons gegee het, te maak werk. Dan weet ons ten minste dat ons in veiliger waters vaar en binne God se wil vir die lewe opereer.

Om dus saam te vat wat ons vraagsteller se vraag betref: Indien die paartjie van plan is om voortaan as man en vrou saam te leef, soos in ’n huwelik, sal ek vanuit Christelik-etiese perspektief beslis voorstel dat hulle formeel in die huwelik tree. In die lig van my uiteensetting hierbo bly dit nog die beste opsie – vir hulle eie sieleheil en gemoedsrus, vir hulle breë familie én vir die samelewing waarvan hulle deel is. Veral as hulle belydende Christene is en die verhouding met Christus vir hulle erns is. Dan wil mens tog binne die geopenbaarde wil van God jou lewe lei. Maar indien die situasie bly soos dit tans is – saamwoon “in onthouding” – dink ek nie dat die kwessie van sonde ter sprake is nie. Mits hulle nie hulleself bluf met die “in onthouding” nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Saamwoon en drank op kerkterrein – Hermie van Zyl

Thelma vra:

Daar is mense in ons gemeente wat in sonde saambly. Hulle is in ons selgroep. Ek voel nie gemaklik daarmee nie, want dit is sonde. Hoe/wat sê ek vir hulle?

Daar is ook van die gemeentelede wat op die kerkgronde drink wanneer daar ‘n funksie is. Is dit toelaatbaar?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Saamwoon (sonder om getroud te wees) en drankgebruik op die kerkterrein val onder daardie gedrag wat vir sommige mag aanstoot gee en vir ander nie. Ons moet dus versigtig wees om die woord “sonde” hieraan te koppel voordat mens eers gepraat het oor wat sonde eintlik is.

Die meeste van ons word groot met ‘n sondelys in die agterkop – dít of dát is sonde, is verkeerd, en moet dus vermy word. Maar soos wat ons blootgestel word aan ‘n groter wêreld kom ons agter dat ons sondelyste nie altyd ooreenstem met ander s’n nie. Wat ons laat besef dat wat as sonde beskou word onder meer saamhang met die bepaalde godsdiens, kerk, kultuur en samelewing waarin ons grootgeword het. Ons grootword-konteks bepaal in ‘n groot mate ons waardes en hierdie waardes bepaal weer wat ons as reg of verkeerd – as sonde – beskou. Die waardes wat ons lewe rig, is dus nie altyd universele waardes nie, d w s, word nie noodwendig deur alle mense orals ter wêreld as rigtinggewende waardes beskou nie.

Waardes verskuif ook oor tyd heen. Wat vyftig jaar gelede as taboe beskou is, is nie noodwendig vandag meer so nie. Vyftig jaar gelede was egskeiding, ongehude swangerskappe en saamwoon iets waaroor net agteraf gefluister is; vandag word dit so min of meer as “aanvaarbare” verskynsels beskou. Dit wil nie sê dis reg nie, maar hoe ons daaroor oordeel, het verander. Ons is minder veroordelend daaroor as destyds. Toe was ons vinnig om dit as sonde te brandmerk, vandag is ons versigtiger om dit te veroordeel. Ons leef eenvoudig in ‘n meer tolererende wêreld vandag as voorheen.

Maar kom ons praat oor sonde. Wat is sonde? Ons kan kortweg sê dat sonde ‘n verhoudingsbegrip is, omdat die mens ‘n verhoudingswese is. Ons leef in verhouding tot God, ons medemens en die natuur. En in die Bybel leer ons dat daar ‘n regte en verkeerde manier van omgaan in hierdie verhoudings is. Wanneer ons afgode (in watter vorm ook al – geld, besittings, sport, helde, strukture, werk) aanbid in plaas van God, dan loop die verhouding met God skeef. Dan mis ons die doel waarvoor God ons gemaak het. En dit is sonde. Wanneer ons ons medemens haat, of bloot dié se belange nie positief bevorder soos ons eie nie, dan mis ons God se doel met ons medemens. Dit is sonde. Wanneer ons die natuur rondom ons verwaarloos of vernietig, dan misbruik ons die posisie waarin God ons gestel het in die wêreld. En dit is sonde.

Om hierdie verhoudings waarin ons staan, konkreet uit te leef na die bedoeling van God, het Hy vir ons die Tien Gebooie gegee. Dit trek vir ons breedweg die grense van ons daaglikse optrede teenoor God, ons medemens en die natuur. Wanneer ons hierdie grense oortree, begin die rooiligte aangaan. Daar is dus dinge wat ons moet vermy om tot eer van God en tot heil van die samelewing op te tree. Meer nog, Christus het die Tien Gebooie ook positief saamgevat as die uitleef van liefde teenoor God en naaste (Matt 22:37-40). Sonde is dus nie net die verkeerde dinge wat ons doen nie (oortreding van God se gebooie), maar veral die goeie dinge wat ons nie doen nie (ons traagheid om ander lief te hê). Dink aan die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37): bloot om die gewonde man langs die pad nie raak te sien nie en voort te gaan met jou lewe asof niks verkeerd is nie, is sonde. Of die gelykenis van die Skape en die Bokke (Matt 25:31-46): bloot om nie die ander se nood aan water, klere, voedsel, huisvesting of besoeke raak te sien en iets daaraan te doen nie, is sonde.

Wanneer sonde só voor ons opdoem, gebeur dit dat die dinge waarvan ons ander beskuldig, verbleek in die lig van ons eie tekortkominge, ja, ons sonde. Ons besef dat sonde baie dieper sny as net die oortreding van ‘n paar items op ons sondelysies. Sonde is ‘n voortwoekerende kanker, ‘n mag waarvan ons verlos en bevry moet word sodat ons waarlik mens na God se bedoeling vir God, vir mekaar en vir die aarde kan wees. Daarom is Jesus se optrede teenoor die vrou wat in die daad van owerspel betrap is so aangrypend (Joh 7:53-8:11). Die Joodse geestelikes het gou op haar toegesak en eis dat sy gestenig word. Maar Jesus wys dat hulle eers na hulleself moet kyk voor hulle haar veroordeel. Dis nie dat Jesus die vrou se optrede goedpraat nie – inteendeel. Wanneer Hy vir haar sê dat Hy haar nie veroordeel nie, voeg Hy by: “sondig nie meer nie”. Met ander woorde: gaan leef nou as bevryde, as vrygespreekte, ‘n lewe na God se bedoeling. God is dus nie voortdurend op die uitkyk hoe Hy ons kan uitvang en veroordeel nie. Nee, Jesus se bediening het juis daarin bestaan om ons bewus te maak daarvan dat God se genade ‘n verwelkomende en bevrydende genade is, een wat ons ontmoet waar ons is en ons innooi in sy koninkryk, maar dan ook so vrymaak dat ons Hom en mekaar werklik kan dien volgens die mense wat ons kan wees.

Mens moet eers bogenoemde pad loop voordat ons kan probeer antwoord op die vrae wat ons vraagsteller stel. Anders verval ons in moralisme en wettisisme. Ons moet eers die werklike aard van sonde voor oë kry, asook die ontsagwekkende omvang van God se liefde en genade, voor ons mekaar kan help met antwoorde.

Maar dan moet ons mekaar inderdaad help. Daar is egter nie net een regte antwoord nie. Daar is eerder ‘n bepaalde weg wat oopgaan waar daar meer as een konkrete optrede moontlik is. Kom ons neem die kwessie van drankgebruik op die kerkterrein eerste. Dit sou ek kon tuisbring onder die sogenaamde adiafora (Grieks: “neutrale sake”). Dis die dinge wat die ou kerkvaders die middelmatige sake genoem het, sake wat nie sonder meer as sondig, of nie, uitgemaak kan word nie, maar waaroor daar verskil van mening toegelaat moet word. Op voetspoor van Paulus se beredenering in Rom 14 en 1 Kor 8 het die kerk reeds lankal gesê dat daar sake is wat nie noodwendig in sigself verkeerd is nie, maar waaroor ons mekaar moet verdra en in ag neem. Paulus het dit oor die vleis wat aan afgode in die heidentempels geoffer is en dan in die slaghuise aan die publiek vir persoonlike gebruik te koop aangebied is. Sommige Christene (die sg swakkes) het gesê dat mens nie hierdie vleis mag eet nie omdat jy so deel kry aan die heidense afgodsdiens. Ander (die sg sterkes) het gesê dat mens vrylik hiervan kan eet omdat daar in elk geval nie so iets soos afgode bestaan nie. Vleis is vleis, maak nie saak waar dit vandaan kom nie. Paulus het waarskynlik simpatie met lg standpunt gehad, maar waarsku tog die “sterkes” dat hulle nie in hulle optrede die swakkes aanstoot gee en so tot struikeling bring nie. Gebruik liewers jou vryheid om ander nie te affronteer nie. Dis die weg van die liefde.

Ek kan begryp dat die gebruik van alkoholiese drank op kerkgronde aanstoot kan gee, veral as mens dink hoe sterk die kerk voel oor drankmisbruik en die misstande wat daaruit kan voortvloei. Aan die ander kant lê die sonde nie in die drank as sodanig nie, maar eerder in die misbruik daarvan. Die verantwoordelike gebruik daarvan is aanvaarbaar. Dus, vir die een is dit taboe, vir die ander is dit alledaagse gebruik, solank dit met aanvaarbare gedrag gepaard gaan. Dis een van daardie middelmatige sake waaroor ons mekaar moet tolereer en nie veroordeel nie. In elk geval, streng gesproke, as die gebruik van alkoholiese drank op die kerkterrein totaal verbied word, moet dit ook ten opsigte van die nagmaal gedoen word. En dit sou tog absurd wees. Persoonlik dink ek die kerkraad of verantwoordelike liggaam moet in ooreenstemming met die bepaalde kerklike tradisie en algemeen aanvaarbare norme dit aan lidmate stel onder watter voorwaardes dit in orde is dat drank op die kerkterrein tydens funksies gebruik kan word. En as dit blyk dat dinge “hand uitruk”, moet uiteraard verder opgetree word. My ervaring is egter dat dit selde nodig is om tot drastiese maatreëls oor te gaan.

Wat die saamwonery betref, het ons met ‘n ietwat ander situasie te make. Want hier kom die huwelik in die spel, waaroor daar duidelike riglyne in die Bybel is. Die kerk was nog altyd aan die kant van die huwelik en het nog nooit ‘n blanko tjek aan sy lidmate gegee om maar met die tydsgees saam te gaan en die huwelik te ignoreer nie. Dit is wel so dat ons tyd in die algemeen toegeefliker is oor saamwoon voor of buite die huwelik. Die huwelik as instelling is onder groot druk. Daar is allerlei redes waarom mense nie tot trou kom nie. Wat jongmense betref, kan dit wees omdat die huwelik om finansiële redes uitgestel word weens lang studieperiodes, of omdat hulle nie meer glo in die huwelik as instelling nie vanweë die hoë egskeidingsyfer, of vanweë slegte ervarings in die ouerhuis oor wat die huwelik behels. (Asof saamwoon mens vrywaar van die slegte dinge van die huwelik.) Wat ouer mense betref, is dit dikwels so dat paartjies nie finansieel die mas sal opkom as hulle formeel trou nie, omdat die vrou byvoorbeeld haar pensioen van ‘n vorige huwelik verloor. Dan woon hulle maar eerder saam. ‘n Mens moet dus eers mooi agter die kap van die byl probeer kom hoekom ‘n bepaalde paartjie eerder saamwoon as trou. Maar as dit bloot gaan oor ‘n minagting of wanpersepsie van die huwelik, behoort daar, dink ek, op ‘n verantwoordelike, nie-veroordelende en simpatieke manier in gesprek gegaan te word oor wat ‘n Christelike huwelik is in die lig van die Bybel. Bybels gesien kan mens die huwelik terugvoer tot ‘n Godgegewe instelling vir die uitbou van die menslike geslag. (Die spesifieke formaat van en gebruike rondom die huwelik verskil uiteraard van tyd tot tyd en van kultuur tot kultuur.) Verder, in sy wese is die huwelik ‘n publieke verklaring voor God en mens dat twee mense hulleself in liefde en trou aan mekaar verbind, en as sodanig ‘n lewe wil leef wat tot eer van God, tot verwesenliking, uitdrukking en uitbou van hulle liefde vir mekaar en tot voordeel van die samelewing wil wees. Voorgenoemde is ‘n siening wat mens kan verdedig op grond van die Bybel, eerder as ‘n blote saamwoon-situasie wat eintlik net op ‘n soort onderlinge verstandhouding berus en môre, oormôre tot niet kan gaan sonder dat daar enige beskerming vir die partye is. In elk geval het navorsing bewys dat oor die algemeen huwelikspare finansieel, sielkundig en maatskaplik beter daaraan toe is as saamwoonpare. En as saamwoonpare se verweer is dat hulle vir alle praktiese doeleindes ‘n huwelik het, kan inderdaad gevra word waarom die paar dan nie maar tot trou kom nie? Want dit gaan nie net oor die trousertifikaat nie, maar oor alles waarvoor ‘n huwelik staan (soos hierbo beskryf). En hiervoor behoort Christene sensitief te wees, ten minste as hulle die volle wil van God ernstig neem vir hulle lewe.

Maar na alles sou ek baie versigtig wees om ‘n saamwoonsituasie sonder meer as sonde te brandmerk. Sulke pare is dikwels vir huwelikspare tot voorbeeld, ten spyte daarvan dat hulle nie formeel getroud is nie. Daarteenoor is baie getroude pare se lewe vir hulleself, hulle kinders en die samelewing tot pyn en groot verleentheid. Maar net so is daar baie egpare wat die ware bedoeling van die huwelik uitleef. En sulke huwelike, het navorsing bewys, lê weer die grondslag vir ‘n stabiele samelewing. Ons moet dus nie die kind met die badwater uitgooi nie. Eerder as om die huwelik self die groot sondebok te maak, moet ons die mens in die huwelik onder die soeklig plaas. Want net so min as wat mens ‘n motor kan blameer vir die baie motorongelukke, maar eerder die mens wat die motor wangebruik, net so min kan die huwelik as instelling die skuld gegee word vir dinge wat verkeerd loop. Daar is niks met die huwelik as instelling verkeerd nie. Soos met baie instellings en strukture is dit eerder die mens wat die instelling ‘n slegte naam gee as andersom. Saamwoon is dus nie regtig ‘n oplossing vir die dilemma van mislukte huwelike nie, maar eerder ‘n heropvoeding van die mens se verantwoordelikhede in die huwelik.

Om dus saam te vat wat saamwoon betref: voordat mens voor die voet ‘n situasie as sondig afskryf, moet jy jouself eers deeglik vergewis van die betrokke omstandighede, en dan ‘n pad sáám met die paartjie loop, ‘n pad van liefdevolle betrokkenheid en nie van veroordeling nie. Dit kan immers gebeur dat die eintlike sonde nie gepleeg word deur die paartjie wat “in sonde saamwoon” nie, maar eerder deur mense wat uit die hoogte op ‘n beterweterige manier probeer raad gee (Matt 7:1-5!). Want uiteindelik is dit die Heilige Gees wat mense van sonde oortuig, nie ons veroordeling nie. Dis juis wanneer mense ons optrede as aanvaardend en liefdevol beleef, dat hulle oortuig word dat hulle optrede nie in lyn is met God se wil nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Weier om baba te doop

Weier om baba te doop – Francois Malan

Marco vra: 

Kan u help asb. Kan enige kerk weier om n baba te doop as die ouers saam bly.En waar staan dit of die vereistes van doop. Dankie

Die doop is die uiterlike teken waarmee die Here bevestig (i) dat Hy die kind/persoon in sy groot huisgesin opgeneem het as sy kind, kind van God, ons genadige en liefhebbende hemelse Vader, (ii) dat die kind deel geword het van die gemeente, die liggaam van Christus (Efesiërs 1:18-23), wat vir ons sonde aan die kruis gesterf het en opgestaan het uit die dood sodat ons saam met Hom erfgename van God geword het van die ewige lewe (Joh.3:16,36; Romeine 6:6-14), en (iii) dat God die Heilige Gees, self in die kind kom woon het om hom/haar weergebore te laat word as kind van God (Joh.3:3-8), wat aan God se Seun Jesus Christus en sy offer vir ons sonde verbind is, om die kind deur sy/haar hele lewe te lei in die geloof en in alles te help en te ondersteun om vir God te lewe (Rom.8:9-17).

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:
Die doop is die uiterlike teken van die verbond wat God maak met sy kinders en met hulle kinders, deur ons aan die opgestane Christus te verbind deur die Heilige Gees wat in ons kom woon. So is die huwelik die openbare teken van die verbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat God saamgevoeg het (Matteus 19:4-6).

1 Kor.7:9 as ongetroudes nie die gawe het om in onthouding te leef nie, moet hulle trou. En 7:36 sê vir verloofdes wat nie die gawe van onthouding het nie, om te trou. En 7:39 se vir weduwees(wewenaars) dat hulle vry is om te trou mits dit met ‘n gelowige is.

Die eerste vraag is dus nie, kan enige kerk weier om ‘n baba te doop as die ouers saam bly nie, maar waarom weier die ouers om te trou as dit God se wil is vir twee mense wat wil saam woon en hulle het duidelik nie die gawe het van onthouding nadat hulle ‘n kind het nie? Waarom moet die kind grootword in so ‘n losse verhouding van twee mense wat nie permanent aan mekaar wil verbind word nie? Wat verhinder hulle om voluit die pad van die Here te loop? Trou beteken ‘n volle oorgawe aan mekaar in die liefde, om vir altyd aan mekaar getrou te bly. In so ‘n verhouding kan ‘n kind met vertroue groot word, en daaruit leer van God se trou aan ons en sy verbond met ons. Maar as ouers nie mekaar vertrou deur met mekaar ‘n permanernte verhouding te sluit deur te trou nie, hoe kan hulle kind leer om in alles en in alle omstandighede op God te vertrou?

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Saamwoon in die lig van die Koningkryk van God

Saamwoon in die lig van die Koningkryk van God – Andre Botha

Hierdie artikel val uit in die volgende dele:

1.    God en sy bedoeling met die Koninkryk van God.

2.    Saamwoon

a.    Die ontstaan van saamwoon

b.    Die voorkoms van saamwoon

c.    Die belofte van saamwoon blyk ʼn mite te wees

d.    Die gevolge van saamwoon

i.    Saamwoon is nie goed vir menswees nie

ii.    Saamwoon benadeel kinders

iii.    Saamwoon benadeel vroue

iv.    Saamwoon bevorder egskeiding

3.    Hoekom misluk saamwoon?

4.    Nogeens: Die koninkryk en saamwoon.

1. God en sy bedoeling met die Koninkryk van God.

Daar heers ʼn heel algemene opvatting onder ʼn groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking dat die Bybel ʼn uitgediende boek is en dat die gebooie van God eng, benepe en verdrukkend is en menslike vryheid inperk. Hierdie siening kom nogal sterk na vore as dit seksuele sake raak. Mense soek self hulle seksuele vryheid en geluk.

As jy die Bybel mooi en reg raaklees, dan val dit op dat God dit met ʼn mens net goed bedoel. God beoog net die welwese van mense. Dit is reeds die bedoeling met sy Tien Gebooie. Net na die uittog uit Egipte kondig God sy gebooie aan in Eksodus 20:

1 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:

2 “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. :3 Jy mag naas My geen ander gode hê nie….

14 Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Let mooi op na die skema wat hier na vore kom. God sien sy mense ly onder die Egiptenare. Hy bevry hulle. Hy word hulle God en eis onverdeelde trou. Hy heers oor hulle en gee dan ʼn bevrydensgebod: Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Die gebod beteken bewaar en versorg die huwelik as goddelike instelling, want dit is ʼn koninkryklike manier van lewe! Die gebod (en natuurlik al die ander ook) wil jou uitlei op ʼn bevrydende manier van lewe – ʼn koninkrykslewe. Die hele Bybel weerspieël hierdie skema: Mense ly, God bevry hulle van ʼn swaarkry-manier-van-lewe, en gee vir hulle ʼn gebod wat hulle uitlei op ʼn bevrydende pad.

Dieselfde skema sou ook uit Matteus 19 afgelei kan word. Die skema lyk net soos die van die Tien Gebooie: mense ervaar leed en is siek, Jesus maak hulle gesond, en gee ʼn genesende gebod:

2 Groot menigtes het agter Hom aan gegaan, en Hy het hulle daar gesond gemaak.

3 Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag ‘n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?”

4 Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?

5 Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’

6 Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”

Nêrens beoog Jesus die nadeel van mense nie. Hy wou hulle net bevoordeel.

Trouens, Hans Küng die beroemde Duitse teoloog wat die klassieke boek On Being a Christian geskryf het, skryf oor die  “wil van God” die volgende:

God wills nothing for himself, nothing for his own advantage, for his greater glory. God wills nothing but man’s advantage, man’s true greatness, and his ultimate dignity. This then is God’s will: man’s well-being.

God wills life, joy, freedom, peace, salvation, the final great happiness of man: both of the individual and of mankind as a whole. This is the meaning of God’s absolute future, his victory, his kingdom, which Jesus proclaims: man’s total liberation, salvation, satisfaction, bliss… Here we are actually faced with something new and it is going to be dangerous to the old….the universal and final criterion must be: God wills man’s well-being.

As Jesus dus God se wil bekend maak, dan beoog Hy net hulle welwese. Dit is ook waar van ʼn huwelik. Dit bring ons by saamwoon.

 

2. Saamwoon

a.  Die ontstaan van saamwoon

Saamwoon ontstaan die afgelope vyftig jaar in ons Westerse samelewing. Net na die 1960’s spoel die seksuele rewolusie oor die aardbol. Dit is hippies en blommekinders op die strande van San Francisco met die beroemde slagspreuk teen die Vietnam Oorlog: Make love, not war! Hierdie slagspreuk is letterlik opgeneem! Seksualiteit, en veral vroulike seksualiteit. sou nooit weer dieselfde wees nie.

Net na die seksuele rewolusie volg die sogenaamde “divorce revolution”. In die sewentigs en tagtigs skei derduisende Westerse egpare en volg die ontgogeling met die huwelik. Dit is veral die kinders wat onder die egskeidings van hulle ouers gely het wat hierdie ontnugtering met die huwelik as instelling beleef. Dit is hierdie generasie jong mense wat verskriklik angstig is oor liefdesverhoudinge. Hulle wil nie dieselfde foute as hulle ouers maak en trou en misluk nie. Hulle wil eerlik en graag ʼn sukses van hulle liefdesverhoudinge maak. En binne hierdie twee kontekste van a) seksuele vryheid en van b) angs vir ʼn huweliksmislukking, word daar gegryp na ʼn alternatief: Kom ons woon saam!

b.  Die voorkoms van saamwoon:

Ek het net Amerikaanse statistiek. Vyf-en-twintig-jariges wat saamwoon het van ongeveer 7% in 1969 gegroei na 57% in 1995. Daarteenoor (die stippellyn), het vyf-en-twintig-jariges wat trou afgeneem van ongeveer 80% na net minder as 60% in 1995.

saambly_statistieke

 

Ek vermoed die saamwoon statistiek in Suid-Afrika volg dieselfde tendens.

 

c.  Die belofte van saamwoon blyk ʼn mite te wees

Saamwoon het vir jong mense die belofte van die voordele van ʼn huwelik sonder die nadele van ʼn huwelik. Hulle kan dan die uitgawes verdeel sonder om ʼn gesamentlike bankrekening te hê, ʼn dubbelbed en ʼn badkamer deel sonder om een of ander wetlike kontrak tussen hulle te hê. Intussen weeg hulle mekaar. As dit nie werk nie, dan loop hulle net weg van mekaar. Daar is geen prokureurs of howe nodig om ʼn saamwoon-verhouding te beëindig nie. As jy met die proses van saamwoon voortgaan, dan sal jy die verkeerde egmaat(s) elimineer en eventueel die regte een ontmoet! Maar, en dit het as ʼn ontsettende verrassing gekom, hierdie belofte blyk ʼn mite te wees. Saamwoon het ontstellende gevolge!

d.  Die gevolge van saamwoon

i.  Saamwoon is nie goed vir menswees nie

Elke ouer, elke onderwyser, elke predikant, ja elke jongmens is geregtig om te weet wat die menswetenskappe se navorsing oor saamwoon bevind het. Die sosiale sielkunde en die sosiologie het reeds tot die konsensus gekom dat saamwoon toksies vir menswees en vir verhoudinge is. Enkele bevindinge word hieronder meegedeel:

 

  • Saamwoon-paartjies breek maklik op. Byna 90% sal binne 5 jaar opbreek. Saamwoon-verhoudinge hou nie. As jy by jou droomman intrek dan is jy besig om die grafskrif van die verhouding te bestel! Jy gaan hom/haar verloor.
  • Verder is daan ʼn 200% – 500% groter kans op ontrouheid in ʼn saamwoon- verhouding as in ʼn huwelik. En ontrouheid is ontrouheid. Die pyn wat dit veroorsaak is enorm. Ontrouheid is die einde van so ʼn liefdesverhouding.
  • Saamwoon paartjies beleef ook “lower levels of sexual satisfaction”. Hulle het net soveel keer in ʼn week seksuele omgang as getroudes, maar hulle seksuele satisfaksie is laer. Verder, in 1994 bestudeer ʼn span sosioloë van die Universiteit van Chicago die seksualiteit van vroue en maak die volgende bevinding:

 

The women most likely to achieve orgasm each and every time are, believe it or not, conservative Protestants.

Dit is toe die konserwatiewe getroude meisies wat die seksuele eksperts is!

 

  • Saamwoon-paartjies ervaar meer gesondheidsprobleme. Hulle besoek ʼn geneesheer meer gereeld. Hulle lewensverwagting is korter as die van getroudes.
  • Mense wat saamwoon se kanse om aan depressie te ly is 300% hoër! Die huidige depressiekoers in die Weste is sowat 10%. In Suid-Afrika met sy misdaadgeweld is dit hoër. Maak die som en jy ontdek dat een uit drie mense wat saamwoon aan depressie ly. Dit bring toe nie geluk nie, maar die siekte van hartseer.
  • Saamwoon-mans presteer swakker in hulle werk. Dit is getroude mans wat ʼn baie groter commitment aan hul kinders maak en baie in ʼn loopbaan insit om vir sy nasate te sorg. Getroudes is dan ook finansieel meer welaf as saamwoners.

 

One of the most important social science findings of recent years is that marriage is a wealth enhancing institution.

…. childrearing cohabiting couples have only about two-thirds of the income of married couples with children, mainly due to the fact that the average income of male cohabiting partners is only about half that of male married partners.

Manning & Lichter

Jy is geregtig om te weet wat die menswetenskappe se navorsing oor  saamwoon bevind het.

ii.  Saamwoon benadeel kinders

75% kinders in saamwoon-verhoudinge sal hul saamwoon-ouers sien opbreek voor hulleself 16 jaar oud word – met al die negatiewe gevolge van ouers wat uitmekaar spat. Kinders in saamwoon-verhoudinge het dan ook meer gedragsprobleme. Akademies is hulle geneig tot onderprestasie. Indien ʼn kind inwoon by sy biologiese ouers wat saamwoon, dan is daar ʼn twintig maal groter kans op misbruik van kinders, as in ʼn huwelik. As die ma saam met ʼn boyfriend woon wat nie die biologiese ouer van ʼn kind is nie, dan is daar ʼn drie-en-dertig maal groter kans dat die pa die kinders sal misbruik. Dit is ʼn 3300% hoër kans op misbruik as in ʼn huwelik!

Indeed, the evidence suggests that the most unsafe of all family environments for children is that in which the mother is living with someone other than the child’s biological father.

D Popenoe & B Whitehead

Om saam te woon het dus enorme langtermyn nadelige effekte op kinders. Jy is geregtig om te weet wat die menswetenskappe se navorsing oor  saamwoon bevind het.

iii.  Saamwoon benadeel vroue

Geweld teen vroue is in  saamwoon-verhoudinge 200% hoër. Daar vind meer seksuele misbruik van vroue plaas in ʼn saamwoon-verhouding. Die betekenis van saamwoon verskil tussen die twee geslagte – soveel so, dat die meisie aan die kortste end trek:

“…co-habitation often has a different meaning for each sex.  Women tend to see it as a step toward eventual marriage, while men regard it more as a sexual opportunity without the ties of long-term commitment. A woman’s willingness to cohabit runs the risk of sending men precisely the wrong signal.”

Fein & Schneider

Vroue is ekonomies swakker daaraan toe as in ʼn huwelik. So beskryf Waite vroue se situasie in saamwoon: “Co-habitation may represent a new enslavement rather than freedom for women.”

iv. Saamwoon bevorder egskeiding

In die VSA  is daar ʼn studie onder 13000 mense oor saamwoon gedoen en daar is bevind dat iemand wat saamgewoon het en later trou, ʼn 33% groter kans het om binne 10 jaar te skei.

In Kanada neem 5300 vroue aan ʼn soortgelyke studie deel. Vroue wat saamwoon se kanse op huweliksukses is vergelyk met vroue wat nie saamgewoon het nie. Indien die saamwoon-meisie trou is haar kanse 54% groter om binne 15 jaar te skei.

In Swede word dieselfde studie onder 4300 vroue gedoen. Indien ʼn vrou wat saamwoon met haar saamwoon-partner trou, of indien sy met iemand anders as haar saamwoon-partner trou, het sy ʼn 80% groter kans om te skei. Indien iemand met meer as een persoon na mekaar saamwoon, dan is die kanse op ʼn egskeiding nog groter. Saamwoon benadeel mense se kanse om ʼn langtermyn liefdesverhouding aan die gang te hou! Myers skryf: “Family sociologists no longer debate the link between co-habitation and divorce risk. They are now trying to explain it.” En Colson kom tot die gevolgtrekking: “Co-habitation – it’s training for divorce.”

Die menslike poging om ʼn alternatief vir die huwelik te kry het misluk. Dit misluk op so ʼn groot skaal dat die ineenstorting van liefdesverhoudinge  baie erger is as tydens die “divorce revolution”. Hierdie mode gaan miljoene mense benadeel. En ongelukkig gaan dit ʼn geslag neem om uit te vind dit was ʼn fout. Jy is geregtig om te weet wat die menswetenskappe se navorsing oor  saamwoon bevind het.

3.  Hoekom misluk saamwoon?

Die volgende Westerse waardes maak ʼn langtermyn liefdesverhouding  onmoontlik: Individualisme; self-outonomie en selfvervulling. Daarby het die sogenaamde goedvoel-kultuur ʼn enorme effek op saamwoon. R Bellah skryf: Americans moved from being good people to feeling good people.” My saamwoon-man/meisie moet my laat goed voel – anders klim ek uit. Dit stimuleer ʼn soort  verbruikerisme – ek meet ʼn maat aan dit wat hy/sy vir my beteken. Die gevolg is wat die literatuur noem: “Score-keeping.” “Score-keeping” hou in dat ek kyk of ek meer in die verhouding insit as wat ek daar  uitkry. Ek is die heeltyd met hierdie som besig. En dit is dodelik gif vir enige liefdesverhouding want ʼn gelukkige huwelik is daar waar ek meer insit as wat ek uitkry, en juis dit is die “joy”.

4.  Nogeens: Die koninkryk en saamwoon.

Die probleem is nie die huwelik as instelling nie. Die probleem is mense! Dit is mense wat misluk in die huwelik.

God skenk aan sy kinders die huwelik as instelling – dit is Sy koninkryks-manier-van-lewe wat Hy aan gelowiges skenk en daarom vereis Hy die handhawing daarvan. Met hierdie geskenk en gebod beoog God die welwese van sy kinders! Gelowiges ontvang die huwelik dankbaar as ʼn geskenk uit God se hand. En verder wil God mense se karakter bou – so ombou dat hulle inderdaad goeie trou-materiaal sal maak. Dit is die radikale en nodige werk van die Heilige Gees in gelowiges se lewens (Gal  5:22).

 

Outeur: Dr Andre Botha

 


 

Bronnelys (Aparte bladsy….Kliek asb hierop om te lees!!!)