Salwing van siekes met olie – Francois Malan

Leser vra:

Mag die salwing van siekes deur ouderling opgevolg deur gebede nog vandag gedoen word?Hoekom sien baie predikante dit as oud modies en rituele van die ou testament.Ons het in die onlangse verlede as bybelstudie groep uitgereik na mense wat baie siek was en die sieke gesalf met olie.Een geval het die vrou se man ons geskakel om uit te ryk na sy vrou wat kanker gehad het en in die bed was na kwaai chemo behandeling.Nadat ons haar gesalf en gebid het het sy die volgende oggend geskakel om dankie te se dat ons getrou was aan die woord en haar te salf en gebid het.Sy het getuig sy is besig om vir haar familie ontbyt voor te berei en daarvan getuig dat haar kanker nou in remissie is.Kan ons dit dan beskou as ‘n ritueel of dat God net genadig was en gebede verhoor het.Kan ons nog salwing onder leiding van die Heilige gees doen?

Antwood:

Prof Francois Malan aantwoord:

Die salwing met olyfolie moes in die tyd van die Ou Testament dien as teken van die sekerheid van die genesing. Olie is seremonieel aangewend by die genesing van melaatses (Levitikus 14:10-18) as teken van versoening met die Here, as teken van reiniging van sy onreinheid en dankbare toewyding aan die Here.

Volgens destydse opvatting was olyfolie ook ’n geneesmiddel.

In Jesaja 1:6 sê die Here van die sondige nasie Israel: ‘Die hele kop is vol seerplekke en die hele gestel is verswak. Van kop tot tone is daar nie een plek heel nie: dit is die ene kneusplekke, hale en rou wonde! Hulle is nie skoongemaak of verbind of met salf behandel nie.’

In Lukas 10:34 vertel Jesus van die barmhartige Samaritaan wat die man wat onder rowers verval het se wonde verbind het en olyfolie en wyn daaroor gegiet het.

Volgens Markus 6:13 het die twaalf apostels van Jesus baie demone uitgedryf en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak.

Jakobus 5:14 sê: ‘As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente roep sodat hulle vir hom kan bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het.’

Olyfolie is gebruik soos ons vandag medisyne gebruik vir siektes, waarvoor ons bid dat die Here die medisyne sal gebruik vir die heling van die sieke. Omdat olyfolie genesende krag het, is dit nie verkeerd om ’n sieke se wonde met olie te verbind, soos met ander medisyne nie. Die salf met olyfolie was ’n daad van barmhartigheid teenoor die sieke. Ons glo dat dit die Here is wat genees. En Hy gebruik die mediese kennis wat ons van Hom af kry, om ons liggaam se immuunstelsel te versterk om die genesing te doen, of die verswering teen te werk.

Dit is die Here alleen wat genees (Ps 103:3 ‘Dit is Hy wat al my siektes genees’). Daarom is die gebed vir die siekes belangrik. Maar dit is die Here wat besluit of Hy sal genees of nie (vgl. bv. Paulus se drie maal wat Hy by die Here gesmeek het in 2 Kor 12:7-9). Ons kan nie salwing gebruik om die Here te dwing om iemand te genees nie. Genesing bly sy vrymagtige besluit oor elke geval en elke mens. Daarom moet die salwing van ’n persoon nie by die sieke valse verwagtings kweek dat hy of sy gesond sal word nie, maar dit bly onderhewig aan die wil van die Here. Daarom bly ons gebed ‘nie my wil nie, maar laat U wil geskied. Maar ons bid in geloof en vertroue dat Hy die beste vir ons sal doen. Romeine 8:28 sê: ‘Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is…’  Jakobus 5:15 verseker ons ook: ‘Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word en die Here sal hom weer laat opstaan. Maar Jakobus 5:16 voeg by: Bely julle sondes teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Salwing van ‘n huis – Hermie van Zyl

Leser vra:

Ons huur ‘n huis, die huis se nommer is 6. Daar is op 3 plekke die nommer 6 aangebring. Die huis binne en buite lyk of iemand kos teen die mure gegooi het. Ek kry vandag die gevoel om van nader te kyk. Op party plekke lyk dit of daar ‘n kruis was, maar dat die kruis doodgemaak is, ook met olie. En van die olie lyk soos ‘n plusteken, en dit lyk ook of daar trane is soos van die olie geloop het. Ek voel skielik baie ongemaklik. Moet ons dalk die huis laat salf?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Soos ek die situasie lees, is ons vraagsteller bekommerd daaroor dat die huis wat hy tans huur dalk aan okkultiese bedrywighede blootgestel is, nog erger: dalk “vervloek” is. Hy voel nou baie ongemaklik oor die huis en wonder of dit nie eers nodig is om die huis te laat “salf” voordat hulle met veiligheid en gerustheid daar kan woon nie.

‘n Mens moet natuurlik heel eerste bo alle twyfel probeer vasstel of daar wel sulke okkultiese of Satanistiese praktyke in die huis plaasgevind het. Die getal 6 wat aangebring is, die kos teen die muur, die kruis wat doodgemaak is met olie, die plusteken – al hierdie simbole kán dui op sulke bedrywighede, maar dit kan ook gewoon vandalistiese dade wees wat eintlik niks “beteken” nie, behalwe dat dit kan dui op sommige mense wat uit pure kwaadwilligheid allerlei dinge sal aanvang om ‘n huis onbewoonbaar te maak. Dalk was die vorige huurders kwaad vir die eienaar en wou hulle hom op hierdie manier “terugkry” – sy eiendom beskadig sodat hy slegs met groot moeite en koste alles weer leefbaar sal kry. Gesonde verstand en gesonde suspisie is soms al wat nodig is om ‘n situasie te “lees” en te beredder. Met ander woorde, ‘n mens moenie met die eerste beste interpretasie op loop sit nie.

Maar kom ons aanvaar dat hier wel okkultiese praktyke betrokke is, of ten minste: dat iemand met opset die huis so bemors het om dit te laat lyk asof die plek nou “getoor” of “vervloek” is. Wat maak jy dan; wat is ‘n mens se plan van aksie dan om met ‘n redelike mate van gerustheid in die huis te woon?

In die Christelike literatuur en kerklike praktyk vind mens nogal uiteenlopende maniere om die okkulte mee te beveg. Ek stel eers die twee uiterste pole van hantering, en sluit dan af met ‘n eie standpunt, wat nie net my eie is nie maar aansluit by ‘n breë stroom van denke hieroor.

Aan die een kant is daar wat mens “rasionele terapie” kan noem. Dit is om uit te gaan van die veronderstelling dat die Satan nie bestaan nie en dat daar gevolglik nie iets soos demone of die okkulte is nie. Die okkulte hou hom besig met die verborge of duistere dinge van ons bestaan, soos die oproep van dooies, die dien van Satan en sy demoneryk, heksery, sterrewiggelary, of die manipulering van demone deur middel van okkultiese rituele. (Die woord “okkulte” kom van die Latyn occultus – “verborge”, “klandestien”, “geheim” – en dui op die manifestering van buitengewone en paranormale verskynsels, waar Satan en sy demone altyd op een of ander manier figureer.) Rasionele terapie neem sy vertrekpunt in tekste soos 1 Korintiërs 8:4 (“… ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie …”); 1 Korintiërs 10:19-20 (‘n afgod het nie enige betekenis nie); en Galasiërs 4:8 wat praat van “nikswerd afgode”. Die logiese afleiding uit hierdie tekste is dat Paulus hom nie vreeslik gesteur het aan afgode of sogenaamde gode nie. Vir hom het hulle nie bestaan nie en vir alle praktiese doeleindes het hy in sy bediening glad nie met hulle rekening gehou nie. Vir hom was daar net één God, die God en Vader van Jesus Christus.

Rasionele terapie beteken dan om vir iemand wat bedreig voel deur die okkulte te sê dat dié dinge glad nie bestaan nie en dat mens enige bedrywigheid wat daarmee verband hou bloot as “nonsens” kan ignoreer. Daar is net een God, en dit is die lewende God, en as mens Hom aanbid, dan het jy niks van enige ander sogenaamde mag te vrees nie.

Prakties gesproke sal ons dus vir ons vraagsteller vanuit hierdie benadering bloot kan sê: Moet jou nie steur aan wat vroeër in die huurhuis gebeur het nie; dit kan geen invloed op jou lewe uitoefen nie. Verf die plek mooi uit, gooi die gemors weg, en gaan aan met jou lewe. Die huis sal soos enige ander een bewoonbaar wees.

Bostaande rasionele benadering is egter vir baie gelowiges te min gesê en gedoen. Hulle sal vir jou gou daarop wys dat Jesus wel die bose magte “erken” het, demone uitgedryf het, en dat sy volgelinge dieselfde gedoen het. Die einste Paulus het, ten spyte daarvan dat hy hom nie aan afgode gesteur het nie, klaarblyklik tog die Bose “erken” en by geleentheid selfs ‘n waarsêersgees uit ‘n slavin gedryf (Hand 16:16-18). En Efesiërs 6:12 sê ook dat ons stryd in die wêreld nie teen vlees en bloed is nie, maar teen elke bose gees in die lug. (Daar is natuurlik ‘n verskil tussen die erkenning van afgode, enersyds, en die erkenning van die Bose, andersyds, maar dit is ‘n onderwerp op sy eie; vir alle praktiese doeleindes hang dié twee sake nóú saam.)

Dus, aan die ander kant van die spektrum is daar gelowiges wat nie tevrede is met ‘n bloot rasionele benadering teen die okkulte nie. Hulle sal eerder praktyke en rituele daarstel waarmee die Bose aktief beveg kan word. Dit word dan amper ‘n soort teenpool vir okkultiese rituele, om laasgenoemde te “neutraliseer”. Dis dan dat ‘n mens praktyke kry soos gebedskettings waar mense opgekommandeer word om in skofte 24 uur aaneen in gebed te verkeer ten einde die mag van die Bose te bind, of waar ‘n huis met “heilige olie” gesalf word om dit teen bose magte te beskerm, of waar gelowiges opgeroep word om “laer te trek” om ‘n huis deur rondom die huis te stap en gebedsformules te prewel waardeur die bose geeste dan besweer sou word.

Persoonlik dink ek die antwoord lê êrens tussen bogenoemde twee uiterste pole. ‘n Mens hoef nie die bestaan van die Bose te ontken nie, maar jy hoef ook nie duiwelbehep te wees nie. Hoe minder aandag ‘n mens aan die Bose skenk, hoe beter is dit vir jou gemoedsrus. Want jy kan later so fokus op die duiwel dat hy eintlik al jou aandag en energie in beslag neem. En natuurlik, die Satan hou daarvan, want hoe meer aandag jy aan hom skenk, hoe meer tevrede is hy. Maar die beste manier om die duiwel te beveg, is om Christus-gefokus te lewe, jou toe te wy aan Hom en sy koninkryk, in die wonderlike wete dat Hy klaar die Bose oorwin het. Jy hoef nie jou eie klein geveggie elke keer aan te knoop om die bose bedrywighede van die duiwel en sy trawante buite werking te stel nie. Wie dus sy of haar lewe wy aan Christus het eintlik nie tyd oor om nog die bose met allerlei praktyke aktief te bestry nie. Trouens, die soort oorlogvoering teen die Bose waartoe Efesiërs 6 ons oproep is myns insiens nie om allerlei rituele en programme daar te stel om die werk van die Bose te neutraliseer nie, maar gewoon om – soos dit daar staan – met die waarheid, die evangelie van vrede, geloof, en die verlossing in Christus elke dag in jou hart te lewe. Dis voldoende beskerming teen enige bose mag of gees se vurige pyle.

My raad aan ons vraagsteller sou dus wees om hom nie te vreeslik moeg te maak oor wat die simbole in sy huurhuis alles mag beteken, wat alles daar gebeur het, en hoe om dit met allerlei rituele te neutraliseer nie. Selfs al sou ‘n mens iemand kry om die huis te “suiwer”, moet jy altyd onthou dis nie die rituele wat die reiniging doen nie, maar die Een waarna die rituele verwys, naamlik Christus wat die Bose oorwin het. Die rituele werk nie outomaties, op ‘n soort magies toweragtige manier nie, maar hulle is bloot simbolies van wat Christus reeds gedoen het. Daar is niks in die olie – of wat ook al gebruik word om die huis mee te salf – wat die suiwering kan doen nie. Dis slegs wanneer jy deur die geloof aanvaar dat Christus klaar – eens en vir altyd – die Bose ontmagtig het, dat die rituele vir jou enige betekenis sal hê, want Hy is die Een wat sterker is, Hy is die Een wat die sterk man (die Bose) se huis binnegegaan en onttroon het (Matt 12:28-29). Óns kan dit nie doen nie. Trouens, ek wil so ver gaan om te sê dat as ons net op die salwingsrituele vertrou, kom dit neer op “Christelike towery”; ons stel dit dan in die plek van Christus se oorwinningswerk, en dít is niks anders nie as ‘n mosie van wantroue in Hom; die rituele is dan vir ons belangriker as Christus self. Maar as jy die rituele bloot sien as simbolies van wat jy in elk geval glo, naamlik dat Christus jou bewaar, dan is dit seker aanvaarbaar, dan werk die rituele amper soos met die doop en die nagmaal. Van die sakramente glo ons ook dat dit nie die blote gebruik daarvan is wat red nie. Nee, ons gebruik dit in die geloof dat dit as versterking en verseëling simbolies heenwys na Christus se verlossingswerk wat ons red.

Dus die heel belangrikste wat ons vir ons vraagsteller moet sê, is dit: Glo dat Christus saam met julle daar intrek en saam met julle die huis bewoon. Dan is die huis klaar gesalf. Leef elke dag uit sy oorwinning, eien dit deur die geloof vir julle toe, en woon in vrede.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Salwing met olie- Francois Malan

Jan vra:

In Eks 30:22-38 gee die Here vir Moses ‘n resep vir heilige salfolie waarmee by Aäron en sy seuns moes salf om die priestersamp te bedien asook die tabernakel en alles wat daarin was. Later is Israel se aangewese konings ook met olie gesalf en in Ps 133 besing Dawid die lieflikheid daarvan as broers saamwoon, want dit is soos kosbare olie op die baard van Aaron wat afloop tot op die soom van sy klere.
Die vrou salf Jesus met kosbare nardussalf.
Dan sê Jes 10: 27: En in die dag sal sy (koning van Assirië) las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid(olie).
Jakobus sê dan as iemand siek is laat hy die ouderlinge roep om oor hom te bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. Hy sal gesond wees en as daar sonde is sal die ook vir hom vergewe wees.
Mens hoor dikwels die uitdrukking: Die salwing sal die die juk verbreek. Dan word die mense gesalf met olie op die voorkop volgens wat Jakobus sê. My vraag is: Wat is die rasionaal/belangrikheid/toepassing van die olie in die konteks waarin dit in die Bybel aangehaal/beskryf word, asseblief?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die invryf met olie of salf behoort tot die versorging van die liggaam: Deutr 28:40; Rut 3:3 (1983-vertaling: maak jou mooi, letterlik: salf jouself); 2 Sam 12:20; 14:2 (1983-vertaling: moenie skoonheidsmiddels gebruik nie; letterlik: moenie jouself met olie salf nie); 2 Kron 28:15 (1983-vertaling: salf aan hulle wonde gesmeer; letterlik net: hulle gesalf); Esegiël 16:9; Dan 10:3; Amos 6:6; Miga 6:15; Mat 6:17 (1983-vertaling: versorg jou hare; letterlik en 2014 vertaling: salf jou kop met olyfolie).

Die uitgiet van olie op iemand se kop was ‘n teken van gasvryheid: – Luk 7:46; Joh 11:2; so ook die salf van die voete Luk 6:47; Joh 12:3.

Die vroue het na die graf gegaan om die lyk van Jesus te salf Mk 16:1 (1983-vertaling om hom te balsem – staan nie in die oorspronklike. Die Jode het nie gebalsem nie, maar die kruie en olie was bedoel om die reuk te neutraliseer; vgl. 2014-vertaling: sodat hulle Hom kon gaan salf); Mk 14:8.

Daar was ‘n godsdienstige betekenis aan die salwing van konings – Rigt 9:8,15; 1:Sam 9:16; 10:1; 16:13; 2 Sam 2:4; 5:3; 19:10; 1 Kon 1:34,39; 2 Kon 9:1; 11:12; 23:30. Dit geskied met heilige olie 1 Kon 1:39; Ps 89:21. Daarom word die koning die gesalfde van die Here genoem

1 Sam 24:11; 26:16; Ps 20:7; 28:8; 84:10; 89:39; ens. Die salwing met olie was simbool van Goddelike aanstelling en die toerusting met die Gees van God 1 Sam 10:1; 16:13. Ook die hoëpriester is gesalf Eks 29:7; Lev 8:12; 21:10-. So ook gewone priesters Lev 4:3,5,16. Ons lees een maal dat ‘n profeet tot sy amp gesalf word 1 Kon 19:16. Die profete word ook gesalfdes genoem Ps 105:15.

Voorwerpe word gesalf as teken dat hulle toegewy word vir diens aan God. Jakob het die klip waarop hy geslaap het by Bet-El met olie aan God gewy, Gen 28:18-22; vgl. 31:13 die Here se aanvaarding daarvan. Moses het die tabernakel en al die voorwerpe daarin met heilige olie gesalf Eks 30:26; 40:9v; Lev 8:10v; Num 7:1,10,84,88.

Die salwing van die sieke in Jakobus 5:14 is simbool van die toewyding van die sieke aan die genesende sorg van die Here deur sy Naam aan te roep. Sy Naam staan vir sy wil en sy vermoë – Hy kan genees, en die genesing hang van sy wil af.

Christus (die Griekse woord vir ‘Gesalfde’) so word Jesus genoem omdat Hy met die Heilige Gees gesalf is Jes 61:1; Luk 4:18; Hand 4:27; 10:38; Hebr 1:9. Hy is gesalf tot ons hoogste Profeet wat God aan ons kom openbaar, ons Leraar wat God se wil aan ons bekendmaak, ons Hoëpriester wat Homself vir ons geoffer het en daagliks vir ons intree by God; ons ewige Koning wat oor ons lewens regeer, vir wie ons uit liefde en dankbaarheid gehoorsaam.

 Skrywer:  Prof Francois Malan




Salwing van jou huis – Riglyne

Salwing van jou huis – Riglyne – Kobus Kok

Luzell vra:

Ek wil graag my huis –kamer vir kamer deure, venster, elke hoek van my huis my en elke hoef van my erf salf. ek is opsoek na goeie riglyne en stukke uit die Bybel uit om dit te doen. Hoe gaan ek te werk?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Dit is baie belangrik dat ons ‘n Bybelse teologie oor salwing moet hê. Die Jode het profete gesalf en selfs hulle huise, maar dit was ‘n teken wat heengewys het na die geestelike waarheid wat God aan hulle wou kommunikeer en is ‘n sigbare teken wat hulle daaraan sou herinner. In die verlede het ek al genoem dat geloof en vertroue in die Here nie plek moet maak vir ‘n soort bygelowigheid waar salwing met olie gebed of vertroue vervang nie. Baie mense dink dat indien hulle hulle huis, hond, kar of wat ook al salf, een of ander geestelike lagie van beskerming oor hulle sal wees. Dit kom neer op ‘n magiese of bygelowige aanwending van rituele. Die punt is dat die krag nie in die salwingsolie lê nie, maar in God. Die olie is net die teken wat jou daaraan behoort te herinner. Daarom kan mense maar hulle huis of hond salf, so lank hulle net nie dink die salwing het een of ander geheime of bonatuurlike krag nie. Indien hulle wel salwing sien as iets wat so ekstra beskermingslagie verseker, maak hulle hulle eintlik skuldig aan heidense denke. Ek weet van ‘n vrou wie se man ‘n alkoholis is, en toe gaan salf sy die wynbottels van haar man, omdat sy gedink het dit sal hom minder laat drink. Hy het nie minder gedrink nie, en sy wou weet of sy dan verkeerd gesalf het. Wat die vrou nie verstaan nie, is dat indien sy salwing sien as een of ander “magic” (magiese) ding, dan mis sy die punt daarvan en gryp sy in die proses terug na ‘n heidense gebruik.

Hier is enkele teologie riglyne:

  1. Moet nie salwing sien as een of ander magiese krag nie.
  2. Sien salwing as ‘n teken wat heenwys na die betrokke geestelike realiteit waarvoor jy gebid het.
  3. Laat die fokus nie val op die krag van die olie of die aksie van salwing nie, maar op God se krag. Onthou – salwing is net ‘n teken en ritueel.

Hier is praktiese riglyne

1. Neem olyfolie en smeer die olie in die vorm van ‘n kruis op die objek wat jy wil salf.

2. Bid terwyl jy salf deur die geloofswaarheid wat jy wil uitspreek hardop te verklaar of tot God te bid met jou spesiale versoek.

3. Laat die salwingsaksie jou gereeld herinner aan die dag toe jy ‘n afspraak met die Here gehad het, en herinner jou gereeld aan die geestelike waarheid waarmee die salwingsaksie gepaard gegaan het.

 

Ek weet van ‘n paartjie wat gereeld in hulle slaapkamer baklei het. Nadat die Here vir hulle gewys het dat dit nie sy wil is nie, het hulle een dag hulle bed gesalf en die muur bo hulle bed. Die merk van die kruis kan mens sommer sien teen die muur. Elke keer as hulle baklei, het die merk hulle daaraan herinner dat hulle teenoor mekaar en die Here onderneem het om nie meer op ‘n negatiewe manier met mekaar te kommunikeer nie. Hier sien ons hoe hierdie paartjie die salwingsaksie nie as iets magies gesien het nie, maar dit as teken funksioneer wat hulle herinner aan die geestelike realiteit wat die Here in hulle harte wakker gemaak het.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok