Satan en Demone – Hermie van Zyl

Vraag

Magda vra

Ek het onlangs ‘n interessante You Tube-video raakgeloop en geluister oor bogenoemde onderwerp. Ek sluit die skakel na die video in (https://youtu.be/npk34pB5P4A). Het u dalk enige opinie oor die besprekings en inhoud?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek het na die video gekyk en vind dit ’n insiggewende bespreking vanuit sekere Bybelgedeeltes oor hoe die Bose as beide bonatuurlike mag én in samewerking met menslike oormoed en sisteme, in opstand kom teen God se goeie skepping en probeer om dit voortdurend omver te werp en weer af te trek na die oertoestand van chaos en duisternis (Gen 1:2). Die Bybelgedeeltes word op ’n eksegeties aanvaarbare manier bespreek. Ek stem nie met alle detailuitleg saam nie, maar die oorhoofse teologiese sieninge is na my mening gesond en die moeite werd om te oordink.

Let wel, bogenoemde opinie van my is slegs gebaseer op die video ter sprake. Ek weet nie wat die twee gespreksgenote in die video oor ander onderwerpe te sê het nie. Daaroor kan ek my dus nie uitspreek nie.

Die video handel oor die volgende sake:

  • Die slang in die paradys
  • Die vlieënde draak van Jesaja 14:29
  • Lusifer as benaming vir die duiwel, en waar dit vandaan kom
  • Die Satan as teenstander van God en die skepping
  • Genesis 6:1-4: Die hemelwesens (letterlik: “seuns van God”) wat met die dogters van die mense getrou het, hoe dit verband hou met die ontstaan van “reuse”, en wat laasgenoemde behels
  • ’n Oorhoofse interpretasie van al bogenoemde gegewens. Die video probeer ’n gemeenskaplike patroon tussen genoemde gebeure vind omtrent die werking van die Bose. Dit kom daarop neer dat daar ’n interaksie tussen menslike en bonatuurlike boosheid is, nie net in die Bybel nie, maar ook in ons eie tyd. ’n Mens moet ’n oog ontwikkel vir hoe subtiel die Bose nog steeds te werk gaan in ons eie tyd. Ons moet dus nie sommer die Bybelse verhale oor die Bose as ongeloofwaardige mites afmaak nie, maar juis insig bekom oor wat hierdie verhale ons ten diepste wil bied.

Ons vraagsteller kan gerus ook kyk wat op die webblad van bybelkennis.co.za oor die satan en demone geskryf is. Daar is talle artikels hieroor. Daar is ook bydraes wat ek self hieroor gelewer het, met die volgende titels: “Bevrydingsbediening” en “Binding van Satan en demone”. Sleutel hierdie titels by die soekfasiliteit van die webblad in, asook die begrippe “satan” en “demone”, en bekom so al die gegewens.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Kan die duiwel ons gedagtes lees? – Francois Malan

‘n Leser vra:

Waar in die Bybel staan dit dat die duiwel nie ons gedagtes kan lees nie.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dit staan nie in die Bybel nie. Inteendeel die naam duiwel (Grieks: diabolos) beteken uitmekaar gooi, teenmekaar ophits, te belaster of aan te kla. Die duiwel se strewe is om God en mens uitmekaar te laat gaan. Vir die doel gebruik hy alle moontlike middele en aanknopingspunte. So het die slang vir Eva en Adam verlei met die valse aanbod deur die vrug van die boom van kennis en kwaad vir hulle begeerlik voor te stel om daardeur kennis te kry om soos God te wees wat alles kan ken, met die versekering dat hulle nie sal sterf soos God gesê het nie (Gen 3:4-6). Jesus noem hom ‘n leuenaar en die vader van die leuen, van die begin af is hy ‘n moordenaar wat verantwoordelik is daarvoor dat die dood in die wêreld ingekom het (Joh 8:44). In die Onse Vader leer Jesus ons bid: laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose (Matt 6:13). Jesus praat van ‘n bose gees en slegte geeste wat in ‘n mens woon (Matt 12:43-45). Vergelyk die bose geeste wat die Here uit die besete van Gadara verdryf het (Markus 5:8-9). Al die slegte/bose dinge wat in Mark 7:21-23 genoem word kom uit die mens se hart. Die hart is ‘n spreekwoord en beeld vir die mens se gedagtes en begeertes.

Maar Jesus het gekom om die duiwels uit te dryf (Matt 12:28). Die duiwel kan die mens wat in Jesus glo en op Hom vertrou nie meer by God aankla nie, want Jesus het reeds die straf en smet van al ons sonde op Hom geneem aan die kruis. Maar die duiwel probeer nog elke dag om ons weg te lei van God af. As ons by die Here skuil en vra dat Hy die bose gedagtes uit ons verwyder en vervang met sy liefdesgedagtes kan ons die versoekings van die duiwel oorwin. Jakobus 4:7-8 sê: Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Hel

Die Hel – Francois Malan

‘n Leser vra: 

Bestaan die hel regtig of beteken dit net dat jy gaan doodgaan en nie die ewige lewe hê nie. M.a.w. is daar regtig ‘n vuur waarin mense gaan brand vir ewig?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybelse woord vir hel is gehenna, wat afstam van die Hebreeuse woord gehinnoom die dal van Hinnom aan die Suid-Ooste van die stad Jerusalem. Onder konings Agas en Manasse het hulle die afgod Molog hier gedien vir wie hulle babatjies geoffer het deur hulle op die vuurwarm uitgestrekte arms van die beeld te sit om te verbrand (2 Konings 16:3; 21:6; 2 Kron.28:3; 33:6). Die vroom koning Josia het dié plek daarom verwoes en onrein verklaar (2 Kon. 23:10), vgl. ook Jeremia 7:31 en 32:35  se hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal. Later word dit die stad se ashoop waar dooie diere en mense wat tot die dood veroordeel is se lyke kon vrot en verbrand word.

Die dal van Hinnom het toe die simbool en die profesie geword van die ewige plek van smart, die ewige strafplek van die goddelose na die oordeelsdag. Dit word met verskillende woorde in die Bybel aangedui: die brandende oond waarin hulle sal huil en op hulle tande kners (Mat.13:42,50); die hel waarin goddeloses gegooi word (Mat.5:29,30; 10:28); die vuurpoel wat met swael brand, waarin die satan en sy engele en die goddeloses gegooi word (Openb.19:20); daar brand ‘n onuitbluslike/ewige vuur (Mat.18:8; Mark.9:43,44,48 waar die wurms nie doodgaan en die vuur nie uitgeblus word nie); ‘n ewige straf/pyniging (Mat.25:46); ewige verdoemenis geban uit die teenwoordigheid van die Here (2 Tes 1:9); die diepste duisternis daarbuite (Mat 8:12); onder die toorn van God met lyding en benoudheid (Rom 2:5-9); dood en verderf (Gal.6:8); die ondergang (1 Tes 5:3).

Vuur word dikwels geassosieer met die voltrekking van God se oordeel (Openb. 1:14; 2:18; 4:5; 14:18; 16:8; 18:8; 19:12; 20:9,14,15). Swael is ‘n soort asfalt wat in vulkaniese uitbarstings voorkom. Brandende swael skep die dodelike gas swaeldioksied. Dit dra by tot die intensiteit van die beeldspraak (9:17-18; 19:20; 20:10).

Openbaring 14:9-11 waarsku dié mense wat die dier en sy beeld aanbid dat hulle met vuur en swael gepynig sal word en dag en nag geen rus sal ken nie tot in alle ewigheid, as beeld van God se oordeelsvoltreking wat vir ewig duur. Uit liefde waarsku God die mense en nooi hulle ernstig om hulle te bekeer.

Oor die laaste oordeel sê Openbaring 20:14-15 dat die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi word, en noem die vuurpoel die tweede dood. En as daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

As die laaste van sewe uitsprake van God self in Openb. 21:5-8 sê Hy daar wag vir die goddeloses die ewige straf in die poel wat met vuur en swael brand en word ‘n lys van sondes opgenoem wat ‘n opsomming is van die aanklagstaat wat aandui waarom die goddeloses die tweede dood verdien.

Vuur is ‘n beeld van verskrikking, maar kan nie die werklikheid van die straf van God genoegsaam uitdruk nie. Hoe die ewige dood/straf/oordeel van God sal wees, weet ons nie, net so min as wat ons weet hoe die ewige lewe saam met God gaan wees. Maar met die beeld van ‘n ewige vuur of ewige duisternis waarsku Jesus en die Heilige Gees deur die skrywers van die Bybel dat dit erg en vir ewig sal wees vir hulle wat nie die verlossing deur Jesus wil aanvaar nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan