Die verskil tussen seën en salf

Die verskil tussen seën en salf – Francois Malan

AnnaMaria vra:

Kan u asb aan my verduidelik wat is die verskil tussen iemand seën en salf.

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die seëngroet aan die begin van die erediens, soos aan die begin van die briewe in die Nuwe Testament (bv. Rom 1:7; 2 Tim 1:2; 2 Petr 1:2; Openb 1:4,5) en in die Ou Testament (bv. Rut 2:4; Rigt 19:20) en Jesus se groet aan sy dissipels na sy opstanding (Joh 20:19), is ‘n groet wat die voorganger in die gemeente namens die Here aan die gemeente oordra. Daarmee word aan die gemeente bekendgemaak dat God hulle met sy guns en genade bejeën, en dat Hy met die gemeente wil praat en dat Hy op ‘n besondere manier met sy seën en genade teenwoordig is en dit vir die gemeente deur die hele diens wil gee. Dikwels word Rom 1:7 daarvoor gebruik en aangevul: ‘Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus’, deur die werking van die Heilige Gees.

 

Die seën aan die einde van die diens: Soos die diens begin met God en sy werking, word die diens afgesluit met God en sy werksame woord. Daarin word al die woorde wat in die erediens gespreek is en handelinge wat verrig is, saamgevat, en laat die gemeente as geseëndes ingaan in elke dag se lewe, met ‘n nuwe opdrag as draers van God se seën. Dit is ‘n gawe van die Here wat in sy naam aan die gemeente toegesê word. In Numeri 6:24-26 is die seën van die Here deur die priesters aan die gemeente opgeteken, en dikwels word die seën aan die einde van die Nuwe Testamentiese briewe gebruik, vgl. 2 Kor 13:13: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle wees.

 

Die tafelgebed word ook ‘’n seën’ genoem waarin die Here se guns gevra word in gebed, of waarin die Here gedank word vir ons daaglikse brood, soos Jesus ons in die Onse Vader geleer het (Mat 6:11;1 Kor 10:30) en self gedoen het (Mat 14:19; 15:36).

 

Seën beteken dat die Here self by jou sal wees om jou op die regte pad te lei en vir jou die beste te gee (vgl. bv. Rom 8:31-39 dat niks ons van God se liefde kan skei nie, en dat Hy vír ons is). So het die Here die einde van Job meer geseën (NAV voorspoediger gemaak) as sy begin. Vgl. ook die reeks seëninge en strawwe van die Here in Deutr. 28.

 

Salf (die naam Christus is die Griekse woord vir ‘gesalfde’, in Hebreeus ‘Messias’).

 

Om olie op iemand se kop te gooi was ‘n teken van gasvryheid (Lk 7:46; Jn 11:20 ook die salf van voete (Jn 12:3). Siekes was ook gesalf (Jak 5:14), die vroue het gegaan om die lyk van Jesus te salf (Mk 16:1).

 

Konings is gesalf as teken dat hulle deur die Here aangestel is (Rigt. 9:8; 1 Sam 9:16; 10:1; 16::13; 2 Sam 2:4; 5:3; 19:10, ens.) en word die gesalfde van die Here genoem (1 Sam 24:11; 26:16 Ps 20:7, ens.). Die olie was die simbool van goddelike aanstelling en toerusting met die Gees van God (1 Sam 10:1; 16:13).

 

Ook die hoëpriester is gesalf (Eks 29:7; Lev 8:12; 21:10), en die priesters (Lev 4:3,5,16).

 

Die profeet is ook gesalf (1 Kon 19:16) en profete word ook gesalfdes van die Here genoem (Ps 109:15).

 

Jesus word Christus, die Gesalfde genoem, omdat Hy met die Heilige Gees gesalf is (Jes 61:1; Luk 4:18; Hand 4:27; 10:38; Heb 1:9). Hy is met die Heilige Gees gesalf (Hand 11:26) tot ons hoogste Profeet en Leraar (wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het en ons die weg van die lewe kom leer het (1 Kor 6:15; 1 Joh 2:27;  Hand 2:17), ons enigste Hoëpriester wat vir Homself vir ons geoffer het, ons met God versoen het, en vir ons by God intree (Mat 10:32; Rom 6:12,13; 10:10; 12:1; Hebr 4:14-5:10; 1 Petr 2:5,9,11; ), en ons Koning vir ewig (wat ons met sy Woord en Gees  en ons, by die verlossing wat Hy vir ons verwerf het, ook beskerm en bewaar (2 Tim 2:12; Mat 25:34).

 

In die Nuwe Testament het die doop eintlik die Ou Testamentiese salwing vervang as die teken dat God die Heilige Gees in ons kom woon en werk om ons tot geloof in Jesus te lei, en ons daagliks te lei en te versterk in die geloof (Mat 28:19-20; Rom 6:3-11; 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Salwing van jou huis

Salwing van jou huis – Kobus Kok

Sonja Pretorius vra: 

Ek het opgelees oor julle antwoorde oor salwing, maar ek bly nog steeds ‘n vraag hê. Wat beteken as iemand ‘n huis salf met gebed en olie gebruik? Kan enige iemand dit doen? Hoekom word dit gedoen? As jy die kind van die Here is en jy vertrou Hom waarom twyfel jy oor die seëninge van die Here oor jou en vir wie jy bid?

Antwoord

 

Prof Kobus Kok antwoord:

Ek stem saam dat geloof en vertroue in die Here nie plek moet maak vir ‘n soort bygelowigheid waar salwing met olie gebed of vertroue vervang nie. Baie mense dink dat indien hulle hulle huis, hond, kar of wat ook al salf, een of ander geestelike lagie van beskerming oor hulle sal wees. Dit kom neer op ‘n magiese of bygelowige aanwending van rituele. Die punt is dat die krag nie in die salwingsolie lê nie, maar in God. Die olie is net die teken wat jou daaraan behoort te herinner. Daarom kan mense maar hulle huis of hond salf, so lank hulle net nie dink die salwing het een of ander geheime of bonatuurlike krag nie. Indien hulle wel salwing sien as iets wat so ekstra beskermingslagie verseker, maak hulle hulle eintlik skuldig aan heidense denke. Die Jode het profete gesalf en selfs hulle huise, maar dit was ‘n teken wat heengewys het na die geestelike waarheid wat God aan hulle wou kommunikeer en is ‘n sigbare teken wat hulle daaraan sou herinner.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Salf met Olie

Salf met Olie – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Prof Jan As iemand siek is, moet Ouderlinge vir hom bid en salf met olie. Wat beteken die salf met olie? As ons mos bid, kan God genees, hy het mos nie olie nodig nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is ‘n vraag waarmee bybeluitleggers sukkel. Daar kan twee redes wees: a) dat dit as medisyne gebruik word, wat wel algemeen in daardie tyd was. Die probleem is dat olie nie vir alle siektes gebruik is nie en dat as dit as medisyne gebruik is, moes almal dit opsmeer en nie net die ouderlinge nie. Dit maak die tweede moontlikheid die mees aanvaarbare b) dat dit simbolies is. Deur die olie op te sit word daar op ‘n simboliese wyse aangedui dat die persoon vir God afgesonder word om te genees.

Outeur: Prof Jan van der Watt